Wikipedia:Voorbladartikels 2023
Hierdie is die argief van al die artikels wat tydens 2023 as spogartikels op die voorblad gepryk het.
2023
[wysig bron]Week 1
Die Alcatraz-gevangenis (Engels: United States Penitentiary, Alcatraz Island), ook net bekend as Alcatraz of The Rock, was 'n federale maksimumsekuriteitsgevangenis op Alcatraz-eiland, sowat 2 km van die kus van San Francisco, Kalifornië, VSA. Sedert die 1850's was daar 'n fort op die eiland; die selblok is in 1910-'12 as 'n militêre tronk opgerig.
Die Amerikaanse departement van justisie het die dissiplinêre kasernes op Alcatraz op 12 Oktober 1933 aangeskaf. Die eiland is in Augustus 1934 aangepas en as 'n gevangenis gebruik nadat die geboue gemoderniseer en die sekuriteit verhoog is. In die lig van die hoë sekuriteit en die eiland se ligging in die koue water en sterk seestrome van San Francisco-baai is geglo dat niemand van Alcatraz sal kan ontsnap nie en dat dit Amerika se sterkste tronk sou wees.
Die hoofselblok van drie verdiepings het die vier selblokke ingesluit – van blok A tot blok D – asook die hoofbewaarder se kantoor, besoekerskamer, biblioteek en haarkapper. Die tronkselle was gewoonlik 2,7 m x 1,5 m groot en 2,1 m hoog. Hulle was primitief en het geen privaatheid gebied nie. Hulle was toegerus met 'n bed, lessenaar, wasbak, toilet teen die agterste muur en min ander voorwerpe buiten 'n kombers. Swart Amerikaners is van ander gevangenes geskei weens die rassisme van die Jim Crow-tydperk.
Die ergste gevangenes is in blok D aangehou, en ses selle aan die punt daarvan is "Die Gat" genoem. Gevangenes met gedragsprobleme is vir tydperke van dikwels wrede strafbehandelings hierheen gestuur. Die eetsaal en kombuis het uit die hoofselblok gestrek. Die gevangenes en bewaarders het drie keer per dag saam geëet. Die hospitaal was bo die eetsaal geleë.
Die gange tussen selle is na bekende Amerikaanse strate genoem, soos Broadway en Michigan Avenue. Gevangenes het dit as 'n voorreg beskou om in die tronk te werk. Dié met spesiale regte het bedags in die nywerheidsgeboue gewerk, waar hulle met onder meer naald- en houtwerk aktief betrokke was in die verskaffing van goedere aan die weermag.
Nadat Alcatraz in 1963 as 'n tronk gesluit is, is dit as 'n openbare museum heropen. Dit is een van San Francisco se grootste toeristeaantrekkings en lok sowat 1,5 miljoen besoekers per jaar.
Week 2
Die Stonewall-onluste of Stonewall-oproer was ’n reeks spontane, gewelddadige demonstrasies deur lede van die gay (LGBT)-gemeenskap teen ’n polisieklopjag in die vroeë oggendure van 28 Junie 1969 op die Stonewall Inn in die Greenwich Village-buurt van Manhattan, New York. Dit word algemeen beskou as die belangrikste voorval wat gelei het tot die gaybevrydingsbeweging en die moderne stryd vir LGBT-regte in die VSA.
Gay Amerikaners het in die 1950's en 1960's met ’n antigayregstelsel te doen gehad. Vroeë homofiele groepe (soos gay groepe genoem is) het probeer bewys dat gays in die gemeenskap opgeneem kon word en het opvoeding sonder konfrontasie vir beide homoseksuele en heteroseksuele voorgestaan. Die laaste jare van die 1960's was egter baie netelig omdat baie sosiale/politieke bewegings aktief was, insluitende die burgerregtebeweging, die kontrakultuur van die 1960's en die teenkanting teen die Viëtnamoorlog. Hierdie invloede, tesame met die liberale omgewing van Greenwich Village, het saam gelei tot die Stonewall-onluste.
In die 1950's en 1960's het baie min instellings mense verwelkom wat openlik gay was. Dié wat het, was gewoonlik kroeë, hoewel die eienaars en bestuurders selde gay was. In dié tyd was die Stonewall Inn in besit van die Amerikaanse Mafia. Dit het alle soorte klante verwelkom en was gewild onder die armstes en die randfigure in die gay gemeenskap: fopdossers, transgender mense, verwyfde jong mans, butch lesbiërs, manlike prostitute en daklose jeugdiges.
Polisieklopjagte op gay kroeë was in die 1960's algemeen, maar by die Stonewall Inn het die polisie vinnig beheer verloor. Hulle het ’n skare gelok wat aangehits is om te rebelleer. Spanning tussen die polisie en gay inwoners van Greenwich Village het gelei tot hernude onluste die volgende aand, en weer ’n paar aande later. Binne weke het Village-inwoners in aktivistegroepe byeengekom om aan te dring op die reg van gays en lesbiërs om openlik oor hul seksuele oriëntasie te wees sonder die vrees om vervolg te word.
Ná die Stonewall-onluste het gender-, ras-, klas- en ander hindernisse gays en lesbiërs in New York gekeer om ’n verenigde gemeenskap te vorm. Binne ses maande is twee gay aktiviste-organisasies in New York op die been gebring wat op konfrontasietegnieke gekonsentreer het, en drie koerante is gestig om die regte van gays en lesbiërs te bevorder. Binne ’n paar jaar is verskeie gayregte-organisasies dwarsoor die VSA en die wêreld gestig. Op 28 Junie 1970 het die eerste Gay Pride-optogte in New York, Los Angeles, San Francisco en Chicago plaasgevind om die onluste te gedenk. Soortgelyke optogte is in ander stede gereël. Vandag word Gay Pride-parades jaarliks teen einde Junie dwarsoor die wêreld gehou om die Stonewall-onluste te gedenk.
’n Monument is in 2016 op die plek van die onluste opgerig.
Week 3
Die 8,8 cm-Flak 18/36/37/41 is 'n Duitse lugafweer- en antitenkkanon wat in die 1930's ontwikkel is. Dit was een van Nazi-Duitsland se mees gebruikte kanonne regdeur die Tweede Wêreldoorlog en van hul mees gevreesde en herkenbare wapens tydens die oorlog. Die ontwikkeling van die oorspronklike ontwerp het gelei tot die daarstelling van 'n groot verskeidenheid kanonne.
Die naam het betrekking op 'n verskeidenheid kanonne; die eerste een was amptelik die 8,8 cm-Flak 18, die verbeterde weergawe van die 8,8 cm-Flak 36 en later die 8,8 cm-Flak 37 genoem. Die woord Flak is 'n akroniem in Duits vir Flugzeugabwehrkanone en beteken lugafweerkanon, die oorspronklike doel vir die ontwerp van die kanon. In Engels het die woord Flak 'n generiese term geword vir enige lugafweervuur vanaf die grond. Informeel is na die kanonne verwys as Acht-acht (agt-agt) deur die Duitsers en die eighty-eight deur die Geallieerdes.
Die beweegbare, goed ontwerpte kanonwa het daartoe bygedra dat die lugafweerkanon direk in 'n beperkte antitenkrol gebruik kon word terwyl dit net so op sy wiele gestaan het. Dit kon binne twee en 'n halwe minuut geskuif word. Die kanon se sukses in die geforseerde antitenkrol het tot gevolg gehad dat 'n kanon vir tenks ontwikkel is uit die lugafweerkanon, die 8,8 cm-KwK 36; KwK beteken Kampfwagen-Kanone (letterlik oorlogsvoertuigkanon of gevegsvoertuigkanon) en is ontwerp om as die primêre wapen in die skiettoring van 'n tenk gebruik te word. Die Tiger I-swaartenk was toegerus met die 8,8 cm-KwK 36-kanon.
Benewens hierdie Krupp-ontwerpe het Rheinmetall later 'n kragtiger lugafweerkanon, die 8,8 cm-Flak 41, ontwerp waarvan maar relatief min vervaardig is. Krupp het hierop gereageer met 'n prototipe van die langloop- 8,8 cm-kanon, wat later ontwikkel is as die 8,8 cm-PaK 43-kanon wat vir tenkvernietiging gebruik is in die Elefant en Jagdpanther-tenkvernietiger. Dit is ook in die skiettoring van die Tiger II-tenk geïnstalleer, wat dit 'n ware swaargewigtenk gemaak het.
Week 4
Die Roemeense nasionale rugbyspan (Roemeens: Echipa națională de rugby a României) is die nasionale rugbyspan wat Roemenië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam is Stejarii (“die eike”). Rugby word in Roemenië geadministreer deur die Roemeense Rugbyfederasie (Federația Română de Rugby, FRR) wat in 1931 gestig is. Roemenië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Roemenië tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Roemeense rugbyspan is tans (Januarie 2023) 17de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Roemenië het in 1919 sy eerste toetswedstryd teen die Verenigde State gespeel. Roemenië was nes Italië oor dekades heen een van die sterkste Europese spanne buite die destydse Vyfnasies. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap tien titels ingepalm, 20-keer as naaswenner en 15-keer in die derde plek geëindig. Gedurende hul bloeitydperk in die 1980’s het hulle herhaaldelik daarin geslaag om groot rugbynasies soos Frankryk, Wallis en Skotland te klop. Ná die omverwerping van die Kommunistiese Ceaușescu-diktatuur is die span van sy vrygewige finansiële befondsing ontneem en het ’n swak fase betree wat tot vandag toe aanhou.
Die Roemeense span speel tradisioneel in geel truie met blou broeke en rooi sokkies. Roemenië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 gehou word. Sedert die Rugbywêreldbeker in 1987 ingevoer is, het die span aan amper alle toernooie deelgeneem en net die Rugbywêreldbeker 2019 misgeloop.
Week 5
Harlem is 'n woonbuurt in Bo-Manhattan in die stad New York. Dit word rofweg begrens deur die Hudsonrivier in die weste; die Harlemrivier en 155th Street in die noorde; Fifth Avenue in die ooste; en Central Park-Noord in die suide. Die groter Harlem sluit verskeie ander woonbuurte in.
Die buurt was aanvanklik 'n Nederlandse dorp wat in 1658 amptelik ontstaan het. Dit is genoem na die stad Haarlem in Nederland.
Harlem se geskiedenis word gekenmerk deur 'n reeks ekonomiese siklusse van oplewing en insinking, met aansienlike bevolkingsverskuiwings wat met elke siklus gepaardgegaan het. Dit is in die 19de eeu hoofsaaklik deur Amerikaanse Jode en Italiane bewoon, maar Afro-Amerikaners het tydens die Groot Migrasie in die 20ste eeu in groot getalle daarheen getrek. In die 1920's en 1930's was Sentraal- en Wes-Harlem die middelpunt van die Harlem-renaissance, 'n groot Afro-Amerikaanse kultuurbeweging.
Teen die 1970's het baie inwoners wat dit kon bekostig uit die buurt getrek op soek na beter skole en huise en veiliger strate. Dié wat agtergebly het, was die armstes. Hoewel die regering $100 miljoen bestee het om werkopleiding en woonomstandighede oor 'n tydperk van 10 jaar te verbeter, het Harlem geen verbetering getoon nie.
Ná die 1990's het Harlem weer begin groei. Tussen 1990 en 2006 het die inwonertal met 16,9% toegeneem. Weens werkverliese tydens die Groot Depressie van die 1930's en die deïndustrialisasie van New York ná die Tweede Wêreldoorlog het armoede en misdadigheid in Harlem aansienlik gestyg. In die 21ste eeu het misdadigheid weer afgeneem en Harlem is opgeknap en gerestoureer.
Die gebied het 'n moltrein en busse. Daar is verskeie skole en dit is naby 'n aantal universiteite.
Week 6
Die Krieketwêreldbeker 2003 (Engels: 2003 Cricket World Cup), amptelik bekend as die IKR Krieketwêreldbeker 2003, is van 9 Februarie tot 23 Maart 2003 in Suid-Afrika, Zimbabwe en Kenia beslis. Dit was die agtste krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste in Afrika. Ná die Rugbywêreldbeker 1995 was dit die tweede wêreldbekertoernooi in een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte; later het dié land ook die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aangebied. Beide Kenia en Zimbabwe het vir die eerste keer ’n wêreldbekertoernooi aangebied.
Die toernooi se formaat van 1999 het onveranderd gebly en 14 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2003 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die vier beste spanne van die IKK-trofee 2001 Kanada, Kenia, Namibië en Nederland. Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is 54 wedstryde gespeel, waaronder 42 tydens die groepfase, nege in die Super Ses, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van sewe elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die drie beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Ses gekwalifiseer, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.
Australië, Indië, Kenia en Sri Lanka het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Sri Lanka en Indië het Kenia geklop, voordat die verdedigende kampioen Australië die eindstryd op Wanderers in Johannesburg teen Indië met 125 lopies gewen en sodoende sy derde titel ingepalm het, die eerste land wat daarin geslaag het. Hulle het tydens die toernooi al hul elf wedstryde gewen. Namibië het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit is tot dusver die enigste krieketwêreldbeker waaraan vier Afrikaspanne deelgeneem het.
