Gaan na inhoud

Swartwoudklok

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Swartwoudklok

Die term Swartwoudklok (Duits: Schwarzwälder Uhr of Schwarzwalduhr) verwys na verskillende tipes klokke wat in die Duitse bergreeks Swartwoud vervaardig is. Die eerste dekoratiewe koekoekklok, die bekendste ontwerp van alle Swartwoudklokke, is volgens oorlewering in 1737 deur Franz Anton Ketterer in Schönwald vervaardig.

Houtspilklok

[wysig | wysig bron]
Houtspilklok

Houtspilklokke is die oudste bekende tipe van Swartwoudklokke. Die klokke is aangedryf deur houtspille, wat op houtplaatjies aangebring is, en 'n gladde veldsteen, wat met 'n teengewig aan 'n snoer opgehang is. Die klokke se looptyd het twaalf uur beloop. Sedert die tweede helfte van die 18de eeu is die tandwiele van die klokke van geelkoper gemaak, alhoewel die klokke nog steeds van houtrame en -plaatjies voorsien is.


Lakbordklok

[wysig | wysig bron]
Lakbordklok

Lakbordklokke is gewone hangklokke, wat sedert die middel van die 19de eeu vervaardig is. Hierdie kloktipe het destyds sowat die helfte van die klokproduksie in die Swartwoud verteenwoordig. 'n Aantal bordskilders het pragtige klein kunswerke geskep. Die klokke se lakborde is handgeskilder en van lakwerk voorsien. Die lakborde, slagwerke en later ook die koekoekgeluid het 'n tipiese kenmerk van swartwoudklokke geword.

'n Besondere soort lakbordklok is die sogenaamde huweliksklok. Hulle is aan bruidspare geskenk, en die name van die paar is op die lakbord aangeteken.

'n Groot aantal lakbordklokke is onder meer na Frankryk uitgevoer, en die klokvervaardigers uit die Swartwoud het hier baie filiale gestig, wat die klokke bemark het. Die motiewe van die klokke, wat vir die Franse mark vervaardig is, het die modes van die tyd weerspieël. Toe die Franse koning Karel X in 1827 vir die eerste keer 'n kameelperd in Parys vertoon het, is lakborde van 'n kameelperd en twee negers voorsien.

Jockele-klok

[wysig | wysig bron]
Jockele-klok

Die term Jockele-klok verwys na kleiner swartwoudklokke, wat net 8 sentimeter hoog, 6 sentimeter wyd en 5 tot 6 sentimeter diep was. Hulle is dikwels van 'n porselein- of geelkoperblikbord voorsien. Die naam is afgelei van Jacob ("Jockele") Herbstreith, 'n klokmaker uit die dorp Hinterzarten, wat hierdie klein hangklokke teen omtrent 1790 vervaardig het.


Sorg-klok

[wysig | wysig bron]
Sorg-klok

Die Sorg-klok is 'n baie klein hangklok met 'n piepklein uurwerk en 'n bord, wat net 7 sentimeter hoog is. Die klok is vernoem na die Sorg-gesin, wat hierdie klokke omtrent 1820 vir die eerste keer in Neustadt vervaardig het. Sorg-klokke is baie skaars en gewild by versamelaars.


Koekoekklok

[wysig | wysig bron]
Koekoekklok

Die koekoekklok is die bekendste tipe swartwoudklok, wat deur middel van twee pype die roep van die inheemse koekoek naboots. Hierdie klokke is vir die eerste keer in die tydperk tussen 1730 en 1750 in die Swartwoud vervaardig.

Die huidige tipe koekoekklok, wat wêreldwyd bekend is, gaan terug op 'n ontwerp van die argitektuur-professor Friedrich Eisenlohr uit Karlsruhe, wat feitlik 'n miniatuurweergawe van sy spoorweghuise was. Die ontwerp is tydens 'n wedstryd van die Klokmakersskool Furtwangen in die jaar 1852 met 'n prys bekroon. Die klokke se houtborde is dikwels met figure uit die Swartwoud se natuurlewe soos eekhorinkies en herte versier. Ander klokke spog met beweeglike figuurtjies, wat op die maat van die slingering of met die klokslag dans en tiekiedraai.


Figure-klok

[wysig | wysig bron]
Figure-klok

Naas die koekoekklokke is ook ander outomatiese klokke in die Swartwoud vervaardig, wat in die vaktaal "figureklokke" (Duits: Figurenuhren) en in die plaaslike dialek "mannetjiesklokke" (Duits-Alemannies: Männleuhre) genoem is. Die geskilderde figuurtjies kon dikwels hulle oë elke sekonde op die maat van die klok laat rol, klokke is gelui of klein soldaatjies is beweeg.


Fluit- of Musiekklok

[wysig | wysig bron]
Musiekklok

Dikwels is die klokke aan 'n musiekwerk gekoppel, wat van fluite, harpe of 'n glasklokkespel voorsien was, wat met die klokslag 'n aantal wysies laat klink het. Net 'n klein aantal klokmakers het oor die nodige tegniese kennis beskik wat nodig is om hierdie soort klokke te kan vervaardig. In die fluitklokke het klein blaasbalkies hout- of metaalpype van lug voorsien en wysies laat klink. Ook glas- en metaalklokke is gebruik. In die sogenaamde harpklokke is snare met leerhamertjies getokkel.

Groot outomatiese speelklokke is op aanvraag vervaardig en dikwels tydens wêreldtentoonstellings vertoon.


Regulator

[wysig | wysig bron]
Regulatorklok

Regulators was in die tydperk tussen 1880 en 1930 die gewildste tipe klokke in Duitsland, wat veral in woonkamers opgehang is. Hierdie klokke is in die Swartwoud al vroeg industrieel vervaardig. Die klokke is noukeurig vervaardig met baie presiese tydmeters. Hulle is van houtkaste voorsien en het aan die voorkant met glasdeure gespog.


Wekker

[wysig | wysig bron]
Wekker

Met die begin van die industrialisering het wekkers een van die gewildste produkte van die Swartwoudse klokkenywerheid geword. In die jaar 1905 is 4,1 miljoen wekkers vervaardig, wat 70,7 persent van die totale produksie van die klokbedryf verteenwoordig het. Die standaardtipe in die tydperk tussen 1890 en 1930 was die sogenaamde babawekker, 'n ronde klok, wat van metaal vervaardig is, en waarop 'n bel aangebring is.


Radiotydseinklokke

[wysig | wysig bron]
Radiotydseinhorlosie

Die eerste klokke wat radiotydseine kon opvang, is eweneens in die Swartwoud vervaardig. Danksy die miniaturisering het die maatskappy Junghans in Schramberg reeds in 1985 die eerste radiografiese klok bekend gestel. Later is wekkers en in 1990 uiteindelik ook horlosies aangebied. Radiogolwe kon die plastiekkas van hierdie horlosis deurdring, sodat die geïntegreerde antenne die seine kon opvang.

Die klokke en horlosies is danksy die radiotydsein, wat hulle om twee uur elke nag ontvang het, met die radiostasie DCF77 gesinchroniseer. Ook die kalender is net soos somer- en wintertyd outomaties aangepas.

Die horlosie Junghans Stratos, wat op die prent getoon word, spog met 'n kas, wat van swart glansende keramiek vervaardig is. Die horlosie loop met sonenergie; op sy wyserplaat is klein dunfilm-sonenergieplate op glas aangebring.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Alle afbeeldings, behalwe die eerste, is afkomstig van die Deutsche Uhrenmuseum Furtwangen (Duitse Klokmuseum in Furtwangen, Duitsland) se webtuiste.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]