Hierdie artikel handel oor die huidige land binne die Verenigde Koninkryk. Vir die historiese prinsdom, sien Prinsdom van Wallis.

Wallis (Engels: Wales, [ˈweɪlz], ; Wallies: Cymru, [ˈkəmri], ) is een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Dit lê in die suidweste van Groot-Brittanje en word deur die Engelse graafskappe (counties) Cheshire, Shropshire, Herefordshire en Gloucestershire in die ooste, die Kanaal van Bristol in die suide, die Sint-Georgekanaal (St. George's Channel) in die suidweste en die Ierse See in die weste en noorde begrens.

Wallis
Wales (Engels)
Cymru (Wallies)
Vlag van Wallis Wapen van Wallis
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Cymru am byth
(Wallies vir: "Wallis vir altyd" of "Lang leef Wallis")[1]
Volkslied: Hen Wlad Fy Nhadau
(Wallies vir: "Land van my vaders")
Ligging van Wallis
Hoofstad Cardiff (Caerdydd)

51°29′N 3°11′W / 51.483°N 3.183°W / 51.483; -3.183

Grootste stad Cardiff (Caerdydd)
Amptelike tale Engels en Wallies
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Charles III
Eluned Morgan
Onafhanklikheid
Vorming
• Vereniging by
Gruffydd ap Llywelyn
• Statuut van Rhuddlan
Unie met Engeland
• Devolusie



1057
3 Maart 1284[2]
1543[3]
31 Julie 1998[4]
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
21 218[5] km2  (3de (VK))
8 192 myl2
Bevolking
 - 2022-skatting
 - 2022-sensus
 - Digtheid
 
3 131 640[6] (3de (VK))
3 107 494[7]
151 / km2
391,1 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2022-skatting

£74,5 miljard[8] (3de (VK))
$23 804[8] (3de (VK))

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2022-skatting

£85,4 miljard[9] (3de (VK))
£27 274[9] (3de (VK))

MOI (2021) 0,898[10] ()  –  baie hoog
Gini (2016⁠–⁠19) 30[11] –  medium
Geldeenheid Pond sterling (£) (GBP)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
BST (UTC+1)
Internet-TLD .uk, .gb
Skakelkode +44
Beskermheilige: Sint David (Dewi Sant)
Nasionale blom: Prei, Tuinaffodil
Uitsig na die suidooste vanaf Snowdon, die hoogste bergpiek van Wallis en Engeland
Na die vier kastele en versterkings, wat koning Edward I ná die Engelse verowering van Wallis hier laat oprig het, is in die volksmond as die "Ysterring" verwys. Die kastele – Caernarfon, Beaumaris, Conwy en Harlech is as Unesco-wêrelderfenisgebiede aangewys. Die foto wys die Caernarfon-kasteel in Gwynedd teen sononder
Twee meisies in nasionale kleredrag op St David's Day, Wallis se nasionale feesdag wat op 1 Maart gevier word

Soms word na Wallis ook as die Vorstedom van Wallis (Engels: Principality of Wales, Wallies: Tywysogaeth Cymru) verwys, alhoewel die Prins van Wallis nie by die regering van die land betrokke is nie en hierdie naam nie deur alle bewoners van Wallis goedgekeur word nie.

Wallis het nooit as 'n soewereine staat bestaan nie, en die Walliese deelkoninkryke is in 1282 deur Engeland geannekseer, nadat die Engelse koning Edward I in die Slag van Cilmeri 'n oorwinning oor die Walliese monarg Llywelyn II behaal het. Die Walliese Reg is egter in sommige plekke tot die afkondiging van die nuwe wetgewing oor regsake in Wallis (Laws in Wales Acts) in die jare 1535 tot 1542 behou.

Cardiff, die grootste stad van Wallis, is in 1955 as sy hoofstad aangewys (voor 1955 was daar geen amptelike Walliese hoofstad nie), terwyl die Prins van Wallis 'n amptelike woning in Caernarfon het. Die plaaslike parlement, die Nasionale Vergadering van Wallis, is in 1999 ná 'n referendum gevorm. Sy bevoegdhede is in 2007 volgens die Wet op die Regering van Wallis uitgebrei.

Wallis word tradisioneel verbind met 'n reeks ikoniese simbole – Walliese manskore, rugby, steenkoolmyne en lang reekse van terrashuise waarin mynbouwerkers gehuisves is, leiklipgroewe, Middeleeuse kastele (soos die "Ysterring" wat ná die Engelse verowering van Wallis ontstaan het), die bergpiek Mount Snowdon en skaapteelt (daar is steeds drie skape vir elke inwoner).

In die laat 20ste en vroeë 21ste eeu is nuwe ikone by dié lys gevoeg: nuwe nasionale museums wat die Walliese geskiedenis aan die nageslagte verduidelik (en, onafhanklik hiervan, as argitektoniese besienswaardighede beskou word), die nuwe parlementsgebou wat die Walliese Senned huisves, die Millennium-stadion en die herontwikkelde dokke van Cardiff asook die nuwe besoekersentrum wat sy deure op Mount Snowdon geopen het.