Week 7
Miami Internasionale Lughawe (IATA: MIA, ICAO: KMIA), ook bekend as MIA en histories as Wilcox Field, is die primêre lughawe wat die groter Miami-metropolitaanse gebied bedien met meer as 1 000 daaglikse vlugte na 167 plaaslike en internasionale bestemmings, insluitend die meeste lande in Latyns-Amerika. Die lughawe is geleë in 'n ongeïnkorporeerde area in Miami-Dade County, 13 km noordwes van Downtown Miami aangrensend aan die stede Miami en Miami Springs, en die dorpie Virginia Gardens.
In 2021 het Miami Internasionale Lughawe die besigste internasionale vraglughawe in die VSA geword en die tweede besigste Amerikaanse poort vir internasionale passasiers, na die John F. Kennedy Internasionale Lughawe in New York Stad. Teen 2022 is dit die 9de besigste lughawe in die VSA met 50 684 396 passasiers vir die jaar. Dit is Florida se besigste lughawe volgens totale passasiersverkeer, wat Orlando oortref het, asook vir totale vliegtuigbedrywighede en totale vragverkeer. Die lughawe is American Airlines se derde grootste spilpunt en dien as sy primêre poort na Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande. Miami dien ook as 'n fokusstad vir Avianca, Frontier Airlines en LATAM, beide vir passasiers en vragbedrywighede.
Miami Internasionale Lughawe beslaan 1335 ha. Dit is Suid-Florida se hooflughawe vir langafstand internasionale vlugte en 'n spilpunt vir die Suidoostelike Verenigde State met passasiers- en vragvlugte na stede regoor die Amerikas, Europa, Afrika en Asië.
Week 8
Die Sodiakmoordenaar was ’n reeksmoordenaar wat in die laat 1960's in Noord-Kalifornië bedrywig was. Hy is nooit aangekeer nie en sy identiteit is onbekend. Die saak is al beskryf as die beroemdste onopgeloste moordsaak in die Amerikaanse geskiedenis en het al gelei tot baie pogings deur amateurspeurders om dit op te los.
Hy het mense tussen Desember 1968 en Oktober 1969 in Benicia, Vallejo, by die Berryessa-meer en in San Francisco vermoor. Vier mans en drie vroue tussen 16 en 29 jaar oud is aangeval. Twee van sy slagoffers het oorleef. Die Sodiak self het beweer hy het 37 mense vermoor en hy is verbind met verskeie ouer moorde, sommige in Suid-Kalifornië en ander buite Kalifornië. Die moordenaar het self die naam "Sodiak" gebruik in ’n reeks tartende briewe aan koerante in die Baaigebied. Dié briewe het vier geheime kodes bevat – net een hiervan is vir seker ontsyfer.
Verskeie verdagtes is ondersoek, maar geen beslissende bewyse is gevind nie. In April 2004 het die San Francisco-polisie die saak as "onaktief" gemerk, maar dit in 2007 heropen. Die saak is ook nog oop in Vallejo en ander gebiede, asook by die Kaliforniese departement van justisie.
Die enigste verdagte wat destyds ooit in die openbaar genoem is, was Arthur Leigh Allen, 'n voormalige laerskoolonderwyser en veroordeelde seksoortreder wat in 1992 dood is.
Week 9
Die Kanadese nasionale krieketspan (Engels: Canada national cricket team; Frans: Équipe du Canada de cricket), met die bynaam “Maple leafers”, is die nasionale krieketspan wat Kanada in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Kanada deur Krieket Kanada (CC, van Engels en Frans: Cricket Canada) beheer. Kanada is sedert 1968 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR).
Hoewel Kanada nie gemagtig is om toetswedstryde te speel nie, het die span wel deelgeneem aan internasionale eendagwedstryde en eersterangse wedstryde (in die IKR Interkontinentale Beker) teen ander nietoetsspelende lande. Die wedywering met die Verenigde State is so sterk in krieket as wat dit in enige ander spansport is en albei spanne ding jaarliks om die K.A. Auty-beker mee. Die wedstryd tussen die twee lande is in der waarheid die oudste internasionale wedywering in krieket en is reeds in 1844 uitgespeel. Kanadese krieket is geneig om ’n laer profiel as die meeste ander sportsoorte in te neem en die span word meestal saamgestel uit uitgewekenes van meer suksesvolle krieketlande. Sulke spelers probeer om ’n vlak van internasionale ervaring te bereik deur vir Kanada te speel wanneer hulle as te oud geag word om vir hul onderskeie nasionale spanne te verskyn. Die Kanadese Krieketwêreldbeker 2003-span het byvoorbeeld verskeie spelers ingesluit wat in Sri Lanka, Indië, Pakistan en Wes-Indië gebore is.
Kanada se eerste internasionale wedstryd teen ’n ander span as die Verenigde State was in 1893, toe Australië na Kanada getoer het. Nes ander assosiaatlede van die IKR het Kanada in 1979 aan sy eerste internasionale toernooi deelgeneem, die IKR-trofee in Engeland, waar Kanada vir die Krieketwêreldbeker 1979 gekwalifiseer het, nadat hulle net na Sri Lanka tweede geëindig het. Daarna het Kanada eers weer in 2003 vir ’n krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer, hoewel hulle die hele tyd een van die toonaangewende assosiaatlede was. Tussen 2006 en 2013 het Kanada beide EDI- en T20I-status geniet, nadat hulle vir die Krieketwêreldbeker 2007 en die Krieketwêreldbeker 2011 gekwalifiseer het. Sedert die nuwe Wêreldkrieketliga van stapel gestuur is, het hulle egter nie meer so goed gevaar nie – Kanada was onder die laaste spanne tydens die 2014-krieketwêreldbekerkwalifikasie en die Wêreldkrieketliga se afdeling twee in 2015, en is vervolgens tot die Wêreldkrieketliga se afdeling drie afgegradeer.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat Kanada ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word. Kanada is tans (26 Februarie 2023) 20ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Week 10
Die Groot Sfinks van Giza (Arabies: أبو الهول, Aboe al-Haoel, "die Verskriklike Een") is ’n kalksteenstandbeeld van ’n sfinks (’n mitiese figuur met die lyf van ’n leeu en die gesig van ’n mens) op die wesoewer van die Nylrivier by Giza, Egipte. Dit word gewoonlik bloot die Sfinks genoem. Daar word geglo die standbeeld se gesig is dié van farao Chafra.
Dit is die grootste standbeeld in een stuk in die wêreld. Die oorspronklike beeld is uit die rotsbodem gekap en is sedertdien met lae kalksteenblokke gerestoureer. Die Sfinks is 73,5 m lank, 19,3 m breed en 20,22 m hoog. Dit is die oudste bekende monumentstandbeeld en is waarskynlik gebou deur die Antieke Egiptenare van die Ou Ryk tydens die bewind van farao Chafra (c. 2558–2532 v.C.).
Die Groot Sfinks is geleë langs die dodetempel van Chafra en is uit 'n rotsagtige formasie van kalksteen gekap wat in die geologiese tydperk die Eoseen gevorm het. Die terrein is duidelik deel van 'n steengroef waaruit die materiaal gehaal is om die Groot Piramide van Choefoe te bou.
Voor die beeld is 'n halfvoltooide tempel gebou, waarskynlik met klipblokke wat weggekap is. Van die klippe het tot 200 ton geweeg. Farao Amenhotep II (1570-1544 v.C.) het omtrent 1 000 jaar ná die oprigting van die Sfinks ’n nuwe tempel reg langsaan laat bou.
Die kop van die Sfinks beeld waarskynlik Chafra uit en is bedek met 'n koninklike hooftooisel. Die verhouding van die kop is nie heeltemal in verhouding met die liggaam nie, omdat daar bolangs meer erosie voorgekom het. In die oudheid was die Sfinks waarskynlik met helder kleure geverf, soos rooi, blou en geel. Die beeld is al verskeie kere gerestoureer en is erg beskadig.
Week 11
Mercurius is die kleinste planeet in die Sonnestelsel en die naaste aan die Son. Sy omwenteling om die Son duur 87,97 aarddae, en dit is die kortste van al die planete. Dit is genoem na die Romeinse god Mercurius, die god van handel, die boodskapper van die gode en die tussenganger tussen gode en sterflinge. Hy stem ooreen met die Griekse god Hermes.
Nes Venus wentel Mercurius binne die Aarde se wentelbaan om die Son en sy skynbare afstand van die Son soos van die Aarde af gesien is nooit meer as 28° nie. Dié nabyheid aan die Son beteken die planeet kan net ná sonsondergang naby die westelike horison en voor sonsopkom naby die oostelike horison gesien word, gewoonlik in die skemerlig. Dan kan dit as 'n helder steragtige voorwerp gesien word, maar dit is moeiliker om te sien as Venus. Van die aarde af vertoon die planeet die volle siklus van fases, soortgelyk aan Venus en die Maan, wat oor sy sinodiese periode (ten opsigte van die Aarde en die Son) van sowat 116 dae gesien kan word. Mercurius se sinodiese afstand van die Aarde af maak dat hy die grootste deel van die tyd die Aarde se naaste planeet is, hoewel Venus soms nader aan die aarde kom as wat enige ander planeet kan.
Mercurius roteer op 'n unieke manier in die Sonnestelsel. Dit is in 'n rotasie-omwenteling-resonansie van 3:2 met die Son, wat beteken ten opsigte van die vaste sterre roteer dit om sy eie as drie keer vir elke twee omwentelings om die Son.
Mercurius se as het die kleinste ashelling van al die planete in die sonnestelsel (sowat 1⁄30 graad). Sy eksentrisiteit (hoe ver sy wentelbaan van 'n ronde sirkel afwyk) is die grootste van al die planete met perihelium; sy afstand van die Son is dan net sowat twee derdes (of 66%) van sy afstand met afelium.
Week 12
Fernando Alonso Díaz (gebore op 29 Julie 1981 in Oviedo) is 'n Spaanse Formule Eenrenjaer en 'n tweemalige wêreldrenkampioen. As 24-jarige wen hy sy eerste F1-titel in 2005 en word so die jongste persoon om 'n Grand Prix-seisoen te wen. Die rekord is in 2008 deur Lewis Hamilton en weer in 2010 deur Sebastian Vettel verbeter.
Alonso het vir verbasing gesorg oor die spoed waarmee hy daarin geslaag het om sy pad na die hoogste vlak van motorsport te vind. Alonso het reeds op driejarige ouderdom met knortjorre rondgerits. Hy het daarna in 1994–1997 knortjorwedrenne gewen in Spanje, en is in 1996 as die wêreldknortjorkampioen gekroon.
In 1999 het hy na enkelsitplekkers oorgeskakel en Spaanse kampioen geword met ses oorwinnings in die Euro Ope MoviStar met Nissan. Hy het die wêreld van Formule Een in 2001 betree by die Minardispan, en verskuif na Renault Sport, waarna hy vir verskeie spanne deelgeneem het, onder andere Ferrari, McLaren en Alpine. In die 2023-seisoen jaag hy vir die Aston Martin-span.
Week 13
Die Georgiese nasionale rugbyspan (Georgies: საქართველოს მორაგბეთა ეროვნული ნაკრები, Sakartwelos moragbeta erownuli nakrebi) is die nasionale rugbyspan wat Georgië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam Lelos is ontleen aan ’n tradisionele Georgiese rugbysport wat nou verwant is aan rugby. ’n Ander bynaam is Bordsjghalosnebi (“mans van die son”), afgelei van die Bordsjghali, ’n tradisionele Georgiese sonembleem. Rugby word in Georgië geadministreer deur die Georgiese Rugbyunie (GRU; საქართველოს რაგბის კავშირი, Sakartwelos ragbis kawsjiri) wat in 1964 gestig is en sedert 1991 op sy eie optree. Georgië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Georgië tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Georgiese rugbyspan is tans (Maart 2023) 11de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Georgië het in 1989, voor sy onafhanklikheid van die Sowjetunie, sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen Zimbabwe gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later plaasgevind. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap 15 titels ingepalm, vier keer as naaswenner en twee keer in die derde plek geëindig. Die Georgiese span speel tradisioneel in wynrooi truie met wit broeke en wynrooi sokkies. Georgië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die Rugbywêreldbeker 2003 het die span aan al die toernooie deelgeneem en tydens die Rugbywêreldbeker 2015 met die derde plek in hul poel hul beste prestasie behaal.
Week 14
Delta Air Lines, Inc., gewoonlik na verwys as Delta, is een van die belangrikste lugrederye van die Verenigde State en 'n sogenaamde erfenisdiensverskaffer. Delta is een van die oudste lugrederye ter wêreld, met sy hoofkwartier in Atlanta, Georgia. Delta Air Lines en sy filiale bedryf meer as 5 400 vlugte daagliks en bedien 325 bestemmings in 52 lande op ses vastelande, en het ongeveer 83 000 werknemers in diens.
Die lugredery se spilpunt by Hartsfield-Jackson Atlanta Internasionale Lughawe is die wêreld se besigste lughawe wat passasiersverkeer betref (dit hanteer meer as 91 miljoen passasiers per jaar). Dit is ook die tuiste van Delta se tegniese bedryfsentrum. Delta is die sesde oudste lugredery en die oudste lugredery nog wat in die Verenigde State opereer. Delta Air Lines is een van die vier stigterslede van die SkyTeam-alliansie, die ander drie synde Korean Air, Air France en Aeroméxico. Die lojaliteitsprogram van Delta Air Lines is SkyMiles. Delta Air Lines was die wêreld se grootste lugredery in terme van vlootgrootte en geskeduleerde passasiersverkeer in 2012.
