Gaan na inhoud

Arktiese Oseaan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Arktiese Oseaan word deur beide marinesoogdiere en kernduikbote gebruik.
Die Aarde se vyf Oseane

Die Arktiese Oseaan, wat ook as die Noordelike Yssee of Noordpoolsee bekend staan, is hoofsaaklik in die Noordpoolstreek geleë. Dit is die kleinste en vlakste van die wêreld se vyf oseane.[1] Groot dele van die oseaan word vir dele van die jaar of die hele jaar deur see-ys bedek. Alhoewel die Internasionale Hidrografiese Organisasie dit as 'n oseaan erken, verwys sommige oseanoloë daarna as die "Arktiese Middelandse See" of slegs die "Arktiese See".[2] Alternatiewelik kan dit ook as die mees noordelike deel van die hele Wêreldoseaan gesien word.

Die Arktiese Oseaan se temperatuur en soutgehalte verskil seisoenaal, soos die boonste yslae smelt en weer vries.[3] Dit het die laagste soutgehalte van die vyf oseane, as gevolg van die lae verdamping, hoë hoeveelhede varswater wat afkomstig is van riviere en strome en die beperkte verbinding met die omliggende oseaniese waters wat hoër soutgehaltes het.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Die Arktiese Oseaan

Die Arktiese Oseaan beslaan 'n ronde bekken en dek 'n oppervlak van ongeveer 14 090 000 vierkante kilometer (5 440 000 myl²), effens minder as 1,5 keer die grootte van die Verenigde State. Die kuslynlengte is 45 389 km. Die diepste punt in die oseaan is die Frambekken teen 5 450 m (17 881 voet).[4]

Die oseaan word omring deur die landmassas van Eurasië, Noord-Amerika, Groenland en 'n aantal eilande, waaronder die Baffinbaai, Barentssee, Beaufortsee, Tsjoekotkasee, Oos-Siberiese See, Groenlandsee, Hudsonbaai, Hudson Seestraat, Karasee, Laptefsee, Witsee en ander waterliggame in. Dit is verbind aan die Stille Oseaan deur die Beringseestraat en aan die Atlantiese Oseaan deur die Groenlandsee.

'n Onderwater mid-oseaanrif, die Lomonosow-rif, verdeel die diepsee Noord-polêre Bekken in twee bekkens: die Eurasiese-, of Nansenbekken, (vernoem na die Noorse ontdekker Fridtjof Nansen) wat tussen 4 000 en 4 500 m (13 000 en 15 000 voet) diep is, en die Noord-Amerikaanse, of Hiperborese Bekken, wat omtrent 4 000 m diep is. Die topografie van die oseaanbodem word gekenmerk deur skeurblokriwwe, diepseevlaktes, oseaandieptes en bekkens. Die gemiddelde diepte van die Arktiese Oseaan is 1 038 m (3 407 voet), deels toegeskryf aan die grootte van die vastelandplaat aan die Eurasiese kant.[4]

Die hoofwatertoevoer is uit die Atlantiese Oseaan deur middel van die Noorweëstroom, wat dan langs die Eurasiese kus verder vloei. Water vloei ook uit die Stille Oseaan in deur die Beringseestraat. Die Oos-Groenlandstroom vorm die belangrikste uitloop.

Temperatuur en soutgehalte wissel volgens seisoen soos die ysbedekking smelt en vries. Ys bedek die grootste deel van die oseaanoppervlak, wat vir groot dele van die jaar benede vriespunt is. Daar is aansienlike seisoenale wisseling in die hoeveelheid pakys wat die oseaan bedek. Dit word vir omtrent 10 maande in die jaar deur sneeu bedek. Die maksimum sneeubedekking is in Maart of April—omtrent 20 tot 50 cm bo-op die bevrore oseaan.

Min seelewe word aangetref waar die oseaan deurgaans deur ys bedek is. In oop dele is seelewe baie volop, veral in meer suidelike waters. Die Arktiese Oseaan sluit 'n groot aantal eilande in, waaronder Groenland en die Groenlandeilande, die Kanadese Arktiese Argipel, Jan Mayen en Svalbard (wat deel van die Koninkryk van Noorweë is) en die Russiese eilandgroepe en eilande: Franz Josef-land, die Nieu-Siberiese Eilande, Nowaja Zemlja, Sewernaja Zemlja, Wajgatsj en Wrangeleiland.