Etimologie

wysig

Die woorde "Wallis" en "Wallies" is ontleen aan dieselfde Ou Engelse wortel (enkelvoud Wealh, meervoud Wēalas), 'n afstammeling van die Proto-Germaanse *Walhaz, wat op sy beurt ontleen is aan die naam vir die Galliërs wat deur die Romeine Volcae genoem is. Hierdie term is later gebruik om onoordeelkundig na inwoners van die Wes-Romeinse Ryk te verwys.[12] Hierdie betekenis word nog steeds in name soos Wale en Wallonië (in België), Walagye (in Roemenië) en die einding -wall in Cornwall bewaar. Die Angelsaksers het die term gebruik om veral na die Britone te verwys; die meervoudsvorm Wēalas het die naam van hul gebied Wallis geword.[13][14] In die historiese gebruik in Brittanje was die woorde nie beperk tot die moderne Wallis of die Walliesers nie; dit is egter gebruik om te verwys na enigiets wat Angelsaksers met Britte geassosieer het, insluitende ander nie-Germaanse gebiede in Brittanje (byvoorbeeld Cornwall) en plekke in die Angelsaksiese gebiede wat met Britone geassosieer is (byvoorbeeld Walworth in Durham en Walton in Wes-Yorkshire).[15]

Die moderne Walliesers noem hulleself Cymry en Cymru is die Walliese naam vir Wallis. Dié woorde (wat albei [ˈkəm.rɨ] uitgespreek woord) is afgelei van die Britoniese woord combrogi wat "volksgenote" beteken,[16][17] en het waarskynlik voor die 7de eeu gebruiklik geword.[18][19] Volgens Middeleeuse legendes is dit afgelei van die oorspronklike koning van Cymru, Camber, die seun van Brutus, die eerste koning van Brittanje. In die literatuur kon die woorde gespel word as Kymry of Cymry, ongeag of dit na die volk of hul vaderland verwys het.[16] Die Gelatiniseerde vorme van die name, Cambrian, Cambric en Cambria, het behou gebly in benamings soos Kambriese Berge en die Kambriese Geologiese tydperk.[20] Die naam Cymru is nou verwant met plekname in Noord-Engeland soos Cumberland en Cumbria.

Geografie

wysig

Fisiese en geografiese kenmerke

wysig
 
Die Brecon Beacons-bergreeks
 
Die bron van die Severnrivier in die Kambriese Gebergte

Wallis lê op 'n skiereiland in die sentrale weste van Groot-Brittanje en beslaan 'n oppervlak van 21 218 vierkante kilometer. Dit is sowat 274 kilometer lank en 97 kilometer wyd. Wales het 'n kuslyn van meer as 1 200 kilometer en sluit 'n aantal eilande in, waarvan Anglesey in die noordweste die grootste is.

Die mees digbevolkte gebiede lê in Suid-Wallis, met die stede Cardiff, Swansea en Newport. Hierdie gebied is ook die nywerheidsentrum van Wallis.

Die grootste deel van Wallis se oppervlakte word deur bergagtige terrein beslaan, veral in die noordelike en sentrale gedeeltes, op hoogtes van meer as 150 m bo seevlak.[21] Die bergreekse is tydens die laaste ystydperk gevorm, met die Snowdon (Wallies: Yr Wyddfa) in Snowdonië, Noord-Wallis as die hoogste bergpiek op 1 085 meter. Die Brecon Beacons in die suide bereik 'n hoogte van 885 m, terwyl die Kambriese Gebergte (Engels: Cambrian Mountains) in die hartland van Wallis uittoring. Die aarde se vroegste geologiese tydperk in die Paleosoïkum, die Kambrium, is na die Kambriese bergreeks genoem.

Walliese riviere ontspring in die bergreekse en dreineer die land straalvormig. Die Severn (Wallies: Hafren) is die langste rivier in Wallis en Engeland wat naby die bergtop Plynlimon in die Kambriese Gebergte ontspring. 'n Aantal hidroëlektriese kragsentrales en opgaardamme voorsien Wallis se groter nedersettings van elektrisiteit en drinkwater.

Die huidige grens tussen Wallis en Engeland is grotendeels in die 16de eeu willekeurig vasgelê en volg hoofsaaklik die Middeleeuse feodale grenslyne. Die grenslyn skei Knighton van sy spoorwegstasie, sny Church Stoke van die res van Wallis af en loop dwarsdeur die dorp Llanymynech.

Geografies word Wallis dikwels onderverdeel in vier substreke: North Wales (Noord-Wallis), Mid Wales (die Walliese Middelland), West Wales (Wes-Wallis) en South Wales (Suid-Wallis).