Delta het nege spilpunte, met Atlanta as die grootste in terme van totale passasiers en aantal vertrekpunte, asook inkomste volgens passasier-kilometers wat gevlieg word. Die lugredery se streeksdiens word deur Delta Connection bedien. Dit is as 69ste gelys op die Fortune 500.
Week 15
'n Dwergplaneet is 'n klein voorwerp met die massa van 'n planeet wat regstreeks om die Son wentel; dit is kleiner as enige van die agt klassieke planete, maar steeds 'n wêreld uit eie reg. Die prototipiese dwergplaneet is Pluto. Voorwerpe wat groot genoeg is om ander voorwerpe in die omgewing van hul wentelbaan uit die weg te ruim, word as "planete" gedefinieer, terwyl dié wat te klein is om ’n hidrostatiese ewewigsvorm aan te neem as "klein Sonnestelselliggame" gedefinieer word. Dwergplanete lê tussenin. Planetêre geoloë stel in hulle belang omdat hulle geologies aktiewe liggame kan wees, 'n kwessie wat aan die lig gebring is in 2015 met die Dawn-sending na Ceres en die New Horizons-sending na Pluto.
Sterrekundiges stem oor die algemeen saam dat daar minstens nege kandidate vir dwergplanete is: Pluto, Eris, Haumea, Makemake, Gonggong, Quaoar, Sedna, Ceres en Orcus. Van hulle en die tiende grootste kandidaat, Salacia, is almal buiten Sedna óf deur ruimtetuie besoek (Pluto en Ceres) óf hulle het minstens een maan (Pluto, Eris, Haumea, Makemake, Gonggong, Quaoar, Orcus en Salacia), wat toelaat dat hulle massa en geraamde digtheid bereken kan word. Massa en digtheid kan weer in geologiese modelle gepas word in 'n poging om die aard van die wêrelde te bepaal. Sommige sterrekundiges sluit kleiner liggame ook in, maar daar is geen konsensus dat hulle waarskynlik dwergplanete is nie.
Die term "dwergplaneet" is uitgedink deur die planetêre wetenskaplike Alan Stern as deel van 'n drieledige klassifikasie van voorwerpe in die Sonnestelsel met 'n planetêre massa: klassieke planete, dwergplanete en satellietplanete. Die term is dus geskep met die idee dat 'n dwergplaneet 'n soort planeet is. Die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) het dit in 2006 egter as 'n subkategorie aanvaar, deel van die IAU se drieledige herklassifikasie van liggame wat om die Son wentel: planete, dwergplanete en klein Sonnestelselliggame.
Stern en ander planetêre geoloë beskou dwergplanete en groot mane dus as planete, maar sedert 2006 sluit die IAU en dalk die meeste ander sterrekundiges hulle uit van die lys planete.
Week 16
Inferno (Italiaans vir "hel") is die eerste deel van die Italiaanse skrywer Dante Alighieri se 14de-eeuse epiese gedig Goddelike Komedie. Dit word gevolg deur Purgatorio en Paradiso. Die Inferno beskryf Dante se reis deur die hel, begelei deur die Romeinse digter Vergilius. In die gedig word die hel uitgebeeld in nege konsentriese sirkels van foltering wat in die aarde geleë is; dit is die "ryk ... van diegene wat spirituele waardes verwerp het deur hulle oor te gee aan dierlike aptyte of geweld, of wat hulle menslike intellek bederf het met bedrog of kwaadwilligheid teenoor hulle medemens". As 'n allegorie verteenwoordig die Goddelike Komedie die reis van die siel na God, met die Inferno wat die erkenning en verwerping van sonde beskryf. Die woord "komedie" beteken hier 'n gedig met 'n gelukkige einde, en moenie verstaan word in die moderne sin van 'n komedie nie.
Die gedig begin die nag van Wit-Donderdag op 7 April 1300, kort voor die aanbreek van Goeie Vrydag. Die verteller, Dante self, is 35 jaar oud en dus "halfpad op die reis van ons lewe" (Nel mezzo del cammin di nostra vita) – die helfte van die Bybelse lewensduur van 70 jaar (Psalm 90:10 in die Afrikaanse vertalings). Die digter verdwaal in 'n donker woud (selva oscura), weg van die reguit pad (diritta via) of smal weg van redding. Hy wil 'n klein berg uitklim, maar drie diere versper sy pad: 'n lonza (gewoonlik vertaal as luiperd), 'n leone (leeu) en 'n lupa (wyfiewolf). Die drie diere, wat uit Jeremia 5:6 kom, simboliseer vermoedelik die drie soorte sonde wat die onboetvaardige siel tot in een van die drie hoofafdelings van die hel bring. Volgens John Ciardi is dit onbeheerstheid (die wyfiewolf), geweld (die leeu) en kwaadwilligheid (die luiperd). Volgens Dorothy L. Sayers verteenwoordig die luiperd onbeheerstheid en die wyfiewolf kwaadwilligheid.
Dit is nou dagbreek op Goeie Vrydag, met die son wat in die Ram opkom. Die diere verdryf Dante na 'n donker "laer plek" (basso loco), waar die son stil is (l sol tace). Dante word egter gered deur 'n figuur wat sê hy is sub Iulio gebore (dus in die tyd van Julius Caesar) en het onder Augustus gelewe: Dit is die siel van die Romeinse digter Vergilius, die skrywer van die Eneïde, 'n Latynse epiese gedig.
Week 17
Die Krieketwêreldbeker 2007 (Engels: 2007 Cricket World Cup) is van 13 Maart tot 28 April 2007 in Wes-Indië beslis. Dit was die negende krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste in die Amerikas. Die agt Karibiese eilandstate Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago, asook Guyana het gesamentlik as gashere van dié toernooi opgetree, meer as by enige ander krieketwêreldbekertoernooi. Saam met die T20I-wêreldbeker 2007 in September in Suid-Afrika was dit een van twee groot kriekettoernooie in 2007.
16 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2007 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die ses beste spanne van die IKK-trofee 2005 (Bermuda, Ierland, Kanada, Kenia, Nederland en Skotland), meer as by enige ander krieketwêreldbeker. Tydens die Krieketwêreldbeker 2007 is 51 wedstryde gespeel, drie minder as tydens die vorige Krieketwêreldbeker 2003 (ondanks twee bykomende deelnemende spanne). Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.
Australië, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Suid-Afrika en Sri Lanka het Nieu-Seeland geklop, voordat die verdedigende kampioen Australië die eindstryd op Kensington-ovaal in Barbados teen Sri Lanka met 53 lopies (D/L-metode) gewen en sodoende sy vierde titel ingepalm en as enigste land tot dusver ’n driekuns behaal het. Die nasionale krieketspanne van Bermuda en Ierland het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit is tot dusver die enigste krieketwêreldbeker waaraan drie spanne van die Amerikas en vier van Europa deelgeneem het.
Week 18
Die Verenigde State se nasionale krieketspan (Engels: United States national cricket team) is die nasionale krieketspan wat die Verenigde State (VSA) in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in die Verenigde State deur VSA Krieket (USAC, van Engels: USA Cricket) beheer. Die span is voorheen bestuur deur die Amerikaanse Krieketvereniging (United States of America Cricket Association, USACA) wat in 1965 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword het. In Junie 2017 is die Amerikaanse Krieketvereniging deur die IKR weens kwessies oor bestuur en finansiering geskors en die Amerikaanse span was tydelik onder toesig van die IKR Amerikas, totdat ’n nuwe erkende beheerliggaam gestig is. In Januarie 2019 is amptelik geassosieerde lidmaatskap aan VSA Krieket toegestaan.
Die wedywering met die Kanadese nasionale krieketspan is so sterk in krieket as wat dit in enige ander spansport is en albei spanne ding jaarliks om die K.A. Auty-beker mee. Die wedstryd tussen die twee lande is in der waarheid die oudste internasionale wedywering in krieket en is reeds in 1844 uitgespeel. Vir ’n eeu en ’n half het die Verenigde State selde teen ander nasionale spanne te staan gekom. Hulle het meestal teen Kanada of teen besoekende spanne van ander lande gespeel.
Die Verenigde State het tydens die IKR-trofee 1979 in Engeland vir die eerste keer aan ’n internasionale toernooi deelgeneem; sedertdien het hulle net twee van dié toernooi misgeloop (nou bekend as die krieketwêreldbekerkwalifisering). Nadat hulle die Sesnasiesuitdaagtoernooi 2004 gewen het, het die span vir die Kampioenetrofee 2004 gekwalifiseer en sy eerste twee EDI-wedstryde gespeel. In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat die Verenigde State ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word. Die Verenigde State is tans (April 2023) 16de op die eendagranglys en 25ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee in 2019 het die Verenigde State in die vierde plek geëindig, nadat hulle die wedstryd om die derde plek teen Papoea-Nieu-Guinee verloor het, ’n wedstryd wat as ’n EDI erken is (en die Verenigde State se derde EDI-wedstryd nog was, 15 jaar ná hul laaste). Met die vierde plek het die land ’n plek in die Wêreldkrieketliga 2019–22 bespreek, waartydens al die wedstryde van die span EDI-status sal geniet. Die span se eerste plaaslike EDI-reeks het begin op 13 September 2019, waaraan Papoea-Nieu-Guinee en Namibië deelgeneem het.
Week 19
Die Dooie See-rolle (ook genoem die Qumrangrot-rolle) is antieke Joodse en Hebreeuse godsdiensmanuskripte wat tussen 1946 en 1956 ontdek is in die Qumrangrotte in die destydse Mandaat van Palestina. Die grotte is naby Ein Feshkha in die Wesoewer aan die noordkus van die Dooie See.
Die manuskripte dateer van die 3de eeu v.C. tot die 1ste eeu n.C., en word beskou as 'n hoeksteen in die geskiedenis van argeologie wat van groot historiese, godsdienstige en linguistiese belang is omdat dit van die oudste manuskripte insluit wat bewaar gebly het van hele boeke wat later in die Bybelse kanon opgeneem is, asook deuterokanonieke en niebybelse manuskripte wat bewyse toon van die uiteenlopendheid van godsdiensdenke in Judaïsme in die tyd van die Tweede Tempel. Terselfdertyd werp dit nuwe lig op die opkoms van die Christendom en van Rabbynse Judaïsme.
Die meeste rolle word in die Israeliese Museum in Jerusalem gehou, maar die eienaarskap daarvan word deur Jordanië betwis vanweë die Qumrangrotte se geskiedenis: Ná die einde van die Britse Mandaat van Palestina in 1947 het Jordanië die gebied in die Arabies-Israeliese Oorlog van 1948 beset, maar Israel het beide die gebied en verskeie van die rolle in die Sesdaagse Oorlog van 1967 verower. Sommige van die rolle is egter steeds in Jordanië en word bewaar in die Jordaniese Museum in Amman. Eienaarskap word ook betwis deur die Staat Palestina.
Baie duisende geskrewe fragmente is in die Dooie See-gebied ontdek. Dit is dele van groter dokumente wat beskadig is deur óf natuurlike oorsake óf menslike hantering. Die meeste fragmente bevat net klein stukkies teks. 'n Paar goed bewaarde, byna onbeskadigde manuskripte het ook behoue gebly – minder as 'n dosyn onder dié van die Qumrangrotte. Navorsers het altesaam 981 verskillende manuskripte saamgestel – wat in 1946/'47 en in 1956 ontdek is – uit 11 grotte. Die grotte is geleë sowat 1,5 km wes van die noordweskus van die Dooie See, van waar hulle hulle naam kry. Argeoloë het die rolle lank verbind met die Joodse sekte die Essene, hoewel dié bevinding vanweë onlangse vertolkings in twyfel getrek word. Baie geleerdes dink hulle is geskryf deur priesters in Jerusalem of onbekende Joodse groepe.
Die meeste van die tekste is in Hebreeus, met party geskryf in Aramees; in verskillende streeksdialekte, soos Nabateens; en 'n paar in Koine-Grieks. Ontdekkings in die Judese Woestyn is ook in Latyn en Arabies. Die meeste van die tekste is op perkament geskryf, sommige op papirus en een op koper. Geleerdes stem saam die rolle dateer van die laaste drie eeue v.C. en die eerste eeu n.C.
Week 20
Die Uruguaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Uruguay) is die nasionale rugbyspan wat Uruguay tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam Los Teros (Spaans vir: “die Teros”) is ontleen aan die bronskiewiet (Vanellus chilensis), die nasionale voël van die land. Rugby word in Uruguay geadministreer deur die Uruguaanse Rugbyunie (Unión de Rugby del Uruguay, URU) wat in 1951 gestig is. Uruguay word as die vierde beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State en Kanada) en deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Uruguaanse rugbyspan is tans (Mei 2023) 17de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Een voormalige Uruguaanse rugbyspeler is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Uruguay het in 1948 sy eerste internasionale wedstryd teen Chili gespeel. Uruguay het tot dusver vir vier van die nege rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar hulle het nie die uitklopfase gehaal nie. Uruguay het al vier keer die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap gewen, mees onlangs in 2017. Sedert 2016 neem Uruguay ook aan die jaarlikse Amerikaanse Rugbykampioenskap deel, saam met die tweede Argentynse span, Brasilië, Chili, Kanada en die Verenigde State.
