Suetonius
Suetonius | |
---|---|
19de eeuse ets van Suetonius | |
Gebore | Gaius Suetonius Tranquillus omstreeks 69 n.C. |
Sterf | Ná omstreeks 122 n.C. (op leeftyd 53–54) |
Beroep | Geskiedkundige, skrywer |
Gaius Suetonius Tranquillus (la), algemeen bekend as Suetonius (* omstreeks 69 n.C. – ná 122 n.C.),[2] was 'n Romeinse geskiedkundige wat gedurende die vroeë tydperk van die Romeinse Ryk geskryf het. Sy belangrikste bestaande werk is De vita Caesarum, algemeen bekend as Die Twaalf Caesars, 'n stel biografieë van 12 opeenvolgende Romeinse heersers van Julius Caesar tot Domitianus. Ander werke deur Suetonius handel oor die daaglikse lewe van Rome, die politiek, redevoering, retorika en die lewens van bekende skrywers, insluitende digters, historici en grammatici. 'n Aantal van die boeke bestaan steeds gedeeltelik, maar baie is verlore.
Lewe
[wysig | wysig bron]Gaius Suetonius Tranquillus is in omstreeks 69 n.C. gebore. Die datum word afgelei uit sy opmerkings dat hy steeds 'n "jong man" was, 20 jaar na Nero se dood. Daar is nie ooreenstemming oor sy plek van geboorte nie, maar die meeste navorsers en skolastici plaas dit in Hippo Regius, 'n klein dorpie in Noord-Afrika, in wat vandag Algerië is.[3] Dit is wel seker dat Suetonius afkomstig was uit 'n gesin van 'n middelbare maatskaplike posisie, en dat sy vader, Suetonius Laetus,[4] 'n tribuun was wat behoort het aan die ruiterorde (tribunus angusticlavius) in Legio XIII Gemina, en dat Suetonius opgevoed is in 'n tydperk toe retoriekskole gefloreer het in Rome.
Suetonius was 'n hegte vriend van die senator en briefskrywer Plinius die jongere. Plinius beskryf hom as "stil en skrander, 'n man wat toegewyd is aan sy skryfwerk". Plinius het hom gehelp om 'n klein stukkie grond te bekom en namens hom met Trajanus onderhandel en bemiddel om aan Suetonius vryskeldings te bekom wat gewoonlik slegs toegestaan is aan 'n vader van drie, die ius trium liberorum, omrede Suetonius se huwelik kinderloos was.[5] Deur Plinius se toedoen het Suetonius die guns van Trajanus en Hadrianus gewen. Suetonius was moontlik deel van Plinius se personeel toe hy keiserlike goewerneur (legatus Augusti pro praetore) van Bithynia en Pontus (noordelike Klein Asië) was tussen 110 en 112. Onder Trajanus het hy gedien as sekretaris van studies (die presiese funksies van die pos is onseker) en direkteur van die keiserlike argiewe. Onder Hadrianus het hy die keiser se sekretaris geword. Hadrianus het Suetonius later ontslaan weens sy beweerde verhouding met keiserin Vibia Sabina.[6][7]
Werke
[wysig | wysig bron]Die Twaalf Caesars
[wysig | wysig bron]Suetonius word hoofsaaklik onthou as die skrywer van De Vita Caesarum—vertaal as Die lewe van die Caesars, hoewel 'n meer algemene titel, Die lewens van die Twaalf Caesars of bloot Die Twaalf Caesars, algemeen gebruik word. Dit is sy enigste bestaande werk, behalwe vir die kort biografieë en ander fragmente wat hieronder genoem word. Die Twaalf Caesars, waarskynlik geskryf in Hadrianus se tyd, is 'n kollektiewe biografie van die Romeinse Ryk se eerste leiers, Julius Caesar (die eerste paar hoofstukke ontbreek), Augustus, Tiberius, Caligula, Claudius, Nero, Galba, Otho, Vitellius, Vespasianus, Titus en Domitianus. Die boek is opgedra aan sy vriend Gaius Septicius Clarus, 'n prefek van die Pretoriaanse Garde in 119.[8] Die werk handel oor ellk van die Caesars se lewens volgens 'n vasgestelde formule: die beskrywing van hul voorkoms, voortekens, familiegeskiedenis, aanhalings, en dan 'n geskiedenis wat in 'n konsekwente volgorde weergegee word. Hy het die vroegste verslae opgeteken van Julius Caesar se epileptiese aanvalle.
Ander werke
[wysig | wysig bron]Deels behoue
[wysig | wysig bron]- De Viris Illustribus ("Oor bekende mans" — in die literatuurveld), waarnatoe behoort:
- De Illustribus Grammaticis ("Lewens van die grammatici"; 20 kort lewens, blykbaar volledig)
- De Claris Rhetoribus ("Lewens van die retorici"; 5 kort lewens uit die oorspronklike 16 is bestaande)
- De Poetis ("Lewens van die digters"; die lewe van Vergilius, sowel as fragmente uit die lewens van Terentius, Horatius en Lucanus is bestaande)
- De Historicis ("Lewens van die historici"; 'n kort lewe van Plinius die ouere word toegeskryf aan hierdie werk)
- Peri ton par' Hellesi paidion ("Griekse spele")
- Peri blasphemion ("Griekse terme van belediging")
Die laaste twee werke is in Grieks geskryf. Klaarblyklik leef hulle deels voort in die vorm van uittreksels in latere Griekse glossaria (woordelyste).
Verlore werke
[wysig | wysig bron]Die volgende lys van Suetonius se verlore werke kom uit Robert Graves se voorwoord tot sy vertaling van die Twaalf Caesars.[9]
- Koninklike biografieë
- lewens van bekende hoere
- Romeinse maniërismes en gebruike
- Die Romeinse jaar
- Die Romeinse feeste
- Romeinse drag
- Griekse spele
- Kantore van die staat
- Oor Cicero se Republiek
- Fisiese tekortkominge van die mens
- Metodes van die berekening van tyd
- 'n Essay oor die natuur
- Griekse beswerings
- Grammatiese probleme
- Kritiese tekens wat in boeke gebruik word
Die inleiding tot die Loeb-uitgawe van Suetonius, vertaal deur J. C. Rolfe, met die inleiding deur K. R. Bradley, maak verwysing na die Suda met die volgende titels:
- Oor Griekse spele
- Oor Romeinse spektakels en spele
- Oor die Romeinse jaar
- Oor kritieke tekens in boeke
- Oor Cicero se Republiek
- Oor die name van, en soorte klere
- Oor beledigings
- Oor Rome en sy gebruike en maniërismes
Die volume voeg ander titels by wat nie deur die Suda gestaaf word nie.
- Oor bekende courtisane
- Oor konings
- Oor die instelling van kantore
- Oor fisiese gebreke
- Oor weertekens
- Oor die name van seë en riviere
- Oor die name van winde
Twee ander titels kan ook versamelings wees van sommige van die voorgenoemde:
- Pratum (Diverse aangeleenthede)
- Oor verskeie sake
Uitgawes
[wysig | wysig bron]- Edwards, Catherine Lives of the Caesars. Oxford World's Classics. (Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2008).
- Robert Graves (vert.), Suetonius: The Twelve Caesars (Harmondsworth, Middlesex, Engeland: Penguin Books, Ltd, 1957)
- Donna W. Hurley (vert.), Suetonius: The Caesars (Indianapolis/Londen: Hackett Publishing Company, 2011).
- J. C. Rolfe (vert.), Lives of the Caesars, Volume I (Loeb klassieke biblioteek 31, Drukpers van Harvard-universiteit, 1997).
- J. C. Rolfe (vert.), Lives of the Caesars, Volume II (Loeb klassieke biblioteek 38, Drukpers van Harvard-universiteit, 1998).
- C. Suetonii Tranquilli De vita Caesarum libros VIII et De grammaticis et rhetoribus librum, red. Robert A. Kaster (Oxford: 2016).
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Suetonius (1997). Lives of the Caesars. Vol. 1. Cambridge: Drukpers van Harvard-universiteit. p. 4.
- ↑ ((die redakteure van Encyclopaedia Britannica)) "Suetonius". Encyclopædia Britannica. Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
- ↑ Suetonius (1997). Lives of the Caesars. Vol. 1. Cambridge: Drukpers van Harvard-universiteit. p. 4.
- ↑ Suetonius. Vita Othonis. 10, 1.
- ↑ Pliny the Younger. "10.95". Briewe.
- ↑ "Suetonius Tranquillus, Gaius". Encyclopædia Britannica (11de) 26. (1911). Cambridge University Press.
- ↑ Hadrianus. "11:3". Historia Augusta.
claims that Hadrian "removed from office Septicius Clarus, the prefect of the guard, and Suetonius Tranquillus, the imperial secretary, and many others besides, because without his consent they had been conducting themselves toward his wife, Sabina, in a more informal fashion than the etiquette of the court demanded."
- ↑ Reynolds, Leighton Durham (1980). Texts and Transmission: A Survey of the Latin Classics. Oxford: Clarendon Press. p. 509. ISBN 978-0-19-814456-4.
The dedication, in the lost preface, is recorded by a sixth-century source when the text was still complete
- ↑ Suetonius (1957). "Foreword". In Rives, James (red.). Suetonius: The Twelve Caesars. Vertaal deur Graves, Robert (1st uitg.). Hamondsworth, Middlesex, Engeland: Penguin Books. p. 7.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Barry Baldwin, Suetonius: Biographer of the Caesars. Amsterdam: A. M. Hakkert, 1983.
- Gladhill, Bill. "The Emperor's No Clothes: Suetonius and the Dynamics of Corporeal Ecphrasis." Classical Antiquity, vol. 31, no. 2, 2012, pp. 315–348.
- Lounsbury, Richard C. The Arts of Suetonius: An Introduction. Frankfurt: Lang, 1987.
- Mitchell, Jack "Literary Quotation as Literary Performance in Suetonius." The Classical Journal, vol. 110, no. 3, 2015, pp. 333–355
- Newbold, R.F. "Non-Verbal Communication in Suetonius and 'The Historia Augusta:' Power, Posture and Proxemics." Acta Classica, vol. 43, 2000, pp. 101–118.
- Power, Tristan, Collected Papers on Suetonius. Abingdon: Routledge, 2021.
- Power, Tristan and Roy K. Gibson (ed.), Suetonius, the Biographer: Studies in Roman Lives. Oxford; New York: Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2014
- Syme, Ronald. "The Travels of Suetonius Tranquillus." Hermes 109:105–117, 1981.
- Trentin, Lisa. "Deformity in the Roman Imperial Court." Greece & Rome, vol. 58, no. 2, 2011, pp. 195–208.
- Trevor, Luke "Ideology and Humor in Suetonius' 'Life of Vespasian' 8." The Classical World, vol. 103, no. 4, 2010, pp. 511–527.
- Wallace-Hadrill, Andrew F. Suetonius: The Scholar and his Caesars. New Haven, CT: Drukpers van Yale-universiteit, 1983.
- Wardle, David. "Did Suetonius Write in Greek?" Acta Classica 36:91–103, 1993.
- Wardle, David. "Suetonius on Augustus as God and Man." The Classical Quarterly, vol. 62, no. 1, 2012, pp. 307–326.
- Kaster, Robert A., Studies on the Text of Suetonius' "De vita Caesarum" (Oxford: 2016).
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Suetonius. |
- The Lives of the Twelve Caesars at LacusCurtius (Latynse oorspronklike, Engelse vertaling)
- Suetonius se werke by die Latynse biblioteek (Latyn)
- Werke deur Suetonius by Project Gutenberg
- Werke deur of oor Suetonius op die Internet Archive
- Gai Suetoni Tranquilli De vita Caesarum libri III-VI Die biblioteek van Cornell-universiteit se versameling historiese monograwe.
- Livius.org: Suetonius