Gaan na inhoud

Pole

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Republiek Pole
Rzeczpospolita Polska (Pools)
Vlag van Pole Wapen van Pole
Vlag Wapen
Volkslied: Mazurek Dąbrowskiego
("Pole behoort nog steeds vir ewig aan ons")
Ligging van Pole
Hoofstad Warskou

52°13′N 21°02′O / 52.217°N 21.033°O / 52.217; 21.033

Grootste stad Warskou
Amptelike tale Pools
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike republiek
Andrzej Duda
Donald Tusk
Onafhanklikheid
Vorming
• Kerstening
• Koninkryk Pole
Pools-Litause Gemenebes
• Verdeling van Pole
• Hertogdom Warskou
• Kongres-Pole
• Tweede Republiek
Duitse Invasie
• Volksrepubliek
• Derde Republiek
• Huidige grondwet


14 April 966
18 April 1025
1 Julie 1569
24 Oktober 1795
22 Julie 1807
9 Junie 1815
11 November 1918
1 September 1939
19 Februarie 1947
31 Desember 1989
17 Oktober 1997
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
312 696[1][2] km2  (69ste)
120 733 myl2
1,48 (2015)[3]
Bevolking
 - 2017-skatting
 - 2022-sensus
 - Digtheid
 
38 422 346[4] (35ste)
38 036 118[5]
122 / km2 (75ste)
316 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$1 791 miljard[6] (20ste)
$47 700[6] (39ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$880,055 miljard[6] (21ste)
$23 434[6] (45ste)

MOI (2021) 0,876[7] (34ste)  –  baie hoog
Gini (2022) 26,3[8] –  laag
Geldeenheid Złoty (zŀ) (PLN)
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+1)
MEST (UTC+2)
Internet-TLD .pl
Skakelkode +48

Pole (Pools: Polska, [ˈpɔlska], ), amptelik die Republiek Pole (Pools: Rzeczpospolita Polska, [ʐɛt͡ʂpɔˈspɔlita ˈpɔlska], ), is 'n land in Sentraal-Europa. Dit grens aan Duitsland, Tsjeggië, Slowakye, Oekraïne, Wit-Rusland, Rusland en Litaue. In administratiewe opsig word Pole in 16 woiwodskappe (pl. województwo, enkelvoud województwa) verdeel.

Die Morskie Oko in die Hoë Tatra, Tatra- Nasionale Park

Sy geografiese ligging het 'n beduidende invloed op Pole se dikwels onstuimige historiese ontwikkeling uitgeoefen. Magtige buurlande soos Rusland en Duitsland het verskeie kere geleenthede waargeneem om Pole binne te val en te beset. Die Tweede Wêreldoorlog het die mees onlangse grensveranderings meegebring – terwyl Pole in die ooste gebiede met swak grond aan die destydse Sowjetunie moes afstaan, het Duitse gebiede met ryk landbougrond en 'n goed ontwikkelde infrastruktuur in die weste en noordooste onder Poolse administrasie gekom. Sedert 1945 vorm die Oder- en Neiße-riviere die westelike grenslyn met Duitsland.

Aangesien die geografiese sentrum van Europa naby Vilnius in Litaue geleë is, maak Pole deel uit van Sentraal-Europa. Dikwels word na lande soos Pole, Tsjeggië en Hongarye as oostelike Sentraal-Europa verwys – 'n term wat ook benadruk dat al hierdie state voormalige Oosbloklande is en almal in die 1990's 'n proses van politieke en ekonomiese hervormings begin het.

Pole is 'n stigterslid van die Verenigde Nasies en die OVSE en het in 1996 by die OESO, op 12 Maart 1999 by die NAVO en op 1 Mei 2004 by die Europese Unie aangesluit.

Etimologie

Ljech, Tsjech en Roes-eiekebome in Rogalin

Die inheemse Poolse naam vir Pole is Polska.[9] Dié naam is ontleen aan die Polane, 'n Wes-Slawiese stam wat die Wartabekken in die huidige Groot-Pole-streek bevolk het (6de–8ste eeu n.C.).[10] Dié stam se naam is ontleen aan die Protoslawiese selfstandige naamwoord pole wat "akker" beteken en op sy beurt ontleen is aan die Proto-Indo-Europese woord *pleh₂- wat na "platteland" verwys.[11] Die etimologie sinspeel die topografie van die streek en die plat landskap van Groot-Pole.[12][13] In die Middeleeue is die Latynse naam Polonia wyd gebruik in Europa om na Pole te verwys.[14]

Die land se alternatiewe argaïese naam is Lechia en sy lettergreep-wortel bly in amptelike gebruik in verskeie tale, waaronder Hongaars, Litaus en Persies.[15] Dié eksoniem is dalk ontleen aan óf Ljech, 'n legendariese leier van Ljechië, óf van die Ljache, 'n Wes-Slawiese stam wat gebly het in die mees suidoostelike hoek van Klein-Pole.[16][17] Die oorsprong van dié stam se naam is die Ou Poolse woord lęda ("eenvoudig").[18] Aanvanklik is albei name, Lechia en Polonia, uitruilbaar gebruik wanneer Middeleeuse kroniekskrywers verwys het na Pole.[19]

Geografie

Hooflandskappe

Topografiese kaart van Pole
Nasa-Satellietbeeld van Pole in Februarie 2003

Pole word in geografiese opsig in vyf hooflandskappe verdeel:

  • die Oosseekus in die noordweste wat vanuit die Pommerse tot by die Baai van Gdańsk strek,
  • die laagliggende gebiede van die Sentraal-Europese Vlakte met vier groot mereplato's (die Mereplato van Masurië, die Kasjoebiese, Pommerse en Groot-Poolse Mereplato) wat almal deel uitmaak van die golwende Baltiese Heuwelland,
  • die riviervalleie van Silesië en Masowië suid van die vlakte,
  • die bergreekse van Suid-Pole met die Krakows-Częstochowase Jura, die Heiligkruis-gebergte, die Beskiede, die Woudkarpate of Bieszczady, die Sudete en die Hoë Tatra, wat die hoogste bergreeks in hierdie streek vorm.

Driekwart van Pole se huidige oppervlakte word deur vlaktes beslaan wat tydens die laaste Ystydperk (die sogenaamde Weichsel-ystydperk) gevorm is en grotendeels laer as 200 meter bo seevlak is. Die kusgebiede langs die Oossee word deur talle skoorwalle en strandmere gekenmerk, terwyl twee baaie, die Pommerse Baai in die weste en die Baai van Gdańsk in die ooste, diep na die binneland in strek.

By die laagliggende kusvlakte sluit die golwende jonger morenelandskap van die Baltiese Heuwelland met sy talle mere aan. Hierdie landskap word deur die Weichsel-riviervlakte in twee plato's, die Pommerse Mereplato in die weste en die Mereplato van Masoere in die ooste, verdeel. Wye sanderige riviervalleie, wat tydens die Ystydperk deur smeltwater gevorm is, lei oor na die laagliggende ouer morenelandskap van die Sentraal-Poolse Vlakte.

Verder suidwaarts is die noue Sudete-bergreeks in die weste geleë, wat met sy hoogste bergspits, die Śnieżka (Tsjeggies Sněžka, Duits Schneekoppe) in die Reusegebergte, tot 1 602 meter bo seevlak rys, asook die Klein-Poolse Hoogplato en die Lublinse Bergland in die ooste. In die uiterste suide strek die uitlopers van die Wes-Karpate tot by Poolse grondgebied, met die Beskide-bergreeks in die ooste en – verder weswaarts – die bergreeks Hoë Tatra.

Landsgrense

Grensveranderings ná die Tweede Wêreldoorlog het die Poolse staatsgebied weswaarts verskuif

Die grense van Pole se staatsgebied was in die verlede dikwels onderhewig aan veranderings. Terwyl sommige geweste net tydelik deel uitgemaak het van Pole, is daar ook gebiede langs die Warta- en Wisła-riviere en tussen die Karpate-bergreeks en die Oossee wat voortdurend die kernland van Pole gevorm het.

In die tydperk tussen die 16de en 18de eeu het Pole se oppervlakte sowat een miljoen vierkante kilometer beslaan. Voor die Poolse Delinge in die laat 18de eeu het dit nog 733 000 vierkante kilometer beloop. Nadat Pole in 1795 deur Rusland, Pruise en Oostenryk geannekseer is, het die land 123 jaar lank van die politieke landkaart van Europa verdwyn. Toe Pole ná die Eerste Wêreldoorlog in 1918 as 'n selfstandige nasie herstel is, het sy oppervlakte 388 000 vierkante kilometer beloop.

Die huidige grense van Pole is ná die Tweede Wêreldoorlog deur die geallieerde moondhede – die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en die Sowjetunie – tydens die vredeskonferensies van Jalta en Potsdam vasgelê. Pole moes destyds sowat 'n vyfde van sy oppervlakte aan die Sowjetunie afstaan. Die Poolse landsgrense is in noordelike en westelike rigting verskuif – die noordelike grens tot by die Oossee, Warmia (Ermland) en Mazury (Masurië), die westelike grens tot by die riviere Odra en Nysa Nysa Łużycka. In die ooste het die Bugrivier die nuwe grenslyn met die Sowjetunie gevorm.

Danksy die inlywing van Duitse gebiede – Warmia en Mazury, die Pommerse Mereplato (Pojezierze Pomorskie), die gebied van Lubusk, Dolny Sląsk (Neder-Silesië) en 'n gedeelte van Górny Sląsk (Opper-Silesië) het gebiede met 'n totale oppervlakte van sowat 100 000 vierkante kilometer onder Poolse administrasie gekom, terwyl die land gebiede in die ooste (Wileńszczyzna, Polesie, Wołyń, Podole) met 'n oppervlakte van 180 000 vierkante kilometer aan die Sowjetunie afgestaan het. As gevolg van hierdie grensveranderings kom die huidige Poolse staatsgebied met dié van sowat 1 000 jaar gelede grootliks ooreen.[20]

Riviere

Die samevloeiing van Boeg, Narew en Wisła in Modlin

Die langste riviere in Pole is die Wisła met 1 022 km, die grensrivier Oder (Odra) met 840 km, die Warta met 795 km en die Boeg met 774 km. Die Boeg vloei langs die Poolse oosgrens. Wisła en Oder vloei vanuit die suide deur die hele land in noordelike rigting en mond net soos talle kleiner riviere in Pommere in die Oossee uit. Hierdie twee groot riviere oorheers die hidrografies-fluviatiele struktuur van die land.[21]

Die Łyna- en Angrapa-riviere mond via die Pregel en Hańcza in die Nemunas en uiteindelik die Oossee. Daarnaas mond 'n aantal kleiner riviere soos die Jizera in die Sudete-bergreeks via die Elbe in die Noordsee uit. Die Orawa-rivier uit die Beskiede-bergreeks mond net soos enkele kleiner riviere uit die Woudkarpate via Waag, Donau en Dnister in die Swartsee uit.

Vanweë Pole se oorgangsklimaat tussen see- en vastelandse klimaat deel baie Poolse riviere tipiese kenmerke met Russiese riviere. Hulle bevries in die winter, terwyl die lente vanweë swaar sneeusmelting 'n hoogwaterseisoen is waartydens riviere dikwels hul walle oorstroom.

Die Poolse riviere, wat vandag deur kanale met mekaar verbind is, het al vroeg as waterweë gedien. So het die Wikings tydens hul rooftogte deur Europa met hul langskepe die Wisła en Oder bevaar. In die middeleeue en die vroeë moderne tydperk, toe Pole-Litaue tot een van die beduidendste Europese graanprodusente ontwikkel het, is agrariese produkte op die Wisła in rigting van Gdańsk en verder na Wes-Europa vervoer. Baie renaissance- en barok-stoorhuise vir graan, wat in stede langs die rivier opgerig is, getuig vandag nog van dié florerende handel.

Mere

'n Bergmeer in die Tatra-bergreeks, naby die grens met Slowakye

Pole is ryk aan mere – meer as 9 300 van hierdie waterliggame het 'n oppervlak van meer as een hektaar. Behalwe vir Finland is daar in geen ander Europese land meer mere per vierkante kilometer as in Pole. Die grootste mere met 'n oppervlak van meer as 100 km² is Śniardwy en Mamry in Masurië en die Lebameer (Jezioro Łebsko) en Jezioro Drawsko in Pommere. Talle mere is deur riviere en kanale met mekaar verbind en vorm sodoende 'n uitgestrekte netwerk van waterweë.

Poolse mere kan rofweg in twee kategorieë verdeel word – die waterliggame in die mereplato's van Noord-Pole (veral in Masurië, Pommere, Kasjoebië en Groot-Pole) en die bergmere in die Tatra-bergreeks waarvan die Morskie Oko die grootste ten opsigte van die oppervlak is. Die diepste mere is die Hańcza-meer (meer as 100 m) in die mereplato van Wigry, oos van Masurië in die woiwodskap Podlachië, Drawsko (83 m) en die bergmeer Wielki Staw Polski ("Groot Poolse Meer") in die "Vallei van die vyf Poolse mere".

Van die vroegste menslike nedersettings in Pole het langs die oewers van mere in die Groot-Poolse Mereplato ontstaan, soos die paalhuise van Biskupin, 'n dorp van meer as 1 000 inwoners wat in die 7de eeu v.C. gestig is. Die voorouers van die huidige Pole, die Polane, het hul eerste forte op meereilande (ostrów) gebou. So was die regeringsetel van die legendariese vors Popiel in die 8ste eeu in Kruszwica by die Gopolomeer geleë. Die eerste histories gedokumenteerde heerser van Pole, hertog Mieszko I, het sy paleis in Poznań op 'n eiland in die Wartarivier laat bou.

Klimaat

Die Błędów-woestyn, 'n sanderige gebied in die Silesiese Hoogland

Pole is in 'n oorgangsgebied tussen die gematigde klimaatsone van Sentraal-Europa met sy maritieme invloede en die kontinentale klimaat van Oos-Europa geleë. Die gematigde klimaat van Pole het dus in die oostelike en suidoostelike landsdele meer kontinentale kenmerke. Die "skeidingslyn" tussen Atlantiese en vastelandse lugmassas loop langs die Parsęta-rivier wat naby Kolobrzeg (Kolberg) in die Oossee uitmond. Die klimaat wes van hierdie rivier is meer gematig, en die gebied ervaar kleiner temperatuurskommelings as die streke oos daarvan.

Die Poolse somers is oor die algemeen matig warm tot warm met gemiddelde temperature tussen 16 en 19 °C, terwyl die kwik tydens die relatief koue winters tot gemiddeldes van tussen 0 °C in die noordweste van die land en –5 °C in die suidooste kan daal. Veral die hoogliggende Karpate-berggebied word deur temperatuuruiterstes gekenmerk.

Reënvalle kom dwarsdeur die jaar voor, waarby die winters in die oostelike landsdele dikwels droër as die somers is. Die gemiddelde jaarlikse neerslae (550 millimeter in Warskou) is in die suidweste hoër as in die noordooste.

Nasionale simbole

Staatswapen

Die Poolse staatsvlag word deur staatsdepartemente en Poolse skepe op see saam met die wapen gehys

Die Poolse staatswapen (Pools: Godło Polski), die wit arend op 'n rooi agtergrond, is vir die eerste keer in 1228 deur hertog Leszek die Witte as seël gebruik. Vanaf 1241 is dit as nasionale wapen gedokumenteer, en ook die landskleure rooi en wit, wat aanvanklik deur Poolse magte gebruik is, dateer uit die 13de eeu.

Met die stigting van die Volksrepubliek van Pole ná die Tweede Wêreldoorlog is die arend se kroon uit die staatswapen verwyder. Eers met die wysiging van die Poolse grondwet op 30 Desember 1989 is die amptelike staatsnaam weer na "Republiek van Pole" verander en die arend se kroon heringevoer.

