Punt Nemo (Engels: Point Nemo) is 'n plek in die Stille Oseaan ver van die naaste vasteland, het bekend geword as 'n ruimtevaartbegraafplaas. Dit is die verste punt in al die seë op die aardbol van enige land.

Ligging van Punt Nemo in verhouding met die drie naaste kuslynpunte.

Ligging

wysig

Hierdie kol in die suidelike Stille Oseaan is by 48° 52.6′ suid, 123° 23.6′ wes en ongeveer op gelyke afstand van die naaste landmassas. Dit is drie eilande, naamlik

  • Ducie-eiland (ook bekend as Pandora), 'n atol wat deel is van die Pitcairneilande op 'n afstand van 2 681 km na die noorde,
  • Motu Nui, by Paaseiland, 2 681 km na die noordweste en
  • 2 694 km suidwaarts is die Maher-eiland, naby die groter Siple-eiland teen die kus van Marie Byrd-land in Antarktika.

Wellington in Nieu-Seeland is 4 796 km en Concepción in Chili is 4 222 km weg. Hierdie punt is so afgeleë dat daar geen gereelde skeepvaart of vliegroetes binne 'n straal van 400 km plaasvind nie. Soms gebeur dit dat, as die Internasionale Ruimtestasie (IRS) oor die punt beweeg, die ruimtemanne die naaste mense aan daardie punt op aarde is. Die see is hier 4 000 m diep en die temperatuur van die water wissel by die 7,2 °C. Hewige storms en geweldige golwe is ook hier 'n kenmerk van die stormbreedtes (Roaring Forties).

Plekberekening

wysig

Die landmeter en ingenieur Hrvoje Lukatela was in 1992 die eerste wetenskaplike wat die plek aangedui het. Hy noem dit Punt Nemo na aanleiding van kapt. Nemo op die duikboot in die boek 20 000 myl onder die see deur Jules Verne. Nemo is die Latyn vir niemand en verwys na die feit dat daar hier in 'n gebied van 22 miljoen km² geen mens is nie.

Natuurlewe

wysig

Hierdie seegebied met sy ringvormige seestroming is bekend om 'n ryk verskeidenheid seelewe. Unieke visspesies en inkvisse is ontdek. Omdat dit so ver van moontlike beïnvloeding deur die mens is, is dit uitstekend geskik vir die bestudering van geluidsoordrag onder water en dus die kommunikasie tussen seediere. In 2017 het die Volvo Ocean Race hier bygedra tot wetenskaplike navorsing oor besoedeling met mikroplastiek van afgeleë seegebiede.

Ruimtevaart

wysig

Satelliete wat die einde van hul nut bereik het, kom al hoe nader aan die aarde en brand uit by binnekoms in die aarde se dampkring. Is so 'n ruimtetuig te groot, brand dit dikwels nie heeltemal uit nie en stort dit op die aarde neer. Om lewensverlies en skade te voorkom, word die terugkoms van so 'n tuig gedoen onder beheerde toestande. Weens die geringe kans dat vallende ruimteskroot skeep- en lugvaart kan ontwrig, gebruik onder meer Nasa die gebied rondom Punt Nemo al sedert 1971 as stortplek vir ruimterommel. Ongeveer 300 stukke afval lê reeds rondom hierdie punt in die see. Dit sluit in die bekende Mir-ruimtetuig en Skylab. Nasa beplan om in Januarie 2031 die IRS van 240 ton hier te laat neerstort.

Bibliografie

wysig
  • archive.theoceanrace.com
  • atlasobscura.com/articles/strange-maps-point-nemo
  • blog.geogarage.com/2024/02/8-facts-about-point-nemo-most-remote-html/
  • coastaricaaliveandsurf.com
  • escales.ponant.com
  • inaccessibility.net/nemo/
  • livescience.com
  • lukatela.com/pointNemoRevisited/index.htm/
  • oceanservice.noaa.gov