Yseilande breek nou en dan van noordelike Ellesmere-eiland weg en ysberge wat deur die gletsers in westelike Groenland en die heel noordoostelike deel van Kanada veroorsaak verteenwoordig. Ysgrond kom op die eilande in die oseaan voor en die oseaan is so te sê deur ys ingesluit van Oktober tot Junie.

Verkenning

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van die Arktiese gebied

Verkenning van die Arktiese Oseaan het waarskynlik begin met pogings om 'n Noordelike Seeroete tussen die Atlantiese Oseaan en die Stille Oseaan langs die Siberiese kus van Rusland te vestig. Wikings het reeds in die eerste millennium hulle gebied in die oseaan uitgebrei opsoek na pels en ivoor. Russiese setlaars en handelaars het dele van die roete langs die kus van die Witsee reeds in die 11de eeu verken. Die idee van 'n Noordelike Seeroete is in 1525 deur die Russiese diplomaat Dmitri Gerasimof voorgestel. Teen die 17de eeu is 'n aaneenlopende seeroete van Archangelsk tot sover oos as die mond van die Jenisejrivier gevestig.

Westelike dele van die deurgang is gelyktydig deur Noord-Europese lande soos Engeland, Nederland, Denemarke en Noorweë verken, opsoek na 'n alternatiewe seeweg na China en Indië. Mees noemenswaardig is die 1596-ontdekkingstog gelei deur die Nederlandse seevaarder Willem Barentsz wat Jan Mayen, Spitsbergen, Bjørnøya en Nowaja Zemlja ontdek het. In 1872 ontdek die Oostenryks-Hongaarse Noordpoolekpedisie Franz Josef-land. In 1878 slaag die Fins-Sweedse ontdekker Nordenskjöld vir die eerste keer daarin om die hele Noordoos-deurvaart van wes na oos te navigeer en in 1915 voltooi 'n Russiese ontdekkingstog onder leiding van Boris Wilkitski die deurvaart van oos na wes.

Dele van die oseaan is ook verken opsoek na die Noordwesdeurgang om 'n roete tussen die Atlantiese Oseaan en die Stille Oseaan deur die Kanadese Arktiese Argipel te vestig. Tussen die einde van die 15de eeu en die 20ste eeu het verskeie Europese verkenners gepoog om 'n kommersiële seeroete noord en wes om die Amerikaanse kontinente te vind.

S. A. Andrée en Knut Frænkel met die ballon nadat dit op die pakys neergestort het in die mislukte tog van 1897.
Die kernaangedrewe ysbreker, "Yamal", onderweg na die Noordpool

In 1539 stuur die Spaanse markies Hernán Cortés die ontdekkingsreisiger Francisco de Ulloa op 'n vaart langs die Neder-Kalifornië-skiereiland om na die deurvaart te soek. Tussen 1576 en 1578 onderneem die Engelse seevaarder Martin Frobisher drie reise na die Kanadese arktiese gebied om die deurgang te vind. Hy word in 1583 deur Sir Humphrey Gilbert (wat Newfoundland vir die Engelse kroon eis) gevolg en daarna deur John Davis wat die Cumberland Sont en Baffin-eiland in 1585 binnevaar. In 1609 seil Henry Hudson op in die rivier wat nou sy naam dra en verken later die Kanadese Arktiese gebied en Hudsonbaai. In die eerste helfte van die 19de eeu word dele van die Noordwesdeurgang afsonderlik deur verskillende ekspedisies verken insluitende die ontdekkingsvaarte van John Ross, William Edward Parry, James Clark Ross en oorland ekspedisies deur John Franklin, George Back, Peter Warren Dease, Thomas Simpson en John Rae. Toe die 1845-tog deur Franklin om kaarte van die laaste 500 km onbekende dele van die deurgang op te stel nie terugkeer nie, lei dit tot 'n aantal reddingsendings en soekgeselskappe wat die Kanadese Arktiese gebied genoegsaam verken om 'n moontlike deurgang te bepaal.