Nasionale vlag

Die nasionale vlag van Pole met twee ewe groot horisontale bande in die kenkleure rooi en wit word sedert die stigting van die Tweede Republiek in 1918 gehys. Wit versinnebeeld onskuld en morele integriteit, terwyl rooi die strome bloed simboliseer wat Pole in hulle stryd vir vryheid en die onafhanklikheid van hul nasie gestort het.

Nasionale volkslied

Die nasionale volkslied – "Pole behoort nog steeds vir ewig aan ons" – dateer uit die tydperk van die Poolse Delinge en is 'n getoonsette gedig deur Józef Wybicki (1747–1842) wat moontlik ook die melodie geskryf het. Toe Pole van die Europese politieke landkaart verdwyn het, is dit vir die eerste keer deur Poolse soldate in Italië gesing.

Die staatswapen, nasionale vlag en nasionale volkslied is in die Poolse grondwet vasgeskryf.

Demografie

Demografie
Jaar Bevolking Jaar Bevolking
1370 1 900 000 1950 25 008 000
1582 7 500 000 1960 29 776 000
1634 11 000 000 1970 32 642 000
1800 9 000 000 1978 35 061 000
1846 11 107 000 1988 37 879 000
1911 22 110 000 1990 38 183 000
1921 27 177 000 1995 38 610 000
1931 32 107 000 2000 38 654 000
1938 34 849 000 2005 38 191 000
1946 23 930 000 2009 38 167 329
Data: GUS
Tradisionele kleredragte uit Krakow

Die Pole (Pools Polacy, eenvoud Polak) is 'n Wes-Slawiese volk wat oorspronklik uit 'n verskeidenheid stamme, waaronder Polane, Chorwate, Kujawiërs, Masowiërs en Jadzwinge, ontstaan het. Die oorgrote meerderheid van die Poolse bevolking (38,5 miljoen in Desember 2014) is aanhangers van die Rooms-Katolieke Kerk. Volgens hul dialekte, tradisionele kleredragte en sedes word die Pole in 'n westelike, 'n noordelike en 'n suidelike groep onderverdeel.

Vanweë die groot etniese en demografiese veranderings ná die Tweede Wêreldoorlog is die oorgrote meerderheid van Pole se bevolking etniese Pole (98,7 persent). Daar is net vier beduidende minderhede – Duitsers (veral in die westelike Bo-Silesië rondom die stad Opole, Duits Oppeln), Oekraïners in Suidoos-Pole, Wit-Russe in die noordooste en Litauers naby die grens met Litaue.

As gevolg van laer geboortesyfers en emigrasie het die Poolse bevolking in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu negatiewe groei getoon. In 2008 het die geboortesyfer effens gestyg tot 1,31 kinders per vrou, en danksy die 414 000 geboortes, wat aangeteken is, het die Poolse bevolking vir die eerste keer in elf jaar weer gegroei tot 38,135 miljoen.[22] Volgens die Sentrale Statistieke Buro (GUS) is Pole se bevolking moontlik kleiner as oorspronklik beraam. Gegewens van die sensus in 2011 dui daarop dat die land tans slegs 37,2 miljoen inwoners het.[23]

Die demografiese ontwikkeling was daarnaas sedert die middel van die 20ste eeu deur 'n verstedelikingsproses gekenmerk wat nog steeds aan die gang is. Tans woon sowat 63 persent van die Poolse bevolking in stedelike gebiede, waarby die gebied rondom Warskou, die nywerheidsgebiede rondom Łódź in Sentraal-Pole, die hawestede Szczecin, Gdynia, Gdańsk en Elbląg asook die nywerheidsgebiede van Bo-Silesië in die suide die hoogste bevolkingsdigthede het. In teenstelling hiermee het sommige geweste in Noordoos-Pole minder as tien inwoners per vierkante kilometer.

Polonia

Jong Argentyne van Poolse afkoms tydens 'n optog ter geleentheid van die XXXIV Fiesta Nacional del Inmigrante in 2013

Pole is al meer as 'n eeu 'n emigrasieland. Die grootste emigrasiegolwe het in die tydperk tussen 1900 en 1918 en ná 1945 plaasgevind. So het honderdduisende Pole in die mynbou en swaar nywerhede van die Duitse Ruhrgebied kom werk. Danksy die politieke omwenteling van 1989 het honderdduisende Pole die kans gekry om ten minste tydelik in die buiteland te werk. Byna elke Poolse gesin is sodoende deur migrasie geraak.

So is daar naas die inheemse bevolking van sowat 38 miljoen is ook beduidende groepe van Pole in die buiteland, die sogenaamde "Polonia" wat op altesaam 15 miljoen beraam word (insluitende burgers van Poolse afkoms) – waaronder die Verenigde State (tussen ses en tien miljoen, waarvan baie hulle in Chicago gevestig het), Duitsland (1,5 miljoen), Brasilië (800 000), Frankryk (tussen 700 000 en 1 miljoen) en enkele honderdduisend in die Verenigde Koninkryk en die Republiek van Ierland.

By die Polonia word ook etniese Pole in Rusland, Oekraïne en ander voormalige Sowjet-republieke gereken (altesaam sowat twee miljoen), waarvan Wit-Rusland (400 000), Litaue (260 000) en Oekraïne (200 000).

Die aantal Pole wat na die Verenigde State emigreer het sedert Pole se toetreding tot die Europese Unie (EU) in 2004 merkbaar afgeneem, maar steeds meer Poolse burgers het hulle in ander lidstate van die EU lande gevestig. Volgens 'n verslag, wat deur die Amerikaanse Migration Policy Institute in Washington, DC gepubliseer is, het in 2009 altesaam 1,5 miljoen Pole in EU-lidstate – veral in die Verenigde Koninkryk, Duitsland en die Republiek van Ierland – gebly.[24]

Nasionale minderhede

Die Poolse staat het die regte van nasionale en etniese minderhede (met die uitsondering van etniese Duitsers as grootse etniese minderheid) reeds voor die politieke omwenteling van 1989 erken. Minderhede het onder meer oor hul eie kulturele en ander verenigings beskik, alhoewel hulle aktiwiteite deur die staat dopgehou is. Tans word die regte van minderhede deur die wetgewer en plaaslike owerhede beskerm.

Weens die gebrek aan statistieke oor die Poolse minderheidsbevolkings kan die getalle vir die meeste klein minderhede net beraam word. Hieronder val Kasjoebiërs, Masuriërs, Lemke, Slowake, Tsjegge, Sinti en Roma, Tatare, Russe en Armene.

Duitsers

'n Tweetalige Pools-Duitse straatbord in die woiwodskap Opole

Die bestaan van 'n beduidende Duitse minderheid in Pole is eers ná die politieke omwenteling deur die owerheid erken. Volgens Duitse wetgewing en regspraak is die Duitsers in Pole oorwegend Duitse staatsburgers of nakomelinge van Duitse burgers wat volgens die grensverskuiwing in 1945 'n minderheid in die Poolse staat geword het.

Ná die Nasionaal-Sosialistiese besettingsbeleid in Pole en Oos-Europa het in die oostelike gebiede van die voormalige Duitse Ryk een van die mees dramatiese bevolkingsverskuiwings in die moderne geskiedenis plaasgevind. Reeds voordat die Potsdamse Protokol van 2 Augustus 1945 onderteken was, is sowat 400 000 etniese Duitsers uit gebiede binne die Duitse grense van 1937 verdryf. Saam met mense wat op bevel van Duitse owerhede, die Duitse Weermag of volgens hul eie besluit voor die Rooi Leër gevlug het, het die aantal vlugtelinge uit Pommere, Oos-Pruise, Oos-Brandenburg en Silesië uiteindelik sewe miljoen beloop. Daarnaas is 1,3 miljoen sogenaamde Volksdeutsche (etniese Duitsers) uit Pole binne die grense van 1939 verdryf.

Die Poolse owerheid het ná de Tweede Wêreldoorlog 'n beleid van etniese "verifikasie" ingestel waarvolgens sowat 1,1 miljoen Duitse burgers as etniese Pole "geklassifiseer" is. Hulle het die reg gekry om as "outogtone bevolking" in die land te bly om in die Poolse kultuur geassimileer te word. Daarenteen het die owerheid vanaf die laat 1950's geweier om ander etniese Duitsers wat nog in die land gebly het amptelik as minderheid te erken en vir hulle minderheidsregte soos kulturele outonomie te gun. Hulle is onder druk geplaas om te emigreer.

Tans word die aantal etniese Duitsers in Pole op sowat 570 000 beraam. Volgens die "Ooreenkoms oor Goeie Buurmanskap en Vriendskaplike Samewerking", wat op 17 Junie 1991 tussen die Bondsrepubliek Duitsland en die Republiek van Pole gesluit is, word die regte van die Duitse minderheid deur die Poolse staat beskerm.

Die Duitsers in Pole beskik oor hul eie kulturele en belangegroepe. Aangesien groter dele van die Duits-Poolse bevolking in die gebied rondom die stad Opole (Duits: Oppeln) en in Opper-Silesië saamgetrek is, beskik hulle nou oor die moontlikheid om gebruik te maak van instrumente van plaaslike selfbestuur. Die Poolse verkiesingswette gee bepaalde politieke voorregte aan minderhede – hulle verkiesingskomitees kan ook in gevalle waar hulle minder as vyf persent van die uitgebragte stemme in 'n verkiesing op hulle verenig het, afgevaardigdes na gewestelike rade en die nasionale parlement stuur. So het die Duitse minderheid in die algemene verkiesing van 2001 twee setels in die Sejm verower.

Oekraïners, Wit-Russe en Litauers

Etniese Oekraïners in tradisionele volksdrag

Die aantal etniese Oekraïners in Pole word op tussen 160 000 en 300 000 beraam. Die meeste van hulle is reeds in die Poolse kultuur geassimileer. Die oorspronklike Oekraïnse bevolking van Galisië (Suidoos-Pole) is as moontlike ondersteuners van die Oekraïnse Opstandsleër, wat 'n burgeroorlog teen die Poolse leër gevoer het, in 1947 gedwonge verskuif en dwarsoor die land – veral in die voormalige Duitse gebiede in die noorde en weste – hervestig. Die oorgrote meerderheid etniese Oekraïners (80 persent) is aanhangers van die Geunieerde (Grieks-)Katolieke Kerk.

Die Wit-Russiese bevolking van Pole (tussen 200 000 en 250 000 mense) is in nedersettings naby Białystok in Oos-Pole gekonsentreer. Hulle is oorwegend lede van die outokefale Ortodokse Kerk van Pole wat sy onafhanklikheid van die Moskouse patriarg bewaar het. Verstedelikte Wit-Russe is dikwels in die Poolse bevolking geassimileer.

Die tussen 20 000 en 25 000 Poolse Litauers is in drie Noordoos-Poolse munisipaliteite (Puńsk, Sejny en Szypliszki) gekonsentreer, maar vorm slegs in Puńsk die meerderheid (85 persent van die bevolking). Kleiner groepe etniese Litauers kan in alle groot Poolse stede aangetref word.

Die regte van hierdie nasionale minderhede, waaronder die reg op onderwys in hul eie taal, is in ooreenkomste met die Oekraïne en Wit-Rusland (1992) en in die Pools-Litause Vriendskapsverdrag van 1994 vasgelê.

Jode

Die Museum vir die geskiedenis van Poolse Jode in Warskou

Die geskiedenis van Jode in Pole strek terug tot die 10de eeu en sluit lang periodes van godsdienstige verdraagsaamheid en relatiewe welvaart in, desondanks die grootskaalse volksmoord gedurende die Duitse besetting van Pole vanaf 1939. Die veranderende houding teenoor andersgelowiges en anderssprekendes moet teen die agtergrond van Pole se dikwels dramatiese en traumatiese geskiedenis gesien word. Dit het uitgeloop op 'n etnies en godsdienstig betreklik homogene staat en bevolking soos dit vandag bestaan.

Die Koninkryk Pole was vanaf sy stigting in die 9de eeu een van die mees verdraagsame state in Europa. Met die sogenaamde "Statuut van Kalisz", wat in 1264 deur hertog Bolesław die Vrome van Groot-Pole (1221−1279) ingestel en deur koning Kasimierz die Grote in 1334 bevestig en uitgebrei is, is aan Jode verreikende regte toegestaan. Dit was die basis vir die ontstaan van een van die grootste en lewendigste Joodse gemeenskappe in Europa. Die politieke, kulturele en godsdienstige verswakking van die Pools-Litause Gemenebes deur vreemde invalsmagte en maatskaplike omwentelinge soos die Protestantse Hervorming en die daaropvolgende Rooms-Katolieke Teenreformasie het vanaf die 17de eeu 'n nadelige uitwerking op Pole se tradisionele verdraagsaamheid gehad. Net soos vir ander etniese en godsdienstige minderhede het die situasie vir Poolse Jode begin versleg.

Na die Poolse Delinge en die einde van Pole as onafhanklike staat in 1795 het Joodse Pole onderdane van Rusland, Oostenryk en Pruise geword en is hul regstatus deur hierdie moondhede bepaal. Met die hervestiging van 'n onafhanklike Poolse staat ná die Eerste Wêreldoorlog in 1918 was Pole se meer as drie miljoen Jode steeds een van die grootste Joodse gemeenskappe ter wêreld.

Kort voor die Duitse inval in Pole is die Joodse bevolking op 3,35 miljoen beraam. Die Nasionaal-Sosialistiese beleid om van Pole 'n regsvrye ruimte te maak het die agtergrond vir 'n ongekende stelselmatige massamoord op Poolse elites en Jode gevorm. Vir die vernietiging van Poolse en ander Europese Jode is verdelgingskampe op industriële skaal ingerig. Sowat 90 persent van die totale Joodse bevolking in Pole is uitgewis.

Fundamentalistiese strominge speel steeds 'n rol in Rooms-Katolieke kringe. Sommige Rooms-Katolieke Pole was en is, soos ander Europeërs, nie vry van anti-semitiese houdings nie. Orals in Oos-Europa was Nazi-besetters sinies genoeg om plaaslike etniese spanninge en anti-Joodse gevoelens vir hul vernietigingsbeleid in te span. So het enkele Pole, ondanks hulle haat teen Duitse besetters, 'n aktiewe rol gespeel in die Joodse volksmoord, en het een anti-Joodse pogrom nog ná die oorlog in 1946 in Kielce voorgekom. Baie ander Poolse burgers het egter hul eie en die lewens van hul familielede op die spel geplaas om Jode van die uitwissing deur Duitse Nasionaal-Sosialiste te red.

