Gaan na inhoud

Humor (medies)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die vier humores.

Die vier humores (enkelvoud: humor) is deel van ’n mediese stelsel wat deur geneeshere in Antieke Griekeland en Antieke Rome aanvaar is. Dit verduidelik die werking van die liggaam aan die hand van vier vloeistowwe (humores): bloed, slym, geel gal en swart gal. Dié benadering word "humorale patologie" genoem.

Te veel of te min van enige van die vier vloeistowwe sou volgens die antieke dokters ’n direkte invloed op die mens se temperament en gesondheid hê. Dit is baie individualisties, want elke mens het glo sy eie besondere humorale samestelling gehad.[1] Dit het ’n holistiese benadering gehad, want die verband tussen die geestelike en fisieke prosesse is benadruk deur hierdie raamwerk.[2] Die model is aanvaar deur van Hippokrates tot ander Griekse, Romeinse en Persiese geneeshere en was die aanvaarde siening van die menslike liggaam tot met die ontwikkeling van moderne mediese navorsing in die 19de eeu.

Vier humores

[wysig | wysig bron]

Die teorie bepaal basies dat wanneer die vier humores in ewewig was, die persoon gesond was. Alle siektes en gestremdhede het ontstaan weens ’n wanbalans van hierdie vloeistowwe. Daar is geglo die tekort of oorvloed van die humores word veroorsaak deur die inaseming van dampe of die opneem daarvan deur die liggaam. Dokters het geglo elk van die humores neem toe of af in die liggaam na gelang van die persoon se dieet en aktiwiteite. Dit was verwant aan die teorie van die klassieke vier elemente: aarde, vuur, water en lug; elk het een van die humores verteenwoordig: die aarde die swart gal, vuur die geel gal en water die slym, met al vier elemente teenwoordig in die bloed.[3]

Die woord "humor" is ’n vertaling van die Griekse χυμός,[4] chymos (letterlik "sap").

Die volgende tabel wys die vier humores met hul ooreenstemmende elemente, seisoene, plek van ontstaan en gevolglike temperamente asook hul moderne ekwivalente:[5]

Humor Seisoen Element Orgaan Eienskappe Antieke naam Eienskappe
Bloed lente lug lewer warm & nat sanguinies dapper, hoopvol, amoreus
Geel gal somer vuur galblaas warm & droog choleries opvlieënd, buierig
Swart gal herfs aarde milt koud & droog melancholies swaarmoedig, slaaploos, prikkelbaar
Slym winter water brein/longe koud & nat flegmaties kalm, onemosioneel

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Bynum, edited by W.F.; Porter, Roy (1997). Companion Encyclopedia of the History of Medicine (1ste uitg.). London: Routledge. p. 281. ISBN 978-0-415-16418-4. {{cite book}}: |first= has generic name (hulp)
  2. Bynum, edited by W.F.; Porter, Roy (1997). Companion Encyclopedia of the History of Medicine (1ste uitg.). Londen: Routledge. ISBN 978-0-415-16418-4. {{cite book}}: |first= has generic name (hulp)
  3. Wittendorff, Alex (1994). Tyge Brahe. G.E.C. Gad. p45
  4. http://www.perseus.tufts.edu/cgi-bin/ptext?doc=Perseus%3Atext%3A1999.04.0057%3Aentry%3D%23115103
  5. Keirsey, David (1998). Please Understand Me II: Temperament, Character, Intelligence. Del Mar, CA: Prometheus Nemesis Book Company. p. 26. ISBN 1-885705-02-6.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]