Week 21
François Auguste René Rodin (12 November 1840 – 17 November 1917) was 'n Franse beeldhouer. Hoewel Rodin in die algemeen beskou word as die vader van moderne beeldhouwerk, het hy nie deur sy werk teen die verlede probeer rebelleer nie. Hy is op 'n tradisionele wyse opgevoed, en het 'n soort vakman-benadering tot sy werk gehad, en gestrewe na akademiese erkenning, hoewel hy nooit deur Parys se vooraanstaande kunsskool aanvaar is nie.
Rodin het oor 'n unieke vermoë beskik om 'n ingewikkelde, abstrakte en verwikkelde oppervlak in klei te vorm. Baie van sy mees noemenswaardige beeldhouwerke is in sy leeftyd gekritiseer. Sy werke het vernaamlik gebots met die oorheersende figuratiewe beeldhoutradisies, waarin werke dekoratief, formulaïes of hoogs tematies was. Rodin se mees oorspronklike werk het afgewyk van tradisionele temas van mitologie en allegorie, het die menslike liggaam met realisme gemodelleer, en het individuele karakter en fisiese eienskappe vooropgestel bo alle ander oorwegings. Rodin was sensitief oor die omstredenheid wat met sy werk gepaardgegaan het, maar het geweier om sy styl te verander. Rodin se opeenvolgende werke het egter toenemend die guns van die regering en die kunsgemeenskap geniet.
Van die onverwagte realisme van sy eerste groot figuur – geïnspireer deur sy reis na Italië in 1875 – tot die onkonvensionele gedenktekens wat hy later sou skep, het Rodin se reputasie toegeneem, en het hy die oorheersende Franse beeldhouer van sy era geword. Teen 1900 was hy 'n wêreldbekende kunstenaar. Gegoede private kliënte het Rodin se werk nagejaag na sy Wêreldskou-uitstalling, en hy was vriende met verskillende hoëprofiel-intellektuele en -kunstenaars. Sy studente het Antoine Bourdelle, Camille Claudel, Constantin Brâncuși en Charles Despiau ingesluit. Hy het met sy lewenslange metgesel, Rose Beuret, in hul laaste lewensjaar getrou. Sy beeldhouwerke het ná sy dood in 1917 'n insinking in gewildheid beleef, maar binne 'n paar dekades was sy erfenis ongetwyfeld verseker. Rodin bly een van die min beeldhouers wat wyd bekend is buite die visuelekunste-gemeenskap.
Week 22
Andreas Nikolaus "Niki" Lauda (22 Februarie 1949 in Wene, Oostenryk – 20 Mei 2019 in Zürich, Switserland) was 'n Oostenrykse Formule Eenrenjaer en 'n driemalige Formule Een Wêreldjaerskampioen, in 1975, 1977 en 1984, en is die enigste jaer in Formule Een-geskiedenis wat 'n kampioen was by beide Ferrari en McLaren, twee van die sport se suksesvolste vervaardigers. Hy was aktief betrokke in die F1-rensport, as nie-uitvoerende voorsitter van die Mercedes AMG-span tot en met sy afsterwe.
Hy was 'n lugvaart-entrepreneur wat drie lugdienste gestig en bestuur het: Lauda Air, Niki en Lauda. Hy was ook vir twee jaar 'n konsultant vir Scuderia Ferrari en spanbestuurder van die Jaguar Formule Een-renspan. Daarna het hy tydens Grand Prix-naweke as 'n kenner vir Duitse TV gewerk en was die nie-uitvoerende voorsitter van Mercedes-AMG Petronas Motorsport, waarin Lauda 10% besit het.
Lauda het na vore getree as Formule Een se sterjaer met 'n 1975-kampioenskapoorwinning en was die voorloper in die 1976-titelstryd. Lauda is ernstig beseer in 'n ongeluk tydens die Duitse Grand Prix van 1976 terwyl hy by die Nürburgring gejaag het; tydens 'n ongeluk het sy Ferrari 312T2 in vlamme uitgebars wat byna tot sy dood gelei het nadat hy warm giftige dampe ingeasem het en ernstige brandwonde opgedoen het. Hy het oorleef en genoegsaam herstel om net ses weke later weer by die Italiaanse Grand Prix te jaag. Alhoewel hy daardie jaar se titel met net een punt aan James Hunt afgestaan het, het hy sy tweede kampioenskap die jaar daarna gewen, tydens sy laaste seisoen by Ferrari. Na 'n paar jaar by Brabham en twee jaar se onderbreking het Lauda teruggekeer en vier seisoene vir McLaren tussen 1982 en 1985 gejaag, waartydens hy die 1984-titel met 'n halwe punt teen sy spanmaat Alain Prost gewen het.
Week 23
Toetankamen (Engels: Tutankhamun of Tutankhamen; antieke Egipties: twt-ꜥnḫ-jmn, Toet-Anch-Amen; omstreeks 1341 v.C. tot 1323 v.C.) was ’n Egiptiese farao van die 18de Dinastie tydens ’n tydperk wat bekend is as die Nuwe Ryk. Daar word soms na hom verwys as "koning Toet". Hy het die troon bestyg toe hy sowat nege jaar oud was en het regeer tot met sy dood op sowat 19.
Toetankamen is histories daarvoor bekend dat hy die oorspronklike politeïstiese antieke Egiptiese godsdiens in ere herstel het ná die onderdrukking daarvan deur sy pa, Achenaten, ten gunste van die god Aten. Hy was ook een van die min farao's wat gedurende sy lewe as 'n god aanbid is: Dit is met die meeste konings nadoods gedoen. In populêre kultuur is hy bekend vir sy enorme rykdom, wat in 1922 in sy graf gevind is. Graftombe KV62 is die enigste een wat tot dusver in 'n feitlik ongeskonde toestand ontdek is. Die ontdekking van sy graftombe word algemeen beskou as een van die grootste argeologiese ontdekkings van alle tye.
Sy oorspronklike naam, Toetankaten, beteken "Lewende Beeld van Aten", terwyl Toetankamen beteken "Lewende Beeld van Amen". In hiërogliewe is laasgenoemde gewoonlik geskryf as Amen-toet-ank vanweë die gebruik om die naam van ’n god aan die begin van ’n frase te skryf om respek te betoon. Hy is moontlik ook die Nebcheperoere van die Amarna-briewe, en dalk ook die 18de-dinastiese koning Rathotis wat volgens Manetho, ’n antieke historikus, nege jaar lank regeer het.
Die ontdekking in 1922 van Toetankamen se feitlik ongeskonde graf deur Howard Carter en George Herbert het wêreldwyd die nuus gehaal. Dit het ’n nuwe belangstelling tot gevolg gehad in antieke Egipte, waarvan Toetankamen se doodsmasker, nou in die Kaïro-museum, steeds ’n gewilde simbool is.
In Februarie 2010 het die uitslag van DNS-toetse bevestig hy is die seun van Achenaten (mummie KV55) en dié se suster en vrou, wie se naam onbekend is maar wie se oorskot positief uitgeken is as "Die Jonger Dame" wat in graf KV35 ontdek is. Die "geheimsinnige" dood van ’n paar mense wat Toetankamen se graf opgegrawe het, is deur baie toegeskryf aan die vloek van die farao's.
Week 24
Hidroponika of waterkweking is 'n soort hortologie wat 'n metode behels om plante, gewoonlik oeste of medisinale plante, sonder grond te laat groei met behulp van minerale voedingstowwe opgelos in water. Die plant se wortels kry die stowwe wat nodig is om te groei uit die voedingsoplossing. Die term hidroponika is afkomstig van die Griekse woorde "hidro", wat water beteken, en "ponos", wat werk beteken.
Die oudste voorbeelde van hidroponika dateer van die Hangende Tuine van Babilon en die drywende tuine van China.
Deesdae is hidroponika een van die vinnigs groeiende grondlose boerderypraktyke op 'n globale vlak. Die wêreldwye hidroponikamark sal na raming groei teen 'n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 6,7% gedurende die 2017-2022-voorspellingstydperk. Europa is tans die grootste mark vir die implementering van gevorderde tegnieke in hidroponiese kweekhuistuinbou.
Daar is talle kleiner kommersiële hidroponikastelsels beskikbaar wat kleiner gebruikers in staat stel om 'n hidroponiese tuin vir eie gebruik te begin. Daar is ook baie mense wêreldwyd wat hul eie hidroponiese stelsels vir die kweek van groente en kruie self bou, vir binnenshuise gebruik of buite in hul tuine.
Die wêreld se bevolking is aan die toeneem, en daar word voorspel dit sal toeneem van ongeveer 7,4 miljard in 2017 tot 9,3 miljard teen 2050. In 2017 was daar meer as 800 miljoen mense wat deur voedselonsekerheid in die gesig staar is, wat beteken dat hulle óf honger ly óf nie weet waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Hidroponika word beskou as 'n tegnologie wat kan bydra tot die vermindering van hierdie omgewingsprobleme wat die mensdom in die gesig staar, omdat dit minder vars water gebruik, minder ruimte in beslag neem en voedsel aan gemeenskappe in dorre streke kan voorsien.
Week 25
Die Bermudaanse nasionale krieketspan (Engels: Bermuda national cricket team), met die bynaam Gombey Warriors, is die nasionale krieketspan wat die Britse oorsese gebied Bermuda in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Bermuda deur die Bermudaanse Krieketraad (BCB, van Engels: Bermuda Cricket Board) beheer en sedert 1966 is dit ’n assossiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR). Krieket word in Bermuda as nasionale sport beskou en die oorsese gebied is een van die wenige in die streek wat nie spelers vir die Wes-Indiese nasionale span beskikbaar stel nie.
Nadat in 1891 ’n toer na New York gereël is, is die eerste Bermudaanse nasionale span saamgestel. In die jare voor die Eerste Wêreldoorlog het Bermuda en Amerikaanse spanne (insluitende Philadelphia s’n) gereeld wedersydse toere onderneem, hoewel hulle eers in 1912 tydens die Australiese besoek hul eerste internasionale wedstryd gespeel het. Ná die 1920’s het die Bermudaanse krieket se fokus van die Verenigde State na die Wes-Indiese lande verskuif, hoewel Wes-Indiese spanne eers vanaf die 1950’s gereelde toere begin onderneem het. Bermuda se nasionale span het ook teen nasionale spanne gespeel wat na of van die Wes-Indiese eilande getoer het. Van hierdie wedstryde het egter slegs een, dié teen Nieu-Seeland in 1972, eersterangse status geniet.
Die IKR-trofee 1979 was die eerste wêreldbekerkwalifisering vir die IKR se geassosieerde lede. Bermuda het dié jaar die halfeindstryd gehaal en in 1982 het hulle tot die eindstryd deurgedring, maar teen Zimbabwe verloor. Vervolgens het hulle nie vir die Krieketwêreldbeker 1983 gekwalifiseer nie, aangesien aan dié toernooi slegs een assossiaatlid kon deelneem. Vir die IKR-trofee 2005 is die aantal assossiaatlede tot ses verhoog. Nadat hulle die halfeindstryd gehaal het, het Bermuda vir die Krieketwêreldbeker 2007 gekwalifiseer en sodoende die kleinste land in terme van beide bevolking en oppervlakte geword wat daarin geslaag het. Hulle het tot in 2009 ook EDI- en T20I-status geniet. Bermuda het tydens die Krieketwêreldbeker en hul aansluitende EDI-reekse egter swak vertoon, en ná die 2009-wêreldbekerkwalifisering is hulle na die 2011-wêreldkrieketliga se tweede afdeling afgegradeer. Sedertdien het hulle drie verdere afdelings geval.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat Bermuda ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word. Bermuda is tans (Junie 2023) 31ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Week 26
Kanaän (Fenisies: 𐤊𐤍𐤏𐤍, Hebreeus: כְּנַעַן, Koine: Χανααν, Arabies: كَنْعَانُ) was 'n Semitiessprekende bevolking en streek in die Suid-Levant in die antieke Nabye Ooste gedurende die laat 2de millennium v.C. Kanaän was geopolities belangrik in die laat Bronstydperkse Amarnatydperk (14de eeu v.C.) as die gebied waar Egiptiese, Hetitiese, Mitanni- en Assiriese invloedsfere byeengekom of oorvleuel het. Baie van die hedendaagse kennis van Kanaän kom uit argeologiese uitgrawings in die streek.
Die naam "Kanaän" kom deur die hele Bybel voor as 'n geografiese streek wat met die "Beloofde Land" verbind word. Die antieke Kanaän stem rofweg ooreen met die hedendaagse Israel en die Palestynse Grondgebiede, Wes-Jordanië, die suidelike en kusgebiede van Sirië en Libanon, tot by die suidgrens van Turkye.