Toe Poolse studente in 1968, net soos elders in Europa, protes aangeteken het teen die heersende bewind, spesifiek die kommunistiese regering se sensuurmaatreëls en sy ferm optrede teen kritici uit studentegeledere, het die maghebbers teruggeval op ou anti-semitiese retoriek en hul aanvoerders as "sionisties" en "anti-Poolsgesind" bestempel. Ná die Ses Dae-oorlog in Junie 1967 het in verskillende Oosbloklande politiesgemotiveerde antisionisme kop begin uitsteek – Moskou het in die konflik tussen Israel en sy Arabiese buurlande die Arabiese saak gesteun en nie geskroom om oor te gaan tot politieke suiweringe wat Joodse partylede en burgers geteiken het nie.[25] Tussen 1968 en 1972 het sowat 20 000 Joodse burgers onder die druk van anti-Joodse, anti-sionistiese en anti-Israeliese propaganda uit Pole geëmigreer.[26]

In Februarie 2019 het die uitlatings van 'n Israeliese minister wat beweer het dat "Pole Antisemitisme met hul moedersmelk inkry" tot diplomatieke spanninge en proteste in Pole gelei. Die Poolse premier Mateusz Masowiecki het die anti-Poolse bewerings as "rassisties" bestempel.[27]

Tien grootste stede in Pole

Kaart van Pole
Stad in Afrikaans Pools Duits Inwoners
(2015)
Woiwodskap
1 Warskou Warszawa Warschau 1 744 351 Masowië
2 Krakow Kraków Krakau 761 069 Klein-Pole
3 Łódź Łódź Lodz / Lodsch 700 982 Łódź
4 Wrocław Wrocław Breslau 635 759 Neder-Silesië
5 Poznań Poznań Posen 542 348 Groot-Pole
6 Gdansk Gdańsk Danzig 462 249 Pommere
7 Szczecin Szczecin Stettin 409 211 Wes-Pommere
8 Bydgoszcz Bydgoszcz Bromberg 362 286 Kujawië-Pommere
9 Lublin Lublin Lublin 348 120 Lublin
10 Katowice Katowice Kattowitz 308 269 Silesië

Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Die gerekonstrueerde poort en beskermingswal van Biskupin

Die oudste menslike spore, wat in die rivierlandskappe van die Wisła en Odra ontdek is, is sowat 100 000 jaar oud. Die Neandertalers (Homo sapiens neandertalis), wat gebiede in die suide van die land bewoon het, was nog jagters, en eers tussen 8 000 en 5 500 v.C. het mense van die Middelsteentydperk (Homo sapiens sapiens) die eerste permanente nedersettings gestig. Hierdie vroeë beskawing het sy oorsprong in die Donou-gebied gehad.

Tussen die 13de en 3de eeu v.C. het Pole deel van die sogenaamde Lausitz-beskawing gemaak wat vanaf die huidige Sakse in Suidoos-Duitsland tot by die Wisła-rivier uitgebrei het. Aanvalle deur Asiatiese stamme het die bewoners genoodsaak om hulself in groter groepe te organiseer en hul nedersettings te versterk. 'n Voorbeeld van hierdie soort dorpe was Biskupin (tussen 700 en 400 v.C.) wat op 'n eiland gestig is en deur 'n beskermingswal omring was. Navorsers beraam die inwonertal op tussen 1 000 en 1 200.[28]

Vanaf die 6de eeu v.C. is Pole verskeie kere deur Skitiese en Sarmatiese stamme uit die ooste en – vanuit die weste – deur Keltiese en Germaanse stamme aangeval, tog het die invallers hulle dikwels in die verowerde gebiede gevestig en met die inheemse bevolking vermeng. En alhoewel hierdie invallers gereeld verwoesting gesaai het, het hulle nogtans die belangstelling van vreemde handelaars in die Poolse geweste gewek en sodoende handels- en kulturele bande met ander volke aangemoedig. Die oudste spore van die historiese Barnsteenroete, wat vanuit die Oosseekus tot Rome geloop het, word in die 5de eeu v.C. gedateer.

In die eerste eeue van ons tydrekening het Germaanse stamme soos Wandale, Suebe, Gepide en Gote hulle in die gebied van die huidige Pole gevestig. Die Germaanse immigrasie sou egter net 'n kort fase in die vroeë Poolse geskiedenis wees.

Slawiese immigrasie

'n Gerekonstrueerde Slawiese kasteel naby Raddusch (deelstaat Brandenburg, Duitsland)

Romeinse en Bisantynse skrywers uit die 1ste en 2de eeu n.C. soos Tacitus, Ptolemeus, Pomponius Mela, Jordanes en Prokopius van Caesarea het in hul werke reeds na die gebied van die huidige Pole verwys. Vanaf die 6de eeu het Slawiese stamme hulle hier begin vestig en geleidelik tot die vernaamste etniese groep in die land ontwikkel. Hulle vroeë administratiewe setels was goed georganiseer – die destydse regeringstelsel het sowel op stamvergaderings asook die gesag van stamhoofde berus. Voorbeelde vir hierdie soort vroeë Slawiese nedersettings sluit Wislica, Poznań en Gniezno in. Ander nedersettings was oorspronklik handelsplekke soos Szczecin en Wolin of religieuse sentrums soos Góra Sleza. Danksy hul versterkings was hulle in staat om rooftogte van nomadiese stamme uit Asië en van stamme uit die aangrensende Groot-Morawië af te weer.

Omstreeks 850 het die sogenaamde Beierse geograaf in sy "Beskrywings van nedersettings rondom kastele noord van die Donau" na Slawiese stamme verwys wat die Wisła- en Odra-riviergebiede bewoon het: die Goplanie (Goplane), die Dziadostane (Dadosesani), Sleenzani (Slenzane), Bobrzanie (Bobrane), Opolini (Opolane), Vuislane (Wislane) en Ledizi (Ledzice).

Danksy nou handelsbande met ander gebiede het nedersettings langs handelspaaie begin ontwikkel. Ook hier is versterkings gebou om die bewoners teen gewapende konflikte te beskerm, terwyl stamhoofde 'n belangrike administratiewe rol gespeel het. Die Polane het die geweste van Groot-Pole oorheers en teen die middel van die 10de eeu in oostelike (Masowië) en westelike rigting (Lebus en Lausitz, Pools: Ziemia Lubuska en Luzyce) begin uitbrei. Danksy die onderwerping van ander stamme het hulle 'n vroeë staat met 'n doeltreffende administrasie geskep.

Pole onder die Jagiellone-dinastie (1386–1572)

Personele unie met Hongarye

Die Koninkryk van Pole tydens die heerskap van Kazimierz III (1333–1370)

Koning Kazimierz III het in 1339 in 'n ooreenkoms met sy skoonbroer, die Hongaarse koning Karel Robert van Anjou, die Poolse kroon aan Karel se nakomelinge toegesê. In 1342 het Kazimierz se neef, Lodewyk van Anjou, die Hongaarse troon bestyg. Die Poolse en Hongaarse adel het Lodewyk in 1355 as Poolse troonopvolger erken.

Pole is ná Kazimierz se afsterwe onder die regentskap van Lodewyk van Anjou (1370–1382) in 'n personele unie met Hongarye verenig waarby Pole die status van 'n geassosieerde koninkryk gekry het. Lodewyk het in 1374 talle voorregte aan die Poolse adel gegee, waaronder byna volledige belastingvryheid. Hierdie besluit word as die begin van die "Goue Vryhede" van Poolse adellikes beskou. In ruil hiervoor het die Poolse adel die erfopvolging in die vroulike lyn erken – Lodewyk het immers net dogters gehad.

Toe die koning in 1382 oorlede is, is hy deur sy dogter Maria op die Hongaarse troon opgevolg. Die Poolse adellikes het hulle egter teen 'n hernieude personele unie uitgespreek en ná twee jaar se debatvoering die dertienjarige Jadwiga (Hedwig), Lodewyk se jonger dogter, as Poolse koningin benoem. Jadwiga was om politieke redes genoodsaak om haar beplande huwelik met Willem van Habsburg op te sê en het met die Litause vors Jogaila (Pools Jagiełło) getrou.

Unie met Litaue en die begin van die Jagiellone-dinastie

Die Koninkryk van Pole tydens die heerskap van Wladislaus II Jagiello (1386–1434)

Op 14 Augustus 1385 het Pole en Litaue met die Verdrag van Krewo, 'n dorp naby Vilnius, die politieke unie tussen die twee ryke en tegelykertyd ook die Jagiellone-dinastie gestig. Jogaila het ingestem om die Christelike doop te ontvang en ook sy volk te kersten. Litaue het by die Poolse kroon aangesluit sodat Jogaila ná sy huwelik met Jadwiga ook as Poolse koning kon regeer.

Die nuutgestigte ryk het die amptelike naam "Koninkryk Pole en Grootvorstedom Litaue" gedra, 'n verwysing na die regtelike status van die nuwe staat as dinastiese personele unie tussen twee verskillende ryksdele. Die ryk, wat as Pools-Litause Gemenebes bekend sou staan, was nou een van die grootste state in Europa wat van die Oos- tot die Swartsee gestrek het. Sy lang grenslyn het egter ook beteken dat daar nou talle vyandelik gesinde magte was. So het die Duitse Orde, die Moskowiete en Tatare 'n konstante bedreiging vir die nuwe ryk gevorm. Vir Litaue was die unie met Pole 'n kans om die vyande aan sy oostelike grens met Poolse steun af te weer, terwyl Pole sy magsgebied aansienlik vergroot het.

Dinastiese en buitelandse beleid

Vier vraagstukke het in die buitelandse beleid van die Jagiellone-ryk sentraal gestaan: die stryd teen die Duitse Orde, die dinastiese beleid ten opsigte van Hongarye en Boheme, die verdediging van die suidoostelike grensgebiede teen aanvallers, die stryd teen Moskowië en – vir die eerste keer in die Poolse geskiedenis – Swede.

Konflik met die Duitse Orde
Die Slag van Tannenberg (Pools: Grunwald, Litaus: Žalgiris). Historiese opvoering in 2010

Ná 'n lang periode van vrede, wat in 1343 begin het, het in 1409 weer oorlog tussen Pole en die Duitse Orde uitgebreek. Die konflik het in Samogitië ontstaan, 'n gebied tussen die Duitse Ordenstaat en Litaue wat deur die Duitse Ridders beset is. Toe Pole en Litaue 'n opstand teen die besetters ondersteun het, het die Orde Pole aangeval.

Op 14 Julie 1410 het die Duitse Orde se leër naby Tannenberg (Pools: Grunwald) 'n verpletterende nederlaag teen Pools-Litause magte gely waarby die hoogmeester Ulrich von Jungingen en talle ridders gesneuwel het. Ná hierdie oorwinning was Pole-Litaue egter nie in staat om die gebiede van die Duitse Orde te verower nie sodat in 1411 die Eerste Vrede van Toruń tussen die konflikpartye gesluit is. Die oorlogshandelinge het nogtans voortgeduur nadat die Pruisiese state, wat hoë belasting aan die Orde moes betaal, bereid was om hulle aan die Poolse koning te onderwerp. 'n Nuwe gewapende konflik, die Dertienjarige Oorlog, het uitgebreek wat in 1466 met die Tweede Vrede van Toruń besleg is.

Die sogenaamde "Koninklike Pruise" is by Pole ingesluit en het 'n spesiale status in die Pools-Litause staat geniet, die res van die gebied (wat met die latere Oos-Pruise ooreengekom het) het onder die beheer van die Duitse Orde gebly wat sy regeringsetel na Koningsberg verskuif het.

Die Duitse Orde het in die volgende dekades steeds weer militêre alliansies met magte aangegaan wat Pole-Litaue vyandelik gesind was, so met die Huis Habsburg. Eers in 1525 is alle geskille tussen die twee partye besleg. Die Duitse Orde is onder die invloed van Martin Luther gesekulariseer en het as wêreldlike staat (Hertoglike Pruise, later Oos-Pruise) voortbestaan. As Poolse leen het dit later 'n besitting van die Huis Brandenburg geword en sy bande met Pole in 1657 verbreek.

Dinastiese beleid in Hongarye en Boheme
Casimir IV (1456–1516)

Danksy hul geslaagde dinastiese beleid het die Jagiellone op die hoogtepunt van hul mag onder Kazimierz IV Jagiellończyk (Casimir IV) vier krone besit: naas dié van Pole en Litaue ook die krone van Hongarye en Boheme. Die Jagiellone-dinastie het nou die hele gebied tussen die Oossee en Suidoos-Europa geregeer. Boheme en Hongarye het tot in 1516 onder die heerskappy van Jagiellone-heersers gestaan.

Kazimierz IV het sy dinastiese beleid ook na Duitsland uitgebrei – die meeste van sy sewe dogters het met Duitse vorste getrou, waaronder Jadwiga wat in 1475 in Landshut haar befaamde huwelik met Joris (Georg) van Beiere-Landshut gevier het.

Hul aanspraak op die Boheemse en Hongaarse kroon het van die Jagiellone mededingers met die Huis Habsburg gemaak. In 1515 is ooreenkomste in Bratislava en Wene aangegaan waarvolgens die kleinkinders van Maximiliaan I en die kinders van die Boheems-Hongaarse Jagiellone-koning Władysław in die huwelik getree het. Die Habsburg-dinastie het homself verplig om geen verdere steun aan die Duitse Orde en Moskowië te gee nie. Toe Lodewyk II in 1526 in die Slag van Mohács teen die Ottomane gesneuwel het, het Pole sy invloed op Hongarye kwytgeraak en die fokus van Pole-Litaue se buitelandse beleid is na die Ooseegebied verskuif.

Oorloë in die ooste en suidooste

Die Ottomaanse Ryk het vir Pole-Litaue 'n gevaarlike teenstander geword wat sy magsfeer steeds verder na Europa uitgebrei het. Invalle van Ottomane en Krimtatare was 'n konstante bedreiging vir die suidoostelike gebiede sodat 'n nuwe verdedigingstelsel geskep en nuwe setlaars in die streek gevestig is om die Poolse heerskappy te vestig.

Moskowië was 'n tweede vyandelik gesinde moondheid in die ooste. Die Litause ryksdeel was vanaf die vroeë 15de eeu voortdurend in gevegte met die Moskowiete verwikkel. Die mees omstrede gebiede was Roetenië en die streek rondom Smolensk. Litaue het hier groot gebiedsverliese gely. Toe Lyfland onder die heerskappy van Pole-Litaue gekom het, het dit die ryk in konflik met Swede gebring.

Staat en samelewing in die Jagiellone-ryk

Die binnelandse situasie in Pole-Litaue in die 15de en 16de eeu is met 'n treffende spreekwoord omskryf: "Pole is die hel vir boere, die vagevuur vir stadsbewoners, die hemel vir adellikes en die paradys vir Jode."[29]

Vir die boerestand, wat sowat tagtig persent van die bevolking verteenwoordig het, het die lewensomstandighede steeds slegter geword. Hulle het teoreties persoonlike vryheid geniet, maar is gedwing om hoë belasting in natura te betaal en heredienste te lewer. In 1469 en 1543 is lyfeienskap ingevoer. Vanaf 1518 kon boere geen klagte meer by die koninklike appèlhowe indien en was sodoende volledig aan die regspraak van hul grondheer onderworpe.

Die adellike magsuitbreiding het ook die ontwikkeling van stedelike nedersettings belemmer. Terwyl die burgerdom in Wes-Europese stede al lank 'n welvarende klas was, is handel en ambagte in Pole-Litaue stelselmatig geblokkeer. Vanaf 1469 het die Pools-Litause adel doeanevryheid en die reg op vrye skeepvaart op die Wisła-rivier geniet – twee voorregte, wat winsgewende graanuitvoere na Wes-Europa moontlik gemaak het, die ekonomiese vooruitgang van stede egter belemmer het.

Goue Vryheid
Die Republiek (Rzeczpospolita) op die hoogtepunt van sy mag. Goue Vryheid. Die Vrye Koninklike Verkiesing van 1573, deur Jan Matejko

Onder die Jagiellone-dinastie het die adel tot die alles oorheersende klas in Pole-Litaue ontwikkel. Adellikes het hier tussen tien en elf persent van die bevolking verteenwoordig – in vergelyking met slegs 0,3 tot 1 persent in Wes-Europa. Sewentig persent van die oppervlakte van Pole-Litaue was in besit van adellikes wat reeds vanaf die laat 14de eeu verregaande politieke en ekonomiese voorregte geniet het.

Hierdie ongekende mag en invloed is treffend die Goue Vryheid (złota wolność) genoem en het nie net belastingvryheid ingesluit nie. Vanaf 1386 kon alle ampte slegs deur inheemse kandidate beklee word. In 1425 is die Poolse variant van Habeas corpus as beginsel in Pole se regstelsel ingevoer – geen adellike kon sonder formele aanklagte in hegtenis geneem word nie. Adellikes was ook by besluite oor die Poolse belastingwetgewing betrokke.

In ruil hiervoor het die Pools-Litause adel die troonopvolging van een van die seuns van koning Władysław II erken. In 1493 het onder koning Jan I Olbracht die eerste ryksdag of Sejm vergader wat uit die Koninklike Raad (vanaf 1506: Senaat) met biskoppe, ministers, wojewode en kastellane, en die tweede kamer met afgevaardigdes van streeksrade saamgestel is.

Onder koning Aleksander het die adel in 1501 die reg gekry om teen enige monarg op te tree wat van onwettige gedrag beskuldig is. Die adellike mag het hul hoogtepunt vyf jaar later met die Nihil Novi-voorreg bereik – koninklike wetgewing was voortaan aan die goedkeuring van senaat en landelike kamers gebonde. De facto was alle wetgewing nou in hande van die Pools-Litause adel. Die koning het slegs gesag oor regsgebiede uitgeoefen wat vir die adel nie van belang was, waaronder wergewing ten opsigte van stede of Jode.

Nadat die Jagiellone-dinastie uitgesterf het, is die Poolse staat verder geparaliseer nadat konings nie meer deur erfopvolging die Poolse troon kon bestyg nie, maar deur die adel verkies moes word. Aanvanklik was daar konsensus dat 'n kandidaat van die heersende dinastie verkies moes word. Die koning het sodoende verkiesingsbeloftes gemaak om die verkiesing van sy troonopvolger te bevorder. Die koning het intussen de facto net as staatshoof gefungeer, maar was finansieel afhanklik van die adel. Alle belasting moes deur die Sejm goedgekeur word, net soos die besluit oor oorlog of vrede. 'n Vaste staande leër is nie toegelaat nie aangesien dit die koning se posisie sou kon versterk het.

Omstreeks 1500 het die Pools-Litause adelsklas sowat 200 000 lede getel. Hul leuse was: Gelykheid, broederlikheid, Goue Vryheid.

Goue Eeu
Die Unie van Lublin van 1569

Die heerskappy van die laaste twee Jagiellone-konings, Zygmunt I Stary (1506–1548) en Zygmunt II August (1548–1572) het vir Pole 'n bloeitydperk gebring wat reeds in die bewussyn van eietydse waarnemers as "Goue Eeu" beskou is.

Nadat die eerste Jagiellone-heersers nog in oorloë teen die Duitse Orde en Moskowië verwikkel is, het nou 'n fase van politieke stabiliteit aangebreek wat 'n gunstige klimaat vir 'n bloeitydperk vir literatuur en kunste geskep het. Dit het gepaard gegaan met ekonomiese welvaart aangesien Pole-Litaue 'n florerende handel met potas, graan, hout, hennep en vlas kon dryf.

Terwyl in die res van Europa 'n periode van skeurings en godsdienstige oorloë begin het, het Pole-Litaue tot 'n "paradys vir ketters" ontwikkel, soos die Poolse teenhervormer en biskop van Ermland, Jan Hosius, dit beskryf het.[30] Die beginsel van godsdienstige verdraagsaamheid, wat tussen 1517 en 1663 in Pole-Litaue toegepas is, het van hierdie staat saam met die Vorstedom Seweburge 'n uitsondering in Europa gemaak.

Vanaf die stigting van die Poolse staat het Rooms-Katolieke en Ortodokse Christene, Jode, Armene, Moslems en Kareërs hier vreedsaam saamgeleef. Met Lutherane, Calviniste, Boheemse Broeders en die Antitrinitariërs is vier gereformeerde belydenisse by hierdie multi-religieuse samelewing gevoeg. Veral die adel het belang in die gedagtes van Luther en Calvyn gestel, en baie stede het die nuwe Protestantse geloof aanvaar, dikwels nadat die Duitssprekende burgerdom hierby die voortou geneem het. Gdańsk en Toruń was in 1517 die eerste Protestantse stede.

Koning Zygmunt I het edikte teen die Protestantse Hervorming uitgevaardig wat ook deur Zygmunt II August bevestig is. So is 'n verbod op die werke van Luther en die bywoning van Lutherse skole in die buiteland geplaas, maar in die praktyk het dit geen afbreuk aan die adel se belangstelling in die Hervorming gedoen nie. Maar die Reformasie het in Pole-Litaue nooit tot 'n volksbeweging ontwikkel soos byvoorbeeld in Duitsland nie. Die Hervormingsbeweging is hier in die laat 16de eeu verlam.

Ná die Eerste Wêreldoorlog

Józef Piłsudski (1867−1935) het vanaf 1926 tot sy afsterwe in 1935 de facto as diktator geregeer. Alhoewel hy ferm opgetree het teen etnies gemotiveerde politieke aktiviste, het anti-semitisme geen rol in sy beleid gespeel nie

In November 1918, ironies genoeg juis toe die drie grootmoondhede Rusland, Oostenryk-Hongarye en die Duitse Ryk, wat die land van die landkaart laat verdwyn het, ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog almal in chaos versink het, het Pole onder Józef Piłsudski ná 123 jaar verdeling opnuut 'n onafhanklike staat geword.

Tweede Poolse Republiek

Pools-Sowjet-Russiese Oorlog

Poolse magte in Kiëf

Die Pools-Sowjet-Russiese Oorlog tussen 1919 en 1921 word deur historici as die «oer-katastrofe van die Oos-Europese 20ste eeu» beskryf.[31] Die vredesorde, wat daarop gevolg het, was só labiel dat die politieke en etniese spanninge, wat gedurende die konflik opgewerp is, selfs deur die Tweede Wêreldoorlog nie opgelos is nie. Nasionale minderhede en historiese grense bly strydpunte in Oos-Europa.

Gedurende die oorlog het Poolse magte in 1919 groot dele van die Europese deel van Rusland beset, insluitend strategies belangrike stede soos Kiëf (nou Kijif), Minsk en Vilnius. Die Rooi Leër het ondanks die verliese, wat dit in die Russiese Burgeroorlog gely het, uiteindelik met 'n teenoffensief begin waartydens Oekraïne herower is en Sowjet-Russiese die Poolse grens oorsteek het in 'n poging om Warskou in te neem. Die Poolse militaris Józef Pilsudski het in 'n veldslag, wat later as die «Wonder aan die Weichselrivier» en «Europa se redding van bolsjewisme» beskryf sou word, daarin geslaag om die Russiese magte terug te slaan.

Die konflik het honderdduisende menselewens geëis en verwoesting gesaai in groot dele van Oos-Europa. Toe albei oorlogspartye ná die wapenstilstand skuldiges probeer vastrek het, was Jode weer eens handige sondebokke. In altesaam 1 200 pogroms gedurende en ná die oorlog is na ramings sowat 60 000 Joodse burgers vermoor.

Volksrepubliek Pole (1945–1989)

Die Paleis van Kultuur en Wetenskap in Warskou se middestad is deur vele Pole as simbool vir die Sowjet-Russiese oorheersing van hul land beskou. Die amptelike standpunt, wat deur die huidige regeringsparty PiS steeds bekragtig word, is dat daar voor die politieke omwenteling van 1989 geen onafhanklike Poolse regering bestaan het nie. Volgens hierdie sienswyse was ook Duitsland nie in staat om in hierdie tydperk enige geldige ooreenkoms met Pole aan te gaan nie – onder meer betreffende die oorlogskade wat deur Duitsland as aanvalsmag en besetter berokken is
'n Detail van die monument ter herinnering aan skeepswerfwerkers wat in 1970 in Gdańsk doodgeskiet is

Die heropbou ná die Tweede Wêreldoorlog was 'n moeilike taak. Die oorwinnaars het die Poolse staatsgebied met 'n gemiddeld van 300 kilometer weswaarts verskuif, terwyl die Sowjetunie sy eie maatskaplike stelsel op die land afgedwing het. Vir 'n land soos Pole wat homself in kulturele en godsdienstige opsig steeds as deel van die westerse wêreld beskou het, was die integrasie in die Oos-Europese invloedsfeer van Moskou 'n traumatiese ervaring. Die sosialistiese eksperiment sou Pole uiteindelik 'n halfeeu lank in sy tegnologiese en kulturele ontwikkeling belemmer.

Anders as byvoorbeeld in Duitsland of Tsjeggië was daar hoegenaamd geen tradisies van linkse politieke bewegings nie. 'n Klompie lede van die Poolse Kommunistiese Party, wat in 1937 as deelnemers aan 'n kongres na Moskou genooi is, is daar tereggestel. Die Kommunistiese Party van Pole (PPR), wat in 1942 in Moskou in die lewe geroep is, was verdeeld in verskillende groeperings wat mekaar beveg het. 'n Aantal stigtingslede is in 1942 en 1943 onder geheimsinnige omstandighede in die Sowjet-hoofstad vermoor. In 1943 het Władysław Gomułka sekretaris-generaal van die party geword en – uit vrees vir die Duitsers – vir nou politieke bande met die Sowjetunie gepleit, al was hy daarvan oortuig dat Pole sy eie sosialistiese model sou moes volg. Die kommunistiese magsoorname in Pole het dus uiteindelik op opportuniste en emigrante gesteun wat 'n tyd lank in Sowjet-Rusland gebly het. Die geleidelike kommunistiese magsoorname is deur twee Sowjet-Russies oorheersde instellings gesteun – die Poolse Volksleër en die Buro vir Veiligheid.

Stalin se beleid was konsekwent op die bolsjewisering van alle verowerde gebiede gemik – so is die Poolse regering in ballingskap, wat in Londen gesetel was, net soos die Armia Krajowa ("Tuisleër"), wat teen die Duitse weermag geveg het, deur hom slegs as hinderlik vir sy planne beskou.[32] Toe die Duitse uitsaaikorporasie in April 1943 in sy radionuus die ontdekking van massagrafte van duisende vermoorde Poolse offisiers in Katyń vermeld het, het die regering in ballingskap daarop gedring dat die Rooi Kruis die vonds en die presiese omstandighede van die slagting moes ondersoek. Stalin het met die verbreking van diplomatieke betrekkinge gereageer.

In Julie 1945 is die sogenaamde "Regering van Nasionale Eenheid" gevorm waarin naas linkse politici ook voormalige ballinge gedien het. Politieke teenstanders is dikwels uitgeskakel, terwyl die platteland deur burgeroorloë geteister is. Die nuwe bewindhebbers het eers in 1947 daarin geslaag om opposisie-magte te elimineer. In 'n referendum, wat op 30 Junie 1946 gehou is, het die Poolse kiesers die nuwe Oder-Neiße-grenslyn in die weste, die afskaffing van die senaat en die landhervormingsbeleid goedgekeur – veral danksy die suggestiewe vrae het ook baie nie-kommuniste hul toestemming tot die voorstelle verleen. Nogtans het die kommunistiese bewindhebbers die uitslag vervals en dit as 'n toestemming tot hul beleid aangevoer.

Daar was min hoop dat Pole se voormalige westerse geallieerdes Pole van die Sowjet-Russiese juk sou bevry. Die Koue Oorlog het vrese gewek dat Pole se westelike grense weer deur Duitsland bevraagteken sou kon word – in Maart 1946 het Winston Churchill nie net die term "Ystergordyn" In die politieke debat oor Oos-Europa ingevoer nie, maar ook daarop gewys dat Pole se gebiedseise teenoor Duitsland eintlik ongegrond sou wees.[33] Tegelykertyd was dit duidelik dat die Sowjet-Russe Oos-Pole nie aan Warskou sou teruggee nie. Stalin was Pole se enigste waarborg teen 'n hernieude grensverskuiwing en verkleining van die land. Terwyl die westerse bondgenote in baie Poolse kringe as verraaiers beskou is, het die land agter die Ystergordyn versink.[34]

Met die stigting van die Verenigde Poolse Werkersparty in 1948 is die stalinistiese kommunistiese bewind in Pole verstewig. Die landbousektor is gekollektiviseer, die Rooms-Katolieke Kerk onderdruk en kulturele invloede uit die weste uit die openbare lewe verban. Pole was nou maar 'n satellietstaat van die Sowjetunie wat verskeie kere – so in 1956, 1970, 1980 en 1981 – met militêre intervensie gedreig het om 'n bepaalde politieke koers af te dwing.

Die voormalige Duitse gebiede, wat in 1945 onder Poolse administrasie gekom het, was baie keer groter as die gebiedseise wat enige Poolse politikus voor of gedurende die Tweede Wêreldoorlog gemaak het.[35] Oorspronklik sou Duitsland volgens verteenwoordigers van Pole se "Nasionale Demokrasie" slegs Oos-Pruise, Danzig en Opper-Silesië afstaan, maar uiteindelik is Stalin se voorstel deurgevoer. Pole se "terugkeer na die Piastiese lande", soos dit amptelik genoem is, het met die verdrywing van sowat 3,5 miljoen Duitssprekende bewoners gepaard gegaan. Die res van die oorspronklike Duitse bevolking van agt tot nege miljoen het al eerder voor die Rooi Leër gevlug. Honderdduisende het in kampe, as gevolg van bombardemente of mishandelings gesterf.

Pole was opeens 'n nasionale staat sonder groot minderhede en met 'n sterk nywerheidsbasis. Nogtans het die grensverskuiwings en oorlogskade groot moeilikhede ten opsigte van die infrastruktuur veroorsaak – so was die spoornetwerk eintlik met Berlyn as sy sentrum ontwerp – 'n stad wat buite die grense van Pole geleë is.

Uit die vestiging van 'n kommunistiese bewind in 'n land soos Pole met sy Rooms-Katolieke tradisies het verskeie kere swaar konflikte voortgekom – politieke onluste is volgens die maand benoem waartydens hulle uitgebreek het. So is na die betogings van werkers in Poznań, wat in 1956 hardhandig neergeslaan is, in die omgangstaal as "Junie" verwys. Die meer liberale koers van 1956 en 1957, toe Władysław Gomułka (1905–1982) sy visie van 'n "sosialisme met 'n menslike gesig" verduidelik het, sou later as "Oktober" bekend staan. Sodoende is die gevaar van 'n algemene opstand volgens die Hongaarse voorbeeld voorkom, en selfs die kollektivering van Pole se landbousektor is geleidelik gestaak.

Die liberale koers was nogtans kortstondig van duur, en Pole was uiteindelik in 'n lang fase van stagnasie vasgevang. Die laaste jare van Gomułka se bewind word met gebeurtenisse soos die studente-onluste van 1968 (die sogenaamde "Maart") en die Politburo se anti-sionistiese veldtog, wat daarop gevolg het, verbind. 20 000 Pole van Joodse afkoms het geëmigreer.

Al was die ondertekening van 'n ooreenkoms met Duitsland in 1970, wat tot 'n normalisering in die politieke betrekkinge tussen die twee lande sou lei, 'n groot sukses, het drastiese verhogings van voedselpryse kort daarna tot 'n opstand van skeepswerfarbeiders gelei wat bloedig neergeslaan is. Vir Gomułka het hierdie gebeurtenisse die einde van sy politieke loopbaan beteken – hy is as partyleier opgevolg deur Edward Gierek (1913–2001, regeringstyd 1970–1980), 'n voormalige mynwerker wat uit België na sy tuisland teruggekeer het.

Gierek se nuwe visie vir Pole was dié van 'n "tweede Japan" wat hy met lenings uit die weste probeer verwesenlik het. Aanvanklik was daar 'n ekonomiese opswaai – steeds meer Pole kon 'n motor of vakansies in die sosialistiese buiteland bekostig. Die kommunistiese bewind was selfs bereid om kompromisse met die kerk, boere en die opposisie aan te gaan – privaat boerderye is amptelik toegelaat, net soos 'n aantal hervormingsbewegings.

