Bun Booyens
Bunyan Booyens | |
---|---|
Gebore | 14 Januarie 1916 Oudtshoorn-distrik |
Sterf | 25 Mei 2010 (op 94) |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Titel | Professor |
Eggenoot | Johanna Secunda (Kinna) Joubert |
Kinders | 4 |
Ouer(s) | Matthys Johannes Booyens Martha Johanna Delport |
Bun Booyens (14 Januarie 1916, Oudtshoorn-distrik – 25 Mei 2010, Somerset-Wes) was 'n professor in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde aan die Universiteit van Stellenbosch en die skrywer van verskeie kultuurhistoriese boeke.
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Bun Booyens is op 14 Januarie 1916 op die plaas Nelsrivier in die Oudtshoorn-distrik gebore.[2] Hy matrikuleer aan die Hoërskool De Rust. Na skool studeer hy verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1944 die B.A.-graad, die M.A.-graad in 1946 met ’n verhandeling oor Die verhouding tussen kerk en staat aan die Kaap in die tyd van die Kompanjie (1652–1795) en die D.Phil.-graad in Geskiedenis verwerf. In 1937 behaal hy ook die Primêre Onderwyssertifikaat en hy begin sy loopbaan as onderwyser in ’n eenmanskool. Later is hy agtereenvolgens skoolhoof op George, Robertson en Oudtshoorn,[3] waarna hy in 1960 ’n pos as persoonlike assistent van die rektor van die Universiteit van Stellenbosch aanvaar, terwyl hy ook aangestel word as redakteur van Matieland, die universiteit se publikasie vir oudstudente en donateure. Hy is inwonende hoof by die Eendrag-koshuis en is lektor by die Departement van Geskiedenis voordat hy in 1968 lektor word in die Departement van Afrikaanse Kultuurgeskiedenis. Hy word dan aangestel as professor in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde en is voorsitter van die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde. In 1967 stel hy die kursus in Museumwetenskap in. Hy is lid van die Onderwyskomitee van die Minister van die Minister van Nasionale Onderwys. As sportliefhebber dien hy ook op die universiteit se sportkomitee en die Rugbyklub se bestuur. Hy is getroud met Johanna Secunda (Kinna) Joubert, wat in 2009 oorlede is, en hulle seun Bun is later redakteur van Die Burger.[4]
Booyens is op 25 Mei 2010 op Somerset-Wes oorlede.[5]
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Hy skryf ’n biografie oor Die lewe van D.F. Malan.Bronwaters van genesing is ’n boek met die geskiedenis en beskrywing van die geneeskrag van warmwaterbronne vir allerhande kwale, vanaf Bybelse tye tot die ou geskiedenis aan die Kaap. Ek heb geseg! is die verhaal van ons jongeliede- en debatsverenigings. Hoe meer siele bevat anekdotes uit sy ryk lewe. Vir die boek oor Stellenbosch 1866–1966 lewer hy bydraes en hy is mederedakteur saam met D.J. Kotze, J.J. Oosthuysen en G.P.J. Trumpelmann vir die boek oor Professor H.B. Thom.
Publikasies
[wysig | wysig bron]Jaar | Publikasie |
---|---|
1965 | Kerk en Staat 1795–1843 |
1969 | Die lewe van D.F. Malan |
1971 | Dagbreek, 1921–1971 (saam met J.J. Oosthuysen) |
1975 | Danie Craven |
1979 | Adam Tas se dag |
1981 | Bronwaters van genesing
Fiat Lux: die verhaal van die Instituut vir Blindes te Worcester 1881- |
1982 | Nagmaalsnaweek deur die jare
Die Stellenbosch Distriksbank 1882–1982 |
1983 | “Ek heb geseg!”: die verhaal van ons jongeliede- en debatsverenigings |
1987 | Oriëntale tabak |
1989 | “Monument in hierdie deel”: die Landboukoöperasie van Calvinia Beperk, vyftig jaar (1939–1989) |
1993 | Die Gereformeerde Kerkbode (1849–1923) as bron vir die Afrikaanse Kultuurgeskiedenis |
1997 | Hoe meer siele |
Redakteur en samesteller
[wysig | wysig bron]Jaar | Publikasie |
---|---|
1966 | Stellenbosch 1866–1966 |
1969 | Professor H.B. Thom (saam met D.J. Kotze, J.J. Oosthuysen en G.P.J. Trumpelmann) |
1970 | Solomon Caesar Malan (akwarelle) |
Bronne
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- HAUM “Stellenbosse Galery” HAUM-Uitgewers Kaapstad en Pretoria 1974
- Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1” Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
- Van Biljon, Madeleine “Geliefde leesgoed” Quellerie-Uitgewers Edms. Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 1996
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Geliefde prof. Bun Booyens oorlede Geargiveer 7 Januarie 2015 op Wayback Machine, Beeld, 27 Mei 2010
- ↑ Biografiese inligting op rootsweb.ancestry.com, besoek op 4 Januarie 2015
- ↑ 'n Professor Bunyan Booyens: Legende in sy eie leeftyd, besoek op 4 Januarie 2015
- ↑ Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/booyensb.htm[dooie skakel]
- ↑ Geliefde prof. Bun Booyens oorlede, Beeld, 27 Mei 2010