Tydens die soektog na Franklin voltooi 'n span onder leiding van Robert McClure die Noordwesdeurgang van wes na oos tussen 1850 en 1854 – deels per skip en deels per slee. Die deurgang is egter eers in 1906 ter see oorwin toe die Noor Roald Amundsen 'n drie jaar tog in die aangepaste 47-ton haring boot, die Gjøa, daarin slaag om. Die roete was egter nie ekonomies lewensvatbaar nie a.g.v. van die lang tyd wat dit geneem het en omdat dit op plekke baie vlak was. Die eerste enkelseisoendeurgang is eers in 1944 onder leiding van Henry Larsen voltooi.

'n Derde motivering vir verkenning van die Arktiese Oseaan was om die Noordpool te bereik. Die Polaris-ekspedisie van 1871 was 'n mislukte Amerikaanse poging onder leiding van Charles Francis Hall. In April 1895 bereik Fridtjof Nansen die 86° 14´ N breedtegraad. Nansen oorkruis dan ook vir die eerste keer in 1896 die Arktiese Oseaan ter see.

In 1897 onderneem die Sweed Salomon August Andrée 'n rampspoedige lugballonvaart na die Noordpool. Andrée en sy twee mede-ontdekkers kom op Kvitøya (Witeiland) in Svalbard om, nadat hulle suid moes trek toe die lugballon neergestort het as gevolg van waterstoflekkasie.

In die lente van 1908 onderneem Frederick Cook 'n reis na die Noordpool saam met slegs twee Inuïet mans, Ahwelah en Etukishook. Cook beweer dat hy die pool op 21 April 1908 bereik het nadat hy noord gereis het van Axel Heiberg-eiland. Die bewering is egter deur Robert Peary in twyfel getrek en Cook kon nie dokumentasie verskaf wat sy besoek aan die pool bo alle twyfel bevestig nie. Daar word algemeen aanvaar dat die eerste suksesvolle tog na die Noordpool op 6 April 1909 deur die Anglo-Amerikaner Robert Edwin Peary, die swart Amerikaner Matthew Henson en vier Inuïetmans genaamd Ootah, Seegloo, Egingway, en Ooqueah onderneem is. Geen van die spanlede het egter opleiding in navigasie gehad nie, wat dus onafhanklik kon bevestig dat die pool wél bereik is en die afstande en snelhede wat Peary beweer hy bereik het, grens aan die ongelooflike.

Op 9 Mei 1926 onderneem Richard Evelyn Byrd en vlieënier Floyd Bennett 'n vlug oor die Noordpool. Hulle beweer dat hulle die pool bereik het, maar kon nie geloofwaardige navigasiedata voorlê wat die bewering sou staaf nie. Die eerste onbetwiste waarneming van die Noordpool is op 12 Mei 1926 deur Roald Amundsen en sy Amerikaanse borg Lincoln Ellsworth met die lugskip Norge bereik. Op 3 Mei 1952 land die Verenigde State se luitenant-kolonel Joseph O. Fletcher en luitenant William P. Benedict met 'n vliegtuig by die geografiese Noordpool. Op 3 Augustus 1958 seil die Verenigde State se USS Nautilus duikboot onder die Noordpool deur en op 17 Maart 1959 kom die USS Skate (SSN-578) by die pool na die oppervlak om die eerste vaartuig te word wat die pooloppervlak bereik.

Die Amerikaanse Ralph Plaisted onderneem die eerste bevestigde landelike reis na die Noordpool op 19 April 1968. Die eerste landelike kruising oor die oppervlak van die oseaanys word in 1969 deur Wally Herbert gelei, in 'n hondeslee met lugsteun van Alaska tot by Svalbard.

Die Sowjetse kernaangedrewe ysbreker, die Arktika, voltooi op 17 Augustus 1977 die eerste suksesvolle vaart op die oppervlak van die oseaan na die Noordpool.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Die omvang van die Arktiese yspak in Februarie, 1978 tot 2002
Die omvang van die Arktiese yspak in September, 1978 tot 2002

Die Poolklimaat word gekenmerk deur voortdurende koue en relatief min verskil tussen die jaarlikse maksimum- en minimumtemperatuur. In die winter is die oseaan in donkerte gehul wat gepaard gaan met koue stabiele weerstoestande en oop lug. In die somer is dit permanent dag met vogtige en mistige weer met swak siklone wat reën en sneeu teweegbring.

Die Arktiese Oseaan is 'n groot bron van baie koue lug wat onvermydelik na die ewenaar beweeg en warmer lug in die middel breedtegrade ontmoet en reën en sneeu veroorsaak.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Hawens en see- en lugroetes

[wysig | wysig bron]

Die oseaan se belangrikste hawens is die Russiese stede Moermansk en Archangelsk. Die Arktiese Oseaan verteenwoordig die kortste lugroete tussen die Stille Oseaan-kus van Noord-Amerika en Europa. Dit is ook die korste seeverbinding tussen die heel oostelike en westelike Rusland deur die Noordelike Seeroete. Die Arktiese Oseaan bevat 'n groot smoorpunt in die suidelike Tsjoekotkasee, wat noordelike toegang tot die Stille Oseaan via die Bering Seestraat tussen Noord-Amerika en Rusland moontlik maak.

Daar is 'n aantal drywende navorsingstasies in die Arktiese Oseaan wat deur die Verenigde State en Rusland bedryf word.

Hawens
Arktiese Oseaan Seehawens, Churchill, Inuvik, Prudhoebaai, Barrow, Pevek, Tiksi, Dikson, Dudinka, Archangelsk, Moermansk

Geografiese koördinate: 90°00′N 0°00′O / 90.000°N 0.000°O / 90.000; 0.000

Natuurlike hulpbronne

[wysig | wysig bron]

Die Arktiese Oseaan bevat olie- en gasvelde, spoelertsafsettings, mangaanniere, sand en gruismassas. Die oseaan is ryk aan vislewe en ook seesoogdiere soos robbe en walvisse kom voor.

Die gebied naby die middel van die see is die onderwerp van 'n geskil tussen die Verenigde State, Rusland, Kanada, Noorweë en Denemarke. Die gebied word as belangrik beskou aangesien dit moontlik tot 'n kwart van die wêreld se olie- en gashulpbronne bevat.[5]

Politieke geskille

[wysig | wysig bron]
Voorgestelde sektore van die Arktiese gedied in die vroeë 20ste eeu:

   Groenland (Denemarke)

   Kanada

   Verenigde State

   Rusland

   Noorweë

Huidige geëiste gebiede in die Arktiese Oseaan

Die eerste Kanadese soldate is reeds in 1898 in die Arktiese gebied ontplooi en het destyds as vrywilligers wet en orde gedurende die plaaslike goudstormloop gehandhaaf. 'n Moderne militêre basis is egter eers in 1970 in Yellowknife in die Noordwes-Gebiede opgerig.

Kanada maak aanspraak op die Arktiese Argipel, maar veral die Verenigde State het die soewereiniteit van sy noordelike buurland ná die ontdekking van olievelde naby die Prudhoebaai van Alaska in 1968 betwis. Vanweë die hoë koste wat aan lugvervoer vir die benodigde boorgereedskap of die bou van pypleidings vir die vervoer van ru-olie verbonde sou wees, het die Amerikaanse oliemaatskappy Humble Oil Company uit Houston (Texas) in die somer van 1969 probeer om met die tenkskip S.S. Manhattan, wat tot 'n ysbreker omgebou is, deur die Noordwesdeurvaart te navigeer. Weens die onbruikbaarheid van kompasse digby die magnetiese noordpool het die Manhattan met behulp van satelliete navigeer.

Met hul navigasie deur die Noordwesdeurvaart het die Amerikaners Kanada se aanspraak op die soewereiniteit oor die seestraat betwis en dit as internasionale waters beskou. Hierdeur is 'n presedent vir die gebruik van die seeroete deur ander lande se skepe en duikbote, veral Sowjet-skepe, geskep, wat destyds ook 'n groter bedreiging vir Noord-Amerika ingehou het as die Sowjetunie se interkontinentale missiele. Twaalf Kanadese parlementslede het na Resolute op die Arktiese Cornwallis-eiland gevlieg om in die lig van die Manhattan-insident Kanada se aanspraak op die gebied en seeroete te bevestig.

