Gaan na inhoud

Tiemie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Tiemie
Thymus vulgaris
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Thymus

Tiemie (van die Griekse woord thymon wat "dapperheid" beteken) is 'n kruidagtige plantsoort met ongeveer 350 aromatiese, immergroen, meerjarige spesies in die familie Lamiaceae en is inheems aan Europa, Noord-Afrika en Asië. Die plantjie is ongeveer 40 cm hoog en het dun, soms draderige steeltjies; die blare is ovaal en baie klein, tussen 4 en 20 mm lank. Die blomme verskyn in digte bondels met 'n oneweredige bloemkop. Die blomme is wit, pienk of pers van kleur, afhangende van die spesie.

Thymus spesies word as voedsel gebruik deur die larwes van sommige Lepidoptera-insekte (motte en skoenlappers); die motspesie, C. struella, se dieet bestaan uitsluitlik uit tiemie.

Spesies

[wysig | wysig bron]

Daar is ongeveer 350 tiemie spesies, waarvan die bekendste twee T. vulgaris en T. serpyllum is.

  • Wildetiemie, oftewel T. serpyllum, se Latynse naam is te danke aan sy vorm: die spesie en sy verskeie subspesies is kruiperplante, met lang, draderige stele wat in S-vorms oor die grond kruip (serpere - "slang", of letterlik "die kruipende een").
  • "Gewone" tiemie, T. vulgaris, is die gekweekte vorm van wildetiemie en het 'n houtagtiger vorm.
  • 'n Ander gewilde tiemie spesie is Thymus × citriodorus, oftewel suurlemoentiemie. Dié subspesie is 'n kruising tussen T. pulegioides en T. vulgaris. Dit word veral by die bereiding van voedsel (in besonder vis) gebruik.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die regterkantste skets is 'n afbeelding van Thymus deur die Duitse wetenskaplike, Leonhart Fuchs (1545)

Die woord tiemie kom van die Griekse woord thymon, wat "dapperheid" beteken. Tiemie het sedert die antieke tydperk bekend gestaan vir sy magiese, kulinêre en geneeskundige waarde.

In antieke Egipte is tiemie gebruik by die balseming van mummies. 'n Ou Griekse gesegde, "om na tiemie te ruik", word as loftuiging bedoel. Plinius, 'n natuurfilosoof en skrywer van die Naturalis Historia het in 77 n.C. van tiemie gesê dat "'n afkooksel in asyn aan die slape gesmeer word vir hoofpyn". Hy het dit ook aanbeveel as 'n teengif vir slangbyte en die "gif van seediere".

Romeinse soldate het dit in hulle badwater geplaas om hulle krag en energie te gee tydens gevegte. Romeine het tiemie ook in hulle beddegoed geplaas om nagmerries en swaarmoedigheid te voorkom. Die sterk geur van tiemie is daarnaas ook gebruik as 'n motweerder en as 'n soort ontsmettingsmiddel, waarby tiemie soos wierook verbrand is.

Benediktynse monnike het in die 11de eeu tiemieplante na Sentraal-Europa gebring en die plant vervolgens in kloostertuine gekweek. Die plant het ook vinnig gewone boere se aandag getrek. Hildegard van Bingen en Albertus Magnus het tiemie as 'n waardevolle geneeskundige plant beskryf en aanbeveel. In die Middeleeue het Europese vroue 'n takkie tiemie as deel van 'n aandenking aan hulle ridders gegee wanneer hulle op reis of na oorlog gaan. Dit was ook in dié tyd in Frankryk geglo dat tiemietee jou sou help om feetjies te sien dans. Jong vroue het dikwels 'n boeket van bloeiende tiemie gedra om aan te dui dat hulle bereid sou wees vir 'n romanse.

Rudyard Kipling het geskryf oor wind-bit thyme that smells of dawn in paradise ("wind-gebytde tiemie wat soos sonopkoms in die paradys ruik").

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Voedingswaarde

[wysig | wysig bron]

Die volgende tabel bevat die voedingswaarde van twee teelepels (10 ml) gedroogde tiemeblare (2.88 g):

Voedingstof: Hoeveelheid % aanbevole
daaglikse inname
Voedingsdigtheid
Vitamiene K 48.01 mcg 60% 136,4
Yster 3.56 mg 19,8% 44,9
Mangaan 0.24 mg 12% 27,3
Kalsium 54.16 mg 5,4% 12,3
Vesel 1.08 g 4,3% 9,8
Kalorieë 7.92 >1% -

Kulinêre gebruike

[wysig | wysig bron]
'n Bouquet garni met tiemie, lourierblaar en salie

Tiemie is 'n gewilde krui in die moderne kombuis, dit is veral die blare wat gebruik word, alhoewel die blomme ook by tiemie-asyn gevoeg word.

