Die Withuis (Engels: the White House) is die amptelike woning en hoofkantoor van die President van die Verenigde State van Amerika. Dit is te Pennsilvaniëlaan 1600, Washington, D.C. geleë en is tussen 1792 en 1800 uit witgeverfde Aquia-sandsteen in die laat Georgiese argitektuur gebou. Dit was die uitvoerende woning van elke VSA-president sedert John Adams. Toe Thomas Jefferson in 1801 by die Withuis ingetrek het, het hy (met argitek Benjamin Henry Latrobe) die gebou uitwaarts uitgebrei en is twee kolonnades geskep om die perdestalle en stoorareas te beskut.[1]

Kenteken van die Withuis
Staatsonthaal in 2019: President Donald Trump en die Eerstedame Melania Trump betree die Withuis saam met hul gaste, die Australiese premier Scott Morrison en sy vrou Jenny, deur die South Portico
Die Withuis in Washington, D.C.
Die Oval Office

In 1814, tydens die Anglo-Amerikaanse Oorlog van 1812, is die herehuis deur die Britse Weermag aan die brand gesteek en is die binnekant verwoes en baie van die buitekant verkool. Herstelwerk het byna onmiddellik begin en president James Monroe het in Oktober 1817 in die gedeeltelik gerestoureerde woning ingetrek. Konstruksie het voortgegaan met die bylas van die Suidelike Voorportaal in 1824 en die Noordelike in 1829. As gevolg van oorbevolking binne die herehuis het president Theodore Roosevelt in 1901 amper al die werkskantore na die nuutgeboude Westelike Vleuel geskuif. Agt jaar later het president William Howard Taft die Westelike Vleuel uitgebrei en die eerste Ovale Buro geskep, wat uiteindelik geskuif is nadat die afdeling uitgebrei is. Die solder op die derde verdieping is in 1927 in woonkwartiere omskep. 'n Nuutgeboude Oostelike Vleuel is gebruik as ontvangsarea vir sosiale funksies; beide nuwe vleuels is deur Jefferson se kolonnades verbind. In 1946 is veranderinge aan die Oostelike Vleuel voltooi wat meer kantoorspasie geskep het. In 1948 is daar bevind dat die huis se buitenste steunmure en interne houtbalke naby ineenstorting was. Onder Harry S. Truman is die binnenste kamers heeltemal gedemonteer en is 'n nuwe interne gewigdraende staalraamwerk opgerig en is die binneste kamers weer hermonteer.

Vandag bevat die Withuiskompleks die Uitvoerende Woning (waarin die Eerstefamilie woon), die Westelike Vleuel (die ligging van die Ovale Buro, Kabinetkamer, en Rooseveltkamer), en die Oostelike Vleuel (die ligging van die kantoor van die Eerstedame en die Withuis Sosiale Sekretaris), asook die Ou Uitvoerende Kantoorgebou, wat die uitvoerende kantore van die president en die adjunkpresident van die Verenigde State van Amerika huisves.

Die Withuis bestaan uit ses verdiepings — die Grondvloer, die Staatvloer, die Tweedevloer, en die Derdevloer, asook 'n tweeverdiepingkelder.

Die term "Withuis" word algemeen as 'n metoniem vir die Uitvoerende Kantoor van die President van die Verenigde State van Amerika en vir die president se administrasie en adviseurs in die algemeen gebruik. Die eiendom word deur die Nasionale Parkediens besit en is deel van die Presidentspark. In 2007 is dit tweede op die Amerikaanse Instituut vir Argitekte se ranglys van "Amerika se Gunsteling Argitektuur" geplaas.

Verwysings

wysig
  1. (en) Michael W. Fazio and Patrick A. Snadon (2006). The Domestic Architecture of Benjamin Henry Latrobe. The Johns Hopkins University Press. pp. 364–366.

Bronne

wysig
  • (en) Frank Freidel, William Pencak: The White House. The First Two Hundred Years. University Press, Boston/Mass. 1994, ISBN 1-55553-170-9.
  • (en) Barry H. Landau: The president’s table. 200 years of dining and diplomacy. Harper Collins, New York 2007, ISBN 0-06-089910-7.
  • (en) William Seale: The president’s house. A history. University Press, Baltimore, Md. 2008, ISBN 0-8018-8597-3.

Eksterne skakels

wysig
Amptelike webtuiste

Geskiedenis

President's Park

38°53′52″N 77°2′11″W / 38.89778°N 77.03639°W / 38.89778; -77.03639