In die somer van 2007 het 'n Russiese navorser met sy duikboot die oseaanbodem bereik en hier op 'n diepte van 4 261 meter die Russiese vlag gehys – moontlik hoop ook lande soos die Russiese Federasie dat hulle 'n rol by die ontginning van die ryk Arktiese ruolie- en aardgasvelde sal kan speel wat volgens beramings sowat 'n kwart van die wêreldwye reserwes behels. Ook Groenland, 'n selfregerende Deense gebied, maak amptelik aanspraak op sowat 1,2 miljoen vierkante kilometer van die Noordpoolgebied.

Die Kanadese eerste minister, Stephen Harper, het kort na hierdie gebeure in die Noord-Kanadese dorp Iqaluit aangekondig dat Kanada die eerste diepseehawe, 'n nuwe militêre basis in die gebied en 'n opleidingsentrum vir wintergevegte aan die mees noordelike punt van Baffin-eiland, sal bou. Vir die diepseehawe in Nanisivik sal die plaaslike lood- en sinkmyne se hawe uitgebou en dieper gemaak word, sodat Kanada se nuwe Arktiese patrollieskepe hier kan aandoen. Naas die bou van die opleidingsentrum in Resolute sal ook Inuïet-patrollies Kanada se aanspraak op die gebied bevestig.

As gevolg van aardverwarming word daar verwag dat die Noordwesdeurvaart in 2050 as 'n seestraat tussen die Stille en Atlantiese Oseane dwarsdeur die jaar vir skepe toeganklik sal wees.

Omgewing

[wysig | wysig bron]

Hoewel daar gemeen word dat die Arktiese gebied ongeskonde en skoon is, is besoedeling uit aanliggende gebiede soos die hoogs-geïndustrialiseerde Europa 'n toenemende probleem.[6] Aanvanklik is gemeen dat Arktiese besoedeling grootliks as gevolg van chemiese lekkasies plaasvind en dat dit klein en plaaslik is. Die konsensus is egter nou dat besoedeling van oor die wêreld deur riviere, seestrome en atmosferiese sirkulasie noord gedryf word. Die verminderde sonlig, uitgebreide ysbedekking en lae temperatuur beteken dat smetstowwe baie stadiger afbreek as in warmer klimate.[6]

In die 1950's het vlieëniers misbande begin waarneem wat nou as die "Arktiese mis" of "Arktiese waas" bekend staan. Teen 1972 is teorieë voorgestel wat die oorsprong van die waas terugspoor na besoedeling wat ver van die Arktiese gebied veroorsaak word. Die besoedelde lug is nou 'n bekende kenmerk van die laat-winter in die Arktiese gebied. Dit blyk dat die lug al hoe meer besoedel word soos besoedeling van fossielbrandstof, versmelting en ander nywerheidsaktiwiteit in die digte koue lug in die donker Arktiese winter opbou. Voorvalle van bruin of swart sneeu is teruggespoor na woestyne en landbougebiede in Asië.

Smelting van die arktiese ysbedekking word nou op sowat 9% per dekade gereken.[7] Teen die tempo sal standhoudende ys oor 'n paar dekades reeds in die 21ste eeu verdwyn. 'n Vermindering in die oppervlak wat deur seeys bedek word sal 'n impak hê op die planeet se weerkaatsingsvermoë of albedo, wat moontlik 'n invloed op aardverwarming sou hê. Die ligte kleur van die Arktiese Oseaan-ys het 'n hoë weerkaatsingsvermoë wat help om sonligenergie van die aarde af weg te weerkaats en dus as 'n natuurlike lugversorger vir die aarde optree. 'n Vermindering in ys kan dus lei tot 'n versnelling in aardverwarming.[8]