Noord-Wallis

wysig
 
The Grand Hotel, Llandudno
 
Bevrore turfgrond naby Hay Bluff in die Black Mountains, Powys

Noord-Wallis (Wallies: Gogledd Cymru) behels die vroeëre graafskappe Caernarfon en Merioneth, wat as deel van administratiewe hervormings saamgesmelt is tot die nuwe graafskap Gwynedd, en die vroeëre graafskap Denbigh, wat saam met aangrensende dele van ander graafskappe saamgesmelt is tot Clwyd.

Die koninklike Tudor-dinastie het sy oorsprong in Noord-Wallis, terwyl die Britse troonopvolger steeds in die plaaslike Caernarfon-kasteel as "Prins van Wallis" geproklameer word. Die laaste sodanige plegtigheid het in 1969 plaasgevind toe hierdie titel amptelik aan Charles III, die oudste seun van koningin Elizabeth II, verleen is. Die titel is tans vakant.

Ook die nasionale Walliese party Plaid Cymru het sy wortels in dié streek. Vier dekades ná sy stigting in 1925 het die eerste Plaid Cymru-afgevaardigde, Gwynfor Evans (1912–2005), in 1966 'n setel in die Britse Laerhuis verower.

Noord-Wallis was danksy sy strande en berge een van die eerste streke in Groot-Brittanje wat vir toerisme ontsluit is. Die plaaslike kusgebiede word deur 'n groot verskeidenheid landskapsvorme gekenmerk wat van eensame strande tot kranse met klein visserdorpies wissel. Nogtans is dit veral gewilde see- en strandoorde wat met Noord-Wallis as vakansiebestemming verbind word. So word Llandudno onder die mees tradisionele en elegante vakansieoorde in die Verenigde Koninkryk gereken.

Die Walliese Middelland

wysig

Die Walliese Middelland (Wallies: Canolbarth Cymru of kort Y Canolbarth "Die Middelland") behels die vroeëre graafskappe Montgomery, Radnor en dele van Brecknockshire wat saamgesmelt is tot die nuwe graafskap Powys, die vroeëre graafskap Cardigan (wat tans deel uitmaak van Dyfed) asook dele van Merioneth en Carmarthen.

Wes-Wallis

wysig

Wes-Wallis (Wallies: Gorllewin Cymru) behels as die mees westelike substreek van Wallis volgens een definisie net Pembrokeshire, Ceredigion en Carmarthenshire, terwyl ander beskrywings ook Swansea en Neath Port Talbot hierby insluit en Ceredigion nie daarby inreken nie.

Die sogenaamde preserved county van Dyfed kom grootliks ooreen met die streek waarna algemeen as Wes-Wallis verwys word. Tussen 1974 en 1996 het West Wales as 'n graafskap bestaan.

Suid-Wallis

wysig
 
Die bergtop Pen y Fan (886 m)

Suid-Wallis (Wallies: De Cymru) behels die historiese graafskappe Glamorgan en Monmouthshire, en soms word met Carmarthenshire en Pembrokeshire ook gebiede wes daarvan by dié substreek gereken. Dit word in die ooste en suide deur Engeland en die Kanaal van Bristol begrens, en in die noorde en weste deur die Walliese Middelland en Wes-Wallis. Sowat 'n derde van sy oppervlakte word deur die Nasionale Brecon Beacons-park beslaan, insluitende Pen y Fan, die hoogste bergtop suid van Snowdonië.

Met 'n bevolking van 2,2 miljoen (byna driekwart van die totale Walliese inwonertal) is Suid-Wallis die mees digbevolkte gebied in die suidweste van die Verenigde Koninkryk. Hier is met die hoofstad Cardiff (350 000 inwoners), Swansea (240 000) en Newport (150 000) ook die drie grootste stedelike nedersettings in Wallis geleë.

Die Sewe Wonders van Wallis

wysig

Die Sewe Wonders van Wallis is 'n tradisionele lys van sewe geografiese en kulturele bakens in Wallis: Snowdon (die hoogste berg), die klokke van Gresford met hulle kenmerkende gelui in die Middeleeuse Allerheilige-kerk, die Llangollen-brug (wat in 1347 oor die Deerivier opgerig is), die Bron van Sint Winefride ('n pelgrimsoord naby Holywell in Flintshire), die Toring van Wrexham ('n 16de eeuse toring van die Sint Giles-kerk in Wrexham), die Venynbome van Overton (baie oue venynbome op die begraafplaas van St Mary's in Overton-on-Dee) en Pistyll Rhaeadr (met 75 meter die hoogste waterval in Wallis).

Klimaat

wysig
 
Llangynidr, 'n dorpie in die Uskvallei, onder sneeu
 
Reënwolke oor Llynnau Mymbyr in die hartland van Snowdonië
 
'n Uitsig oor die soutmoeras van Cardigan Bay in Gwynedd, Noord-Wallis, met die dorpie Barmouth in die agtergrond. Die foto is in Desember geneem

Wallis het 'n seeklimaat wat deur gematigde temperature, winderige, reënerige en dikwels bewolkte weerstoestande gekenmerk word. Kus- en landskapsvorme het beslissende invloed op plaaslike weerstoestande. So varieer die meer ruwe klimaat van hoër geleë bergstreke met meer gematigde weerstoestande in beskermde kusgebiede. Gebiede in die ooste van die land is eweneens meer gematig, met klimaattoestande wat grootliks ooreenkom met dié van aangrensende Engelse graafskappe.

In laer geleë streke word 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van tussen 9,5 en 11 °C aangeteken, waarby die hoogste temperatuurwaardes in kusgebiede gemeet word. Die gemiddeldes daal met 0,5 °C vir elke 100 m hoogte-toename. So word in gebiede op 400 m bo seevlak byvoorbeeld 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van sowat 7,5 °C aangeteken.

Temperatuurwaardes toon 'n seisoenale asook 'n variasie tussen dag- en nagtoestande. Wintertemperature word grootliks beïnvloed deur die temperatuur van die wateroppervlak van die omliggende see wat sy laagste waardes laat in Februarie of vroeg in Maart bereik. So is Februarie die koudste maand in Walliese kusgebiede, terwyl daar op binnelandse plekke min temperatuurverskille tussen Januarie en Februarie is. Gemiddelde temperature in Januarie varieer tussen ongeveer 0 °C in die hoër geleë landsdele van Noord- en Sentraal-Wallis en 3 of 4 °C in kusstreke. Die hoogste gemiddeldes vir Januarie word in Pembrokeshire gemeet en toon die invloed van lugmassas wat hier vanuit die relatief warm Atlantiese Oseaan landinwaarts beweeg.

Die laagste temperature word gewoonlik teen sonop gemeet. Dit is veral gedurende winternagte, nadat die landskap met 'n sneeulag bedek is, en in weerstoestande met min wind en onbewolkte lug wanneer minimumtemperature aangeteken word. Die kwik val tot die laagste vlakke in binnelandse gebiede wat nie meer die matigende invloed van die see ervaar nie, soos op die bodem van valleie waar koue lug kan instroom.

Dit was in sulke weerstoestande toe die kwik op 21 Januarie 1940 in Rhyader, Powys met -23,3 °C tot die laagste vlak gedaal het wat ooit in Wallis aangeteken is. Die laagste wintertemperatuur, wat ooit langs die kus gemeet is, was -10,7 °C op 13 Januarie 1987 in Brawdy, Pembrokeshire.

Nagtemperature is in Walliese kusgebiede in die algemeen gematig. So is sommige van die hoogste temperature, wat ooit in die Verenigde Koninkryk gemeet is, juis op plekke langs die Noord-Walliese kus aangeteken. Hoë wintertemperature met uiterstes van 18 °C word gemeet wanneer vogtige lugmassas vanuit die suide of suidweste aanvanklik oor hoër geleë terrein in Snowdonië beweeg en daarna begin om warmer te word sodra die wind bergaf oor laer geleë gebiede waai. Na dié windeffek word as föhn verwys, analoog met dieselfde windverskynsel in die Europese Alpereeks.

Julie is gewoonlik die warmste maand van die jaar, met maksimumtemperature wat van sowat 17 °C op hoër geleë plekke in die binneland tot 18 °C langs die weskus en 21 °C in die oostelike dele van Powys en Monmouthshire wissel. Somertemperature bereik hul maksimum tussen twee of drie uur op die namiddae. Die hoogste temperature word op binnelandse plekke gemeet wat nie meer aan die matigende invloed van die see blootgestel is nie. Op 2 Augustus 1990 is die historiese rekordtemperatuur van 35,2 °C by Hawarden Bridge in Flintshire gemeet. Wanneer baie warm lugmassas vanuit die ooste na die kusgebiede toe beweeg, styg die kwik ook hier tot die lae 30's. So is op 2 Augustus 1995 die rekordtemperatuur van 31,8 °C in Aberporth in Ceredigion aangeteken.

Geskiedenis

wysig
 
Die Walliese koninkryke in die Middeleeue
 
Die kasteel Caernarfon is ná die verowering van Wallis in 1282 deur die Engelse koning Edward I opgerig

Die eerste menslike nedersetting in die huidige Wallis het teen die einde van die laaste ystydperk ontstaan. In die Romeinse tydperk was Wallis die tuisland van 'n aantal stamme, waarvan die Silures in die noordooste en die Ordovices in die sentrale en noord-westelike gebiede die belangrikste was. Die Romeine het tydens hulle heerskappy in Brittanje 'n lyn van forte opgerig, waarvan die mees westelike naby Maridunum (die huidige Carmarthen) ontstaan het, en goud in Dolaucothi in die huidige Carmarthenshire ontgin. Hulle het blykbaar nog verder weswaarts voorgedring. Een van die bekendste Romeinse geboue is die vesting van Isca (die huidige Caerleon) met sy pragtige amfiteater. Tydens die 4de eeu het die Romeine die Christelike godsdiens in Wallis ingevoer.