Die ekonomiese opswaai het egter in 1975 – veral weens korrupsie in geledere van die party en die verkwisting van fondse vir sinnelose projekte – tot 'n skielike einde gekom. Proteste van werkers in Radom en Ursus is in Junie 1976 weer eens onderdruk. Intellektueles, wat hulle in die "Komitee vir die Verdediging van die Werkers" (KOR) georganiseer het, het bystand aan arbeiders verleen wat in hegtenis geneem is en die erkenning van fundamentele menseregte geëis.

Die ekonomiese krisis en die verkiesing van 'n Pools-gebore pous het die situasie in die land laat eskaleer. In Augustus 1980 het skeepswerfarbeiders 'n staking uitgeroep. Die kommunistiese bewind was genoodsaak om in die sogenaamde Ooreenkoms van Gdańsk 21 eise na te kom en 'n volledig onafhanklike vakbond te erken – 'n tot nog toe ongehoorde gebeurtenis in 'n sosialistiese Oosblokland.

Die vreedsame rewolusie in Pole het oor vyftien maande voortgeduur waartydens bykans tien miljoen Poolse werknemers (van wie die helfte vroulik was) by die onafhanklike en selfbestuurde vakbond Solidarność onder leiding van Lech Wałęsa aangesluit het. Die outoritêre staat se gesag is sodoende ernstig ondermyn. Met die afkondiging van krygswet deur generaal Wojciech Jaruzelski op 13 Desember 1981 is die demokratiseringsproses skielik stopgesit en 13 000 vakbondaktiwiste en intellektueles in hegtenis geneem. Die kommunistiese regering moes plek maak vir 'n militêre junta.

Die krygswet het tot 'n ernstige ekonomiese en maatskaplike depressie in Pole gelei. Verskeie kere het politieke spannings in straatgevegte opgevlam. Hierdie onluste en politieke moorde, wat deur die veiligheidsdienste gepleeg is, het in die volgende jare sewentig menselewens geëis. Ook ná die opheffing van krygswet in 1983 het die ekonomiese situasie nie merkbaar verbeter nie terwyl die land steeds deur militariste geregeer is. Emigrasiesyfers het aansienlik gestyg. Eers toe Michail Gorbatsjof se nuwe beleid van glasnost en perestroika die ou Sowjet-doktrine van militêre optrede teen hervormingsgesinde Oosbloklande obsoleet gemaak het, het die tyd gekom om die politieke stelsel omver te werp.

Derde Republiek

Gesprekke oor 'n nuwe bedeling het in 1989 om 'n ronde tafel plaasgevind

Gesprekke oor 'n nuwe bedeling, waaraan verteenwoordigers van die Kommunistiese Party, die Rooms-Katolieke Kerk en die onafhanklike vakbond Solidarność deelgeneem het, het in die lente van 1989 begin. Die afgevaardigdes het drie maande lank oor magsdeling gedebatteer om 'n vreedsame oorgang van die kommunistiese diktatuur tot 'n demokratiese stelsel te bewerkstellig – 'n politieke oplossing wat as model vir ander Oosbloklande sou dien.

Op 4 Junie 1989 is verkiesings gehou waarin 'n deel van die parlementêre setels vry verkies kon word. Die Kommunistiese Party het 'n verpletterende nederlaag gely, en nog in Junie is Tadeusz Mazowiecki as die eerste nie-kommunistiese premier in enige Oosblokland ingesweer. Hierdie baanbrekersrol het egter ook beteken dat die proses van politieke hervormings en afrekening met die ou bewind behoedsamer moes wees as in lande soos Tsjeggo-Slowakye en die DDR waar die politieke omwenteling eers later begin het.

Die belangrikste taak vir die Mazowiecki-regering was die verbetering van ekonomiese toestande – kos was gerantsoeneer, daar was 'n tekort aan goedere en buitelandse valuta, en inflasie het die hoogte ingeskiet. Die land was reeds op pad na hiperinflasie toe die Poolse vise-premier Leszek Balcerowicz op 1 Januarie 1990 'n ekonomiese skokterapie begin toepas het: alle belastingverligtings en subsidies is meteens afgeskaf, pryse is aan die bepalingsmeganismes van 'n vrye mark oorgelaat en loon- en salarisverhogings deur nuwe belastings gedemp. Die invoering van 'n positiewe reële rentekoers het die Poolse geldeenheid gestabiliseer, en vrye wisselkoersbewegings is nou ook op die binnelandse mark toegelaat.

In 1993 was Solidarność in die opposisiebanke – as gevolg van partytwis, 'n reeks skandale en verkiesingsprosedures. Al was dit arbeiders wat 'n belangrike rol by die omverwerping van die kommunistiese bewind gespeel het, was dit juis hulle wat die ergste onder die nuwe markekonomie begin ly het nadat verouderde fabrieke gesluit is. In 1993 het drie miljoen Pole (meer as 16 persent van die ekonomies aktiewe bevolking) sonder werk gesit. Tot en met 1997 is Pole nou deur die post-kommunistiese Alliansie van Demokratiese Linksgesindes (SLD) en die Boereparty geregeer. Die nuwe regeringskoalisie het politieke voordeel uit Balcerowicz se hervormings getrek en sy beleid ondanks kritiek voortgesit. Pole is intussen in die buiteland as 'n suksesvolle voorbeeld van politieke en ekonomiese transformasie beskou.

Die amp van staatspresident is sedert 1990 deur Solidarność se sleutelfiguur, Lech Wałęsa, beklee. Een van die grootste suksesse van sy ampstermyn was die ondertekening van vriendskapsooreenkomste met die buurlande. So het die herenigde Duitsland met die grensooreenkoms van 14 November 1990 die Oder-Neiße-grenslyn volkeregtelik erken. In 'n verdere ooreenkoms, wat op 17 Junie 1991 onderteken is, het die twee lande die handhawing van vriendskaplike bande bevestig.

Nóg 'n politieke sukses, Pole se toetreding tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) in 1999, is reeds deur Wałęsa se opvolger, Aleksander Kwaśniewski, 'n post-kommunis en medestigter van die Sosiaaldemokratiese Party van Pole, aangeteken. Ander belangrike organisasies, waarby Pole aangesluit het, is die Wêreldhandelsorganisasie (1995) en die OESO (1996).

Die verkiesings van September 1997 is deur 'n alliansie van konserwatiewe partye, die "Verkiesingsaksie Solidarność" (AWS) gewen wat saam met die liberale "Unie van Vryheid" (UW) 'n koalisieregering onder premier Jerzy Buzek gevorm het. Die nuwe regering het 'n aantal verreikende hervormings ingevoer – so is die aantal woiwodskappe op 1 Januarie 1999 van 49 tot 16 verminder en nuwe wetgewing ten opsigte van die nasionale onderwys-, pensioen- en gesondheidsstelsel deurgevoer. Met oog op die land se toetreding tot die Europese Unie is Pole se staatsfinansies gekonsolideer en sy ekonomie geliberaliseer.

Op die kort termyn het Pole 'n hoë prys vir die regering se hervormingsbeleid betaal – die werkloosheidsyfer het die hoogte ingeskiet en 'n rekordvlak van meer as vyf miljoen bereik. Die Buzek-regering, wat min gedoen het om die publiek oor sy hervormings in te lig, is daarnaas deur politieke twis geruk. Ontevrede kiesers het hulle in die volgende verkiesing van 2001 na linkse partye gewend, terwyl die regeringspartye 'n verpletterende nederlaag gely het: nóg die AWS nóg die UW kon enige setel in die Sejm, die Poolse parlement, verower nie aangesien hulle nie die minimum van agt persent van die uitgebragte stemme op hulle verenig het nie.

PiS en KO

Die Poolse politiek is van 2005 tot 2023 veral oorheers deur twee partye: die PiS van Kaczyński en die KO van Tusk. PiS het veral in die ooste van Pole en in landelike gebiede stemme gekry, waar die konserwatiewe Poolse Katolieke Kerk 'n sterk posisie het. KO is sterk in die weste en in die stede.

In 2005 het die regse PiS-party (Prawo i Sprawiedliwość: Reg en Geregtigheid) die eerste keer die regering gevorm, maar 'n korrupsieskandaal van sy koalisiepartner (Samoobrona, selfverdediging) het tot vroeë verkiesings gelei. In 2007 het Donald Tusk se party KO (Koalicja Obywatelska, die burgerkoalisie) gewen. Hy het tot in 2014 as eerste minister gedien. Tusk se regering het 'n pro-Europese politiek gevoer en in 2014 het hy na Brussel gegaan en het die president van die Europese Raad geword. In die jare 2015–2023 het PiS opnuut aan die mag gekom. Die PiS-regering het 'n euroskeptiese politiek gevoer en begin om die regterlike mag se onafhanklikheid te ondergrawe. Dit het tot konflikte met die EU gelei. Brussel het selfs geld wat vir Pole bestem was geblokkeer. Tusk het uit die Europese politiek na Pole teruggekeer. In Oktober 2023 se verkiesings het 'n koalisie van KO met twee ander partye 'n meerderheid in die Sejm behaal.

Taal

Minderheidstale in Pole:
Goudgeel in die noorde: Kasjoebies
Blou in die suide: Duits
Groen in die noordooste: Litaus
Grys in die ooste: Wit-Russies

Pools is die ampstaal en ook die mees gebruikte taal in Pole, en dit word ook as standaardtaal in die media gebruik.

As Wes-Slawiese taal is Pools nou verwant aan Tsjeggies en Slowaaks asook die twee Sorbiese taalvariante in die Duitse deelstate Brandenburg en Sakse. Nog duideliker is die verwantskap met Kasjoebies, 'n klein Slawiese taal wat naby Gdańsk gepraat word en deur baie Pole ook as 'n dialek van hul eie taal beskou word.

Die sentralistiese struktuur van die Poolse staat, wat tot in die 18de eeu bestaan het, het min ruimte gelaat vir die ontwikkeling van selfstandige dialekte of streektale gelaat, al is die verskille tussen Groot- en Klein-Poolse dialekte vir moedertaalsprekers duidelik waarneembaar. Podhale, 'n klein gewes aan die voet van die Hoë Tatra-bergreeks in Suid-Pole, is die enigste gebied met 'n spesifieke dialek (Góral) wat nou met die plaaslike identiteit verbind is.

Die amper singerige toon van Oos-Pools het met die verskuiwing van Pole se grense en die hervestiging van sprekers in die Wes-Poolse gebiede min of meer verlore gegaan en word slegs nog by ouer bewoners van Wrocław of Gdańsk gehoor.

Met sy groot verskeidenheid klanke, waaronder nasale, en 'n ingewikkelde grammatika met aspekte vir werkwoorde, sewe naamvalle en drie en 'n half taalkundige geslagte is Pools allesbehalwe 'n taal wat maklik en vinnig aangeleer kan word nie. Maar selfs wanneer buitelanders net enkele brokkies Pools kan praat, word dit baie waardeer.

Religie

Johannes Paulus II, gebore Karol Wojtyła, het van 1978 tot 2005 as die Rooms-Katolieke pous gedien en hy was die eerste Pole in dié amp

Die historiese Pools-Litause Gemenebes of Rzeczpospolita was in godsdienstige opsig een van die mees verdraagsame state in Europa, 'n land sonder brandstapels of godsdienstige oorloë en 'n toevlugsoord vir godsdienstige vlugtelinge soos Sefardiese Jode wat uit Spanje verdryf is, Mennoniete wat in Nederland aan onderdrukking blootgestel is en in Pools Olędry (afgelei van "Hollanders") genoem is asook Ougelowiges uit die Russiese Ryk.

Pole is vandag 'n land met 'n sterk Rooms-Katolieke karakter. Meer as 95 persent van die Poolse bevolking is lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk, sowat 80 persent is praktiserende Katolieke. Die meeste aanhangers van Ortodokse kerke – hoofsaaklik etniese Wit-Russe – is in Podlachië saamgetrek. Hier, en in Gdańsk, word die meeste inheemse Moslems (sowat 5 000 gelowiges) aangetref. Hulle is merendeels nasate van Islamitiese Tatare wat hulle vanaf die 17de eeu in Oos-Pole gevestig het. Luthers-Protestantse kerke het minder as 100 000 lidmate, veral etniese Duitsers.

'n Baie klein minderheid van 200 tot 300 persone in Warskou en Wrocław is die Kareërs of Karaïeme, 'n Turkvolk met 'n eie Joodse tradisie. Hulle is nasate van soldate wat in die 14de eeu in die leër van die Grootvorstedom Litaue gedien het.

Ekonomie

Ekonomiese stelsel en beleid

Pole het sedert 1989 'n suksesvolle transformasie van 'n gesentraliseerde en staatsbeheerde beplande ekonomie na 'n markgerigte ekonomie bewerkstellig, alhoewel hierdie proses aanvanklik deur makro-ekonomiese wanbalanse van onder meer hiperinflasie met prysstygings van meer as 100 persent en buitelandse skuldlas bemoeilik is. Die hoofargitek van Pole se beleid van ekonomiese transformasie, Leszek Balcerowicz, het in samewerking met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en buitelandse raadgewers binne 'n relatief kort tydperk die belangrikste voorwaardes vir die funksionering van 'n markgerigte ekonomie geskep.

Die sogenaamde "oorgangsresessie", waarin Pole tydens die eerste fase van transformasie gedompel is, was langer en dieper as verwag, tog het die land as die eerste van Oos-Europa se transformasie-ekonomieë sedert 1992 voortdurende ekonomiese groei ervaar. Die bruto nasionale produk (BNP) het tussen 1989 en 2001 met byna 'n derde gestyg, terwyl die skuldlas verlaag is en die inflasiekoers afgeplat het. In Februarie 2010 het die prysgroei volgens statistieke van Eurostat verstadig tot 3,4 persent.[36] In 2013 het die gemiddelde inflasiekoers verder gedaal tot 0,9 persent[37] en veral danksy dalende pryse vir olie en kos verder verstadig tot 0,1 persent in 2014. In Augustus 2015 is 'n negatiewe jaarlikse inflasiekoers (–0,4 persent) aangeteken.[38]

Werkloosheid (11 persent of 1,563 miljoen werknemers in Augustus 2015[38]), veral onder die jeug (sowat die helfte van alle werkloses is jonger as 35 jaar), bly egter net soos Pole se begrotingstekort sorgwekkend, alhoewel dit merkbaar begin afneem het.

Privatisering en privaatsektor

Moderne wolkekrabbers in Warskou – die simbool vir die vinnige ekonomiese opswaai van die Derde Poolse Republiek sedert 1989

Die Poolse privaatsektor het danksy die stigting van 'n groot aantal klein sakeondernemings (veral in die handel- en ambagsektor) reeds in die vroeë fase van die transformasieproses aansienlik uitgebrei, en danksy die aanpassing van Pole se Handelswetboek in 2001 is marktoetrede vir nuwe ondernemings vergemaklik. In 2001 het die privaatsektor sowat 70 persent van Pole se bruto binnelandse produk (BBP) en meer as 70 persent van alle werkgeleenthede verteenwoordig.

Die privatisering van sowat 10 000 middelgroot en groot staatsondernemings – een van die pilare van ekonomiese transformasie – het aanvanklik stadiger verloop as in ander voormalige sosialistiese ekonomieë. Redes hiervoor was die gebrek aan konsensus oor die mees doeltreffende privatiseringsstrategieë asook kwessies rakende die regtelike prosedures van herprivatisering en die gepaardgaande skadeloosstelling. Tot en met 2001 was sowat 70 persent van alle staatsondernemings geprivatiseer.

