Noord-Kaapse erfenisterreine
Die Noord-Kaap het talle erfenisterreine wat amptelik by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) geregistreer is en op ʼn lys verskyn. In die Herbert-distrik staan ʼn Anglo-Boereoorlog blokhuis, terwyl die ou wabrug oor die Oranjerivier, van klip gebou om die Kimberley-myne met die Kaap te verbind, as erfenisterrein in die Hopetown-distrik gelys is. Die waterpomp op Okiep en die Rooms Katolieke sendingstasie op Pella verskyn ook op die lys en die NG kerke op Strydenburg, Pofadder, Sutherland, Williston en Nieuwoudtville geniet erfenisstatus.
Hier volg die erfenisterreine in verskillende Noord-Kaapse dorpe wat deur SAEHA erken word:
Barkly-Wes
[wysig | wysig bron]Die ou tolhuis is ’n klipkonstruksie met ʼn sinkplaatdak. Die pad van Kimberley na Barkly-Wes loop in ʼn noord-westelike rigting en kruis die Vaalrivier by hierdie brug net voordat Barkly-Wes bereik word. Die tolhuis staan op Barkly-Wes se kant van die rivier en is as ʼn provinsiale erfenisterrein geregistreer. Eweneens is die brug oor die Vaalrivier ook op die erfenislys. Dit bestaan uit vyf vakke van 75 voet (23 m) elk en een van 108 voet (33 m). Met konstruksie het die ysterwerk 271 ton geweeg.
St. Mary se kerk was die eerste permanente kerkgebou wat in die Klipdrift area gebou is ná die ontdekking van diamante in 1869. Die hoeksteen is in Februarie 1872 deur Sir Henry Barkly gelê. Dit is as ʼn provinsiale erfenisterrein geregistreer.
Barkly-Wes se magistraatsgebou in Campbellstraat is ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn laat 19de eeuse openbare gebou. Die gebou bestaan uit Ventersdorp lawa en het ʼn sinkplaatdak met twee skoorstene. Die gebou is in 1897 deur Grant en Dowie kontrakteurs gebou.
Sydney-on-Vaal is ʼn goeie voorbeeld van ʼn dorpie wat volgens die Engelse tradisie beplan is. Die myndorpie is rondom ʼn markplein gebou en bestaan uit enkelverdieping Victoriaanse geboue. Dit is in 1902 deur die New Vaal River Diamond Exploration Co gestig en as ʼn provinsiale erfenisterrein geregistreer.
Die NG Kerk in Voortrekkerstraat, Brandvlei, is ʼn tipies neo-Gotiese kruisvormige kerkgebou met baie detail binne en buite. Die hoeksteen is op 15 Julie 1905 gelê en die gebou is aan die einde van 1905 ingewy. Dit is as ʼn provinsiale erfenisterrein geregistreer.
Dorpstraat se NG Kerk is ook ʼn indrukwekkende neo-Gotiese kruisvormige kerk, waarvan die hoeksteen op 30 September 1899 gelê is.
Carnarvon
[wysig | wysig bron]Op Carnarvon is die NG Sendingkerkkompleks op Unieplein ʼn erfenisterrein. Die kompleks bestaan uit ʼn NG Kerk, ʼn Edwardiaanse pastorie, die oorspronklike sendingskool wat in 1864 gebou is en aanbouings wat uit 1902 dateer.
Daar is ook kliprondawelkomplekse by Stuurmansfontein, T'Kokoboos en Konka in die Carnarvon-distrik. Dit bestaan uit byekorfvormige kamers van sowat 5 m in diameter en 7 m hoog. Die kliprondawels van die Karoo is tussen 1825 en 1875 gebou, met die koms van die trekboere.
Talle huise op Carnarvon geniet erfenisstatus, veral in strate soos Hanaustraat, Danielstraat, Sterrenbergstraat, Victoriastraat, Greystraat en Johannastraat. Die Standard Bank is ook ʼn historiese gebou.
Die Van Wyksvlei Dam is tussen 1882 en 1885 gebou.
De Aar
[wysig | wysig bron]Die Olive Schreiner-huis op De Aar, waar Schreiner en haar man tussen 1908 en 1913 gewoon het, is ʼn erfenisterrein. So ook die St Paul's Church in Friedlanderstraat, wat in 1894 as ʼn Anglikaanse kerk gebou is, en die Standard Bank.
Die Afrikaanse Protestante Kerk in Cilliersstraat is in 1861 deur Adam Jacobs gebou, volgens ʼn plan wat deur ds. Bamberger ontwerp is. Die gebou het baie interessante argitektoniese aspekte, soos die heksagoon-vorm en kloktoring.
Die ou pastorie-museum is in hoofsaaklik Kaaps-Hollandse styl deur die argitek H.J.R. Burnett ontwerp en in 1856 voltooi.
Kakamas
[wysig | wysig bron]Op Kakamas is die noordelike voor as erfenisterrein gelys, asook ʼn slagveld, verskeie waterwiele en ʼn museum.
Dié dorp se NG Sendingkerk en historiese waterwiel is erfenisterreine.