Die naam "Kanaäniete" is 'n etniese sambreelterm wat verskeie inheemse bevolkings (beide gevestigde en nomadiese groepe) deur die gebiede van die Suid-Levant, of Kanaän, insluit. Dit is verreweg die etniesegroepnaam wat die meeste in die Bybel gebruik word. Die Bybelse kenner Mark Smith sê, terwyl hy argeologiese ontdekkings aanhaal, "die Israelitiese kultuur het grootliks met die Kanaänitiese kultuur oorvleuel en daaruit geleen... Kortliks was die Israelitiese kultuur grootliks Kanaänities van aard."
Die naam "Kanaäniete" is baie eeue later gebruik as 'n oorkoepelende term vir mense wat later as die antieke Grieke, van omstreeks 500 v.C. as die Fenisiërs en ná die emigrasie van sommige Kanaänitiessprekers na Kartago (wat in die 9de eeu v.C. gestig is) ook deur die Puniërs van Noord-Afrika vir hulleself gebruik is (as "Chanani").
Week 27
Sesam (Sesamum indicum) is 'n blomplant in die genus Sesamum, en word gebruik as 'n spesery in voedsel. Talle wilde verwante kom in Afrika voor en 'n kleiner aantal in Indië. Dit word wyd aangeplant in tropiese streke regoor die wêreld en word verbou vir sy eetbare sade, wat in peule groei. Wêreldproduksie in 2018 was 6 miljoen metrieke ton, met Soedan, Mianmar en Indië as die grootste produsente.
Sesamsaad is een van die oudste oliesaadgewasse wat aan die mensdom bekend is, wat meer as 5 000 jaar gelede begin verbou is. Sesamum het baie ander spesies, die meeste is wild en inheems aan Afrika suid van die Sahara. S. indicum, die gekweekte tipe, het sy oorsprong in Indië. Dit verdra droogtetoestande goed en groei waar ander gewasse misluk. Sesam het een van die hoogste olie-inhoude van enige saad. Met 'n ryk, neutagtige geur is dit 'n algemene bestanddeel in kookkuns regoor die wêreld. Soos ander kosse, kan dit allergiese reaksies by sommige mense veroorsaak.
Die genus het vele spesies, en die meeste daarvan groei wild. Die meeste wilde spesies van die genus Sesamum is oorspronklik van Afrika suid van die Sahara. S. indicum, die gekultiveerde tipe, het waarskynlik in Indië ontstaan.
Week 28
Die Kwartêre Ystydperk (ook bekend as die Kwarternêre, Pleistoseen- of huidige ystydperk) is die ystydperk wat die hele Kwartêr omvat (van 2,58 miljoen jaar gelede tot die hede) en gekenmerk word deur permanente ysbedekkings op Antarktika en Groenland en die periodieke voorkoms van groot ysbedekkings in Noord-Amerika en Eurasië. Die Kwartêre Ystydperk bestaan uit 'n reeks alternatiewe glasiale en interglasiale tye wat oor die Kwartêr strek en steeds voortduur.
Hoewel geoloë die hele tydperk tot tans as 'n "ystydperk" beskryf, verwys dit in die volksmond gewoonlik na die laaste glasiale tyd, of na die Pleistoseen in die algemeen. Aangesien die Aarde steeds ysplate op die pole het, beskou geoloë die Kwartêre Ystydperk as steeds voortdurend, hoewel diie Aarde tans in 'n interglasiale, of warmer, tyd is.
In die Kwartêre Ystydperk het ysplate hulle verskyning gemaak; hulle het tydens glasiale tye groter en tydens interglasiale tye kleiner geword. Sedert die einde van die laaste glasiale tyd het net die ysplate op Antarktika en Groenland oorgebly, terwyl ander ysplate wat tydens die glasiale tye gevorm het, heeltemal gesmelt het.
Die grootste invloede van die Kwartêre Ystydperk is die kontinentale erosie van die grond en die deposito van materiaal; die verandering van die rivierstelsels; die vorming van miljoene mere; veranderings in seevlakke; die isostatiese verandering van die aardkors; oorstromings; en abnormale winde. Die ysplate self, wat die albedo van die Aarde in die ruimte verhoog, verkoel die klimaat verder. Dié invloede het land- en see-omgewings en biologiese gemeenskappe gevorm.
Lank voor die Kwartêre Ystydperk het ys op die aarde gedurende minstens vier ander ystydperke verskyn en verdwyn.
Week 29
’n Tatoeëermerk of tatoe is ’n vorm van liggaamsmodifisering waar ’n naald gebruik word om ink onder die opperhuid aan te bring om die vel se pigment te verander. Tatoekunstenaars bring inkontwerpe aan deur middel van verskeie metodes en tegnieke, soos tradisionele metodes waar die prieminstrument met 'n hamertjie gekap word en moderne tatoes wat met masjiene aangebring word. Tatoeëring word al duisende jare lank deur baie kulture oor die wêreld heen beoefen, en die simboliek en impak daarvan verskil grootliks van plek tot plek en kultuur tot kultuur.
Die term kom waarskynlik van die Polinesiese woord tatau, wat streep of vlek beteken, en is deur matrose na Europa gebring. Van daar het dit moontlik na die res van die wêreld versprei.
Tatoes kan dekoratief wees (met geen spesifieke betekenis nie), simbolies (met 'n persoonlike betekenis vir die draer), of beeldend ('n beeld van 'n spesifieke persoon of voorwerp). Baie tatoes word in deurgangsrites gebruik, om status en rang aan te dui, as simbole vir godsdienstige en spirituele toewyding, merke van liefde of dapperheid, armbande en talismans, beskerming of as strafmaatreël, soos vir uitgeworpenes, slawe of gevangenes. Uitgebreide kosmetiese tatoeëring word ook deur baie vroue laat aanbring.
Die tatoekuns bestaan al minstens sedert die lewe van die eerste bekende gatatoeëerde mens, Ötzi, sowat 3330 v.C., en tog het die mening van gemeenskappe oor tatoes deur die eeue gewissel. In die 20ste eeu is tatoes oor feitlik die hele wêreld verbind met 'n sekere soort "rowwe" lewenstyl, veral van matrose en gevangenes. Vandag kies mense om verskeie redes om getatoeëer te word: kunstig, kosmeties, sentimenteel, godsdienstig en spiritueel, of om hulle identifisering met sekere groepe (insluitende etniese en misdadigergroepe) te toon. Tatoes kan wys hoe iemand oor 'n familielid (gewoonlik 'n ouer of kind) of oor 'n onverwante persoon voel.
Week 30
Veroudering is die proses van ouer word. Die term verwys hoofsaaklik na mense, baie ander diere en swamme, terwyl bakterieë, meerjarige plante en sommige eenvoudige diere potensieel onsterflik is.
By die mens verteenwoordig dit die stelselmatige ophoping van veranderings, wat fisiek, sielkundig en sosiaal kan wees. Reaksietyd kan byvoorbeeld met veroudering stadiger raak, terwyl herinneringe en algemene kennis kan toeneem. Veroudering is die grootste bekende risikofaktor vir die meeste menslike siektes: kanker, Alzheimersiekte, diabetes, hartbloedvatsiektes, beroerte en talle ander. Van die rofweg 150 000 sterftes wat elke dag wêreldwyd voorkom, is sowat twee derdes verwant aan ouderdom.
Huidige verouderingsteorieë word toegeskryf aan die skadekonsep, waar die ophoping van skade (soos DNS-oksidasie) kan veroorsaak dat biologiese stelsels ingee, of aan die geprogrammeerde verouderingskonsep, waar die interne prosesse (epigenetiese onderhoud soos DNS-metilering) inherent veroudering kan veroorsaak.
Mense en lede van ander spesies, veral diere, verouder en gaan dood. Swamme kan ook verouder. In teenstelling daarmee kan baie spesies as moontlik onsterflik beskou word: Bakterieë verdeel byvoorbeeld om dogterselle te produseer, aarbeiplante groei lopers om klone van hulleself te skep en diere in die genus Hydra het 'n herlewingsvermoë wat voorkom dat hulle van ouderdom doodgaan.
Veroudering en sterflikheid van die individuele organisme het moontlik geraak met die evolusie van seksuele voortplanting, wat begin het met die opkoms van die koninkryke Fungi/Animalia sowat 'n miljard jaar gelede en die ontwikkeling van saadplante 320 miljoen jaar gelede.
Die seksuele organisme kon hierna van sy genetiese materiaal oordra om nuwe individue te produseer en self misbaar word met betrekking tot die oorlewing van die spesie.
Week 31
Die Namibiese nasionale rugbyspan is die nasionale rugbyspan wat Namibië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Namibië geadministreer deur die Namibiese Rugbyunie (NRU) wat in 1990 gestig is. Hulle dra die bynaam Welwitschias, genoem na die Welwitschia. Namibië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Namibiese rugbyspan is tans (Julie 2023) 21ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die span word as die naasbeste Afrikaspan ná die Suid-Afrikaanse Springbokke beskou.
Rugby in Namibië dateer uit die Suid-Afrikaanse besetting van die destydse Suidwes-Afrika en word sedertdien sterk deur dié suidelike buurland beïnvloed. Van 1954 af het die Suidwes-Afrikaanse keurspan deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker en sedert 1955 het hulle in die hoofstad Windhoek ook nasionale spanne verwelkom, wat Suid-Afrika besoek het. In 1990 het hulle kort ná die Republiek van Namibië se onafhanklikwording in 1990 in hul eerste toetswedstryd gespeel. Namibië het tot dusver vir ses van die nege rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar hulle is elke keer in die eerste rondte uitgeskakel. Sedert 2000 neem Namibië ook aan die jaarlikse Afrikabeker deel en is met nege titels ook dié toernooi se rekordwenner.
Week 32
Finland (Fins: Suomi, [suo̯mi], ; Sweeds: Finland, [ˈfɪnland], ), amptelik die Republiek Finland (Fins: Suomen tasavalta, Sweeds: Republiken Finland, ), is 'n land in Noord-Europa wat in die ooste aan die Russiese Federasie, in die noordweste aan Swede en in die noorde aan Noorweë grens. Ten suide word dit van Estland geskei deur die Finse Golf. Wes vind mens die Botniese Golf en suidwes die Oossee wat Finland van sy buurland Swede skei. Net in die noordweste het die twee lande 'n gemeenskaplike landgrens.
Finland word, net soos Ysland, soms beskryf as 'n Skandinawiese land, hoewel Skandinawië streng gesproke beperk is tot Swede, Noorweë en Denemarke. Ook in taalkundige opsig verskil Finland van sy Skandinawiese buurlande omrede Fins, net soos die nouverwante Esties en ook Hongaars, tot die nie-Indo-Europese Fins-Oegriese taalfamilie behoort. Die huidige Sweedssprekende minderheid van sowat ses persent van die bevolking is 'n erfenis uit die tydperk van die Sweedse heerskappy waaronder Finland tussen 1150 en 1809 gestaan het. Sweedssprekendes vorm in sommige dorpe langs die suid- en ooskus en op die outonome Åland-eilande selfs die meerderheid. 'n Groter aantal dorpe en stede is tweetalig, soos byvoorbeeld Helsinki en Turku, en gebruik Sweedse naas Finse plek- en straatname. Die hoofstad en grootste stad is Helsinki (Helsingfors in Sweeds). Die Finse Republiek het in 1917 totstand gekom nadat die land sedert die twaalfde eeu deur Swede en later Rusland oorheers is.
Met sy ligging tussen die 60ste en 70ste noorderbreedtegraad behoort Finland saam met sy Skandinawiese buurlande Noorweë en Swede, en Rusland, tot die mees noordelike lande op die Europese vasteland. Sowat 'n derde van Finland se totale oppervlakte van sowat 338 000 vierkante kilometer lê binne die Arktiese Sirkel. Nogtans het die mees noordelike provinsie Lapland danksy die Noord-Atlantiese Seestroom 'n sagter klimaat as ander gebiede op dieselfde breedtegraad soos Kanada en Siberië. Vanweë hierdie warm seestroom bly Europa se Arktiese kuslyn tydens die winter ook ysvry.
Die land is 'n demokratiese republiek met 'n direk verkose president, wat maksimaal vir twee ampstermyne van ses jaar mag dien. Finland het in historiese en politieke opsig nou bande met sy buurland Swede. Ná die tweede onafhanklikheid van Estland het Finland ook nou betrekkinge met dié Baltiese land. Sy huidige buitelandse beleid word dan ook deur sy lidmaatskap in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Europese Unie, die OESO en die OVSE oorheers.
Week 33
Wysheid of verstandigheid is die vermoë om te dink en produktief op te tree deur kennis, ervaring, begrip, gesonde verstand en insig te gebruik. Wysheid word geassosieer met eienskappe soos onbevooroordeelde oordeel, deernis, ervarings-selfkennis, selftransendensie en niegehegtheid, en deugde soos etiek en welwillendheid.
Wysheid is op baie verskillende maniere gedefinieer, insluitend verskeie afsonderlike benaderings om die eienskappe wat aan wysheid toegeskryf word, te assesseer.
Wysheid is 'n konsep wat deur die geskiedenis heen bespreek en gedebatteer is. Dit kan beskryf word as 'n kombinasie van kennis, ervaring en gesonde oordeel wat individue in staat stel om wyse besluite te neem en hul lewens op 'n vervullende en betekenisvolle manier te leef. Wysheid word dikwels geassosieer met ouderdom, omdat daar geglo word dat 'n persoon se ervarings gedurende hul leeftyd kan lei tot die ontwikkeling van wysheid.
