Christiane Jaccottet

Christiane Jaccottet, neé Wachsmuth (18 Mei 1937, Lausanne, Switserland26 Oktober 1999, Rivaz, Kanton-Waadt, Lavaux-Oron, Switserland) was 'n klavesimbelspeelster wat verskeie komponiste se werke opgeneem het, maar veral die werke van Bach.[1][2]

Lewensloop

wysig

Haar vader, André Wachsmuth, en moeder Andrée Loew het albei die viool bespeel. Sy het haar studies in klavier en musiekteorie begin onder Elise Faller aan die Konservatorium van La Chaux-de-Fonds. Hier het sy haar voorbereidende diploma in 1952 en haar diploma in 1954 verwerf. Sy studeer vanaf 1955 tot 1957 aan die Musikakademie in Wene onder Eta Harich-Schneider (klavesimbel, continuo) en Joseph Mertin (Vroeë musiek-praktyk). In 1961 neem sy deel aan 'n kursus wat deur Gustav Leonhardt aangebied is.

Eerste erkenning

wysig

By die aanvang van haar loopbaan het sy drie belangrike pryse behaal:

  • in 1958 was sy 'n pryswenner tydens die Internationaler Musikwettbewerb in München,
  • in 1964 ontvang sy die solisteprys van de Association des Musiciens Suisses,
  • in 1965 behaal sy tweede prys en die prys basso continuo tydens die eerste internasionale klavesimbelkompetisie in die kader van die MAfestival Brugge (Festival van Oude Muziek) in Brugge. Geen eerste prys is toegeken nie, omdat die paneel vanaf die aanvang van die kompetisie hoë standaarde wou stel.

Loopbaan as dosent

wysig

In September 1962 is Jaccottet toegelaat om 'n klavesimbelklas aan die Lausanne Konservatorium aan te bied. In 1975 het sy Isabelle Naef opgevolg as dosent van klavesimbel en vroeë musiek aan die Konservatorium van Genève.

In die daaropvolgende jare het sy talle meesterskursusse in Switserland, Duitsland, Oostenryk, Australië en Italië gegee. Sy het ook op beoordelingspanele in Bologna, Parys, Leipzig en Warskou gedien. In 1974 en 1977 was sy 'n paneellid vir die internasionale klavesimbelkompetisie in Brugge.

Konserte

wysig

Jaccottet het in talle Europese lande konserte gegee, hetsy as soliste, hetsy met orkes of as continuobegeleidster. Sy het in Hongarye, Switserland, Duitsland, Oostenryk, België, Kroasië, Spanje, Finland, Frankryk, Groot-Brittanje, Nederland, Pole en Portugal opgetree.

Sy was ook herhaaldelik op toer in die Verenigde State, Kanada, Australië en Japan.

Sy het in totaal in 800 konserte gespeel, en meer as 120 plate of CD's opgeneem.

By die aanvang van haar loopbaan het Christiane Jaccottet saam met met musici uit Franstalige Switserland, soos Marçal Cervera, Andrée Wachsmuth-Loew (haar moeder, 1910-2005), Edgar Schann, André Luy en Eric Tappy gespeel.

Vanaf 1959 tot 1967 het sy dikwels saam met La Camerata di Cremona, gedirigeer deur Ennio Gerelli, opgetree. Die hoogtepunt hiervan was die konserte in Cremona en Milaan in 1967, tydens die vierhonderdste herdenking van Monteverdi se geboorte.

In 1961 stig sy die Ensemble Baroque de Lausanne saam met Hugues Cuénod, Eric Tappy, Etienne Bettems en Marçal Cervera. Die ensemble het talryke konserte gegee, dikwels tydens musiekfeeste: in Straatsburg (1961), Vars, Grignan, Parys, Tourraine, Divonne, Brussel, Wene en Ambronay (1975).

Van 1966 tot 1990 gee sy verskeie konserte in Italië saam met die Orchestra Gasparo di Salo, werksaam vanuit Brescia en Bergamo.

Sy was vanaf 1970 ook vir etlike jare verbonde aan die L'Ensemble vocal et instrumental de Lausanne onder leiding van Michel Corboz.

Van 1975 tot 1989 was sy aktief in die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) (Blankenburg, Berlyn, Dresden, Halle, Köthen, Leipzig, Potsdam, Rostock). Sy is hierna toegelaat om 'n voordrag te gee in Eisenach in die musieksalon van Bach, tydens die 300ste herdenking van dié meester se geboortedatum.

Vanaf 1965 tot 1999 het sy ook nou saamgewerk met Aurèle Nicolet en Heinz Holliger. Saam het hulle sowat 150 konserte gegee en saam verskeie opnames gemaak.

Diskografie

wysig

Jaccottet het as solis of continuo-begeleidster vele werke opgeneem, van musiek uit die 16de eeu tot 20ste eeuse musiek. Sy het haar veral toegespits op Bach, en van 1979 tot 1992 Bach se totale klavesimbel-oeuvre opgeneem: van haar opnames word hieronder gelys:

  • saam met Arthur Grumiaux: Bach: Volledige vioolsonates, 2CD, Decca, 1996,
  • Bach: Das Wohltemperierte Klavier I, 2 CD, clàssic, 2010
  • Bach: Goldberg-variasies; 4 duette, digital clàssica, DDD,
  • saam met Heinz Holliger: Couperin: Nuwe Concertos no's 7, 8, 10, 11, 13, 14, Aquari.

Persoonlike lewe

wysig

Sy was getroud met Pierre Jaccottet.

Verwysings

wysig
  1. "Recordings". Los Angeles Times. 19 Desember 1999. Besoek op 6 April 2016. Christiane Jaccottet, harpsichord
  2. Adelson, Robert. "Christiane Jaccottet: Biography". AllMusic. Besoek op 21 April 2016.

Eksterne skakels

wysig