Ná die ondergang van die Romeinse Ryk in Brittanje omtrent 410 is Wallis in 'n aantal koninkryke verdeel. Danksy die bergagtige topografie en die weerstand van die plaaslike bevolking het alle pogings van Angel-Saksiese stamme om Wallis te verower misluk. Die Angel-Saksiese koning Offa van Mercia het egter daarin geslaag om 'n Walliese gebied in die huidige Powys by sy ryk in te lyf. In sy opdrag is langs die grenslyn die sogenaamde Offa-wal opgerig.

Die oostelike gebiede, wat deur die Engelse setlaars verower is, het in Wallies bekendgestaan as die Lloegyr, die "Verlore Lande". In die huidige spelling Lloegr word dit as die Walliese naam vir Engeland gebruik. In die Angel-Saksiese dialekte is na die Walliesers as Walha (letterlik: "vreemdeling" of "buitelander") verwys. Die Walliesers het na hulleself tot in die 12de eeu as Brythoniaid (Britone) verwys, alhoewel die huidige terme Cymru en y Cymry al in 633 deur Aneirin oorlewer is.

As gevolg van die Normandiese verowering van Engeland is die Walliese onafhanklikheid geleidelik ondermyn. Edward I van Engeland het in 1282 'n oorwinning oor Llywelyn die Laaste, die laaste onafhanklike vors van Wallis, behaal. Edward het 'n aantal kastele soos Beaumaris, Caernarfon, Conwy en Harlech laat oprig om die Walliesers in bedwang te hou. Met die Wet oor die Regspraak in Wallis van 1535 is Wallis onder die heerskappy van Hendrik VIII van Engeland, 'n heerser met Walliese voorvaders, geannekseer. Die Wallis-en-Berwick-Wet van 1746 het bepaal dat alle Engelse wette outomaties ook in Wallis (en Berwick, 'n stad digby die Engels-Skotse grens) toegepas sou word, tensy deur die wet anders bepaal word.

Tydens die 20ste eeu het die Walliese nasionale bewussyn herleef. Plaid Cymru was die leidende organisasie in 'n onafhanklikheidsbeweging wat die selfregering van Wallis opgeëis het. Sedert 1955 word die term Engeland en Wallis vir alle gebiede gebruik, waar Engelse reg aangewend word. Terselfdertyd is Cardiff tot die hoofstad van Wallis verklaar. Uit vrees oor die moontlike uitwissing van die Walliese taal is in 1962 die Walliese Taalgenootskap gestig. In 1966 het Plaid Cymru daarin geslaag om die setel van die kiesafdeling Carmarthen te wen. Vir 'n kort tydperk was daar selfs geweldpleging deur Walliese nasionaliste van die Free Wales Army en Mudiad Amddiffyn Cymru (AMC – "Walliese Weerstandsbeweging"). Die Wallis-en-Berwick-Wet is in 1969 ten opsigte van Wallis herroep. 'n Wettelike definisie van Wallis is ingevoer en die grenslyn met Engeland afgebaken.

Die Walliesers het die voorgestelde skepping van 'n eie parlement in Wallies in 1979 eers met 'n oorweldigende meerderheid in 'n referendum afgekeur, maar het in 1997 uiteindelik ten gunste van 'n eie volksraad gestem. Die Nasionale Vergadering van Wallis, wat sedert 1999 bestaan, besluit veral oor en beheer die regering se begroting vir Wallis.

Administratiewe streke

wysig

Op administratiewe vlak is Wallis onderdeel in 22 hoofgebiede (Engels: principal areas; Wallies: Prif ardaloedd Cymru).[22]

 
Kaart van Wallis se 22 hoofgebiede

Demografie

wysig

Historiese ontwikkeling

wysig
 
Mynwerkers en hul gesinne is meestal in lang rye eenderse baksteen-terrashuise gehuisves. Die foto wys Aberdare omstreeks 1910
 
Weelderige huisvesting: die country house Penrhyn-kasteel in Llandegai naby Bangor, Gwynedd in Noord-Wallis het sy oorsprong in 'n Normandiese kasteel wat in die 19de eeu tot 'n herewoning uitgebou is. Dit word as die argitek Thomas Hopper se meesterwerk beskou

Die nywerheidsomwenteling het in die 19de eeu aanleiding gegee tot ongekende bevolkingsgroei in Wallis. So het die bevolking van slegs sowat 'n halfmiljoen teen die middel van die 19de eeu gegroei tot 2,6 miljoen in 1921. Naas 'n natuurlike bevolkingsaanwas het binne- en buitelandse migrasie 'n beslissende rol gespeel. So het in die 1890's 130 000 migrante uit Engeland, Ierland, Spanje, Italië en ander lande na die Suid-Walliese steenkoolvelde gestroom, terwyl Wallisers uit landelike gebiede toenemend na die nuwe nywerheidsgebiede gemigreer het.

