Piet Uithalder
Piet Uithalder (*18 Desember 1872, Wellington -† 20 Februarie 1940, Kaapstad) is die skuilnaam van Abdullah Abdurahman, wat in die tydperk 1909–1922 in sy rubriek Straatpraatjes in die A.P.O. tydskrif Afrikaans as politieke versettaal gebruik en ook ’n belangrike rol speel as baanbreker met die gebruik van Afrikaans as satire
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Piet Uithalder is die skuilnaam van ’n Kaapse rubriekskrywer wat tussen 1909 en 1922 die rubriek “Straatpraatjes” in A.P.O., die tydskrif van die African Political (later: People’s) Organisation (APO), behartig. Die APO was ’n nasionale politieke party wat in 1902 gestig is en die belange van die bruinmense van Suid-Afrika verteenwoordig het. Hoewel die identiteit van die rubriekskrywer nooit amptelik bekend gemaak is nie, word daar aanvaar dat Abdullah Abdurahman, leier van die APO, hierdie rubriek geskryf het,[1] hoewel die moontlikheid ook bestaan dat die rubriek deur meer as een medewerker geskryf is.[2] Ten spyte van die rubriek is Abdurahman nie ’n ondersteuner van Afrikaans nie en is hy gekant teen die pogings om Afrikaans ’n amptelike taal te maak. Die rubriek word dus nie soseer gebruik om die taal te bevorder nie, maar wel om indringende kommentaar te lewer oor die politieke posisie van bruinmense in die Kaap.
Abdullah Abdurahman is op 18 Desember 1872 in Wellington in die Kaap gebore. Sy vader, Abdullah, was ’n grondeienaar en sy moeder, Kadija, ’n naaldwerker. Sy grootouers was voorheen Maleise slawe wat deur die Verenigde Oos Indiesche Companjie (VOC) na die Kaap gebring is en later vrygekoop is. Abdullah gaan skool aan sendingskole en dan aan die South African College in Kaapstad, waar hy die eerste bruin leerling was. In 1888 vertrek hy na Glasgow in Skotland om verder te studeer in die medisyne en hy behaal die MB.ChM.-graad in Julie 1893.
Hy trou met die Skotse vrou Helen Potter, wat hy ontmoet terwyl hy besig is om te studeer. Hulle het twee dogters, Waradea (later ’n suksesvolle geneesheer) en Zainnunnisa (Cissie) Gool, wat self groot spore in die politiek trap en munisipale raadslid in Kaapstad word. Nog twee van sy familielede studeer later ook in Glasgow, naamlik sy broer Ismail, wat in 1915 gradueer, en sy dogter Waradea, wat in 1927 as geneesheer gradueer en daarna ’n leidende vrouedokter in Suid-Afrika word. Abdullah skei van sy eerste vrou in 1923 en trou dan in 1925 met Margaret May Sansfield. Hulle het ’n dogter, Begum, en twee seuns, Abdul en Nizam.
Abdullah open met sy terugkeer na die Kaap ’n suksesvolle dokterspraktyk, maar dit is veral in die politiek waarin hy hom onderskei. In 1904 word hy verkies tot die Kaapse Stadsraad, die eerste bruin verteenwoordiger binne hierdie Raad. Die ontvangs deur blankes binne in die raad is aanvanklik glad nie tegemoetkomend nie en sommige weier selfs om langs hom te sit. Hy word egter geleidelik meer invloedryk en is tussen 1923 en 1937 voorsitter van die Stadsraad se Straat- en Dreineringskomitee. Intussen is die African Political Organisation (APO) in 1902 in Kaapstad gestig om bruin mense landwyd polities te mobiliseer. Abdullah sluit in 1903 by die APO aan en word dan in 1905 tot president verkies, ’n pos wat hy tot met sy dood beklee. Hy staan aan die hoof van twee delegasies wat Londen besoek voor Uniewording in 1910 om voorbrand te maak vir stem- en ander regte vir die bruinmense, maar sonder veel sukses. Onder sy leierskap groei die APO tot ’n organisasie van etlike duisende lede met teen 1910 meer as honderd takke landswyd. In 1914 word hy ook die eerste bruin lid van die Kaapse Provinsiale Raad, ook ’n posisie wat hy tot met sy dood beklee. In die Provinsiale Raad fokus hy veral op kwessies aangaande gesondheid en opvoeding. Hy is instrumenteel in die stigting van Trafalgar High School in 1911, die eerste hoërskool vir bruinmense in die land en volg dit in 1934 op met die stigting van die soortgelyke Livingstone High School.
