Gent
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | België |
Gewes (deelstaat) | Vlaandere |
Provinsie | Oos-Vlaandere |
Koördinate | 51°03′N 03°43′O / 51.050°N 3.717°O |
Oppervlak: | |
- Totaal | 156,18 km2 |
Bevolking: | |
- Totaal (1 Januarie 2019) | 262 219 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 585/km2 |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
Burgemeester | Mathias De Clercq (Open VLD) |
Amptelike Webwerf | www.gent.be |
Gent (Afrikaans, Nederlands en Duits: Gent, Frans en Italiaans: Gand, Engels: Ghent) is die ou hoofstad van die graafskap Vlaandere (België) en geboorteplek van keiser Karel V wat ook hier grootgeword het. Vandag is Gent met sy sowat 262 219 inwoners (2019) die hoofstad van die provinsie Oos-Vlaandere en op twee na die grootste hawe van België. Gent het 2 spoorwegstasies (Gent-Sint-Pieters en Gent-Dampoort) wat verbindings na Kortrijk, Brussel, Dendermonde, Mechelen, Lokeren en Antwerpen bied.
Die Universiteit van Gent het sowat 32 000 studente.
Geskiedenis
Die stad is by die Leie se monding in die Schelde geleë. Gent het rondom twee kloosters gegroei wat in 630 n.C. gestig is. Die vroegste dokumente, waarin die stad vermeld word, dateer uit die 8ste eeu. Nadat Gent in die 9de eeu deur Normandiese aanvallers verwoes is, het die Grawe van Vlaandere, wat hier en in Brugge gesetel was, met die bou van versterkings begin.
Ingevoerde Engelse wol was die basis vir Gent se befaamde wolnywerheid en lakenwewerye wat van Gent een van die grootste en welvarendste stede noord van die Alpe gemaak het. Die nuwe kasteel, die Gravensteen wat in 1180 opgerig is, weerspieël die mag en invloed van die destydse Grawe. Die burgerlike grondwet van die stad het verseker dat die Vaderlike Raad van 39 die gesag oor alle stedelike aangeleenthede gehou het.
Besienswaardighede en vermaak
Die hawe met sy nywerheidsgebied strek in die noorde tot by die Nederlandse grens; die ou stadsentrum met sy middeleeuse Gravensteen (kasteel van die grawe van Vlaandere) en talle historiese geboue vorm 'n skerp kontras teen die nuwe voorstad. Saans word die geboue tot middernag feestelik verlig. Drie abdye, die Sint-Baafskatedraal, die Sint-Niklaaskerk, die Gildehuizen aan die Graslei, die historiese huise langs die Korenlei en 'n aantal museums lok besoekers, wat meer as een dag nodig het om 'n indruk van die pragtige argitektuur te kry.
In die laatsomer vind die bekende Festival van Vlaanderen plaas; toeriste kan konserte van internasionale gehalte in die middeleeuse omgewing van katedrale, abdye, die raadsaal en ander geboue geniet.
In die omgewing van Gent lok die statige kasteel van Laarne.
Museums
- Stedelijk Museum voor Actuele Kunst (SMAK) in die Citadelpark
- Museum Dr. Guislain
- Stadsmuseum Gent (STAM) in die Bijloke
- Museum voor Schone Kunsten (MSK) in die Citadelpark met skilderye van Hieronymus Bosch (Jeroen Bosch), Theodore Gericault, James Ensor en Ernst Ludwig Kirchner.
- Museum voor Stenen Voorwerpen (Sint-Baafsabdy)
- Museum voor Industriële Archeologie en Textiel (MIAT)
- Huis van Alijn
- Museum voor Gerechtsvoorwerpen en het Wapenmuseum in die kasteel Gravensteen
- Museum Arnold Vander Haeghen
Kookkuns
Gent se bydraes tot die voortreflike Belgiese kookkuns is onder meer die Waterzooi van Gent ('n hoendergereg met groente), die Hutsepot (Frans Hochepot Gantois, 'n bredie met allerlei soorte vleis en groentes) en die Gentse Mokken (ronde koekies wat met meelblom en stroop gebak word).
Geboortes
- Keiser Karel V (1500 - 1558)
- Jacques Rogge (1942), sportbeampte (IOK-voorsitter) en ortopediese chirurg
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Gent. |
- (nl) Die amptelike webwerf van die munisipaliteit
- (nl) Die Museum voor Schone Kunsten
- (nl) Webwerf van die Sint-Baafskathedraal in Gent