Ontdekkingsreisigers in Siberië
Voorkoms
In die 16de eeu is Siberië geleidelik deur Rusland verower. Die Kosakleier Jermak het Siberië in 1580 met 1 636 man binnegetrek, al met die Tagil- en Toera-rivier langs. Die volgende jaar het hulle Isker, die tuiste van khan Koetsjoem van die Siberiese Khanaat verower. Koetsjoem het na die steppe gevlug en sy gebied aan Jermak afgestaan. Dié het Siberië volgens die destydse tradisie aan tsaar Iwan die Verskriklike oorhandig en so die guns van die tsaar gewen.
Vanaf die 17de eeu het talle Russe na Siberië gereis en voorheen onbekende gebiede en riviere ontdek. Van die bekendste ontdekkers was:
- Demid Pjanda (? – 1637 of later) was ’n groot pelsjagter in Siberië. Van 1620 tot 1624 het hy 8 000 km voorheen onbekende Siberiese riviere ontdek. Toe hy die boonste deel van die Toengoeska-rivier bereik, het hy die Lena-rivier ontdek. Hy het 2 400 km van die rivier verken en die eerste Rus geword wat Jakoetië bereik en die plaaslike bevolking ontmoet het. Op sy verdere reise het hy die eerste Rus geword wat die Boerjate ontmoet het. Hy het ook die Angara-rivier verken en eindelik ontdek die Angara en die Bo-Toengoeska is dieselfde rivier.
- Iwan Moskwitin (? – 1645 of later) was die eerste Rus wat die Stille Oseaan bereik het. Hy het ook die See van Ochotsk ontdek. In 1640 het hy en sy geselskap die mond van die Amoer bereik en op pad terug die Sjantar-eilande ontdek. ’n Kaap aan die See van Ochotsk is na hom genoem.
- Wassili Pojarkof (? – 1668 of later) is in 1643 saam met 133 man na Jakoetië gestuur om nuwe gebiede te verken. Hy het nie die regte roete geken nie en het met die Lena-, Aldan- Oetsjoer- en Gonam-rivier opgevaar en die eerste Rus geword wat die Amoer-rivier bereik het. Hy het daarna die mond van die Amoer vanaf die land ontdek.
- Jerofei Chabarof (1603 – na 1671) was ’n bestuurder van die Stroganof-handelaars en het in 1641 na Siberië gereis om soutwerke aan die Lena-rivier te stig. In 1649–1650 was hy die tweede Rus wat die Amoer-rivier verken het ná Pojarkof. Later is hy na die Lena teruggestuur. Hy het toe met die Amoer afgeseil en Atsjansk, wat die voorloper van die huidige Chabarofsk was, gestig. Op pad daarheen het hy verskeie leërs, onder andere Sjinese en Koreaanse magte, verslaan.[1] Die stad Chabarofsk is onder andere na hom genoem.
- Koerbat Iwanof (?–1666) was ’n Kosak wat in 1642 die eerste bekende kaart van die Russiese Verre-Ooste geteken het. Hulle het die Baikal-gebergte te voet oorgesteek en die Baikalmeer ontdek.[2][3]
- Wladimir Atlasof (1661–1664 – 1711) het die eerste permanente Russiese nedersettings op die Kamtsjatka-skiereiland gestig en het die streek se kolonialisasie gelei. Hy was die eerste persoon wat die streek se natuur en inwoners in besonderhede beskryf het.[4] Atlasof-eiland aan die suidpunt van Kamtsjatka is onder andere na hom genoem.
- Danila Antsiferof (?–1712) was die Kosak-ataman op die Kamtsjatka-skiereiland. Hy was een van die eerste Russe wat die Koeril-eilande besoek en hulle op papier beskryf het.[5] Een van die eilande is na hom genoem.