Ofskoon nuwe nywerhede en die mynboubedryf werkgeleenthede vir baie Walliese arbeiders geskep het, het baie ander na oorsese bestemmings geëmigreer, veral na die noordoostelike Verenigde State, maar ook na Suid-Afrika waar Walliese mynbouwerkers en -spesialiste grootliks bygedra het tot die ontwikkeling van die mynbousektor.[23] Die Walliese gemeenskap in Argentinië bestaan uit sowat 50 000 mense.[24]

Die agteruitgang van swaar nywerhede gedurende die 20ste eeu het net soos die toenemende kommersialisering, meganisering en kapitaalintensiteit van die landboubedryf emigrasiesyfers van veral jonger werknemers drasties laat styg. So is die Walliese bevolkingsamestelling dekades lank deur 'n buitengewoon hoë persentasie bejaardes gekenmerk.

Nuwe industriële groei het die bevolkingsverlies in die laat 20ste eeu verstadig, behalwe in Suid-Wallis en ander mynboustreke. Immigrasie- en emigrasiesyfers is intussen nagenoeg ewe groot, al het die grootskaalse vestiging van afgetredenes uit Engeland spanninge in tradisioneel Walliessprekende gebiede veroorsaak waar nuwe aankomelinge tans tot die helfte van die bevolking verteenwoordig. In sommige suidelike distrikte is daareenteen minder as tien persent van die inwoners buite Wallis gebore.

Gedurende die nywerheidsgroei in die laat 19de eeu het groter getalle swart seemans hulle in Suid-Wallis gevestig waar Cardiff een van die oudste swart gemeenskappe in Groot-Brittanje huisves. Bewoners met Afrika-wortels verteenwoordig tans egter net 'n baie klein persentasie van die Walliese bevolking.

Huidige bevolking

wysig
 
Swansea-baai en die stadsentrum van Swansea, die tweede grootste nedersetting in Wallis, soos gesien vanaf die bergpiek Kilvey Hill

Volgens die sensus van 2011 het die bevolking in dié jaar die rekordvlak van 3 063 456 bereik. In Junie 2018 is dit op 3 139 000 beraam. Sowat 'n kwart van die inwoners is in ander dele van die Verenigde Koninkryk gebore.

Vanweë die bergagtige karakter van die landskap is groot dele van Wallis maar yl bevolk en het die meeste nedersettings langs of naby die kus of in die mees suidelike graafskappe ontstaan wat sowat die helfte van die bevolking huisves. So is 'n groot persentasie van die bevolking in die nywerheidsgebiede van Suid-Wallis saamgetrek waar ook die grootste nedersettings Cardiff, Swansea en Newport geleë is. 'n Ander digbevolkte streek is in die noordooste rondom Wrexham geleë.

 
Tweetalige aanwysings vir die herwinning van huishoudelike afval
 
Verspreiding van Wallies in Wallis volgens die sensus van 2011

Terwyl feitlik alle inwoners Engels magtig is, word Wallies of Cymraeg, 'n Keltiese taal, nog deur 'n halfmiljoen mense of 19 persent van die totale bevolking gepraat. Sy opvallendste kenmerk is die reëlmatige en volledig fonetiese spelling. Wallies is nou verwant aan Kornies en Bretons en word as een van die oudste lewende tale in Europa beskou. Sy huidige taalvorm het reeds in die 6de eeu n.C. ontwikkel.

Wallies geniet in Wallis gelyke status met Engels, soos verskans in die Walliese Taalwet van 1993, die Wet oor die Regering van Wallis van 1998, en die Wet oor die Nasionale Vergadering van Wallis (amptelike tale) van 2012. Openbare liggame word verplig om 'n Walliese taalskema voor te berei en te implementeer. Wallies is 'n verpligte skoolvak vir alle leerders in Wallis tot ouderdom 16, en Walliesmediumskole raak steeds meer gewild.

Plaaslike rade gebruik Wallies net soos die Walliese Regering as ampstaal, en alle amptelike dokumente is in Engels en Wallies beskikbaar. Dieselfde geld vir plekname op straatborde en padtekens. Een televisiekanaal, S4C, saai sy programme in Wallies uit, net soos die openbare radiostasie BBC Radio Cymru. Daarnaas verskaf BBC Wales as openbare uitsaaier enkele van sy programme in Wallies aan S4C. Alhoewel daar tans geen dagblad in Wallies uitgegee word nie, verskyn 'n nasionale weekblad net soos tydskrifte en maandelikse streekskoerante in Wallies.

Walliese familiename

wysig

Anders as in Engeland was familiename in Wallis nog tot in die 16de eeu feitlik onbekend. Terwyl baie Engelse vanne afgelei is van beroepe, soos Carpenter, Taylor, Carter, Smith, Butcher en ander, het Wallisers patronieme gebruik – 'n kind het dus sy eie voornaam gekry én dié van sy vader gedra, met die woord ab of ap (afgelei van die Walliese mab "seun") daartussen. 'n Tradisionele Walliese naam soos Rhys ap Thomas kan dus vertaal word as "Rhys, seun van Thomas".

Eers vanaf die laat 15de en vroeë 16de eeu, toe die Walliese Huis van Tudor oor Engeland en Wallis regeer het, het statusbewuste Wallisers begin om hul patronieme volgens die Engelse voorbeeld te angliseer tot familiename wat vandag steeds in gebruik is. Patronieme soos ap Owen (seun van Owen) is gewysig tot Bowen; ab Evan tot Bevan.

