Kuklade
Die Kuklade of Siklade (Grieks: Κυκλάδες, uitspraak kʲikˈlaðe̞s) is 'n Griekse eilandgroep in die Egeïese See, suidoos van die Griekse vasteland; asook 'n administratiewe prefektuur van Griekeland. Dit is een van die eilandgroepe wat die Egeïese argipel uitmaak. Die naam verwys na die eilande "rondom" (κυκλάς) die heilige eiland Delos. Die Kuklade is ook die oorsprong van 'n katsoort wat plaaslik geteel is (die Egeïese kat).
Kuklade Inheemse naam: Κυκλάδες | |
---|---|
Satellietbeeld van die Kuklade | |
Geografie
| |
Ligging | Griekeland, Egeïese See |
Koördinate | 37°03′N 25°28′O / 37.050°N 25.467°O
|
Oppervlakte | 2 572 vk km
|
Administrasie | |
Griekeland | |
Streek | Suid-Egeïes
|
Hoofstad | Ermoupolis |
Grootste stad | Ermoupolis (25 000)
|
Demografie | |
Bevolking | 109 956
|
Die Kuklade bestaan uit omtrent 220 eilande, en die bekendstes hiervan is Amorgós, Anáfē, Ándros, Antíparos, Dēlos, Eschátē, Íos, Kéa, Kímōlos, Kýthnos, Mēlos, Mýkonos, Náxos, Páros, Folégandros, Sérifos, Sífnos, Síkinos, Sýros, Tēnos, en Thēra, oftewel Santoríni. Meeste van die kleiner eilande is onbewoon.
Ermoupolis, op Syros, is die hoofdorp en administratiewe sentrum van die prefektuur.
Die eilande is eintlik die pieke van 'n ondersese berglandskap, met die uitsondering van twee vulkaniese eilande, naamlik Melos en Santorini (Thera). Die klimaat is oor die algemeen droog en matig, en met die uitsondering van Naxos is die grond nie baie vrugbaar nie: landbouprodukte sluit in wyn, vrugte, graan, olyfolie en tabak. Koeler temperature is beperk tot die hoër liggings, en winterweer is nie die reël nie. Wat vervoer betref is die Kuklade die enigste prefektuur van Griekeland wat nie aan 'n staatsonderhoude hoofweg gekoppel is, of oor enige snelwegnommer beskik nie. Al die paaie van die eilandkompleks is sekondêr of provinsiaal.
Geskiedenis
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Geskiedenis van die Kuklade.
Die aansienlike nalatenskap van die Laat-neolitiese en Vroeë bronstydse Kukladiese kultuur is besbekend danksy die skematies-eenvoudige, afgeplatte huisgodjies wat gekerf is uit die eiland se suiwer wit marmer, eeue voordat die groot Middelbronstydse ("Minoïese") kultuur, aan die suidekant, in Kreta, posgevat het. Sedert die vroeë 20ste eeu is hierdie klipfiguurtjies uit grafte geplunder om die bedrywige Kukladiese antikwiteitemark te versadig.
'n Kenmerkende neolitiese kultuur het voor 4000 v.C. in die westelike Egeë ontstaan uit 'n samesmelting van Anatoliese en vastelandse Griekse elemente. Dit was gebaseer op die verbouing van emmertarwe en wildegars, die aanhou van skape, bokke en varke, en die vangs van tuna, wat blykbaar vanuit klein bote gespieshengel is.[1] Argeologiese lokale sluit in Saliagos en Kephala (op Keos) waar tekens van koperverwerking gevind is. Geeneen van die klein Kukladiese eilande kon meer as 'n paar duisend mense huisves nie, alhoewel modelle van Laat-Kukladiese bote aandui dat vyftig roeiers uit die verspreide gemeenskappe saamgestel kon word.[1] Toe die doeltreffend georganiseerde paleiskultuur van Kreta ontstaan het, het hierdie eilande gekwyn tot onbenulligheid, met die uitsondering van Delos, wat sy argaïese reputasie as 'n heiligdom regdeur die oudheid gestand gedoen het, tot en met die koms van die Christendom.
Argeologie
wysigDie eerste argeologiese uitgrawings van die 1880's is opgevolg deur stelselmatige werk deur die Britse Skool te Athene en deur Christos Tsountas, wat grafliggings op verskeie eilande ondersoek het van 1898 tot 1899, en die term "Kukladiese beskawing" geskep het. Na 'n aanvanklike afname, het belangstelling in die mid-20ste eeu opgebloei, namate versamelaars meegeding het om besit van die figuurtjies wat so nuwerwets voorkom dat dit met die beeldhouwerk van Jean Arp of Constantin Brâncuşi vergelyk kan word. Sekere lokale is ook geplunder en 'n lewendige handel in vervalsings het ontstaan. Die konteks van baie van hierdie Kukladiese figuurtjies is grootliks vernietig en hul betekenis mag miskien nooit volkome begryp word nie. 'n Ander groep interessante en mistieke objekte is die Kukladiese braaipanne. Meer akkurate argeologie het onthul hoe in breë trekke, 'n landbou- en seevarende kultuur vanuit Klein-Asië geïmmigreer het, om en by die 5000 v.C.. Vroeë Kukladiese kulture het in drie fases ontwikkel, om en by die tydperk tussen 3300 en 2000 v.C., toe dit toenemend oorspoel is deur die gedyende invloed van Minoaanse Kreta. Die vastelandse Griekse kultuur wat die tydgenoot van die Kukladiese kultuur was, staan bekend as die Helladiese kultuur.
In onlangse dekades het die Kuklade-eilande gewild geword by Europese en ander toeriste, wat gevolglike probleme soos erosie, besoedeling en watertekorte meegebring het.
Provinsies
wysigLet daarop dat die Provinsies nie meer oor enige regsstatus in Griekeland beskik nie.
Kyk ook
wysigVerwysings
wysigVerdere leesstof
wysig- J. A. MacGillivray en R. L. N. Barber, redakteurs, The Prehistoric Cyclades (Edinburgh) 1984.
- R. L. N. Barber, The Cyclades in the Bronze Age (Iowastad) 1987.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Kuklade. |
- Jeremy B. Rutter, "The Prehistoric Archaeology of the Aegean" Geargiveer 1 Januarie 2009 op Wayback Machine: veral Lesse 2 en 4: chronologie, geskiedenis en bibliografie
- Cyclades News portal: Cyclades News portal