- Johann Georg Gmelin (1709–1755) het in 1733–1743 aan die Groot Noordelike Ekspedisie deelgeneem. Hy het verskeie reise deur Siberië onderneem en in die proses meer as 34 000 km afgelê. Hy het ontdek dat die Kaspiese See onder die seevlak lê. Hy het twee groot werke oor sy reise in Siberië gepubliseer en meer as 500 voorheen onbekende plantsoorte beskryf.[6] Die Gmelina-plantgenus is onder andere na hom genoem.
- Aleksander Boenge (1803–1890) het in 1825–1829 die flora van Siberië en die Altaigebergte bestudeer. In 1835 het hy die Wolga-steppe en die Strachan-streek nagevors.[7] ’n Krater op Mars en meer as 100 plante is na hom genoem.
- Gennadi Newelskoi (1813–1876) het in 1848 die eskpedisie in die Russiese Verre-Ooste gelei waar hy onder meer die Sachalin-gebied verken het. Hy het bewys dat die Straat van Tartarye nie ’n golf was nie, maar inderdaad ’n straat wat aan die Amoer-riviermonding verbind was met ’n smal deel wat later Newelskoi-straat genoem is. Die Russe het sy verslag aanvaar as die eerste bewys dat Sachalin inderdaad ’n eiland is. Hy was een van die sleutelfigure in die Russiese kolonialisasie van Primorski-krai en Sachalin.
- Wladimir Obroetsjev (1863–1956) het in 1886 na Siberië gereis waar hy die Kara Koem-woestyn en die oewers van die Amoe Darja-rivier verken het. Nadat hy ’n halfeeu in Siberië deurgebring het, het hy sy bevindings saamgevat in die uitgebreide Die Geologie van Siberië. ’n Bergreeks, ’n krater op die maan asook ’n paar strate en plekname is na hom genoem.
- Iwan Tsjerski (1845–1892) is na Transbaikalië verban vir sy deelname aan ’n opstand van 1863 tot 1865 in die Pools-Litause Gemenebes teen Rusland. Hy het ’n selfgeleerde wetenskaplike in Siberië geword. Hy het die Sajan-gebergte, Irkoet-rivier, Laer-Toengoeska-rivier en die Selenga-rivier verken. Hy het die ontstaan van die Baikalmeer verduidelik, die eerste kaart van sy kus geteken en die geologiese samestelling van Oos-Siberië beskryf. In 1892 het die Kolima-, Jana en Indigirka-rivier verken.[8] Die Tsjerski-gebergte en verskeie bergpieke is onder andere na hom genoem.
- Wladimir Arsenjef (1872–1930) het ’n paar gewilde boeke geskryf oor sy reise in 1902-07 in die Oessoeri-kom. Hy was die eerste persoon wat talle spesies van Siberiese flora beskryf het; hy het sowat 60 werke geskryf oor die geografie, dierelewe en etnografie van die streke waardeur hy gereis het.[9] Die dorp Arsenjef in Primorski-krai is onder andere na hom genoem.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Explorers of Siberia
- ↑ Basil Dymytryshyn, 'Russia's Conquest of Siberia', 1985
- ↑ Ivanof, Koerbat
- ↑ "Тропою землепроходцев". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2013. Besoek op 17 Desember 2009.
- ↑ Russiese historici oor Wladimir Atlasof Geargiveer 27 Augustus 2012 op Wayback Machine by N.V. Tolkacheva.
- ↑ Great Soviet Encyclopedia
- ↑ Gmelin-familie
- ↑ Александр Андреевич Бунге - А.К. Сытин ; отв. ред. Р.В. Камелин. — М. : Наука, 2006. — ISBN 5-02-035310-8
- ↑ John J. Stephan, The Russian Far East: A History, Stanford University Press, 1994, ISBN 0-8047-2701-5, Google Print, p.315
- ↑ Vladimir Klavdievich Arsenyev and his heritage Geargiveer 13 September 2007 op Wayback Machine deur Sergey Krivoshenko