Ander weer het vanne volgens die Engelse styl aangeneem wat op Christelike voorname gegrond was. So dra 'n groot aantal Wallisers tans familiename soos Jones (afgelei van John), Evans, Edwards, Davies (David), Williams, Thomas, Griffiths, Rees, Jenkins en baie ander.[25]

Sport

wysig
 
Die Walliese nasionale sokkerspan in 2011
 
Die Walliese nasionale rugbyspan tydens die Sesnasies-toernooi 2008 op die Millennium-stadion

Wallis beskik oor sy eie nasionale sportkompetisies en word tydens verskeie internasionale sportbyeenkomste soos FIFA Sokker-Wêreldbeker-toernooi, Rugbywêreldbeker, UEFA Europa-beker en Statebondspele deur sy eie onderskeidelike nasionale spanne verteenwoordig.[26][27] Gedurende Olimpiese Spele maak Walliese atlete egter deel uit van Groot-Brittanje se span, saam met Engeland, Skotland en Noord-Ierland. Wallis het sy eie nasionale beheerliggame, soos die Walliese Voetbalassosiasie en die Walliese Rugbyunie.

Rugby word as nasionale sport van Wallis beskou en is veral in Suid-Wallis gewild.[28] Wallis is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Tonga kan soortgelyke bewerings maak.[29] Die Walliese nasionale rugbyspan ding tydens die jaarlikse Sesnasies-toernooi met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Skotland mee en neem gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deel. Wallis was een van die gashere tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en die Rugbywêreldbeker 1999. Cardiff se Millennium-stadion is die grootste rugbystadion in Wallis en tuisstadion van die Walliese nasionale rugbyspan. Dit word as 'n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.[30] Wallis word tydens die Pro14-toernooi deur die vier spanne Cardiff Blues, Dragons, Ospreys en Scarlets verteenwoordig.

Krieket is een van min sportsoorte waar Wallis nie oor sy eie nasionale span beskik nie en Walliese spelers mag vir die Engelse nasionale krieketspan speel wat deur die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) beheer word. Wallis het saam met Engeland die krieketwêreldbekertoernooie in 1983 en 2019 gehuisves, en was een van die medegashere tydens die Krieketwêreldbeker 1999. Daarbenewens was Wallis medegasheer tydens twee Kampioenetrofeë (in 2013 en 2017).

Sokker is veral in Noord-Wallis gewild en sedert 1992 beskik Wallis oor sy eie sokkerliga, die Cymru Premier, wat die hoogste vlak van Walliese sokker is.[31] Tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2016, die eerste deelname vir Wallis op 'n UEFA Europa-beker ooit, het die Walliese nasionale sokkerspan tot die halfeindrondte deurgedring, maar teen die gasheer en latere naaswenner Frankryk verloor. Tot dusver het Wallis net aan twee Sokker-Wêreldbeker deelgeneem: Tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1958 in Swede het hulle die kwarteindrondte gehaal, maar teen die latere kampioen Brasilië verloor; tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022 in Katar is hulle reeds in die groepfase uitgeskakel.

Wallis het sedert 1930 aan elke Statebondspele deelgeneem en altesaam 306 medaljes ingepalm: 67 goud, 98 silwer en 141 brons. Walliese stede het dit al een keer gehuisves: Die Statebondspele van 1958 is in Cardiff aangebied.[32]