Baie verskillende kulture en filosofieë het hul eie definisies en begrip van wysheid. Byvoorbeeld was in antieke Griekse filosofie wysheid gesien as die hoogste deug, terwyl in Oosterse filosofie wysheid dikwels geassosieer word met die bereiking van verligting of geestelike begrip.
In moderne tye het die studie van wysheid 'n groeiende navorsingsveld in sielkunde en neurologie geword. Navorsers het daarin belanggestel om die kognitiewe en emosionele prosesse betrokke by die ontwikkeling van wysheid te verstaan, sowel as die faktore wat bydra tot die ontwikkeling van wysheid oor die lewensloop.
Alhoewel wysheid 'n komplekse en veelsydige konsep is wat deur geleerdes en individue wat hul lewens op 'n wyse en betekenisvolle manier wil leef, word dit voortdurend ondersoek en gedebatteer.
Week 34
Die Krieketwêreldbeker 2011 (Bengaals: ২০১১ ক্রিকেট বিশ্বকাপ; Engels: 2011 Cricket World Cup; Hindi: २०११ क्रिकेट विश्व कप; Singalees: 2011 ක්රිකට් ලෝක කුසලානය; Tamil: 2011 துடுப்பாட்ட உலகக்கோப்பை) is van 19 Februarie tot 2 April 2011 in Indië, Sri Lanka en Bangladesj (vir die eerste keer) beslis. Pakistan is ná die aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan in 2009 van sy rol as medegasheer ontneem. Dit was die tiende krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die derde op die Indiese subkontinent. In dié streek is voorheen die toernooie van 1987 en 1996 aangebied.
14 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2011 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die vier beste spanne van die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2009 (Ierland, Kanada, Kenia en Nederland).
Indië het die eindstryd op Wankhedestadion in Mumbai met ses paaltjies teen Sri Lanka gewen en sodoende sy tweede titel ingepalm. Daarmee het hulle die derde krieketland geword wat die titel vir ’n tweede keer ingepalm het, ná Australië (in 1987, 1999, 2003, 2007 en later 2015) en Wes-Indië (in 1975 en 1979).
Week 35
Seegolwe is oppervlakgolwe op 'n oseaan. Soos die wind waai, stoot dit die oseaan se water daarvoor uit en verplaas dit so van die windenergie na die water deur middel van wrywing.
In vloeidinamika is seegolwe, of windgegenereerde golwe, 'n wateroppervlakgolf wat op die vrye oppervlak van waterliggame voorkom. Dit is die resultaat van wind wat oor 'n vloeistofoppervlak beweeg. Golwe in die oseaan kan duisende kilometers ver reis voordat hulle land bereik. Seegolwe op aarde wissel in grootte van klein rimpelings tot golwe wat meer as 30 m hoog is. Die hoogte word beperk deur windsnelheid, duur, bepaalde gebied en waterdiepte.
Soos die oseaandiepte vergroot, verklein die golwe; daar kom tog soms fratsgolwe voor, somtyds tot 30 meter hoog. Sulke golwe verskil van tsoenami's, wat deur aardbewings onder die water veroorsaak word en slegs naby die kus voorkom.
As dit direk deur plaaslike waters gegenereer word, word 'n windgolfstelsel 'n windsee genoem. Windgolwe sal in 'n groot sirkelroete beweeg nadat hulle gegenereer is – dit buig effens links in die Suidelike Halfrond en effens regs in die Noordelike Halfrond. Nadat dit uit die gebied beweeg het, word windgolwe deinings genoem en kan dit duisende kilometers ver beweeg. 'n Opmerklike voorbeeld hiervan is golwe wat tydens swaar winde suid van Tasmanië gegenereer word en oor die Stille Oseaan na die suide van Kalifornië sal beweeg; dit skep wenslike branderrytoestande. Meer algemeen bestaan 'n deining uit windgegenereerde golwe wat op daardie tydstip nie noemenswaardig deur die plaaslike wind beïnvloed is nie. Dit is elders of 'n geruime tyd gelede gegenereer. Seegolwe in die oseaan word see-oppervlakgolwe genoem en is hoofsaaklik swaartekraggolwe.
Week 36
Die Verenigde Arabiese Emirate se nasionale krieketspan (Arabies: فريق الإمارات الوطني للكريكيت) is die nasionale krieketspan wat die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word deur die Krieketraad van die Emirate (ECB, van Engels: Emirates Cricket Board) bestuur wat in 1989 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en een jaar later ’n geassosieerde lid geword het. Sedert 2005 is die IKR se administratiewe kantore in Doebai gesetel, terwyl die hoofkantoor nog steeds op Lord’s in Londen is.
Die Verenigde Arabiese Emirate is een van die opkomende EDI-spanne; hulle het die AKR-trofee tussen 2000 en 2006 vier keer agtereenvolgens gewen, en was ook naaswenners by drie ander geleenthede (in 1996, 1998 en 2008) sedert dié toernooi vir die eerste keer uitgespeel is. Hulle het die 1994-krieketwêreldbekerkwalifikasie gewen en aan die Krieketwêreldbeker 1996 deelgeneem. Bykomende EDI-wedstryde is tydens die Asiatiese Bekertoernooie in 2004 en 2008 gespeel. Tydens die 2014-krieketwêreldbekerkwalifikasie het hulle in die tweede plek na Skotland geëindig en sodoende vir die Krieketwêreldbeker 2015 gekwalifiseer en EDI-status tot in 2018 verkry.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat die Verenigde Arabiese Emirate ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word. Die Verenigde Arabiese Emirate is tans (September 2023) 19de op die eendagranglys en 15de op die Twintig20-wêreldranglys.
Week 37
Pasta is ’n tradisionele Italiaanse stapelvoedsel. Die eerste verwysing daarna kom in 1154 in Sisilië voor.
Dit is ’n noedel wat van ongegiste deeg van durumkoringmeel, gemeng met water of eiers, gemaak en in verskillende vorms vervaardig word. Dit word gekook of gebak. Meel van ander soorte graan kan ook gebruik word. Pastas kan breedweg in twee soorte verdeel word: gedroog (pasta secca) en vars (pasta fresca).
Die meeste droë pastas word vervaardig deur middel van ’n persingsproses, maar dit kan ook tuis gemaak word. Vars pasta is tradisioneel met die hand gemaak, soms met behulp van ’n eenvoudige masjien, maar vandag word baie soorte vars pasta ook kommersieel met groot masjiene vervaardig en is dit algemeen in veral spesialiteitswinkels te kry.
Beide droë en vars pasta is in ’n verskeidenheid soorte en vorms verkrygbaar; 310 spesifieke vorms is bekend en meer as 1 300 name is al opgeteken. In Italië wissel die naam van spesifieke vorms pasta dikwels van plek tot plek. Die vorm cavatelli is byvoorbeeld onder 28 verskillende name bekend, na gelang van die streek of dorp. Algemene soorte pasta sluit in plat, lang, dun of buisvorms. Droë én vars pasta word in Italiaanse kookkuns in drie kategorieë geregte gebruik: Pasta asciutta is ’n gekookte pasta wat met ’n sous of smaakmiddel voorgesit word; in pasta in brodo is die pasta deel van ’n soort sopgereg; en in pasta al forno is die pasta in ’n gereg wat gebak word.
Pasta is gewoonlik ’n eenvoudige gereg, maar daar is baie verskillende soorte vanweë die veelsydigheid daarvan. Sommige pastageregte word in klein, eenvoudige porsies as ’n eerste gang voorgesit. Pasta word ook in ligte middagetes gebruik, soos in slaaie, of groot porsies vir aandete. Dit kan warm of koud voorgesit word. Pastasouse wissel in smaak, kleur en tekstuur. Wanneer ’n soort pasta en sous gekies word om saam voor te sit, is daar gewoonlik algemene reëls wat geld. Eenvoudige souse soos pesto is ideaal vir lang, dun vorms, terwyl tamatiesous goed saam met dikker pastas gaan. Dikker souse klou ook makliker aan die gate en groefies van buisvormige of gedraaide pastas. Die ekstra sous wat ná die ete op die bord agterbly, word dikwels met ’n stuk brood opgevee. Pasta bestaan hoofsaaklik uit stysel, met klein hoeveelhede proteïen en mangaan.
Week 38
George V (George Frederick Ernest Albert; 3 Junie 1865 - 20 Januarie 1936) was tot met sy dood in 1936 koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse dominiums asook keiser van Indië en die eerste koning van Ierland na dié se onafhanklikwording.
George is gebore tydens die bewind van sy ouma, koningin Victoria. Hy was die tweede oudste seun van Albert Edward, die Prins van Wallis, en die derde aanspraakmaker op die Britse troon ná sy vader en oudste broer, prins Albert Victor. Van 1877 tot 1892 het hy in die Britse Vloot gedien, tot met die onverwagte dood van sy oudste broer vroeg in 1892 wat hom in die direkte lyn van die troonopvolging geplaas het. George het die volgende jaar met sy broer se verloofde, prinses Victoria Mary van Teck, getrou en hulle het ses kinders gehad. Ná koningin Victoria se dood in 1901 het George se vader die troon bestyg as Edward VII en George het die Prins van Wallis geword. Hy het in 1910 koning geword met die dood van sy vader.
Gedurende George se bewind was daar die opkoms van sosialisme, kommunisme, fascisme, Ierse republikanisme en die Indiese onafhanklikheidsbeweging – wat alles die politieke landskap van die Britse Ryk verander het, terwyl die ryk sy territoriale hoogtepunt aan die begin van die 1920's bereik het. Die Parlementswet van 1911 het die oppergesag van die verkose Laerhuis gevestig bo dié van die onverkose Hoërhuis. Weens die Eerste Wêreldoorlog (1914-'18) het die ryke van sy neefs Nikolaas II van Rusland en Wilhelm II van Duitsland geval, terwyl die Britse Ryk sy grootste omvang bereik het.
George het aan die einde van sy bewind aan rookverwante siektes gely. Hy is met sy dood in Januarie 1936 opgevolg deur sy oudste seun, Edward VIII. Edward het in Desember dié jaar geabdikeer en is opgevolg deur sy jonger broer, Albert, wat die troonnaam George VI aangeneem het.
Week 39
Newark Liberty Internasionale Lughawe (IATA: EWR) is 'n internasionale lughawe wat op die grens tussen die stede Newark in Essex County en Elizabeth in Union County, New Jersey, Verenigde State geleë is. Dit is ongeveer 7,2 km suid van die middestad van Newark, en is 'n belangrike poort na plekke in Europa, Suid-Amerika, Asië en Oseanië. Dit word gesamentlik deur die stede besit en aan sy operateur, die Haweowerheid van New York en New Jersey, verhuur. Dit is die tweede besigste lughawe in die New York-lughawestelsel, na John F. Kennedy Internasionale Lughawe.
Die lughawe is geleë 4,8 km suid van Downtown Newark en 14 km wes-suidwes van Manhattan in New York Stad. Dit is naby die Newark-lughawewisselaar, die aansluiting tussen Interstate 95 en Interstate 78 (albei komponente van die New Jersey Draaistelsel), sowel as US Roetes 1 en 9, wat aansluitings met US Roete 22, Roete 81 en Roete 21 het. AirTrain Newark verbind die terminale met die Newark Liberty Internasionale Lughawestasie. Die stasie word bedien deur NJ Transit se Northeast Corridor Line en North Jersey Coast Line. Amtrak se Northeast Regional- en Keystone Service-treine stop ook by die stasie.
Die stad Newark het die lughawe op 28 ha se moerasland gebou in 1928, en die Army Air Corps het die fasiliteit gedurende die Tweede Wêreldoorlog bedryf. Die lughawe is langs Port Newark en US Route 1 gebou. Nadat die haweowerheid dit in 1948 oorgeneem het, is 'n instrumentaanloopbaan, 'n terminaalgebou, 'n beheertoring en 'n lugvragsentrum bygevoeg. Die lughawe se gebou 51 van 1935 is 'n nasionale historiese landmerk. Newark is een van drie groot lughawens wat die New Yorkse metropolitaanse gebied bedien; die ander twee is JFK- en LaGuardia-lughawens, wat ook deur die haweowerheid bedryf word. Uit hulle is Newark die oudste.
Week 40
Die Ougelowiges of Ouritualiste (Russies: старове́ры, staroweri; of старообря́дцы, staroobrjadtsi) was lede van die Russies-Ortodokse Kerk wat ná 1666-'67 van die amptelike Kerk afgeskei het uit protes teen die hervormings van patriarg Nikon van 1652 af. Hulle het vasgeklou aan die liturgiese praktyke wat voorheen in die Kerk beoefen is.
Die rede vir die hervormings was dat kerkamptenare agtergekom het daar is verskille tussen die gebruike in die Russiese en Griekse Kerk wat deur die eeue ingesluip het. Die Russiese Kerk was dus nie meer in gemeenskap met die res van die Ortodokse kerke nie. Dit was vir Nikon onaanvaarbaar. Hy het selfs beweer sommige Russiese praktyke grens aan kettery.
