Gaan na inhoud

Brugge

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Brugge

Kaart Wapen
Vlag
 Land België
 Gewes (deelstaat) Vlaandere
 Provinsie Wes-Vlaandere
 Koördinate 51°12'N, 3°13'O
 Stadstatus 27 Julie 1128
 Oppervlak:  
 - Totaal 138,4 vk km
 Hoogte bo seevlak 2 m bo seespieël
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2019) 118 325
 - Bevolkingsdigtheid 854,9/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Burgemeester Dirk De Fauw (CD&V)
 Amptelike Webwerf www.brugge.be

Brugge (Frans en Engels: Bruges, Duits: Brügge) is die hoofstad van die Belgiese provinsie Wes-Vlaandere met 'n oppervlak van 138,4 vierkante kilometer en sowat 118 000 inwoners (soos op 1 Januarie 2019).

Die stad, wat danksy die groot aantal kanale ook as die "Venesië van die Noorde" bekend staan, is in 2000 deur die Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys. In 2002 is dit saam met die Spaanse Salamanca as die kulturele hoofstad van Europa aangewys.

Geskiedenis en toerisme

[wysig | wysig bron]

Die naam van Brugge gaan terug op die Nordiese woord bryggja, wat letterlik "landingsplek" of "hawehoof" beteken. Die stad het sy oorsprong in ' burg of klein dorpie, wat in die jaar 892 deur Boudewyn Ysterarm, die eerste graaf van Vlaandere, gestig is.

Brugge, wat in die Middeleeue vir sy gesofistikeerde lakennywerheid bekend staan, kry in 1128 stadstatus. As gevolg van 'n stormvloed kry die stad in 1134 'n regstreekse toegang tot die Noordsee, wat sy deelname aan die internasionale handelsverkeer vergemaklik. Brugge trek veral voordeel uit 'n driehoekshandel, wat op laken uit Vlaandere, wol uit Engeland en wyn uit die Franse streek Gascogne steun.

In 1200 word Brugge ook die reg op 'n jaarlikse mark toegestaan, wat vinnig handelaars uit ander gebiede soos die Duitse Rynland, maar ook die eerste Italiaanse handelsvlote met ware uit die Levant lok. Brugge geniet al sedert 1190 die voorreg van selfregering, en die Vlaamse Hanse, 'n verbond van plaaslike koopmanne, slaag daarin om die mag in Brugge te gryp.

Met die uitbreiding van die Noord-Duitse Hanse, 'n magtige verbond van handelstede, kom ook koopmanne uit Hamburg en Lübeck gereeld na Brugge. Hulle geniet sedert 1253 selfs 'n aantal voorregte soos laer invoerregte. Die Hanse-verbond rig in Brugge ook een van sy drie kantore in die Noordseegebied op, naas die Stalhof in Londen en die Bryggen in die Noorse hawestad Bergen. Brugge het vinnig die grootste omset en speel vir die Hanse 'n belangrike rol as skakel met buitelandse markte.

Belfort in die Groot Mark
'n Kanaal by die Rozenhoedkaai
Brugge

Handelsbande met die res van Europa word sedert die laat 13de eeu gevestig, en Brugge word 'n belangrike sakereisbestemming vir koopmanne uit die suide van Duitsland, Genua, Venesië, Florence, Portugal, Kastilië en Skotland. Die huis van die plaaslike koopmansgesin Van der Beurse dien as die eerste "beurs" (die woord beurs is van die familienaam afgelei).

Die sosiale spanninge tussen die koopmansgesinne, wat die bolaag van Brugge verteenwoordig, en die gildes van die ambagsmanne verskerp tegelykertyd. Die maatskaplike krisis bereik 'n hoogtepunt deur die politieke alliansie tussen die stadsregering en die Franse koning Filips IV. In die opstand van 18 Mei 1302 is sowat 4 000 Franse soldate, wat as besettingsmag in Brugge bly, gedood. Die toelating van ambagsmanne tot die stadsregering is 'n kompromis, maar danksy die ekonomiese vooruitgang verswak die sosiale knelpunte. Tydens hierdie tydperk ontstaan die belangrikste historiese geboue van Brugge in die kenmerkende gotiese boustyl, soos byvoorbeeld die markplein, die kloktoring en die raadsaal.

Onder die heerskappy van die Boergondiese hertoë begin in die 15de eeu 'n kulturele, argitektoniese en ekonomiese bloeitydperk. Brugge word teen die einde van die Middeleeue die welvarendste stad in die noorde van Europa. Die Honderdjarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk en die opening van die Engelse wolstapel in Antwerpen het reeds nadelige uitwerkings op die Brugse handel en ekonomie. Maar toe die Zwin, die inham wat as Brugge se natuurlike hawe dien, teen die einde van die 15de eeu begin toeslik, ervaar die stad sy ergste ekonomiese teenspoed. Nadat die stad sy toegang tot die see kwytgeraak het, keer die Boergondiese hof Brugge die rug. Keiser Maksimiliaan I beperk die voorregte van Brugge, en Antwerpen verrys as Vlaandere se nuwe handelsentrum. Die meeste buitelandse koopmanne en handelskantore verhuis in 1488 na Antwerpen. Brugge verarm en kom in 1524 onder Spaanse heerskappy. Die Hugenote-oorloë dien Brugge 'n verdere ekonomiese nekslag toe. Naas die ekonomiese stilstand moet die stad ook die bewind van vreemde magte verduur. Brugge kom vervolgens onder Oostenrykse (1713 tot 1795), Franse (1795 tot 1815) en Nederlandse heerskappy (tot 1830).

Tydens die 19de eeu word Brugge nouliks deur die industrialisering van België geraak. Eers met die aansluiting by die seehawe van Zeebrugge in 1907 kry die stad 'n nuwe ekonomiese perspektief.

Vandag trek Brugge voordeel uit die stilstand van die verlede. Sy historiese stadskern, wat in sy oorspronklike vorm bewaar is, het van die stad nou 'n gewilde toeristebestemming gemaak. Daar is verskeie hotelle en restaurante.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]