Die grootste vermindering in seeys het tot dusver in die Barentzs-see, Kara-see en Oos-Siberiese seë noord van Rusland plaasgevind, sowel as in die See van Ochotsk noordwes van Japan in die Stille Oseaan. Seeys het terselfdertyd in die Davis-seestraat en die Labrador-see tussen Kanada en Groenland merkbaar toegeneem. Die verwarming van meer as 0,5 grade Celsius per dekade oor die afgelope dertig jaar oor die landmassas in Siberië, Alaska en Westelike Kanada, gekoppel met 'n swakker verkoelingsneiging in westelike Groenland en die Labrador-see, is oënskynlik een van die twee hooffaktore in die verandering in seeys verspreiding. Die ander hooffaktor is 'n groot verandering in die Arktiese lugsirkulasiepatrone. Gemiddelde seevlak lugdruk het oor die sentrale Arktiese Oseaan begin val, met gepaardgaande vermeerdering in storms. As gevolg van die veranderings kan betreklik warm lente- en somerlugmassas van die Arktiese kus diep in die Arktiese Oseaan indring wat lei tot smelting van die ys.[8]

Wetenskaplikes is tans bekommerd dat die stygende temperatuur in die Arktiese gebied kan veroorsaak dat groot hoeveelhede vars Arktiese Oseaan smeltwater in die Noordelike Atlantiese Oseaan kan invloei wat moontlik die wêreldwye seestroompatrone kan versteur, wat aansienlike veranderinge in die Aarde se klimaat tot gevolg kan hê. Die gemiddelde temperatuur in die arktiese gebied styg tans teen 1,2 grade Celsius per jaar.[7]

Ysbere is afhanklik van seeys vir hulle oorlewing word slegs in en om die Arktiese Oseaan aangetref. Ysbere verloor gewig soos hulle jagvelde krimp as gevolg van die smelt van seeys en dit moeiliker word om robbe te jag. Die wêreldwye ysbeerbevolking het tussen 1994 en 2004 met 14% gedaal.[9] Ander bedreigings wat ysbere moet trotseer sluit in besoedeling, wettige en onwettige jag en versteurings as gevolg van nywerheidsaktiwiteite.[10] Blywende organiese besmetting deur stowwe soos PCB's en DDT wat in koue ekostelsels in hoë konsentrasies vergader lei tot verlaagde geboortesyfers onder ysbere wat as 'n indikatorspesie in die Arktiese gebied gesien word as gevolg van die spesie se posisie bo-aan die voedselketting.[11] Daar word gevrees dat ysbere in die 21ste eeu kan uitsterf en dat wetgewing benodig word om die diere te beskerm.[12]

Die ontginning van gas en olie in die Arktiese Oseaan bring 'n nuwe bedreiging tot die ekologie in die gebied. Bo en behalwe vir die impak wat verdere gebruik van fossielbrandstof op aardverwarming het, verteenwoordig die projekte groot gevare vir die plaaslike omgewing vir die delikate en ongerepte Arktiese omgewing. Tevore het die ongunstige weersomstandighede in die Arktiese Oseaan en die geweldig krag van die bewegende ysbedekking verhoed dat olie- en gasbronne daar ontgin word en veroorsaak dit dat ontdekking en veral produksie uiters gevaarlik sal wees. Een van die eerste pogings om Arktiese olie te ontgin is deur BP begin met die oprig van die Northstar-projek. Die projek word omtrent ses myl noord van Punt Storkersen in die Beaufort-see wes van Prudhoe-baai opgerig deur 'n bestaande gruiseiland, Seal-eiland, te vergroot. Die oliepyplyn wat warm olie van die oliemyn sal wegvoer word in onstabiele ysgrond 2 m tot 3 m onder die seebodem begrawe. Daar word gevrees dat soliede en los stukke ys wat die gebied vir tot tien maande van die jaar bedek 'n hoë risiko van oliestortings verteenwoordig en sal opruimingsoperasies bemoeilik of onmoontlik maak. Die Amerikaanse regering raam dat die waarskynlikheid van 'n groot oliestorting so hoog soos een in vier is.[13]