Upington
[wysig | wysig bron]Die palmlaning, oftewel ‘eiland’ van Upington, is deel van die munisipale area en bestaan uit ʼn groot hoeveelheid riviergrond. Hierdie laning van volgroeide palmbome strek oor ʼn afstand van 1 041 m en is in 1903 deur die Departement van Waterwese geplant. Dit is blykbaar die langste palmboonlaning in die Suidelike Halfrond.
Die Katedraal van St Augustine op Upington is tussen 1942 en 1949 in neo-Gotiese styl gebou met ʼn indrukwekkende kloktoring. Ds. Karl Simbruner en broeder Hugo het dit met behulp van skoolkinders en Upington se inwoners opgerig.
Die NG Kerk is in 1911 gebou en daar is ʼn museumkompleks wat uit ʼn kerkgebou en pastorie bestaan, onderskeidelik in 1875 en 1883 gebou.
Daar is ook ʼn ou waterwiel wat uit 1870 dateer.
Hanover
[wysig | wysig bron]Hanover se erfenisterreine sluit die magistraathof en magistraatkantoor, asook poskantoor, polisiestasie en tronk in. Die Olive Schreiner House in Gracestraat word bewaar omdat sy tussen 1900 en 1907 daar gewoon het.
Die oudste gebou in Hanover is die Camdeboo House in Viljoenstraat en is tans as museum ingerig. Die NG Kerk is ook as erfenishulpbron geregistreer.
Erwe 92 and 93, op die hoek van Christoffel- en Darlingstrate, is goeie voorbeelde van Kaaps-Hollandse argitektuur. Die mees noordelike grens van hierdie erwe is in Januarie 1859 gemeet, kort na die stigting van die dorp Hanover.
Verder word Hanover se markplein, laerskool, Standard Bank, ʼn winkelkompleks, die biblioteek, ʼn aantal bloekombome en ʼn historiese besproeiingskanaal, asook talle huise as erfenisterreine erken.
Griekwastad
[wysig | wysig bron]Die Mary Moffat Museum in Griekwastad is gedurende die eerste helfte van die 19de eeu gebou. Mary Moffat, dogter van die sendeling Robert Moffat, is in hierdie huis gebore. Die postkantoor en magistraathof geniet erfenisstatus, asook die sendingkerk wat in 1831 in gebruik geneem is.
Kenhardt
[wysig | wysig bron]Die ou biblioteekgebou, in 1897 opgerig, is ʼn tipiese voorbeeld van ʼn pioniershuis. Dit is een van die oudste geboue in Kenhardt en dien tans as museum.
Kuruman
[wysig | wysig bron]Die fondasie van die sendingkerk op Kuruman is in 1830 deur Robert Moffat gelê. Die Oog van Kuruman, ʼn permanente waterbron, is die rede vir die stigting van Kuruman en het daarom erfeniswaarde.
Garies
[wysig | wysig bron]Die Letterklip is ʼn unieke rotsformasie wat versterk is en in 1901 tot 1902 deur die Britse magte tydens die Anglo-Boereoorlog beset is. Verskeie regimentsbalkies en offisiere se name is in die rots gegraveer.
Leliefontein
[wysig | wysig bron]Hier staan ʼn Metodistiese kerk wat in 1855 gebou is. Dit was die derde kerk wat by Leliefontein se sendingstasie gebou is. Die sendingstasie is in 1816 deur Barnabas Shaw gestig.
Nababeep
[wysig | wysig bron]Die stoomlokomotief “Clara” is een van die laaste stoomenjins wat gebruik is om kopererts op die historiese spoorlyn van Okiep en Nababeep na Port Nolloth te vervoer en word in die Okiep Copper Company Museum bewaar.
Springbok
[wysig | wysig bron]Die eerste NG kerk op Springbok is in 1877 gebou en die tweede in 1921. Die Joodse sinagoge langs die oudste NG Kerk is in 1929 gebou. Daar is ook ʼn historiese kopersmelteryskoorsteen op Springbok.
Noupoort
[wysig | wysig bron]ʼn Ou Anglikaanse kerkgebou is in 1901 deur Britse troepe gebou, wie se hoofkwartier by Noupoort was. Die Anglo-Boereoorlog blokhuis wat hier te siene is, is die enigste oorblywende een van sy soort.
Philipstown
[wysig | wysig bron]Die Hervormde Kerk se hoeksteen is in 1876 gelê, hoewel die gemeente in 1864 reeds gestig is. Daar is ook ʼn historiese magistraathof op Philipstown.
Dié dorp het twee historiese NG kerke, ʼn ou polisiestasie en ʼn Anglo-Boereoorlog blokhuis wat as erfenisterreine gelys is.
Prieska
[wysig | wysig bron]Daar is ʼn Anglo-Boereoorlog blokhuis, ʼn historiese NG Kerk en ʼn ou munisipale begraafplaas op Prieska.
Carolusberg, Namakwaland
[wysig | wysig bron]By Van der Stel se kopermyn op Carolusberg in die Namakwaland is ʼn stuk grond waar kommandant Simon van der Stel in 1685 tydens ʼn ekspedisie ʼn mynskag gesink het.
Bronne
[wysig | wysig bron]- [1] (soos op 23 September 2019 besigtig)
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Noord-Kaapse erfenisterreine.
- Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap