Tessituur
In musiek is tessituur die musikaal aanvaarbaarste en gemaklikste omvang vir ’n gegewe sanger of, minder algemeen, musiekinstrument. Dit is die omvang waarin ’n soort stem die beste tekstuur of toonkleur voortbring. Hierdie breë definisie word dikwels geïnterpreteer as verwysend na die omvang van toonhoogtes wat die meeste in ’n gegewe stuk musiek, of party, voorkom. Byvoorbeeld, in Wagner se Ring, wissel die musiek wat vir die rol van Siegfried geskryf if van C♯3 tot C5, maar die tessituur word as hoog geklassifiseer omdat die frases meestal tussen C4 tot A4 is.[1]
In musieknotasie word tessituur gebruik om te verwys na die omvang waarin ’n stuk musiek lê—of dit hoog of laag is, ens.—vir ’n spesifieke vokale (of minder algemeen, instrumentale) party. Die tessituur van ’n stuk word nie bepaal deur die uiterstes van die omvang nie, maar deur watter deel van die omvang die meeste gebruik word. Die tessituur van ’n party sal dikwels beïnvloed watter sleutel gebruik word om ’n spesifieke stuk in te skryf.[1] Melodiese kontoere kan ook beskou word as ’n belangrike aspek van vokale tessituur.
Die konsep "tessituur" handel nie oor ’n groep toonhoogtes nie, maar ook oor die rangskikking van daardie toonhoogtes. Tessituuroorwegings sluit die volgende faktore in: verhouding van skielike of geleidelike verhoging en verlaging van toonhoogte—snelheid van toonhoogteveranderinge; die relatiewe aantal baie hoë of lae note; of lyne en frases in die stuk neig om te styg of te daal—die musikale vermoë van 'n sanger pas moontlik meer by die een of die ander rigting.
Hoewel klanksterkte wat ’n sanger vir dramatiese effek kan volhou, dikwels in gesprekke oor tessituur geïgnoreer word, het dit dikwels ’n invloed op die stemtipe of tessituur waarin hy of sy spesialiseer.’n Liriese tenoor het moontlik die omvang om Wagner of ander dramatiese rolle te sing, maar om oor die duur van ’n opera-opvoering die klanksterkte te handhaaf wat geverg word vir dramatiese intensiteit, sal óf skade aan sy of haar stem doen óf is eenvoudig buite sy of haar vermoë. Verdi se Otello is ’n goeie voorbeeld van die belangrikheid om ’n stem te hê wat die vermoë het om krag deur die loop van die opvoering van die opera te handhaaf.