Bedreigde marinespesies sluit die walrusse en walvisse in. Die reeds bedreigde walvisbevolking loop verdere gevaar van oliestortings. In die verband is daar veral kommer oor Shell se planne vir 'n olie en gas projek in die verre ooste van Rusland. Dit sou baie moeilik wees om op oliestortings in die gebied te reageer waar golwe in die lente en winter gereeld vyf keer hoër is as vlakke waaronder huidige opruimings- en herwinningsmetodes gebruik kan word. Daar is ook 'n beduidende moontlikheid dat onherwinde olie die voedselvelde van die laaste bekende bevolking van westelike gryswalvis kan besoedel.[14]

Aardverwarming bedreig ook die Arktiese voëllewe. Klimaatmodelle voorspel probleme met beide habitatverlies en belemmering van broeivermoë. Soos die klimaat verwarm sal die boomgrens verder noord beweeg en woude die toendra vervang waar miljoene watervoëls broei.[15]

Die delikate ekostelsel van die Arktiese Oseaan verander stadig en herstel stadig wanneer dit versteur of beskadig word. Die poolysmassa is besig om dunner te word as gevolg van aardverwarming. Daar is ook 'n seisoenale gat in die osoonlaag bo die Noordpool.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Michael Pidwirny (2006). "Introduction to the Oceans". www.physicalgeography.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2020. Besoek op 7 Desember 2006.
  2. (en) Matthias Tomczak, J. Stuart Godfrey. Regional Oceanography: an Introduction. 2003. Delhi: Daya Publishing House. Tweede Uitgawe. ISBN 81-7035-306-8.
  3. (en) Some Thoughts on the Freezing and Melting of Sea Ice and Their Effects on the Ocean K. Aagaard en R. A. Woodgate, Polar Science Center, Applied Physics Laboratory University of Washington, Januarie 2001. Besoek op 7 Desember 2006.
  4. 4,0 4,1 (en) The Mariana Trench [1] The Mariana Trench – Oceanography, besoek op 12 Mei 2006
  5. (en) [2] The Arctic's New Gold Rush – BBC
  6. 6,0 6,1 (en) Scholastic [3] Arctic Pollution. Besoek op 13 Mei 2006
  7. 7,0 7,1 (en) NASA [4] Geargiveer 7 April 2006 op Wayback Machine The Arctic Perennial Sea Ice Could Be Gone by End of the Century. Besoek op 13 Mei 2006
  8. 8,0 8,1 (en) Greenpeace [5] Climate Change and Arctic Sea Ice, besoek op 13 Mei 2006
  9. (en) PlanetArk [6] Greenpeace Arctic Mission to Spotlight Polar Bears. Besoek op 13 Mei 2006
  10. (en) Polar Bears International [7] Polar Bear FAQ. Besoek op 13 Mei 2006
  11. (en) Greenpeace [8] The Threat of Climate Change to Arctic Wildlife, besoek op 13 Mei 2006
  12. (en) Center for Biological Diversity [9] Geargiveer 10 Augustus 2006 op Wayback Machine Endangered Species Act Listing Process for Polar Bears Underway. Besoek op 13 Mei 2006
  13. (en) Greenpeace [10] Northstar Campaign Summary, besoek op 13 Mei 2006
  14. (en) WWF [11] Shell poses unacceptable oil spill threat. Besoek op 13 Mei 2006
  15. (en) BBC [12] Climate change 'threatens Arctic birds', besoek op 13 Mei 2006

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Politieke geskille

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Gebiede van die Wêreld

Afrika

Noord (Midde-Ooste)  · Suid van die Sahara (Sentraal · Suider · Wes · Oos)

Amerikas

Noord · Sentraal · Karibiese Gebied) · Suid · Latyns

Asië

Sentraal · Oos · Noord-Asië (Verre-Ooste) · Suid (Indiese subkontinent) · Suidoos · Suidwes (Midde-Ooste)  · Wes

Europa

Sentraal · Noord · Suid · Wes · Oos

Oseanië

Australasië (Australië · Seeland) · Melanesië · Mikronesië · Polinesië

Poolgebiede

Noordpoolgebied · Antarktika

Oseane

Arktiese · Atlantiese · Indiese · Stille · Suidelike

Seë

Oorsig van Seë

Sien ook Kontinente van die wêreld