Groter maatskappye soos die Poolse Telekom, banke en nywerhede is met behulp van die sogenaamde kapitaalprivatisering in staatsbeheerde aandelemaatskappye omgeskep. Hulle aandele is later gedeeltelik aan strategiese beleggers (dikwels uit die buiteland) verkoop en op die effektebeurs genoteer. Die Poolse staat hou nog steeds aandele van hierdie ondernemings. Tot in laat 2000 is sowat 800 maatskappye volgens hierdie metode geprivatiseer.

Klein en middelgroot ondernemings is meestal regstreeks geprivatiseer en dikwels aan hul bestuurders of werknemers verkoop of tot gemeenskaplike ondernemings van die Poolse staat en (buitelandse) beleggers omgeskep. Middelgroot ondernemings waarin beleggers nie belang gestel het nie is volgens die konsep van massaprivatisering verkoop. Aandele van hierdie ondernemings is opgedeel en aan sogenaamde Nasionale Beleggingsfonds (Narodowny Fundusz Inwestycyjny, NIFs) oorgedra. Die publiek het gratis fonds-aandele ontvang wat later in gewone aandele omgeskep is. Sowat 500 ondernemings is tot 2000 volgens hierdie metode geprivatiseer.

Vroeg in 2000 was daar nog 2 100 staatsondernemings, oorwegend in tradisionele sektore soos mynbou, die staal- en wapenbedryf asook openbare verskaffers (spoorweë, elektrisiteits- en watervoorsiening). Sommige openbare bedrywe soos die skeepsbou is suksesvol geherstruktureer.

Huidige ekonomiese struktuur

Die winkelsentrum Złote Tarasy in Warskou
'n Veeskou in Rudawka Rymanowska
Graanvelde in Toroszyszek naby die grens met Litaue

Tans is Pole die sewende grootste ekonomie in die Europese Unie (EU). Sy huidige ekonomiese struktuur weerspieël die ingrypende veranderings van meer as twee dekades van transformasie en vergelyk intussen gunstig met dié van die oorspronklike vyftien EU-lidstate. Die Poolse regering se beleid van ekonomiese liberalisering en deregulasie behels onder meer die privatisering van staatsondernemings, al het die inkomste uit sulke transaksies intussen merkbaar verminder – van byvoorbeeld 4,4 miljard Złoty in 2013 tot slegs een miljard Złoty in 2014. Die grootse lansering van 'n privaat nasionale onderneming ooit op die Warskouse Effektebeurs was dié van Energa S.A. in Gdańsk in Desember 2013 ter waarde van 2,2 miljard Złoty.

Die dienstesektor dra nou byna 64 persent tot die BBP by, terwyl die nywerheidsektor en boubedryf se gesamentlike aandeel tot 32,6 persent verminder het. Die landbousektor dra 3,4 persent tot die Poolse BBP by. Die privaatsektor, wat 80 persent van alle Poolse werknemers in diens het, se aandeel beloop sowat 75 persent.[39]

Beduidende bedrywe met 'n lang tradisie sluit voedselverwerking, energievoorsiening, mynbou en swaar nywerhede, masjienbou, elektrotegniese en elektroniese nywerhede, motorvervaardiging en tekstielvervaardiging in. Die tersiêre sektor toon die snelste groei (5,8 persent in 2008).[40]

Landbou

Sowat die helfte van die land se oppervlakte (16 miljoen hektaar) word vir landboudoeleindes gebruik. 39 persent van die Poolse bevolking woon in plattelandse gebiede, en die landbousektor verteenwoordig sowat 16 persent van alle werkgeleenthede. Al het die land- en bosbousektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk in die 21ste eeu steeds kleiner geword (4,4% in 2000, 3,5% in 2010) bly die landbousektor 'n belangrike ekonomiese bedryf vir die Poolse samelewing en die arbeidsmark.[41]

Die Poolse landboubedryf word deur heterogene strukture gekenmerk met 'n opvallend hoë persentasie klein boerderye. Sowat 70 persent van die sowat 2,3 miljoen boerderye in 2010 is klein plase op minder as 5 hektaar, 32 persent is klein familieboerderye op plase met minder as een hektaar. Slegs sowat een persent van alle plase beslaan meer as 50 hektaar. Sodoende is landbou in Pole vir sowat die helfte van alle boere bestaansboerdery. Opbrengste word meestal deur swak grondgehalte beperk wat nie gunstig met die gemiddelde van die Europese Unie (EU) vergelyk nie. Nogtans is daar genoeg suksesvolle boerderye en voedselverwerkingsbedrywe wat van Pole – dikwels in samewerking met internasionale vennote – sedert 2003 'n netto-uitvoerder van agrariese produkte gemaak het.

Met 'n totale produksiewaarde van sowat 19 miljoen € is Pole tans die sewende grootste produsent van agrariese produkte, waarby vleis (veral varkvleis), melk, graan (koring en rog), raapsaad, vrugte en groente 'n sentrale rol speel. Pole was daarnaas in 2010 die tweede grootste aartappelprodudsent in die EU na Duitsland en die grootste appelprodusent met sowat 2,3 miljoen ton (nog voor Italië met 2,2 en Frankryk met 1,65 miljoen ton).

In 2010 was 2,3 miljoen mense of 16 persent van die totale mannekrag in die landbousektor werksaam. Landbou was egter net vir twaalf persent van die ekonomies aktiewe bevolking die enigste bron van inkomste. Vanweë die swak infrastruktuur in landelike gebiede en die gebrek aan alternatiewe werkgeleenthede speel boerdery op klein plase in baie dele van die land 'n belangrike rol as verskaffer van 'n soort veiligheidsnet.

Onder meer danksy die EU-bystand was Pole in staat om 'n meer doeltreffende landbousektor te ontwikkel wat steeds meer agrariese produkte uitvoer. Die handeloorskot het in 2010 2,6 miljard € beloop. Duitsland was die belangrikste handelsvennot vir agrariese uitvoere (3,1 miljard € of 9,8% van alle uitvoere na dié land).

Groot vordering is met organiese boerdery gemaak. Toe Pole in 2004 by die EU aangesluit het, was daar minder as 4 000 organiese boerderye. In laat 2010 het die aantal organiese plase gegroei tot 20 956 met 518 527 hektaar (2,8 persent van die totale landbou-oppervlakte). Die aantal verwerkingsbedrywe het van 55 tot 293 gegroei. Organiese landbou word tans nog deur ontoereikende bemarkingstrukture geknel. Daarnaas maak nie net gesertifiseerde plase nie, maar ook talle klein boerderye gebruik van tradisionele landboumetodes sonder chemie en industriële tegnologie. Sodoende word 'n hoë gehalte van landbouprodukte gewaarborg. Die totale omset met organiese produkte het in 2008 sowat 86 miljoen € beloop. Die gemiddelde organiese boerdery het oor 'n plaas met 25 hektaar beskik, teenoor tien hektaar in die konvensionele landbousektor.[42]

Toerisme

Jaarliks bring sowat veertien miljoen toeriste 'n besoek aan Pole. Dit maak van die land die 14de gewildste toerismebestemming ter wêreld.[43]

Buitelandse handel

Volksrepubliek Pole

Kort ná die Tweede Wêreldoorlog was Pole 'n oorwegend agrariese ekonomie sonder betekenisvolle handelsbande met die nywerheidslande van Sentraal-Europa. Sy uitvoere het hoofsaaklik uit landbouprodukte bestaan.

Die grensverskuiwing in 1945 het Pole se industriële basis versterk, toegang tot nuwe natuurlike hulpbronne verleen en sou ook nuwe geleenthede gebied het om 'n meer uitvoergerigte ekonomiese beleid te volg. Die inlywing by die Sowjet-Russiese magsgebied het egter beteken dat Pole die Sowjet-model van industriële ontwikkeling moes volg waarvolgens die industriële agterstand uit eie krag ingehaal moes word – met verreikende gevolge vir Pole se buitelandse handel.

Die ekonomiese strategie, wat aan die Sowjet-model verbonde was, het voorkeur aan die ontwikkeling van swaar nywerhede gegee, terwyl invoere van vervaardigde goedere stapsgewys deur 'n herstrukturering van die nywerheidsektor vervang sou word. Uitvoere was slegs daarop gemik om buitelandse valuta vir invoergoedere te verdien wat vir die industrialisering noodsaaklik was, maar nie plaaslik beskikbaar was of vervaardig kon word nie. Buitelandse lenings is soveer moontlik vermy, net soos ander eksterne invloede wat moontlik 'n nadelige uitwerking op die ontwikkelende sentraal-beplande ekonomie in Pole sou kon hê.[44]

Buitelandse handel ná 1989

Pole se in- en uitvoere het in die vroeë 21ste eeu dinamies ontwikkel en gegroei. Die buitelandse handel het 'n klemverskuiwing van Pole se tradisionele Oos-Europese handelsvennote na EU-lidstate getoon: in 2008 was 77,5 persent van alle uitvoere vir die EU-mark bestem, en ook 61,4 persent van Pole se invoere het uit die Europese Unie gekom. Duitsland het tot Pole se beduidendste handelsvennoot ontwikkel – die handel met dié land het in 2008 25 persent van Poolse uitvoere en 23 persent van sy invoere verteenwoordig.

As gevolg van die internasionale ekonomiese krisis het Pole se uitvoere in 2009 met 17,1 en die invoere selfs met 26,3 persent verminder. Die tekort op die Poolse handelsbalans het 8,7 miljard € beloop.[40]

Politiek

Staatsopbou

Die Republiek van Pole word in die grondwet van 1997 as 'n parlementêre demokrasie met presidiale elemente gedefinieer wat aan die beginsels van 'n regs- en welvaartsstaat gebonde en neutraal ten opsigte van wêreldbeskouings is. Hierdie grondwet is gedurende 'n omvattende proses van politieke transformasie saamgestel. Ná die politieke omwenteling van 1989 – met 'n ronde tafel-forum, die eerste half-vrye parlementêre verkiesings en die vorming van 'n regering onder leiding van Tadeusz Mazowiecki, die eerste nie-kommunistiese eerste minister in oostelike Sentraal- en Oos-Europa ná die Tweede Wêreldoorlog – is die vroeëre vakbondleier Lech Wałęsa in 1990 as staatspresident verkies. Die eerste volledig vrye algemene verkiesing is op 27 Oktober 1991 gehou. Die Poolse grondwet is in 1992 en 1993 omvattend hersien, en op 17 Oktober 1997 het 'n nuwe grondwet van krag geword.

Staatsorgane

Die huidige staatspresident van Pole, Andrzej Duda, is in Mei 2015 as opvolger van Bronisław Komorowski verkies

Die hoogste staatsorgane is die staatspresident, die Ministerraad en die Poolse parlement, die Sejm. Die Poolse staatspresident word vir 'n ampstermyn van vyf jaar regstreeks deur die volk verkies en beskik oor sekere uitvoerende bevoegdhede: hy is die opperbevelhebber van die Poolse weermag en speel ook 'n rol in die formulering van Pole se buitelandse beleid. Hy het die reg om wetsontwerpe te veto. 'n Drievyfde-meerderheidstem in die Sejm is nodig om 'n presidensiële veto te verwerp.

Die Ministerraad of regering formuleer die land se binne- en buitelandse beleid. Dit word met 'n algehele meerderheid deur die parlement verkies en kan slegs deur 'n mosie van wantroue omvergewerp word. Die Ministerraad se voorsitter, die eerste minister, kan ministers benoem en afdank.

Die Poolse tweekamer-parlement bestaan uit die Sejm met 460 afgevaardigdes en die Senaat met 100 senatore. Die Sejm word op proporsionele grondslag verkies, die Senaat op die basis van eerste-oor-die-wenstreep (relatiewe meerderheid). Partye moet 'n minimum van vyf persent van alle uitgebragte stemme op hulle verenig (koalisies van partye wat vir 'n verkiesing gevorm word benodig tenminste agt persent). Partye, wat etniese minderhede verteenwoordig, is nie aan hierdie beperking onderworpe nie – so beskik die Duitse minderheid tans oor een setel in die Sejm.

Met die administratiewe hervormings, wat op 1 Januarie 1999 in werking gestel is, is die aantal administratiewe geweste of woiwodskappe van 49 tot 16 verminder. Hulle word verder verdeel in altesaam 379 administratiewe distrikte (powiat). Die laagste vlak in die administratiewe hiërargie is munisipaliteite.

Die woiwodskappe word deur 'n dubbel-administrasie gekenmerk – die gewestelike parlement of Sejmik, wat regstreeks verkies word, beskik oor bevoegdhede ten opsigte van belasting. Sy lede verkies die woiwodskaps-maarskalk (Pools: Marszałek) as gewestelike regeringshoof wat die finansiële gesag uitoefen (die woiwodskappe se begroting word deur die sentrale regering gefinansieer) en as voorsitter van die Zarząd of gewestelike regering fungeer. Daarnaas is daar 'n sogenaamde Wojewoda as verteenwoordiger van die sentrale regering.

Woiwodskappe

Die woiwodskappe
Nommer Afrikaanse naam Poolse naam Nommer Afrikaanse naam Poolse naam
01 Ermland-Masurië Warmińsko-Mazurskie 09 Lublin Lubelskie
02 Groot-Pole Wielkopolskie 10 Masowië Mazowieckie
03 Heilig Kruis Świętokrzyskie 11 Neder-Silesië Dolnośląskie
04 Subkarpate Podkarpackie 12 Opole Opolskie
05 Klein-Pole Małopolskie 13 Podlachië Podlaskie
06 Kujawië-Pommere Kujawsko-Pomorskie 14 Pommere Pomorskie
07 Lebus Lubuskie 15 Silesië Śląskie
08 Łódź Łódzkie 16 Wes-Pommere Zachodniopomorskie

Politieke situasie

Donald Tusk dien sedert 13 Desember 2023 as eerste minister van Pole

Sedert Augustus 2015 beklee die konserwatiewe politikus Andrzej Duda die amp van staatspresident.

Ná die algemene verkiesing op 15 Oktober 2023 is die konserwatiewe party Reg en Geregtigheid (PiS) met 35,4 persent van die uitgebragte stemme die sterkste party in die land, maar weens die gebreek aan 'n koalisie vennoot vorm dit die amptelike opposisie. Die konserwatief-liberale koalisie Burgerplatform (PO) vorm tans die regering met Donald Tusk as eerste minister.

Die linkse politieke spektrum is tans verdeeld en in vergelyking met ander Europese lande opvallend swak. Verregse en protespartye speel geen noemenswaardige rol nie.[45]

Buitelandse beleid

Die nuwe regering onder die eerste minister Donald Tusk, wat in November 2007 ingehuldig is, het in sy nuwe beleid teenoor Duitsland, Rusland en die Europese Unie (EU) die belangrikheid van goeie betrekkinge beklemtoon. Ná die politieke spanninge van die afgelope jare is die betrekkinge met Berlyn in 2008 as uitstekend beskryf.[46]

Alhoewel Pole die Russiese optrede in Georgië skerp gekritiseer het, is daar steeds 'n opregte behoefte om 'n dialoog met die Russiese bewindhebbers te voer. Die Poolse beleid teenoor die EU is proaktief en konstruktief, tog bevorder die land sy eie behoeftes en belange uitdruklik. Poolse veiligheidsbelange word deur die NAVO-lidmaatskap en noue samewerking met die Verenigde State (onder meer ten opsigte van die voorgestelde missielafweersisteem in Pole en Tsjeggië) verseker.