Nikon het, met die ondersteuning van tsaar Aleksei, in 1652 ’n sinode saamgestel om Russiese en Griekse liturgiese boeke met mekaar te vergelyk. So 'n taak sou egter jare duur en Nikon het, sonder om verder te wag, opdrag gegee vir die druk van nuwe weergawes van die Russiese psalm- en misboek. Die nuwe weergawes het dikwels gebruikte woorde en tekens in die liturgie verander. Verder het die manier waarop Nikon die veranderings deurgedwing het, baie lede van die Kerk ontstig.
Die haastig gedrukte nuwe weergawes het ongerymdhede bevat en moes herhaardelik herdruk word in 'n poging om dit reg te stel. Van die belangrikste veranderings waarteen die Ougelowiges was, is: die spelling van Jesus se naam, veranderings in die bewoording van die geloofsbelydenis en die maak van die kruisteken met twee vingers tot drie vingers.
Nadat hulle weerstand gebied het teen die Kerk se hervormings is die banvloek in 'n sinodebesluit oor hulle en hulle rituele uitgespreek. Dit het 'n skeuring veroorsaak tussen die Ougelowiges en dié wat die staatskerk se hervormings aanvaar en die ou rituele verwerp het. Baie Ougelowiges is geëkskommunikeer en verban, en sommige is selfs tronk toe gestuur of tereggestel.
Ná 1685 het 'n tydperk van vervolging begin. Baie Ougelowiges het uit Rusland gevlug en hulle denominasies kan vandag in baie afgeleë streke van Rusland en oorsee gevind geword. Daar is tans twee hoofgroepe, die popoftsi (поповцы, "met priesters") en die bespopoftsi (беспоповцы, "sonder priesters").
Week 41
Letland (Lets: Latvija, [ˈlatvija], ; Letgallies: Latveja; Lyfs: Lețmō), amptelik die Republiek Letland (Lets: Latvijas Republika; Letgallies: Latvejas Republika; Lyfs: Lețmō Vabāmō), is 'n republiek in Noordoos-Europa, een van die Baltiese lande aan die Oossee. Die land word verder begrens deur Estland in die noorde, Litaue en Belarus in die suide en Rusland in die ooste. Nes Estland en Litaue word Letland dikwels 'n Baltiese Tier genoem.
Die land is geografies, in oppervlakte en inwonertal die middelste van die Baltiese lande, en verenig elemente van beide buurlande: dit deel sy Baltiese taal, Lets, met Litaue, waar die verwante Litaus gepraat word, en dit deel sy oorwegend Lutherse geloof met Estland. Die geskiedenis van Letland vertoon groot ooreenkomste met dié van Estland, en veel minder met dié van Litaue. Letland het ná 'n langdurige Sowjet-besetting in 1991 sy onafhanklikheid herwin nadat dit reeds tussen 1918 en 1940 as onafhanklike republiek bestaan het. 'n Erfenis van die Sowjet-tydperk is die groot aantal Russiessprekende inwoners.
Die hoofstad van Letland is Riga en die grootste rivier die Daugava of Westelike Dwina, onderskeidelik die grootste stad en die grootste rivier in die Baltiese gebied. Letland kan verdeel word in vier historiese landskappe: Koerland (Kurzeme), Lyfland (Vidzeme), Semgale (Zemgale) en Letgallen (Latgale). Letland is sedert 1 Mei 2004 'n lidland van die Europese Unie en die Euro is op 1 Januarie 2014 as geldeenheid ingevoer. Op 1 Julie 2016 het Letland by die OESO aangesluit.
'n Kenmerk van die huidige Letland is die groot teenstellings tussen die besige hoofstad, 'n voormalige lid van die magtige Hanseverbond waar Letland se ekonomiese opswaai merkbaar word, en die rustige idille – en soms ook armoede – van die landelike streke. Naas lae geboorte- en hoë sterftesyfers bly die grootskaalse emigrasie van Lette na Wes-Europa 'n groot uitdaging. Sedert 2004 het 'n vyfde van die Lettiese bevolking hulle in welvarende lande soos die Verenigde Koninkryk, die Republiek Ierland en Duitsland hervestig.
Week 42
Homo erectus ("regop mens") is ’n uitgestorwe hominienspesie wat regdeur die grootste deel van die Pleistoseen geleef het. Die vroegste fossiele bewyse dateer uit sowat 2 miljoen jaar gelede en die mees onlangse bewyse uit sowat 108 000 jaar gelede. Die spesimens is van die eerste herkenbare lede van die genus Homo.
Verskeie menslike spesies, soos H. heidelbergensis en H. antecessor het blykbaar uit H. erectus ontwikkel, en Neanderdallers, H. denisova en die moderne mens het op hulle beurt vermoedelik uit H. heidelbergensis ontwikkel.
H. erectus was die eerste menslike voorouer wat deur die hele Eurasië versprei het, van die Iberiese Skiereiland tot Java. Asiatiese bevolkings van H. erectus kon die voorouers gewees het van H. floresiensis en moontlik H. luzonensis. Die laaste bekende bevolking van H. erectus is H. e. soloensis van Java, sowat 117 000 tot 108 000 jaar gelede.
H. erectus het 'n moderner houding en liggaamsproporsies gehad en was die eerste menslike spesie met 'n plat gesig, prominente neus en moontlik 'n yl haarbedekking. Hoewel die spesie se breine groter as dié van sy voorouers was, het die kapasiteit grootliks gewissel na gelang van die bevolking. Dit lyk of die breine in vroeëre bevolkings vroeg in die kinderjare ophou ontwikkel het, wat daarop dui kinders was met geboorte in 'n groot mate selfonderhoudend en dat dit kognitiewe ontwikkeling deur hulle lewe beperk het. H. erectus was 'n roofdier aan die bopunt van die voedselketting; Op terreine is die oorblyfsels ontdek van mediumgroot tot groot diere, soos beeste of olifante. Dit lyk dus of hulle in groepe gejag het. Die spesie word verbind met die vroeë steengereedskapsbedryf en was vermoedelik die eerste menslike voorouer wat vuur gebruik, in groepe gejag en kos versamel het, beseerde en siek groepslede versorg het en moontlik op die see gevaar het. Hulle was dalk ook die vroegste beoefenaars van kuns, maar bewyse daarvoor is skaars.
Die mans en vroue was rofweg dieselfde grootte (dus met min geslagsdimorfie), wat kan dui op monogamie in ooreenstemming met algemene neigings onder primate. Die lengte het wel van 146-185 cm gewissel en gewig van 40-68 kg. Dit is onduidelik of H. erectus kon praat, hoewel al voorgestel is hulle het deur die een of ander prototaal gekommunikeer.
Week 43
Nicolaas Petrus van Wyk Louw (11 Junie 1906 – 18 Junie 1970) was 'n letterkundige en professor aan die Gemeentelike Universiteit in Amsterdam en die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was ’n Afrikaanse filosoof, digter, dramaturg en skrywer en die enigste persoon wat die Hertzogprys in drie genres gewen het, naamlik digkuns, drama en kritiese prosa.
Reeds voordat hy agt jaar oud was weet hy dat hy digter wil word en begin hy gediggies skryf, aanvanklik in Engels. Hierdie gedigte verskyn nooit in tydskrifte nie en slegs Life's dream is o'er, farewell word in manuskripvorm bewaar. Sy eerste gepubliseerde gedig, Bij een siekbed, verskyn op 15 November 1921 in De Goede Hoop. In die Kwartaalblad van die Universiteit van Kaapstad van Oktober 1926 verskyn van hom ook vier kort Impressionistiese sketse en enkele gedigte, terwyl hy later ook enkele gedigte in Die Huisgenoot publiseer, die eerste Die geveg in die uitgawe van 20 November 1925. Die gedigte wat hy van 1923 tot 1930 skryf, stel hy saam in ’n bundel onder die titel Dramatiese lyriek en impressies en lê dit vir publikasie voor aan F.C.L. Bosman, wat volgens sy kommentaar duidelik nie werklike insig in hierdie poësie toon nie en die gedigte afkeur vir publikasie waarna Louw belangstelling verloor in die poësie. Onder aanmoediging van sy broer, W.E.G. Louw, begin hy egter weer later ernstig dig. In 1934 stuur sy broer die manuskrip van Alleenspraak aan F.E.J. Malherbe, wat dit positief beoordeel en aanbeveel vir publikasie. In die dertigerjare skryf Louw ook heelparty kortverhale, wat ongepubliseer bly en waag hy ook sy hand aan sy eerste dramas. Dit is dus duidelik dat hy reeds van vroeg af sy hand aan al die genres (poësie, prosa en drama) gewaag het en hy lewer eindelik belangrike werk in al hierdie genres. As vertaler lewer hy ook ’n bydrae met sy vertaling van die drama Aimee uit die Frans van Paul Géraldy in Afrikaans as Helène, ’n publikasie van die Vereniging vir die Vrye Boek. Reeds in 1935 vertaal hy saam met sy broer W.E.G. Louw Die Indringer (L'intruse van Maurice Maeterlinck) vir ’n opvoering deur die Kaapstadse Amateur Toneelvereniging in die Kleinteater in Kaapstad.
Week 44
Die Eleusiniese misterieë (Grieks: Ἐλευσίνια Μυστήρια) was ’n instelling wat elke jaar vir die kultus van Demeter en Persefone gehou is en gebaseer was by Eleusis in Antieke Griekeland. Dit was die "beroemdste van die geheime godsdienstige rituele van Antieke Griekeland". Dit was deel van ’n ou landelike kultus en daar is getuienis dat dit afgestam het van die ou godsdiensgebruike van die Miceense tydperk.
Die misterieë hou verband met die mite van die ontvoering van Persefone van haar ma, Demeter, deur die koning van die onderwêreld, Hades, in ’n siklus met drie fases: die verlies, die soektog en die terugkeer. Die hooftema was die terugkeer van Persefone en die hereniging met haar ma. Dit was ’n groot fees in die Hellenistiese tydperk en het later na Rome versprei. Soortgelyke godsdiensrituele het voorgekom in die landbougemeenskappe van die Nabye Ooste en Minoïese Kreta.
Die rites, seremonies en geloofsopvattings is geheim gehou. Vir die ingewydes het die hergeboorte van Persefone die ewigheid van die lewe gesimboliseer wat van geslag tot geslag gevloei het; hulle het geglo daar wag ’n beloning vir hulle in die hiernamaals. Daar is baie skilderye en potskerwe wat verskeie aspekte van die misterieë uitbeeld. Omdat dit visioene en die oproep van ’n hiernamaals behels het, glo sommige geleerdes die rituele, seremonies en ondervindings is so lank (twee millenniums) volgehou omdat ’n psigedeliese dwelm betrokke was.
Week 45
Camilla (op 17 Julie 1947 gebore as Camilla Rosemary Shand en later bekend as Camilla Parker Bowles) is koningin van die Verenigde Koninkryk en 14 ander lande van die Statebond as die vrou van koning Charles III. Sy het op 8 September 2022 die koningin-gemalin geword toe haar man koning word ná die dood van sy moeder, koningin Elizabeth II. Sy is op Charles se kroning op 6 Mei 2023 as koningin Camilla gekroon.
Camilla het in Oos-Sussex en Suid-Kensington in Engeland grootgeword en het haar opvoeding in Engeland, Switserland en Frankryk ontvang. Sy het in 1973 met die Britse weermagoffisier Andrew Parker Bowles getrou en hulle het twee kinders. Hulle is in 1995 geskei. Camilla was nou en dan romanties by prins Charles betrokke voor en tydens elk van hul eerste huwelike. Hulle verhouding het baie aandag in die internasionale pers ontvang. In 2005 is Camilla met prins Charles getroud in die Windsor Guildhall, en dit is gevolg deur 'n Anglikaanse kerkdiens in die St. George-kapel in Windsor-kasteel.
As die voormalige Hertogin van Cornwall het Camilla openbare verpligtinge nagekom, dikwels saam met haar man. Sy is ook die beskermpersoon, president of lid van verskeie welsyn- en ander organisasies. Sedert 1994 het Camilla 'n veldtog gevoer om mense bewus te maak van osteoporose, waarvoor sy verskeie toekennings ontvang het. Sy het ook bewustheid geskep vir sake soos verkragting, seksuele misbruik, geletterdheid, dierewelsyn en armoede.
Week 46
Outisme, ook bekend as outismespektrum of outismespektrumsteuring (OSS), is ’n neuro-ontwikkelingsteuring wat vroeg in die lewe begin. Dit word gewoonlik deur 'n paar eienskappe gekenmerk, onder meer beperkte sosiale interaksie; beperkte verbale en nieverbale kommunikasie; en herhalende en stereotiepe gedrag.
Outisme is 'n spektrumsteuring, wat beteken dit kom in elke mens op 'n ander manier tot uiting. Sommige individue praat nie, terwyl ander spraakvermoëns goed bemeester. Daarom is daar 'n groot verskeidenheid steunbehoeftes in die outismespektrum.
Die vyfde uitgawe van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM-5), wat in 2013 gepubliseer is, het die outismespektrum herdefinieer om die DSM-IV se diagnoses van outisme, Aspergersindroom, ontwykende-ontwikkelingsteuring, kinderdisintegrasiesteuring, hoogfunksionerende outisme en Rettsindroom in te sluit.
