Santa Monica, Kalifornië
Santa Monica is 'n stad in die deelstaat Kalifornië geleë aan die voet van die Santa Monica-berge aan die Stille Oseaan. Dit is ongeveer 24km wes van Los Angeles. Die nedersetting het dorpstatus verkry in 1827 en stadstatus in 1886. Toerisme is 'n groot bron van inkomste en die stad is bekend vir roofvishengel en hulle strande.[1] 'n Ligte treinstelsel, die Metro Expo Line, verbind die middestede van Santa Monica en Los Angeles met mekaar.
Kaart | Seël |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Deelstaat | Kalifornië |
County | Los Angeles |
Koördinate | 34°01′N 118°29′W / 34.017°N 118.483°W |
Gestig op | 3 Augustus 1769 |
Geïnkorporeer op | 30 November 1886 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 21,80 vk km |
Hoogte bo seevlak | 32 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2018) | 91 411 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 193/vk km |
Tydsone | PST (UTC -8) |
Somertyd | PDT (UTC -7) |
Burgemeester | Kevin McKeown (D) |
Amptelike Webwerf | smgov.net |
Little Britain
wysigIn Kalifornië word na Santa Monica soms verwys as Little Britain weens die betreklik groot Britse gemeenskap van tydelik tussen 4 000 en 5 000 siele wat hulle hier sedert die vroeë 1960's gevestig het. Intussen het die gemeenskap weens hoë eiendomspryse en strenger immigrasievereistes gekrimp tot 807 burgers (soos in 2011).[2][3] Die enigste weekblad in die Verenigde State met Britse immigrante as teikengroep, The British Weekly, word eweneens hier gepubliseer.[4][5]
Vroeë Britse inwoners het bekende literêre persoonlikhede soos Christopher Isherwood en W. H. Auden ingesluit. Isherwood, wat hom in Kalifornië kom vestig het nadat hy in die tyd van die Republiek van Weimar enkele jare saam met sy lewensmaat W. H. Auden in Berlyn deurgebring het, is in 1986 in sy huis in Santa Monica aan kanker oorlede. Vandag is dit hoofsaaklik bekendes uit die vermaaklikheidsbedryf wat hulle hier kom vestig om sukses op die Amerikaanse mark te behaal.
Vervoer
wysigLughawe
wysigDie Stad Santa Monica is die eienaar van die oudste lughawe in Los Angeles County wat steeds in bedryf en sowat tien kilometer noord van Los Angeles se internasionale lughawe (LAX) geleë is. Die Federale Lugvaartadministrasie FAA het die lughawe in sy Nasionale Plan vir Geïntegreerde Lughawestelsels vir die tydperk tussen 2009 en 2013 as 'n sogenaamde reliever airport gekategoriseer - 'n lughawe dus waarna vliegtuie kan uitwyk as groter lughawens in die omgewing hul kapasiteitsgrense bereik.
Volgens amptelike planne sal Santa Monica-lughawe (SMO) teen 2028 gesluit word. In Junie 2019 is met die verkorting van die bestaande aanloopbaan met 'n lengte van tans 5 000 tot 3 500 voet begin. Die lughawe se oppervlakte van 227 akkers sal as park herontwikkel word. Met die oog op Santa Monica se betreklik groot getal werksgeleenthede wat daagliks tienduisende pendelaars die stad laat binnestroom en die heersende behuisingstekort, word daar tans 'n openbare debat gevoer oor 'n alternatiewe herontwikkeling van die terrein as woonbuurt, gegewe die beskikbaarheid van werksgeleenthede, vervoergeriewe en skole in die lughawe se onmiddellike omgewing - die Westside van Los Angeles.[6]
Media
wysigRadiostasies
wysigKCRW, een van twee radiostasies in die Groter Los Angeles-gebied met volle lidmaatskap in NPR, die VSA se openbare radionetwerk, saai sy programme vanuit die kampus van Santa Monica-kollege op 89,9 MHz FM uit.
Verwysings
wysig- ↑ Collier's Encyclopedia, Crowell-Collier Educational Corporation, Volume 20, Bladsy 418.
- ↑ marketplace.org, 20 Julie 2012: Santa Monica business hurt by British expats departing. Besoek op 10 Mei 2018
- ↑ Santa Monica Daily Press, 30 Julie 2013: Brit expat population dwindles. Besoek op 10 Mei 2018
- ↑ The British Weekly - About Us. Besoek op 10 Mei 2018
- ↑ BBC America: The Brit List: The 10 Most British Towns in America. Besoek op 10 Mei 2018
- ↑ kcrw.com - Design and Architecture, 11 Junie 2019: Is a park the best future use of Santa Monica Airport? Besoek op 13 Junie 2019
Eksterne skakels
wysig- Toerisme