Kuns en kultuur

Letterkunde

Die Poolse literatuur het geleidelik uit Latynse geskrifte begin ontwikkel wat hoofsaaklik uit jaarboeke, traktate en kronieke bestaan het. Die 11de eeuse lofsang van Maria (Bogurodzica of "Moeder van God"), wat in 1408 vir die eerste keer neergeskryf is, word as die oudste literêre monument van die Poolse taal beskou. Kerklike geskrifte soos preke en biografieë van heiliges het die Poolse literatuur daarna nog eeue lank oorheers. Pools het sodoende Latyn as kerktaal begin vervang, en met die uitvinding en verspreiding van die drukpers in die 15de en 16de eeu het Pools ook as nasionale literêre taal begin fungeer.

Romantiek en Messianisme

Met die Derde Poolse Deling van 1795 het Pole van die Europese landkaart verdwyn, en voortaan was die Rooms-Katolieke godsdiens en die Poolse literatuur die enigste bewaarders van sowel taal asook kulturele en nasionale identiteit. Patriotiese, godsdienstige en romantiese gevoelens het tot 'n nuwe literêre stroming versmelt wat die "lang 19de eeu" – die literêre periode tussen 1795 en die herstigting van Pole vas 'n onafhanklike staat ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die periode van ontworteling en oorheersing het tot in die middel van die 19de eeu 'n beslissende invloed op die werk van Pole se drie romantiese barde Adam Mickiewicz (1798–1855), Juliusz Słowacki en Zygmunt Krasiński uitgeoefen wat in hul Poolse "Messianisme" Jesus Christus se pad van lyde aan dié van die Poolse nasie gelykgestel het. Vir hulle sou Pole 'n beslissende rol in die stryd teen tirannie en oorheersing deur vreemde magte speel. Die drie barde het hul maatskaplike rol as leiers in die nasionale stryd om onafhanklikheid aan die nuwe konsep van literatuur te danke wat as plaasvervanger vir nie-bestaande openbare instellings gedien het.[47]

Dit was veral Mickiewicz wat met sy werk uitdrukking aan die gevoelens van 'n hele volk gegee en sodoende tot die beduidendste verteenwoordiger van die literêre Poolse Romantiek ontwikkel het. Een van sy hoofwerke, Pan Tadeusz (1834), word as Pole se nasionale heldedig beskou.

Naoorlogse literatuur

Stanisław Lem in 1966

Die naoorlogse Poolse literatuur behandel 'n groot verskeidenheid onderwerpe wat van Sosialistiese realisme (Jerzy Andrzejewski) tot wetenskapsfiksie (Stanisław Lem) strek. Aanvanklik het die verwerking van die Tweede Wêreldoorlog groot aandag onder skrywers geniet om dan geleidelik na die nuwe werklikheid oor te skakel. Die Nobelprys vir Letterkunde is tot hede vier keer – in 1905, 1924, 1980 en 1996 – aan Poolse skrywers toegeken.

Die politieke ontdooiing, wat op die afsterwe van Josef Stalin in Maart 1953 gevolg het, het 'n nuwe generasie skrywers na vore laat tree, waaronder onkonvensionele denkers soos Stanisław Jerzy Lec (1909–1966) wat met vertalings van sy werke (Unfrisierte Gedanken, 1959) ook op Westerse markte soos Duitsland sukses behaal het. Stanisław Lem (1921–2006) word as een van die beduidendste verteenwoordigers van die wetenskapsfiksie-genre gereken.

Die skrywer Czesław Miłosz (1911–2004) het sy geboorteland nog gedurende die Stalinistiese tydperk in 1951 verlaat om hom eers in Frankryk en daarna (in 1960) in die Verenigde State te vestig. Ná die ongekende reeks van stakings gedurende die somer van 1980 is die Nobelprys vir Letterkunde aan Miłosz toegeken – as 'n skrywer wat "kompromisloos uitdrukking aan die mens se posisie in 'n wêreld van swaar konflikte" gegee het. Sy gedigte, romans en verhale kon in Pole eers ná die politieke omwenteling van 1989 vrylik verkoop word, net soos die romans van Andrzej Szczypiorski (1928–2000) of die liriek van Wisława Szymborska (1923–2012). Verbode werke is nogtans heimlik aangebied – hierdie onwettige verspreiding van literatuur het in Pole as drugi brieg of "tweede omloop" bekend gestaan. In 1996 is Wisława Szymborska se digkuns met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon.

Ander beduidende verteenwoordigers van Pole se naoorlogse literatuur is Witold Gombrowicz, Sławomir Mrożek, Miron Białoszewski, Kazimierz Brandys, Ernest Bryll, Zbigniew Herbert, Marek Hłasko, Paweł Huelle, Ewa Lipska, Jan Parandowski, Jerzy Pilch, Julian Przyboś, Tadeusz Różewicz, Władysław Terlecki, Jan Twardowski, Ryszard Kapuściński, Stefan Chwin, Leszek Kołakowski, Andrzej Stasiuk, Olga Tokarczuk (aan wie die Nobelprys vir Letterkunde van 2018 toegeken is), Dorota Masłowska en Jerzy Prokopiuk, asook Karol Wojtyła wat as Pous Johannes Paulus II bekendheid verwerf het.

Skilderkuns en fotografie

Jan Matejko: Die Slag van Grunwald. Olie op doek, 1878, Nasionale museum, Warskou
Witkacy: Nova Aurigae. Pastelkleur op blou papier, 1918, Literatuur-museum, Warskou

Meer nog as die letterkunde het die skilderkuns in die "lang 19de eeu", toe die Poolse volk van sy staat en selfregering ontneem is, 'n sentrale rol in die nasionale strewe gespeel. Skilders het hul kuns as 'n patriotiese missie beskou en hulle op nasionaal-romantiese en heroïese motiewe begin toespits. Werke soos die uitbeelding van die Kościuszko-opstand in 1794 deur Piotr Michałowski (1800–1855) en Jan Matejko (1838–1893) se monumentele Slag van Grunwald het ook internasionale bekendheid verwerf. Volgens Matejko, die vernaamste Poolse skilder uit hierdie periode, kon kuns ook as 'n soort "wapen" beskou word en sou daar ook geen skeiding tussen patriotisme en kuns kon wees nie.[48]

Een van Matejko se skoliere, Stanisław Wyspiański (1869–1907), het hom as skilder, skrywer, dramatikus, tekenaar en regisseur bekwaam en met sy werk die Modernisme in die Poolse kuns ingelui. Die modernisering van die Poolse toneel- en gebruikskuns word aan sy naam verbind, terwyl hy as skilder stylelemente van die Jugendstil en Simbolisme met elemente uit die tradisione Poolse volkskuns versmelt het. Die binneversiering, wat hy vir die Fransiskane-kerk in Krakow ontwerp het, word steeds by die indrukwekkendste voorbeelde van moderne dekorasiekuns gereken.[49]

Naas Wyspiański was ook Stanisław Ignacy Witkiewicz (1885–1939), beter bekend onder sy kunstenaarsnaam Witkacy, in hierdie tydperk in 'n verskeidenheid kunsgebiede werksaam, waaronder dramakuns, kunsteorie, skildery en fotografie. Volgens sy eie teorie van "suiwer vorme" het hy surrealisties-ekspressiewe komposisies en uitbeeldings van apokaliptiese visioene geskep, dikwels onder die invloed van dwelmmiddels. Toe hy in 1939 selfmoord gepleeg het, het sy nalatenskap naas sy skilderkuns en dramatiese werke ook 'n beduidende versameling van eksperimentele fotografieë ingesluit.

Die politieke liberalisering of "politieke dooiweer" wat teen die middel van die 1950's op die Stalinistiese periode gevolg het, het ook 'n gunstige klimaat vir eksperimentele oopheid in die kuns geskep. 'n Kenmerkende verskynsel van hierdie stroming was die Poolse plakkaatkuns, 'n simbiose tussen gebruiks- en beeldende kuns, met Henryk Tomaszewski (1914–2005) as sy vernaamste verteenwoordiger. Die Poolse skool van plakkaatskool het vinnig internasionale erkenning geniet en met die opening van die plakkaatmuseum in Warskou (1968) en die plakkaat-biënnale, wat sedert 1966 die ontwikkeling van die eietydse plakkaatkuns belig, 'n vaste plek in die Poolse kulturele lewe verower. Ook jonger generasies van Poolse kunstenaars soos Piotr Młodożeniec (*1956) en Marek Sobczyk (*1955), wat onder hul gemeenskaplike logo Za Fryki moderne plakkaatkuns skep, vind inspirasie by hierdie kunsstroming.

Die fotograaf Ryszard Horowitz (*1939), 'n oorlewende van die Auschwitz-verdelgingskamp wat later na die Verenigde State geëmigreer het, word as een van die belangrikste fotokunstenaars van die 20ste eeu beskou en is verskeie kere as die beste Amerikaanse fotograaf aangewys. Die bekendste verteenwoordiger van moderne Poolse beeldhoukuns, Magdalena Abakanowicz (*1930), geniet internasionale erkenning vir haar skulpture, muurtekstiele en kunsinstallasies.

Boukuns

Corazzi: Die Groot Skouburg (Teatr Wielki) in Warskou
Die 13de eeuse Malbork-kasteel het as die Duitse Ridderorde se hoofkwartier gedien
Artushof (Dwór Artusa) in Gdańsk

Die vroegste menslike behuisings in Pole is van verganklike materiaal soos hout gebou wat min spore gelaat het. 'n Noemenswaardige uitsondering is die voor-Slawiese versterkte dorp Biskupin uit die 7de eeu v.C.

Stene as boumateriaal is eers saam met die Christendom in die 10de eeu in Pole ingevoer. Enkele voorbeelde van middeleeuse boukuns uit hierdie periode het bewaar gebly. In die volgende eeue is die argitektoniese style van Wes-Europa oorgeneem, soms met plaaslike variasies. So het in die periode tussen die laat 10de en die middel van die 13de eeu steengeboue in die Romaanse styl ontstaan wat deur funksionaliteit en eenvoudige ontwerpe gekenmerk is – met ronde boë, halfsirkelvormige apses en simmetriese vorme. Die meeste voorbeelde van Romaanse boukuns was sakraal van aard – dit is meestal kerkgeboue wat in hierdie kategorie val.

Die Gotiese styl is vanaf die eerste helfte van die 13de eeu oorgeneem, en die vroegste voorbeelde van Hoog-Gotiese boukuns dateer uit die vroeë 14de eeu. In hierdie periode is stene as boumateriaal geleidelik deur bakstene vervang en het ontwerpe steeds gewaagder en indrukwekkender geword – statusgeboue uit hierdie tyd sluit sowel kerke asook wêreldlike burgerhuise, kastele en raadsale in.

'n Meer gesofistikeerde, dekoratiewe en fyner styl is in die 16de eeu uit Italië oorgeneem: die Renaissance-styl het anders as die Gotiese boukuns minder belang in vertikale konstruksies en groot volumes gestel. Die klemtoon het eerder op perfekte proporsies en netjiese visuele voorkoms geval, en mure is nou byna altyd gepleister. Boumeesters het aandag aan klein besonderhede en versierings geskenk. 'n Groot aantal Renaissance-geboue in Pole het bewaar gebly, al is baie van hulle volgens die opeenvolgende barokstyl omgebou.

Barokgeboue met hul weelderige versierings, veral kerke en adellike paleise met pragtige binneruimtes, het vanaf die 17de eeu ontstaan. Die bekendste barokboumeester in Pole was Tylman van Gameren, 'n boorling van Nederland wat hom in die land gevestig en talle geboue ontwerp het. Die barokstyl het sy hoogtepunt in die 18de eeu met Frans-geïnspireerde rokoko-boukuns bereik, maar invloed in Pole uitgeoefen aangesien die land destyds 'n periode van ekonomiese en politieke chaos beleef het.

Die argitektoniese ontwikkeling in die 19de eeu kan as 'n soort terugblik op die verlede beskryf word sodat die heersende boustyle almal die voorsetsel "neo-" gekry het: Neo-Renaissance, Neogotiese en selfs Neo-Romaanse boustyl. Die belangrikste stroming was nogtans die Neoklassisme wat sy vormetaal aan die klassieke oudheid ontleen het. Weelderige barok- en rokoko-boukuns moes plek maak vir Griekse en Romeinse stylelemente. Boumeesters het kerkgeboue in die styl van Romeinse pantheons en monumentele paleise geskep. Die aktiefste van hulle was die Italiaans-gebore Antonio Corazzi wat massiewe neoklassieke geboue soos die Groot Skouburg in Warskou ontwerp het.

In die tweede helfte van die 19de eeu het die eklektisistiese boustyl, wat talle van sy elemente aan vroeëre stylperiodes ontleen het, sy invloed ook in Pole laat geld. Nogtans is daar min noemenswaardige voorbeelde van hierdie styl in die land. Art Nouveau as vroeë 20ste eeuse styl het met sy nuwe dekorelemente spore in onder meer Kraków en Łódź gelaat.

Ná 'n kort herlewing van neo-klassisisme ná die Eerste Wêreldoorlog het funksionalisme as nuwe oorhersende stroming geseëvier. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die heropbou van stede en dorpe sentraal gestaan. Die prestasies van Poolse boumeesters was indrukwekkend as 'n mens die grootskaalse verwoesting in gedagte hou. Die kommunistiese bewind het Sosialistiese realisme as nuwe argitekontiese styl geforseer, waarby die Paleis van Kultuur en Wetenskap in Warskou – 'n geskenk van Josef Stalin – as die mees monumentele voorbeeld beskou word.

Vanaf die 1960's is die heersende argitektoniese stromings van Europa oorgeneem. Die proses van verstedeliking, die stygende vraag na residensiële behuising ern 'n tekort aan fondse het min ruimte vir nuwe argitektoniese inspirasies gelaat. So het, net soos in ander Oosbloklande, uitgestrekte satellietstede met monotone woonstelblokke rondom die historiese stadskerne ontstaan. Eers met die val van kommunisme in 1989 het die prentjie weer begin verander.

Wetenskap en navorsing

Kopernikus-wetenskapsentrum in Warskou

Die toetreding tot die Europese Unie (EU) het gepaard gegaan met ingrypende veranderinge in die Poolse wetenskapsbedryf en tersiêre onderwyssektor. So het die departement van wetenskap en hoër onderwys 'n reeks hervormings ingestel om die land se integrasie in EU-navorsingstrukture te vergemaklik en te versnel. So is die outonomie van sowat 130 staatsbeheerde hoër onderwysinstellings uitgebrei. Naas universiteite is die Poolse Akademie van Wetenskappe met altesaam 79 navorsingsinstellings tans die grootste wetenskapsinstelling wat deur die staat beheer word.

Die wetenskapsektor sal 'n belangrike bydrae tot Pole se omvattende ekonomiese ontwikkelingstrategie Pole 2030 lewer. Dié plan maak voorsiening vir 'n kennisgebaseerde ekonomie met intelligente spesialisering (smart specialisation) waarby bestaande navorsingsvelde, waarin Poolse wetenskaplikes besonder goed presteer, as basis vir die uitgebreide samewerking tussen universiteite, navorsingsinstellings en ondernemings in die privaatsektor sal dien. Sogenaamde sentra van uitmundendheid geniet hierby besondere aandag; hulle sal onder meer die ontwikkeling en bemarking van innovatiewe tegnologieë en produkte bevorder.

Belangrike strategiese navorsingsvelde in Pole sluit onder meer die gesondheidswese en omgewingsbewaring, landbou en voeding, staat en samelewing, veiligheid, nuwe materiale en tegnologieë, inligtingstegnologieë, energie en energiebronne en vervoerinfrastruktuur in.[50]

Sport

Die Nasionale Stadion in Warskou, tuiste van die Poolse nasionale sokkerspan

Motorfietswedrenne, vlugbal en sokker is van Pole se gewildste sportsoorte met 'n lang geskiedenis aan toernooideelnames.[51][52] atletiek, basketbal, handbal, boks, MMA, skansspring, heg-en-steg-ski, yshokkie, tennis, skermsport, swem en gewigoptel is ander gewilde sportsoorte.