Verwysings

wysig
  1. (en) "Cymru am byth! The meaning behind the Welsh motto". WalesOnline. 6 Februarie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2020. Besoek op 5 Julie 2020.
  2. (en) "Statute of Rhuddlan". Oxford Reference. Besoek op 5 Julie 2020. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)
  3. (en) "Laws in Wales Act 1535 (repealed 21. Desember 1993)". legislation.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 April 2020. Besoek op 5 Julie 2020.
  4. (en) "Government of Wales Act 1998". legislation.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 April 2020. Besoek op 5 Julie 2020.
  5. (en) "Standard Area Measurements (Latest) for Administrative Areas in the United Kingdom (V2)". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 5 April 2023. Besoek op 5 Maart 2024.
  6. (en) "Mid-Year Population Estimates, UK, June 2022". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 26 Maart 2024. Besoek op 5 Maart 2024.
  7. (en) "Population estimates by sex, age and administrative area, Scotland, 2011 and 2012". Nasionale Rekords van Skotland. 8 Augustus 2013. Besoek op 8 Augustus 2013.
  8. 8,0 8,1 (en) "Regional gross value added (balanced) per head and income components". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 24 April 2024. Besoek op 5 Maart 2024.
  9. 9,0 9,1 (en) "Regional gross domestic product: all ITL regions". Kantoor vir Nasionale Statistieke. 24 April 2024. Besoek op 5 Maart 2024.
  10. (en) "Subnational HDI". Global Data Lab. Besoek op 5 Maart 2024.
  11. (en) "Gini coefficient by UK nation". Skotse Regering. Februarie 2020. Besoek op 5 Maart 2024.
  12. (en) Katherine L. Miller (2014). "The Semantic Field of Slavery in Old English: Wealh, Esne, Þræl" (PDF). University of Leeds. Besoek op 8 Augustus 2019.
  13. (en) John Davies (1994). A History of Wales. Londen: Penguin. p. 71. ISBN 978-0-14-014581-6.
  14. (en) J.R.R. Tolkien (1963). Angles and Britons: O'Donnell Lectures. Cardiff: University of Wales Press. pp. English and Welsh, an O'Donnell Lecture delivered at Oxford on 21 October 1955.
  15. (en) David Rollason (2003). "Origins of a People". Northumbria, 500–1100. Cambridge: Cambridge University Press. p. 60. ISBN 978-0-521-04102-7.{{cite book}}: CS1 maint: date and year (link)
  16. 16,0 16,1 (en) John Davies (1994). A History of Wales. Londen: Penguin. p. 69. ISBN 978-0-14-014581-6.
  17. (en) John Edward Lloyd (1911). A History of Wales from the Earliest Times to the Edwardian Conquest (Note to Chapter VI, the Name "Cymry"). Vol. I (2de uitg.). Londen: Longmans, Green, and Co. pp. 191–192.
  18. (en) Egerton Phillimore (1891). "Note (a) to The Settlement of Brittany". In Egerton Phillimore (red.). Y Cymmrodor. Vol. XI. Londen: Honourable Society of Cymmrodorion. pp. 97–101.
  19. (en) John Davies (1994). A History of Wales. Londen: Penguin. p. 71. ISBN 978-0-14-014581-6.
  20. (en) Chambers 21st Century Dictionary. 2008. p. 203. ISBN 978-81-8424-329-1. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  21. (en) MetOffice: Wales – Climate. Besoek op 7 Februarie 2016
  22. (en) "Local Government (Wales) Act 1994". www.legislation.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 September 2017. Besoek op 14 September 2017.
  23. (en) National Museum Wales: Working Abroad – Welsh Emigration. Besoek op 9 Februarie 2016
  24. (en) "Wales and Argentina". Wales.com se webwerf. Welsh Assembly Government. 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2015. Besoek op 24 Desember 2010.
  25. (en) Terry Breverton: The Welsh: The Biography. Stroud: Amberley Publishing 2012, bl. 216
  26. (en) Marc Keech: England and Wales. In: James Riordan, Arnd Krüger (uitgewer): European Cultures in Sport: Examining the Nations and Regions. Intellect, Bristol 2003, ISBN 1-84150-014-3, bl. 5–22.
  27. (en) "NGB websites: About us: Sport Wales – Chwaraeon Cymru". Sport Wales. 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2012. Besoek op 10 Maart 2012.
  28. (en) Harris, John (Summer 2006). "(Re)Presenting Wales: National Identity and Celebrity in the Postmodern Rugby World" (PDF). North American Journal of Welsh Studies. North American Association for the Study of Welsh Culture and History. 6 (2). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 10 September 2008. Besoek op 14 Julie 2008. rugby used to be the undisputed national sport of Wales […] Rugby Union's assumed position as "the national game" has often been questioned on the basis that it is predominantly a game played and followed in South Wales.
  29. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 6 Oktober 2007.
  30. (en) "British & Irish Lions". Britse en Ierse Leeus. Besoek op 14 Februarie 2021.
  31. (en) Alun Evans. "A Brief History of the League". Welsh Premier League. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2017. Besoek op 12 Julie 2017.
  32. (en) "1958 British Empire and Commonwealth Games". Commonwealth Games Federation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Junie 2019. Besoek op 5 Julie 2020.

Verdere leesstof

wysig
  • (en) Davies, John (1994). A History of Wales. Londen: Penguin. ISBN 978-0-14-014581-6.
  • (en) Davies, John; Jenkins, Nigel; Baines, Menna; Lynch, Peredur I., reds. (2008). The Welsh Academy Encyclopaedia of Wales. Cardiff: University of Wales Press. ISBN 978-0-7083-1953-6.

Eksterne skakels

wysig
Wiki-webtuistes

Walliese regering

Ensiklopediese inligting

Toerisme


  Verenigde Koninkryk  
LandeEngelandSkotlandWallisNoord-Ierland
Oorsese gebiedeAnguillaBermudaBrits-Antarktiese GebiedBritse Indiese OseaangebiedBritse Maagde-eilandeFalkland-eilandeGibraltarKaaimanseilandeMontserratPitcairneilandeSint Helena, Ascension en Tristan da CunhaSuid-Georgië en die Suidelike SandwicheilandeTurks- en Caicoseilande
KroongebiedeEiland ManGuernseyJersey
Sowereine militêre basisseAkrotiri en Dhekelië


  Keltiese gebiede in Europa  

Bretagne | Ierland | Wallis | Cornwall | Man | Skotland