Gaan na inhoud

Lesji

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

’n Lesji of lisowik (Russies: леший; Oekraïens: лісовик) is in die Slawiese folklore ’n woudgees wat wilde diere en die woude beskerm.

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

’n Lesji maak gewoonlik sy verskyning in die vorm van ’n lang man, maar kan net sowel die vorm van ’n grashalm of hoë boom aanneem. Hulle hare en baard is van lewende gras en hulle word soms voorgestel met ’n stert, hoewe en horings. Hulle vel is bleekwit en kontrasteer met hulle heldergroen oë. Hulle word soms beskou as duiwels. ’n Lesji het ’n nou band met die wolf en word soms ook saam met bere gesien. Hy dra ’n knuppel om te wys hy is die baas van die woud.

Vermoëns

[wysig | wysig bron]

’n Lesji kan die vorm van enige plant of dier aanneem. As hy ’n mens is, lyk hy soos ’n gewone boer, behalwe dat sy oë gloei en hy sy skoene agterstevoor aanhet. In sommige verhale verskyn hy aan besoekers as ’n groot, pratende sampioen. Hy kan ook sy grootte verander, van dié van ’n grashalm as hy in die veld is tot dié van die hoogste boom as hy in die woud is.

As ’n mens met ’n lesji kan vriende maak, sal hy jou die geheime van die toorkuns leer. Boere en veewagters gaan dikwels ooreenkomste met hulle aan om hul diere en gewasse te beskerm.

Lesji's kan kwaad doen, soos om boere te laat verdwaal, hulle siek te maak of hulle dood te kielie. Hulle kan ook houtkappers se byle wegsteek. Soms verwyder hulle padtekens en maak die stemme van bekendes na, en lok mense so na hulle grot waar hulle hulle kielie. Lesji's is nie altyd sleg nie – hoewel hulle daarvan hou om mense te mislei en jong vroue te ontvoer, sorg hulle ook dat vee nie ver wegdwaal nie.

Volgens die Poolse mitologie hou lesji's daarvan om in die vorm van ’n uil in ’n droë boom te sit en boere het dus nie bome afgekap waarin ’n uil sit nie. Die Russe het weer geglo lesji's sit in uithollings in bome.

Name en etimologie

[wysig | wysig bron]
’n Tekening deur Iwan Jizjakewitsj, in die tydskrif Niwa (1904).

Die lesji is onder ’n verskeidenheid name en spellings bekend, insluitende die volgende:[1][2][3]

Bekendste naamvariasies:

  • Borowoi (Russies: Боровой, Pools: Borowy) "[hy] van die woud"
  • Gajewoi (Russies: Гаевой, Pools: Gajowy) "[hy] van die ruigte"
  • Lesjak (Russies: Лешак, Serwo-Kroaties: Lešak, Лешак)
  • Lesji (Russies: Леший, Belarussies: Лешы, Pools: Leszy, Tsjeggies: Leši, Serwo-Kroaties: Лешиј)
  • Lesnik (Russies: Лесник, Pools: Leśnik, Bulgaars: Лесник, Serwo-Kroaties: Lesnik, Лесник)
  • Lesowik (Russies: Лесовик, Belarussies: Лесавік, Oekraïens: Лісовик, Serwo-Kroaties: Lesovik, Лесовик)
  • Lesowoi (Russies: Лесово́й, Tsjeggies: Lesovij, Serwo-Kroatsies: Lesovoj, Лесовој)
  • Lesoen (Russies: Лесун, Belarussies: Лясун)
  • Mezjsargs (Letties: Mežsargs) "woudbewoner"
  • Misjkinis (Litaus: Miškinis) "woudman"
  • Misjko Welnias (Letties: Miško velnias) "bosduiwel"
  • Wir'awa (Erzja: Вирьава) "woudmoeder"
Tuiste van die lesji. Feëwoud met sonsondergang, deur Iwan Bilibin (1906).

Eufemistiese titels:

  • Hy (Russies: он), ook vir die duiwel gebruik, gebaseer op die bygeloof dat die noem van ’n bose gees se naam bose dinge kan oproep
  • Hy self (Russies: он сам) soos "hy"[4]
  • Les tsjestnoi (Russies: Лес честной) "geëerde een van die woud"
  • Les prawjedni (Russies: Лес праведный) "regverdige een van die woud"
  • Lesnoi djedoesjka/djed of Djedoesjka-lesowoi (Russies: Лесной дедушка/дед, Дедушка-лесовой, Belarussies: Лясны дзед, Pools: Leśny dziad) "oupa van die woud"
  • Lesnoi doech (Russies: Лесной дух) "woudgees"
  • Lesnoi djadja (Russies: Лесной дядя) "oom van die woud"
  • Lesnoi chozjain (Russies: Лесной хозяин) "meester van die woud"
  • Lesnoi zjitel' (Russies: Лесной житель) "woudloper"
  • Lesni moezjik (Tsjeggies: Lesní mužík, Slowaaks: Lesný mužík), "woudman"

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Afanasjef, Aleksander Nikolajewitsj. (2013) Поэтические воззрения славян на природу [Die poëtiese opvatting van Slawiërs van die natuur]. Akademitsjeski Projekt. Moskou. ISBN 978-5-8291-1451-0 ISBN 978-5-8291-1461-9
  2. Afanasjef, Aleksander Nikolajewitsj. (1983) Древо жизни и лесные духи [Die boom van die lewe en die woudgeeste]. Sowremennik. Moskou.
  3. Lefkijefskaja, Elena E. (2011) Мифы русского народа [Mites van die Russiese volk]. AST, Astrel, VKT. Hoofstuk "Lesji". ISBN 978-5-17-072533-5 ISBN 978-5-271-33771-0 ISBN 978-5-226-03926-3
  4. Ivanits, Linda J. (1989) Russian Folk Belief. Routledge. p. 68 ISBN 0-873-32889-2

Eksterne skakel

[wysig | wysig bron]