Disse waarin tiemie gebruik kan word
Vleis Beesvleis, lam- of skaapvleis, varkvleis
Vis en seekos Gebakte of geroosterde vis
Algemene seekos
* Vir algemene gebruik by vis, gebruik suurlemoentiemie
Pluimvee Hoender, kalkoen en duif
Groente Kool, groenboontjies, sampioene, uie, aartappels, Sauerkraut
Sop Algemene soppe, minestrone sop, tamatiesop
* Nie aartappelsop nie
Ander Sagte kase, gestoofde disse, slaaie, vla (suurlemoentiemie), brood,
hartige olies en asyne (die blomme ook), hartige jellies, bouquet garni saam met lourierblare en pietersielie of salie

Medisinale gebruike

[wysig | wysig bron]
  • Verminder gasserigheid
  • Verbeter sirkulasie wanneer dit by die dieet ingesluit word.
  • Antisepties – ook 'n bestanddeel in kommersiële antiseptiese rome.
  • Word by badwater gevoeg om die spiere te stimuleer
  • Stimuleer die witbloedselle wat infeksie bestry
  • 'n Warm infusie bestry hooikoors
  • Word in tandepasta en mondspoelmiddels gebruik.

Waarskuwing:

  • Gebruik slegs olie wat van T. vulgaris gedistilleer is; die ander spesies se gedistilleerde olies is giftig.
  • Koop gedistilleerde olies slegs van betroubare bronne.
  • Vermy enige tiemieolies of infusies tydens swangerskap: dit stimuleer die baarmoeder.
  • Hoë bloeddruklyers word aangeraai om gedistilleerde tiemieolies te vermy.
  • T. vulgaris se olie kan die slymvliese irriteer, dus is dit belangrik om dit goed te verdun.
Die blomme van Thymus zygis

Ander gebruike

[wysig | wysig bron]

Die aromatiese blare en blomme van die verskillende tiemie spesies word gereeld in potpourri of ruikers gebruik. Die blomme is veral gewild in ruikers vir pasgebore babas en siekes, as 'n simbool van dapperheid.

Bye vind die blomme onweerstaanbaar en die heuning van bye wat hul stuifmeel slegs van tiemieblomme ontvang, word hoog geag.

Tiemie word ook gebruik as 'n weringsmiddel teen insekte en kweekhuispeste.

Die plant word tans steeds gebruik vir balsemmiddels en 'n mengsel van tiemieolie en alkohol sal papier teen skimmel beskerm.

Kweking

[wysig | wysig bron]
Die blomme van Thymus vulgaris

Tiemie aard goed in die omgewing van rose of kool, maar vaar sleg wanneer dit naby wynruit geplant word. Die plant is immergroen en meerjarig, maar moet in die somermaande gereeld besnoei word om te voorkom dat dit te houtagtig word.

Die plant benodig vol son; die wilde tiemie spesies verkies steenagtige gebiede, terwyl die T. vulgaris spesies goed gedreineerde grond verkies wat ietwat alkalies is.

Tiemie saadjies moet verkieslik in die lente gesaai word en klein plantjies dan 23 – 28 cm uitmekaar verplant word. Die plante floreer ook as potplante, mits dit genoeg sonlig kry.

Tiemie kan 'n minimumtemperatuur van tot -28 °C weerstaan, alhoewel dit aangeraai word om die plant in baie koue weer te beskerm.

Die blare se geur is op hul beste in die somer, terwyl die plant blom. Dit word ook aanbeveel om die blare dan te oes en in 'n goed-geventileerde, donker area uit te droog.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Ody, P. (1994). Kruie: Die natuur se medisyne. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Bremness, L. (2000). Essential Herbs. Londen: Quadrille.
  • Bremness, L. (red) (1990). Herbs – A DK Pocket Encyclopedia. Londen: Dorling Kindersley.
  • Woods, N. (2002). Herbs & Spices. Glasgow: Collins Gem.
  • Thyme Geargiveer 7 Julie 2007 op Wayback Machine op die webwerf van The World's Healthiest Foods. Laaste besoek 15 April, 2007.