Gaan na inhoud

Bethanie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bethanie

Bethanien

Klipfontein
Lutherse kerk in Bethanie
Lutherse kerk in Bethanie
Bethanie is in Namibia
Bethanie
Bethanie
Koördinate: 26°30′0″S 17°10′0″O / 26.50000°S 17.16667°O / -26.50000; 17.16667
LandVlag van Namibië Namibië
StreekǁKaras
Gestig in1804
TydsoneUTC+2 (SAST)
Skakelkodes64

Bethanie (vroeër Bethanien) is 'n nedersetting in die suide van Namibië wat aan die C14-pad tussen Goageb en Walvisbaai, sowat 100 kilometer wes van Keetmanshoop geleë is. Bethanie is 1 000 meter bo seevlak geleë en het 'n bevolking van 9 300. Die dorp word as een van die oudste nedersettings in die land beskou.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Suidwes-Afrika het in 1989 vier seëls uitgereik ter nagedagtenis aan die Rynse sendelinge, onder wie Johann Schmelen, wat hier gewerk het as verteenwoordiger van die Londense Sendinggenootskap.

Bethanie het 'n sterk fontein – in Afrikaans Klipfontein genoem – wat saam met sy weivelde reeds vroeg – vermoedelik in 1804 – as trekpleister vir die vestiging van Orlam-Nama's in die gebied gedien het. In die vroeë 19de eeu het die eerste sendelinge vanuit die Kaapkolonie na die noorde begin trek en op hulle pad ook 'n aantal sendingstasies gestig. Bethanie het sy ontstaan aan sendelinge van die Londense Sendinggenootskap te danke, maar vanweë die tekort aan sendelinge – en moontlik ook ingevolge die destydse samewerking met die Rynse Sendinggenootskap – is die Duitse sendeling Johann Heinrich Schmelen na Bethanie gestuur om die plaaslike Nama te kersten. Hy het die nedersetting, waar hy homself saam met 'n gemeenskap Orlams uit Pella gevestig het, Bethanien genoem – na die Bybelse dorp waar Jesus van Nasaret volgens oorlewering die doop ontvang het.

'n Jong man van die Bethaniër-stam

Die woonhuis wat Schmelen in die dorp opgerig het word as die eerste steengebou ter plaatse beskou, en dit is heel waarskynlik ook die oudste gebou in Namibië. Die Schmelenhaus is intussen tot nasionale monument verklaar en huisves 'n museum oor die sendelinggeskiedenis van Bethanie.

Eerw. Schmelen het met 'n Namavrou, Zara, getrou wat hom by die aanleer van die Namataal en die vertaling van dele van die Nuwe Testament behulpsaam was. Die sendingwerk was egter 'n moeilike taak. So het die Nama voortdurend rooftogte teen Herero's uitgevoer, en baie van hulle het die Duitse sendeling met wantroue bejeën. Uiteindelik is hy selfs verantwoordelik gehou vir 'n langdurige droogte en 'n verwoestende sprinkaanplaag. Schmelen het sy afskeid geneem en Bethanie saam met sy vrou en vier kinders in 1828 verlaat. Enkele jare later is die plaaslike sendingstasie deur die Rynse Sendinggenootskap oorgeneem wat in 1859 'n kerk met twee torings in die dorp laat bou het.

Eerw. Hermann Kreft was die plaaslike Rynse sendeling sedert Mei 1853. Hy het deur sy besliste optrede teen die Namakaptein David Christiaan soveel vertroue ingeboesem dat hy in die loop van 1856 as sendeling georden is. Met die inwyding van 'n nuwe kerk hier op 26 Junie 1859 het dit gelyk asof sy harde werk met sukses bekroon is. Ongelukkig raak Christiaan aan drank verslaaf en baie volg sy voorbeeld na. Die werk is verder belemmer deur die oorloë tussen die Nama en die Herero, die swaar droogtes en 'n sprinkaanplaag. Die inwoners van Bethanie en omgewing moes dikwels met hul vee trek. 'n Gedeelte van die gemeente was ook ontevrede met Christiaan en trek noordwaarts na Grootfontein in die distrik Maltahöhe. Kreft gaan om hulle oor te haal om terug te keer, maar word ernstig siek en sterf.

Later is nog meer kerkgeboue rondom die Schmelenhaus opgerig waarvan die twee oudstes en in argitektoniese opsig merkwaardigstes deur Evangelies-Lutherse gemeentes gebruik word. Meestal dien Afrikaans as preektaal. Die Nama-gemeente staan bekend vir sy indrukwekkende kerkgesang. Die plaaslike NG gemeente het in 1938 van Keetmanshoop afgestig en word tans in kombinasie met Maltahöhe bedien.[1]

Die huis van Namahoof Josef Frederiks staan bekend as die plek waar Heinrich Vogelsang op 1 Mei 1883 in opdrag van die Bremense koopman Adolf Lüderitz grond gekoop het – Angra Pequeña en sy onmiddellike omgewing, die bakermat van die latere hawedorp Lüderitz asook die Duitse kolonie Suidwes-Afrika.

Deesdae speel Bethanie 'n belangrike rol as handelsentrum vir boere in die omgewing.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]