Sy volgehoue pogings om ’n beter politieke bedeling vir die bruinmense te beding, werp tydens sy leeftyd nie veel vrugte af nie. Daarvoor was die bruinmense te veel gemarginaliseer en het hulle ook ’n te klein deel van die kieserskorps uitgemaak. Hy was egter versiende genoeg om te besef dat ’n verenigde front van nie-blankes nodig was om blanke oorheersing te beveg en tussen 1927 en 1934 is hy betrokke by die reëling van vier konferensies van nie-blanke politieke organisasies, waar sake van gemeenskaplike belang bespreek is. Hy word ook in 1935 deur die South African Indian Congress (SAIC) versoek om aan die spits van ’n delegasie te staan wat die Indiese regering versoek om op te tree teen beoogde anti-Asiatiese wetgewing van die Unie-parlement. Hierdie delegasie is deels verantwoordelik vir ’n reeks samesprekings wat hierna tussen hierdie regerings plaasvind en lei tot die verbetering van Indiese burgers se posisie in Suid-Afrika.
Abdullah is op 20 Februarie 1940 in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede, waarna die APO spoedig tot niet gaan en plek maak vir meer radikale politieke organisasies
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Hy behartig die rubriek Straatpraatjes in die tydskrif van die African People’s Organization (APO) tussen 1909 en 1922, wat die eerste satiriese rubriek in Afrikaans is, ruim vyftien jaar voordat Langenhoven hom met sukses tot die satire gewend het. Die tydskrif self is meertalig en oorwegend Engels, met ’n kwart daarvan wat in Afrikaans of sy variasies (Nederlands, Kaaps-Hollands) is. Uithalder daag in die rubriek die dubbele koloniale oorheersing van Engels en Hollands uit en vestig Afrikaans terselfdertyd as versettaal, die eerste voorbeeld in Afrikaans van verset teen blanke oorheersing in die land. Die rubriek is geskryf in die spreektaal van die Kaapse bruinmense en is ’n vroeë en belangrike geskrewe voorbeeld van hierdie spreektaal. Dit sentreer rondom twee karakters, die kamtige skaapwagter Piet Uithalder wat slegs werkersklas Afrikaans kan praat en met ’n klein bietjie geleerdheid van Katrivier na Kaapstad trek, en Stoffel Francis, wat ’n eiesoortige Engels praat wat hom op ’n hoër sosiale vlak plaas. Ten spyte van sy sogenaamde gebrek aan geleerdheid is Uithalder wel berese en was hy selfs in Engeland met ’n APO-deputasie en besoek hy gereeld APO-takke op afgeleë plekke. Deurlopende temas in die rubriek is politieke kwessies, sosiale omstandighede, onderwys en politieke opponente. Die rubriek draai nie doekies om nie en is baie krities teenoor die blankes, veral die Afrikaners, en die onregverdige politieke bestel wat blanke oorheersing bestendig. Maatskaplike kwessies soos alkoholmisbruik (veral die berugte dopstelsel) en gebrekkige opleidingsgeriewe word ook betrek. Die bruinmense word aangespoor om nie voor die witmense te buig nie en om fier en regop hulle plek in die samelewing in te neem. Benewens die satiriese aard van die rubriek is dit ook opvallend dat die destyds oorheersende gebruik van Kaaps om slegs die spot te dryf met die spreker en die taal, hier afwesig is en inderdaad aktief teengewerk word. Baie later sou Adam Small hom hierby aansluit en Kaaps doelbewus gebruik as digterlike taal. In 1996 verskyn onder redakteurskap van M. Adhikari by Van Schaik-Uitgewers die bundel Straatpraatjes: Language politics and popular culture in Cape Town, 1909–1922, waarin die bydrae wat hierdie rubriek gemaak het tot die skepping van ’n sosiopolitieke bewussyn by die bruinmense en die taalgebruik deur kenners onder die loep geneem word. Hierdie boek sluit ook as bylae verskeie van die rubrieke in soos hulle destyds verskyn
Eerbewyse
[wysig | wysig bron]In 1999 ken president Nelson Mandela postuum aan Abdullah Abdurahman die Orde vir Voortreflike Diens (Goud) toe ter erkenning van die groot rol wat hy gespeel het tot die totstandkoming van ’n meer regverdige bestel in Suid-Afrika.
Publikasies
[wysig | wysig bron]- 1996 Straatpraatjes: Language politics and popular culture in Cape Town, 1909–1922 (redakteur Mohamed Adhikari)
Sien ook
[wysig | wysig bron]Let wel
[wysig | wysig bron]- Piet Uithalder moet nie verwar word met Willem Uithaalder, 'n Khoi-rebelleleier wat groot bekendheid verwerf het in die jare 1851 tot 1865 nie.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1998.
Tydskrifte en koerante
[wysig | wysig bron]- Anoniem. ’n Nuwe gees. Die Burger, 9 Maart 2002
- Crous, Marius. Taal word belig met vroeë satire. Die Burger, 12 Desember 1996
- Verhoef, Marlene. Die diachronie van Afrikaans: is die vermiste skakel gevind? Literator, Jaargang 18 no. 1 April 1997
Ander verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Volksblad Hoofartikel: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2002/03/9/6/1.html
- ↑ Willemse, Hein. Aan die ander kant. Protea Boekhuis Pretoria Eerste uitgawe Eerste druk 2007