Gaan na inhoud

Min (god)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Min
Die donkervellige god van vrugbaarheid, Min, uitgebeeld met ’n ereksie en dorsvleël.
Die donkervellige god van vrugbaarheid, Min, uitgebeeld met ’n ereksie en dorsvleël.
Soort god  Egipties
God van Vrugbaarheid
Naam in hiërogliewe
R22
R12
C8
Simbool Ereksie,
Egiptiese blaarslaai
Ouers Isis en Osiris
Sibbes Horus en soms Anoebis
Metgesel Iabet en Repit
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Min was in die Egiptiese mitologie ’n god uit die voordinastiese tydperk (omstreeks die 4de millennium v.C.).[1] Hy is in baie vorme uitgebeeld, maar meestal as ’n man met ’n ereksie en ’n dorsvleël. As Min was hy die god van voortplanting; as Chnoem was hy die skepper van alle dinge, "van gode en die mens".[2]

Familie

[wysig | wysig bron]

In gesange word genoem dat Min die seun van Osiris en Isis was. Sy vroue was Iabet en Repit.

Mites en funksie

[wysig | wysig bron]

Sy kultus was die grootste in Koptos en Achmim, waar groot feeste vir hom gehou is met openbare optogte en offerandes.[1] Sy ander verbintenisse was met die oostelike woestyn en die god Horus. Flinders Petrie het twee groot standbeelde van Min opgegrawe by Qift, wat vermoedelik uit die voordinastiese tyd kom. Hoewel sy naam nie genoem word nie, is daar ’n verwysing na "hy wie se arm in die ooste gelig is" in die Piramidetekste, en dit verwys vermoedelik na Min.[3]

’n Reliëfwerk in die Luxor-tempel met ’n afbeelding van Min regs.

Sy belangrikheid het tydens die Middelryk gegroei toe hy nader verbind is met Horus, as die god Min-Horus. Teen die Nuwe Ryk is hy ook versmelt met Amoen as die god Min-Amoen-kamoetef (Min-Amoen, bul van sy moeder). Min se altaar is versier met twee bulhorings.[3]

As die sentrale god van vrugbaarheid en moontlik orgastiese rites is Min geïdentifiseer met die Griekse god Pan. Deel van die aanbidding van Min was die lang, reguit Egiptiese blaarslaai, bekend as die "wit bul", wat volgens die Egiptenare geslagsprikkelende eienskappe gehad het; wanneer dit gevryf of gedruk is, het dit ’n melkerige vloeistof afgegee wat vermoedelik met semen verbind is. Die "wit bul" was ook een van Min se simbole.

As god van manlike potensie is hy tydens die Nuwe Ryk vereer op kroningsplegtighede, wanneer van die farao verwag is om sy saad te saai – daar word algemeen geglo dit was plantsaad, hoewel daar al omstrede voorstelle was dat die farao moes bewys hy kon ejakuleer en so die jaarlikse oorstromings van die Nylrivier verseker. Aan die begin van die oesseisoen is Min se beeld uit die tempel na die landerye geneem as deel van die "fees van die vertrek van Min". Die Egiptenare het dan die oes geseën en nakend aan spele deelgeneem ter ere van hom; die belangrikste hiervan was die klim van ’n groot tentpaal.

In Egiptiese kunswerke is Min uitgebeeld met ’n kroon van vere, met ’n ereksie in sy linkerhand en ’n dorsvleël in sy regterhand, wat hy omhoog gehou het. Om sy voorkop het hy ’n rooi lint gedra wat waarskynlik seksuele energie voorgestel het.

Selfs sommige godinne is uitgebeeld met Min se liggaam (insluitende die fallus), en dit het daartoe gelei dat hy dikwels die kop van ’n leeuwyfie gehad het. Omdat hy gewoonlik met ’n ereksie uitgebeeld is, het Christene dikwels sy monumente geskend en Victoriaanse Egiptoloë het dikwels net foto's van sy bolyf geneem of ander maniere gevind om sy uitstaande penis te verbloem. Vir die Antieke Egiptenare was Min egter nie skandalig nie. Hulle was baie ontspanne oor naaktheid – in hul warm klimaat het boere, arbeiders, slawe en vermaakkunstenaars dikwels naak gewerk, en kinders sou naak rondloop totdat hulle meerderjarig was.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 "Min". Encyclopædia Britannica. (2008). Encyclopædia Britannica Online. URL besoek op 2008-03-27. 
  2. Bechtel, F. (1907). "Ammon". The Catholic Encyclopedia I. New York: Robert Appleton Company. URL besoek op 2008-03-27. 
  3. 3,0 3,1 Frankfort, Henry (1978). Kingship and the Gods: A Study of Ancient Near Eastern Religion as the Integration of Society and Nature. University of Chicago Press. pp. 187–189.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]