Meeldraad
Meeldrade is die voortplantingsorgane van ’n blom wat die stuifmeel vervaardig.
’n Meeldraad bestaan gewoonlik uit ’n stingel, wat die helmdraad genoem word, en ’n helmknop, wat die mikrosporangia bevat. Die meeste helmknoppe het twee lobbe en is óf onder óf in die middel aan die helmdraad geheg. Die steriele deel tussen die lobbe word die helmbindsel genoem. ’n Stuifmeelkorrel ontwikkel uit ’n mikrospoor in die mikrosporangium en bevat die manlike gamete.
Die meeldrade van ’n blom word saam die meeldraadkrans genoem. Dit kan ’n verskeidenheid vorms hê na gelang van die plantspesie – van hulle kan baie kompleks wees.[1][2][3][4] Die meeldraadkrans omring die ginesium van die blom en word op sy beurt omring deur die blomkelk, as daar een is.
Variasies in vorm
Na gelang van die plantspesie kan party of al die meeldrade in ’n blom aan die kroonblare of aan die blomas vas wees. Hulle kan ook vrystandig wees of op verskillende maniere aan mekaar vergroei wees. Die helmdrade kan vergroei wees en die helmknoppe vry, of die helmknoppe vergroei en die helmdrade vry. In plaas daarvan dat daar twee stuifmeelsakkies is, kan een van die sakkies van ’n meeldraad onontwikkel wees, of die twee sakkies kan later vergroei om een stuifmeelsakkie te vorm.[5]
Stuifmeelvervaardiging
’n Tipiese helmknop bevat vier mikrosporangia. Dié vorm stuifmeelsakkies in die helmknop. Elke mikrosporangium is uitgevoer met ’n laag voedingsweefsel bekend as die tapetum en bevat aanvaklik diploïede moederselle. Dié ondergaan meiose om enkelkernige spore te vorm. Die spore is óf aanmekaar vas óf ná meiose geskei. Elke mikrospoor verdeel dan deur mitose om onvolgroeide mikrogametofiete te vorm, wat stuifmeelkorrels genoem word.
Die stuifmeel word eindelik vrygestel wanneer die helmknop oopbars. Die stuifmeel word deur wind, water, insekte, voëls of ander diere versprei.
Die stuifmeel van bedeksadige plante moet na die stempel van ’n soortgelyke blom oorgedra word sodat bestuiwing kan plaasvind. Daarna voltooi die stuifmeelkorrel (onvolgroeide mikrogametofiet) gewoonlik sy ontwikkeling. Dit kan ’n stuifmeelbuis ontwikkel en mitose ondergaan om twee spermkerns te vervaardig.
Galery
-
Insekte dra onwetend stuifmeel na ander blomme oor en sorg so vir bestuiwing.
-
Die blom van ’n spinnekopboom (Crateva religiosa) met sy talle opvallende meeldrade.
-
Meeldrade van ’n passieblom (Passiflora caerulea) met hul interessante simmetrie.
-
Blou en rooi meeldrade van ’n waterlelie (Nymphaea caerulea).
-
Die blom van die hondebossie Chenopodium quinoa met sy vyf groot, geel tweelobbige helmknoppe.
Sien ook
Verwysings
- ↑ Sattler, R. 1973. Organogenesis of Flowers. A Photographic Text-Atlas. University of Toronto Press. ISBN 0-8020-1864-5.
- ↑ Sattler, R. 1988. A dynamic multidimensional approach to floral morphology. In: Leins, P., Tucker, S.C. en Endress, P. (red.) Aspects of Floral Development. J. Cramer, Berlin, pp. 1-6. ISBN 3-443-50011-0
- ↑ Greyson, R. I. 1994. The Development of Flowers. Oxford University Press. ISBN 0-19-506688-X.
- ↑ Leins, P. en Erbar, C. 2010. Flower and Fruit. Schweizerbart Science Publishers, Stuttgart. ISBN 978-3-510-65261-7.
- ↑ Goebel, K.E.v. (1969). Organography of plants, especially of the Archegoniatae and Spermaphyta. Vol. Part 2 Special organography. New York: Hofner publishing company. pages 553–555
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Meeldraad.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia