Odin of Wodan word dikwels as die oppergod in die Germaanse mitologie beskou. Hy is ook onder die volgende Noord-Germaanse name bekend: Oudnoors: Óðinn, Sweeds en Deens: Oden. Wes-Germaanse name van hierdie God is Weda (Oud-Fries), Woden (Angelsaksies en Oudsaksies), Wodan (Oud-Frankies), Wuodan (Alemannies), Wotan of Wothan (Germaans) en Guodan (Lombardies).

Odin van Lejre (900 n.C.) se twee rawe (Huginn en Muninn) – Roskilde-museum, Denemarke, 2009
Georg von Rosen se Oden som vandringsman, 1886 (Odin die wandelaar)
Odin of Wodan (1832)
Odin, se twee rawe (Huginn en Muninn) en sy twee wolwe (Geri and Freki)
Foto uit die boek Walhalla, Felix en Therese Dahn, 1888

In Afrikaans, Nederlands, Engels, Sweeds, Noors en Deens is Woensdag na hierdie god genoem. In Duits was Woensdag aanvanklik ook bekend as Wotanstag, maar onder invloed van die Christelike Kerk het dit uiteindelik Mittwoch (Midweek) geword.

Die woord weet (weten) is verwant aan die naam Wodan (van Oudgermaanse Watanaz).

Die naam Wodan as oppergod van ons voorouers was algemeen bekend in Wes-Europa, maar in Noord-Europa was hy meer bekend as Odin. Odin woon in Gladsheimr, maar ook soms in Valaskjálf, van waar hy die hele wêreld kan sien. Ook beskik hy oor ’n spesiale saal (hal) bekend as Walhalla. Walhalha is die hemel van die gestorwe krygers. Hulle word versamel en gekeur deur die walkures.

Die naam van sy vrou is Frigg, maar hy het ook minnaresse gehad. Van sy bekendste seuns was ook bekende Germaanse gode, naamlik Donar of Thor, Baldr en die blinde Hödr (ook bekend as Hod of Hodur). Met Jörd (Aarde) het hy die seun Donar verwek en met die vroulike reus Grid die seun Vidar. Met Rindr het hy die seun Vali verwek.

Odin is beskou as ’n alwetende en alwyse god. Hy het ook bekend gestaan as "alvader" of "almagtige vader" en daar is met ontsag oor hom gepraat. Vir Odin was kennis mag en hy het voortdurend gesoek en gestreef na kennis en waarheid. Vir hierdie drang na kennis moes hy 'n oog afstaan aan die dwerg Mimir om uit die Bron van Wysheid te kon drink. Odin sou ook nege dae lank aan die wêreldboom Yggdrasil gehang het as 'n selfoffer vir die verkryging van die geheim van kennis. Hy sou homself ook met 'n spies gesteek het terwyl hy aan die boom gehang het (selfkastyding). Odin het ook bekend gestaan as "die wandelaar" (wand = heilige staf). Die staf is 'n simbool vir wysheid en mag.

Kenmerke

wysig

Odin word aan die volgende herken: Hy was fors gebou met 'n lang wit baard en een oog. Hy was geklee in 'n lang mantel en het 'n hoed gedra. Hy het ook 'n spies (Gungnir) en 'n ring (Draupnir). Van hierdie ring af drup daar elke negende nag agt goue ringe af. Hierdie agt goue ringe is simbolies van die volgende agt dae, waarna weer 'n heilige nag aanbreek. Die ou Germaanse week het uit nege nagte bestaan.

Odin het twee kraaie (Huginn en Munnin) wat vir hom nuus bring. Sleipnir is sy agtbenige perd waarmee hy soos 'n stormwind deur die lug kan vlieg. Freki en Geri is Odin se twee wolwe wat hom op die slagveld begelei.

Skepper

wysig

Odin dateer uit die ystydperk. In hierdie tyd lek die oerkoei Audumla volgens oorlewering die reus Buri/Búri los uit die ys. Buri is die stamvader van alle gode. Uit Buri het Borr gekom en hy en die vroulike reus Bestla het drie seuns: Odin, Vili en . Hulle was die eerste gode en het die eerste twee mense, Ask en Embla, geskep. Talle Germaanse koningsgeslagte beweer dat hulle van Odin afstam.

Odin vorm ’n goddelike drie-eenheid met Vile en Vé. Sommige bronne vermeld egter ’n drie-eenheid met Hoenir en Lodur.

Einddoel

wysig

Odin berei homself voor vir die einde van die wêreld: Ragnarök. Krygers wat tydens hulle aardse lewe in die stryd gesterf het, word in die einherier (elitekorps) opgeneem. Die einherier oefen elke dag. Wanneer die einde van die wêreld kom, sal die leër saam met die gode veg teen duistere magte onder leiding van Loki. In die Ragnarök kom Odin te staan teen Fenrir, die bose wolf. Odin verloor egter hierdie tweestryd, maar die dapper seun van Odin, Vanir, neem wraak deur Fenrir dood te maak.

Ná die Ragnarök kom daar ’n "nuwe wêreld". Die "ou wêreld" vergaan.

Kerstening

wysig

Met die koms van die Romeinse Christendom na Wes- en Noord-Europa is die Germaanse godsdiens langsamerhand verdring. Die ou Germaanse gode is met die koms van die Christendom as ongewens verklaar en as duiwelsfigure beskou.

Bibliografie

wysig
  • Van Egir tot Ymer: Personages en thema’s uit de Germaanse en Noorse mythologie, Paula Vermeyden en Arend Quak, 2000, SUN – Nijmegen.

Eksterne bronne

wysig
Voorganger
← Geen
Legendariese Sweedse konings Opvolger
Njord