Daar is verskeie teorieë oor wat outisme veroorsaak; dit is hoogs oorerflik en hoofsaaklik geneties van aard. Baie gene is egter betrokke en omgewingsfaktore kan ook 'n rol speel. Die steuring kom dikwels saam met ander toestande voor, soos aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsteuring (AAHS), epilepsie en 'n intellektuele onvermoë.
Verskille bestaan steeds oor kwessies soos wat presies in die diagnose ingesluit moet word, of daar betekenisvolle subtipes is en die betekenis van outismeverwante eienskappe in die breë bevolking.
Die kombinasie van breër kriteria en 'n toenemende bewustheid het gelei tot 'n toename in die raming van die voorkoms van die steuring, en dit het wanopvattings veroorsaak soos dat OSS 'n epidemie is en die mite dat inenting dit kan veroorsaak. Outisme raak na raming 1% van kinders wêreldwyd.
Week 47
Die Rugbywêreldbeker 2003 (Engels: 2003 Rugby World Cup) is van 10 Oktober tot 22 November 2003 in Australië beslis. Oorspronklik was ook wedstryde in Nieu-Seeland beplan, maar ná ’n dispuut tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) is dié plan laat vaar. Dit was die vyfde rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die IRR aangebied word en die derde in die Suidelike Halfrond. Australië het met Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 saam gehuisves.
20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2003 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1999-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Georgië, Ierland, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Samoa, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het (altesaam agt spanne), het ook regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk gekwalifiseer.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2003 is Engeland, Nieu-Seeland, Frankryk, Australië en Suid-Afrika as gunstelinge op die titel beskou. Engeland het die eindstryd op Telstra-stadion in Sydney teen die verdedigende kampioen en gasheer Australië met 20–17 gewen, nadat ’n bykomende tien minute ekstra tyd toegestaan is toe die telling 17–17 was, en sodoende sy eerste wêreldtitel ingepalm. Engeland het daarmee die eerste nasionale rugbyspan van die Noordelike Halfrond geword om die toernooi te wen. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 die tweede wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2019 het ook die krieketwêreldbekertitel gevolg. Nieu-Seeland het in die derde en Frankryk in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig. Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Nieu-Seeland met 9–29 uitgeskakel; Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Die Georgiese nasionale rugbyspan het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem. Rudie van Vuuren, wat vir Namibië gespeel het, het voorheen met dié land se nasionale krieketspan ook aan die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika deelgeneem, waardeur hy die eerste sportlui geword het wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het.
Week 48
Alter Bridge is ’n Amerikaanse rockgroep wat in 2004 gestig is in Orlando, Florida deur Mark Tremonti (hoofkitaar), Bryan Marshall (baskitaar), Scott Philips (tromme), destyds voormalige lede van Creed, en Myles Kennedy, voorheen van die groep The Mayfield Four. Sedert die stigting van die groep is al die oorspronklike lede steeds lede. Die groep se naam is ontleen aan ’n werklike brug wat bestaan het in Detroit, Michigan naby waar Tremonti se huis langs Alterweg was.
Na die ontbinding van Creed in 2004 het Tremonti, Marshall en Phillips met Kennedy begin saamwerk. Die groep het vier albums vrygestel—One Day Remains (2004), Blackbird (2007), AB III (2010) en Fortress (2013); twee konsertrolprente— Live from Amsterdam en Live at Wembley — en het steeds opnames gedoen en getoer ten spyte van Creed se reünie in 2009. Sedertdien het die twee groepe gelyktydig gewerk. Die lede van Alter Bridge is ook betrokke by verskeie ander projekte insluitend Creed, solo- en sessiewerk en Kennedy se samewerkings met die voormalige kitaarspeler van Guns N' Roses, Slash.
Teen Junie 2023 het Alter Bridge meer as vyf miljoen opnames wêreldwyd verkoop.
Week 49
Sagittarius A* (uitgespreek "Sagittarius A-ster"; afkorting Sgr A*) is die supermassiewe swartkolk in die middel van die Melkweg. Dit is geleë naby die grens tussen die sterrebeelde Boogskutter (Sagittarius) en Skerpioen (Scorpius), sowat 5,6° suid van die sonnebaan, visueel naby die Skoenlapper-sterreswerm (Messier 6) en die ster Shaula (Lambda Scorpii).
Die voorwerp is 'n helder en baie kompakte radiobron. Die naam Sagittarius A* is om historiese redes daaraan gegee. In 1954 het John D. Kraus, Hsien-Ching Ko en Sean Matt by 250 MHz na die radiobronne geluister wat hulle geïdentifiseer het met die radioteleskoop van die Universiteit van Ohio. Hulle het die bronne gerangskik volgens sterrebeeld en het hoofletters toegeken in volgorde van helderheid binne elke sterrebeeld; A het die helderste radiobron binne die sterrebeeld aangedui. Die asterisk (*) is later bygevoeg omdat die ontdekking as opwindend (exciting) beskou is, in ooreenstemming met die naam vir atome in 'n opgewekte (excited) toestand wat met 'n asterisk aangedui word (die opgewekte toestand van helium is byvoorbeeld He*). Die asterisk is in 1982 toegevoeg deur Robert L. Brown, wat verstaan het die sterkste radio-emissie van die middel van die sterrestelsel kom moontlik van 'n kompakte, nietermiese radiovoorwerp.
Waarnemings van verskeie sterre, veral S2, in ’n wentelbaan om Sagittarius A* is gebruik om die massa en grootte van die voorwerp vas te stel. Op grond van dié waarnemings is bepaal dat Sagittarius A* die ligging is van die Melkweg se supermassiewe swartkolk, soos dié wat nou algemeen aanvaar word in die middel van die meeste spiraal- en elliptiese sterrestelsels voorkom. Die huidige raming van sy massa is 4,154 (± 0,014) miljoen sonmassas.
Week 50
Oostenryk (Duits: Österreich, [ˈøːstɐˌʁaɪç], ), amptelik die Republiek Oostenryk (Republik Österreich, ), is 'n federale republiek in Sentraal-Europa wat uit nege deelstate (waaronder die hoofstad Wene) bestaan. Die land grens in die weste aan Switserland en Liechtenstein, in die noorde aan Duitsland en Tsjeggië, in die ooste aan Slowakye en Hongarye, en in die suide aan Italië en Slowenië. Die huidige grense is in die Vredesverdrag van Saint-Germain in 1919 vasgelê wat die ontbinding van Oostenryk-Hongarye ná die Eerste Wêreldoorlog gereël het.
Die vroegste gedokumenteerde gebruik van die Duitse landsnaam Österreich as Ostarrichi is in 'n Oudhoogduitse teks van 996 oorgelewer. Daarnaas was ook die Latynse naam Austria gebruiklik. In 1156 het Oostenryk, wat oorspronklik hoofsaaklik deur setlaars uit die aangrensende Beiere ontwikkel is, 'n selfstandige hertogdom in die Heilige Romeinse Ryk geword. Nadat die Babenberg-dinastie in 1246 uitgesterf het, het die land onder Habsburgse bewind gekom. Die gebied, wat as Oostenryk bekendgestaan het, het later die hele Habsburgse monargie behels en uiteindelik die Keiserryk Oostenryk, wat in 1804 gestig is, en die Oostenrykse helfte van die dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye wat van 1867 af as veelvolkestaat bestaan het.
Die huidige republiek, aanvanklik vanweë die oorheersende taal ook Duits-Oostenryk genoem, is in 1918 gevorm nadat Oostenryk-Hongarye 'n nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog gely het en die seëvierende geallieerdes die vereniging van Duits-Oostenryk met die Duitse Ryk (retrospektief ook Republiek van Weimar genoem) verbied het. As selfstandige republiek het Oostenryk tussen die twee wêreldoorloë tot 'n diktatoriese korporatiewe staat ontwikkel voordat dit in 1938 met die sogenaamde Anschluss of aansluiting by die Nasionaal-Sosialisties oorheerste Duitse Ryk ingelyf is.
Die geallieerde moondhede, wat Oostenryk – net soos Duitsland – ná die Tweede Wêreldoorlog as besettingsmagte geadministreer het, het Oostenryk se selfstandige status herstel. Ná die einde van die geallieerde besetting het Oostenryk homself in 1955 tot 'n permanent onsydige, onafhanklike republiek verklaar en tot die Verenigde Nasies toegetree. Oostenryk is sedert 1 Januarie 1995 'n lidland van die Europese Unie. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer; Euro-banknote en -muntstukke is sedert 2002 in omloop.
Week 51
Apollo 8 (21–27 Desember 1968) was die eerste bemande ruimtetuig wat 'n lae wentelbaan om die aarde verlaat het en die eerste bemande ruimtevlug wat die Maan bereik het. Die bemanning het tien keer om die maan gewentel sonder om te land, en het toe veilig na die aarde teruggekeer. Die drie ruimtevaarders, Frank Borman, Jim Lovell en William Anders, was die eerste mense wat persoonlik die ander kant van die maan en 'n aardopkoms gesien en gefotografeer het.
Apollo 8 is op 21 Desember 1968 gelanseer en was die tweede bemande ruimtevlug wat in die Verenigde State se Apollo-ruimteprogram gevlieg het na Apollo 7 - wat in 'n wentelbaan om die aarde gebly het. Apollo 8 was die derde vlug en die eerste bemande lansering van die Saturn V-vuurpyl, en was die eerste menslike ruimtevlug vanaf die Kennedy-ruimtesentrum, geleë langs die Kaap Canaveral- ruimtemagstasie in Florida.
Dit was oorspronklik beplan as die tweede bemande Apollo-maanmodule en Apollo-beheer-en-diensmodule (BDM) toetsvlug, wat vroeg in 1969 in 'n elliptiese medium Aarde-wentelbaan sou gegaan het. Die sendingprofiel is in Augustus 1968 verander na 'n meer ambisieuse sending met die bevelmodule alleen wat net om die maan gevlieg moet word. Dit moet reeds in Desember plaasvind, aangesien die maanmodule nog nie gereed was vir sy eerste vlug nie. Ruimtevaarder Jim McDivitt se bemanning, wat opgelei is om die eerste maanmodulevlug in 'n lae Aarde wentelbaan te vlieg, het die bemanning vir die Apollo 9 sending geword, en Borman se bemanning is na die Apollo 8 sending geskuif. Dit het Borman se bemanning met twee tot drie maande minder opleiding en voorbereidingstyd gelaat as wat oorspronklik beplan is, en die beplande maanmodule-opleiding is vervang met maanverbyvlug-navigasie-opleiding.
Apollo 8 het 68 uur geneem om die afstand na die maan af te lê. Die bemanning het in die loop van twintig uur tien keer om die Maan gewentel, waartydens hulle 'n Kersaandtelevisieuitsending gedoen het waarin hulle die eerste tien verse uit die boek Genesis voorgelees het. Die uitsending was destyds die mees gekykte TV-program ooit. Apollo 8 se suksesvolle sending het die weg gebaan vir Apollo 10 en saam met Apollo 11 in Julie 1969, die vervulling van die Amerikaanse president John F. Kennedy se doelwit om 'n man voor die einde van die dekade op die maan te laat land. Die Apollo 8 ruimtevaarders het op 27 Desember 1968 na die aarde teruggekeer toe hul ruimtekapsule in die noordelike Stille Oseaan neergeplons het. Die bemanningslede is aangewys as Time se "Manne van die Jaar" vir 1968 na hul terugkeer.
Week 52
Sargon van Akkad, ook bekend as Sargon die Grote (Akkadies: Šarru-kīnu, "die ware/wettige koning"), was ’n Semitiese Akkadiese keiser wat bekend is vir sy verowering van Sumeriese stadstate in die 24ste en 23ste eeu v.C. Hy was die stigter van die dinastie van Akkad en het in die tweede laaste kwart van die 3de millennium v.C. regeer.
Volgens wigskrifbronne was hy die skinker van koning Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koning volgens latere bronne vermoedelik vermoor en sy bewind oorgeneem voordat hy probeer het om die hele Mesopotamië te verower. Hy is aanvanklik "Sargon I" genoem, maar latere rekords het getoon daar was ook ’n Assiriese koning met die naam Sargon (na wie gewoonlik as "Sargon I" verwys word).
Daar word geglo dat Sargon se ryk groot dele van Mesopotamië ingesluit het wat onder meer dele van die hedendaagse Iran, Klein-Asië en Sirië was. Sy hoofstad was die nuwe, maar tot nog toe onontdekte Akkad, wat hy volgens die Sumeriese koningslys óf laat bou óf laat restoureer het. Hy word soms beskou as die eerste persoon in die bekende geskiedenis wat ’n multi-etniese, sentraal regeerde ryk geskep het, hoewel dié eer ook die Sumeriese Lugal-zage-si kan toekom. Sy dinastie het Mesopotamië sowat een en ’n half eeu lank beheer.
Sargon kom as 'n legendariese figuur voor in die Nieu-Assiriese letterkunde van die 8ste tot 7de eeu v.C. Tablette met fragmente van 'n Sargon-geboortelegende is ook in die Biblioteek van Assurbanipal ontdek.