Die goue tydperk van Poolse sokker was van die 1970's tot die 1980's, toe die Poolse nasionale sokkerspan hul beste resultate tydens Sokker-Wêreldbekertoernooie opgelewer en sowel in 1974 as in 1982 in die derde plek geëindig het. Die span het 'n goue medalje tydens die Olimpiese Somerspele 1972 en twee silwermedaljes in 1976 en 1992 gewen. Pole het saam met Oekraïne die Europese Sokkerkampioenskap 2012 aangebied.[53]

Teen Januarie 2023 was die Poolse mansvlugbalspan in die eerste plek op die FIVB-wêreldranglys.[54] Dié span het 'n goue medalje tydens die Olimpiese Somerspele 1976 en die goue medalje tydens die FIVB Wêreldkampioenskappe in 1974, 2014 en 2018 gewen.[55][56]

Mariusz Pudzianowski is 'n baie suksesvolle sterkmandeelnemer en hy het meer Wêreld Sterkman-kompetisies gewen as enige deelnemer in die wêreld en dié toernooi in 2008 vir die vyfde keer gewen.[57]

Pole het ook uitstekend gevaar in speedway-wedrenne. Die hoogste Ekstraliga-divisie het van die hoogste toeskouergetalle vir enige sportsoort in Pole. Die Poolse nasionale speedwayspan is een van die vernaamste spanne in internasionale speedway. Op individuelle vlak het Pole drie Speedway Grand Prix-wêreldkampioene opgelewer, van die die mees suksesvolle is die driemalige wêreldkampioene Bartosz Zmarzlik wat agtereenvolgende kampioenskappe in 2019 en 2020 gewen het en sy derde een in 2022. In 2021 het Pole as naaswenner geëindig tydens die Speedway van Nasies-wêreldkampioenskapsfinal in Manchester.[58]

In die 21ste eeu het die gewildheid van tennis toegeneem en Pole het 'n aantal suksesvolle tennisspelers opgelewer, insluitende die wêreld No. 1 Iga Świątek, wenner van vier Grand Slam-enkelspeltitels; die voormalige wêreld No. 2 Agnieszka Radwanska, wenner van 20 WTA-titels insluitende die WTA 2015-eindstryd; die top 10 ATP-speler Hubert Hurkacz; en die voormalige wêreld No. 1-dubbelspeler Łukasz Kubot, wat twee Grand Slam-dubbelspeltitels gewen het: in 2014 die Australiese Ope en in 2017 Wimbledon. Pole het ook die Hopmanbeker in 2015 met Agnieszka Radwańska en Jerzy Janowicz gewen.[59][60]

Pole het ook belangrike bydrae gelewer in bergklim, veral in die Himalaja en die winterklim van die agtduisenders. Poolse berge is een van die toeriste-antreklikhede in dié land. Stap, klim, ski en bergfietsry lok jaarliks talle toeriste uit die hele wêreld.[61] Watersporte is van die gewildste someraktiwiteite, met geriewe vir visvang, kanovaart, kajakvaart, seilvaart en seilplankry, veral in die noordelike streke van die land.[62]

Onderwys

Onderwysstelsel

Hoofgebou van die Universiteit van Wrocław (Uniwersytet Wrocławski)

Onderwys en kennis word tradisioneel hoogs gewaardeer. So was Pole die eerste land in Sentraal-Europa wat reeds in 1773 'n nasionale, nie-kerklike onderwyskommissie in die lewe geroep het. Die onderwysstelsel met primêre en sekondêre skole asook hoër onderwys, wat deur hierdie kommissie ingevoer is, bestaan steeds – al is dit intussen aangevul met kleuterskole vir kinders in die ouderdomsgroep tussen drie en ses jaar.

Net soos in ander lande is daar primêre, sekondêre en tersiêre onderwysinstellings. Die laerskool (szkoła podstawowa) met sesjarige opleiding val in die primêre onderwysdomein en word teen die einde van die laaste jaar afgesluit met 'n verpligtende eindtoets sonder selektiewe karakter. Hierdie toets wys die kennisvlak van 'n leerder en dien as inligting vir haar-/homself, ouers en sekondêre skole.

Die eerste vlak van die sekondêre onderwysdomein (die driejarige gimnazjum) word afgesluit met 'n verpligtende eindeksamen (die toelatingsvereiste tot die tweede vlak van sekondêre onderwys). Hier kann leerders kies tussen

  • driejarige liseums wat 'n algemene opleiding verskaf of 'n gespesialiseerde profiel het,
  • vierjarige beroepskole (technika),
  • aanvullende liseums en beroepskole (eweneens technika genoem) en
  • drie- of vierjarige beroepskole.

Die kurrikulum lê die klemtoon op Poolse kultuur en geskiedenis, vreemde tale en rekenaarvaardighede. Hoërskoolleerders mag in bepaalde vakke spesialiseer, waaronder wiskunde, Engels, Duits, biologie en skeikunde.[63] Die getal leerders, wat Duits as vreemde taal aanleer, is met meer as twee miljoen die hoogste ter wêreld. In 1999 en 2002 is hervormings toegepas en nuwe skoolvakke ingevoer soos "Beginsels van entrepreneurskap".

Liseums en technika word afgesluit met 'n eindeksamen (matura) as toelatingsvereiste tot die tersiêre onderwysvlak. Akademiese instellings mag hul studente deur 'n toelatingseksamen selekteer. Die opleiding by beroepskole word afgesluit met 'n beroepseksamen. Leerders mag kies of hulle onmiddellik daarna tot die beroepswêreld wil toetree of hul skoolopleding wil voortsit by aanvullende algemene of gespesialiseerde liseums, of 'n technikum.[64]

Hervormings vanaf die skooljaar 2017/18

In Desember 2016 het die Sejm, die Poolse parlement, 'n hervorming van die onderwysstelsel besluit wat tot 2023 stapsgewys verwesenlik sal word. Kinders sal vanaf die ouderdom van ses skoolpligtig wees en een jaar lank 'n pre-primêre skool besoek. Alle leerders sal daarna 'n gemeenskaplike skoolopleiding van agt jaar ontvang – volgens die model wat reeds in die kommunistiese tydperk toegepas is. Sowat 7 500 gimnazjums, wat ingevolge die hervormings van 1999 gevestig is om die Poolse onderwysstelsel by Wes-Europese standaarde aan te pas en waar opleiding in die grade sewe tot nege verskaf is, word afgeskaf – 'n proses wat na verwagting teen 2020 voltooi sal word. Eers vanaf die ouderdom van vyftien kan leerders kies tussen

  • 'n beroepskool met driejarige opleiding (szkoła branżowa I stopnia) as voorbereiding vir die beroepslewe,
  • 'n technikum of beroepshoërskool met vyfjarige opleiding, of
  • duale beroepsopleiding (skool en onderneming).

Toegang tot tersiêre onderwys word verleen deur 'n eindeksamen (matura) in bogenoemde technikums of vierjarige algemene hoërskole, sogenaamde liseums (liceum ogólnokształcące). Ook leerders van beroepskole het toegang tot hoër onderwys as hulle 'n verdere twee jaar opleiding in hul beroepshoërskool volg (szkoła branżowa II stopnia).

Sommige aspekte van die hervorming weerspieël die wense van baie ouers. So was gimnazjums minder gewild. Ander weer reflekteer die regeringsparty PiS se amptelike beleid. Die PiS het krtitiek op sommige liberale en pluralistiese tendense van die vorige onderwysstelsel gelewer en pleit daarvoor om meer aandag aan dissipline, patriotiese gesindheid, nasionale simboliek, die beleid aangaande geskiedenisonderrig en die doel daarvan, nasionale literatuur, volksmusiek en ander onderwerpe te skenk.[65] 'n Derde aspek is Pole se veranderende demografie. Weens die grootskaalse emigrasie van jong beroepsmense het die getal leerders merkbaar gedaal – in die dekade tussen 2007 en 2017 met 1,2 miljoen, terwyl die getal onderwysers met 500 000 onveranderd gebly het.

Die onderwyservakbond ZNP het die beplande hevormings gekritiseer. Daar is vrese dat duisende onderwysers ontslaan en die kurrikulum volgens politieke en ideologiese oorwegings aangepas sal word. So sal die evolusieteorie in die toekoms eers vanaf graad nege behandel word, terwyl planne vir die geskiedenisonderrig voorsiening maak vir 'n breedvoerige behandeling van Poolse geskiedenis en persoonlikhede wat daarin 'n positiewe rol gespeel het.[66]

Mediabedryf

Perswese

Die nuwe hoofkantoor van die dagblad Gazeta Wyborcza in Warskou

Die staat se monopolie op die perswese is in Maart 1990 opgehef. Tegelykertyd is die uitgewery Ruch, wat nou aan die eertydse kommunistiese staatsparty PZPR verbind was, ontbind. Met die instelling van markbeginsels is reeds in die eerste vier maande van 1990 meer as 90 tydskrifte gestaak. In Oktober van dieselfde jaar is die Poolse persbedryf geprivatiseer en meer as 100 dagblaaie verkoop. 'n Groot deel van die nuwe beleggers soos Hersant en Maxwell was in die buiteland gesetel. Sowat 70 titels is aan nuutgestigte koöperasies oorgedra, waaronder die gerenommeerde Warskouse weekblad Polityka wat sedert 1957 uitgegee word.

Die dagblad Gazeta Wyborcza wat in 1989 as spreekbuis van die Solidarność-burgerkomitees in die lewe geroep is, het met 'n daaglike sirkulasie van tussen 430 000 en 840 000 eksemplare tot die grootste en invloedrykste koerant in Pole ontwikkel. In 1999 is 46 dagblaaie (teenoor 52 in 1998 en 67 in 1990) en 5 518 tydskrifte (teenoor 5 297 in 1998 en 3 007 in 1990) in Pole uitgegee. In die vroeë 21ste eeu het die totale aantal nasionale en streekkoerante, weekblaaie, maandelikse en vaktydskrifte 5 400 beloop. Dagblaaie verskyn soggens Maandag tot Saterdag. Daar word geen laat of Sondaguitgawes uitgegee nie.[67]

Die belangrikste dagblaaie is:

  • Rzeczpospolita ("Republiek") met 'n gemiddelde sirkulasie van 260 000 eksemplare en talle bylaes oor ekonomiese onderwerpe.
  • Gazeta Wyborcza ("Verkiesingsdagblad" – dit het kort voor Pole se algemene verkiesings van 1989 vir die eerste keer verskyn) met 'n sirkulasie van byna 600 000 eksemplare en 'n aantal streekuitgawes in die grootste stede. Dit word deur Pole se grootste mediaonderneming uitgegee. Die intellektuele Adam Michnik, vroeër 'n bekende opposisiepolitikus, het van die begin af die pos van hoofredakteur beklee.
  • Super Express, 'n poniekoerant, is die tweede grootste dagblad in Pole met 'n sirkulasie van 450 000 eksemplare. Dit is volgens sy redaksie gemik op lesers "wat van hul koerant geen artikels van hoogdrawende waarde verwag nie" en spits hom derhalwe op die lewe van gewone mense toe. Die dagblad word deur 14 persent van die Poolse bevolking gelees.
  • Puls Biznesu ("Pols van Sake") word sedert 1997 as Pole se leidende ekonomiese dagblad uitgegee.
  • Fakt is net soos Super Express 'n poniekoerant wat sedert 2003 deur Axel Springer Polska, die Poolse dogtermaatskappy van een van Duitsland se beduidendste mediaondernemings, uitgegee word. Met 'n sirkulasie van 638 000 (waarvan 464 000 verkoopte eksemplare) is dit tans die grootste nasionale dagblad in Pole.
  • Dziennik Gazeta Prawna – 'n samesmelting van twee eetydse koerante, Dziennik en Gazeta Prawna – word sedert 14 September 2009 deur Axel Springer Polska as 'n dagblad van gehalte uitgegee. Die sirkulasie is 150 000.[68]

Weeklikse nuusblaaie raak ál gewilder. Naas Polityka sluit hulle in:

  • Wprost wat sedert Desember 1982 uitgegee word. Van sy gasskrywers is leidende Poolse politici, ekonome en regsgeleerdes. Wprost ken die titel "Mens van die Jaar" toe en publiseer jaarliks 'n lys van Pole se 100 rykste burgers.
  • Newsweek se Poolse uitgawe verskyn sedert September 2001 en het met groot sukses tot die Poolse mark toegetree.
  • Tygodnik Powszechny ("Algemene Weekblad") is in 1945 in die lewe geroep en word onder die opinieleiers in die Poolse persbedryf gereken. Sy ondertitel "Katolieke dagblad oor samelewing en kultuur" verwys na die redaksie se hoofbelange. In die tye van Sowjet-oorheersing was Tygodnik die enigste onafhanklike weekblad van sy soort in die hele Oosblok. Sy stigter Jerzy Turowicz het meer as vyftig jaar lank, tot sy afsterwe, die pos van hoofredakteur beklee.
  • The Warsaw Voice word sedert 1988 as Pole se eerste Engelstalige weekblad uitgegee en het tans 45 000 lesers.[69]

Die hoë graad van konsentrasie van ekonomiese mag en die neiging van baie Pole om as gevolg van hoë lewenskoste nie meer op dagblaaie in te teken nie is tans die belangrikste kwelvrae. Alhoewel die onafhanklikheid van redaksies oor die algemeen nie deur buitelandse beleggers aangetas word nie, verwys kritici na die beduidende rol wat buitelandse kapitaal van Duitse (Gruner + Jahr, Bauer, Burda, Passauer Neue Presse) en Noorse (Orkla) uitgewerye intussen in die Poolse perswese speel. Duitse mediaondernemings het in 2000 reeds 'n markaandeel van meer as 38 persent gehad. Dit is egter ook waar dat Duitse uitgewerye 'n beslissende rol by die vinnige groei van die aantal Poolse tydskrifte-titels gespeel het.

Televisie

Die nuwe hoofkwartier van Pole se openbare uitsaaier TVP SA in Warskou

Televisie is tans die belangrikste massamedium in Pole. Die Poolse uitsaaikorporasie het sy eerste televisieprogramme (Telewizja Polska, TVP) in 1952 in Warskou gebeeldsaai.

Ingevolge die Wet op Uitsaaidienste van 1993 is die destydse komitee vir openbare radio- en televisiekanale geherorganiseer en TVP in 1994 in 'n aandelemaatskappy (Pools: Spółka Akcyjna, SA, 'n eenmanonderneming van die Poolse staat) omgeskep. As openbare uitsaaier pas TVP die beginsels van die Wet op Uitsaaidienste toe: die toeganklikmaking van inligting, kuns- en kultuur, opvoeding en wetenskap; die verhoging van opleidingsvlakke van burgers; en die ondersteuning van die inheemse rolprentbedryf.

Die openbare televisiekanale moet alle lae van die Poolse samelewing kan bereik, veral die bevolking van landelike gebiede, en ook voorsiening maak vir die behoeftes van kinders en jeugdiges. Daarnaas moet die openbare uitsaaiers die intellektuele en kunsagtergrond van Poolse gesinne en die Poolse filmbedryf bevorder. TVP SA bied onder meer finansiële steun vir inheemse rolprent- en televisieproduksies wat buite die openbare uitsaaibedryf ontstaan.

Die openbare televisiekanale is vir 'n groot persentasie van die Poolse bevolking die belangrikste bron van inligting oor politieke gebeure en die openbare lewe.

TVP is soos volg georganiseer:

  • Nasionale kanale: TVP 1 en TVP 2
  • Streekkanale: TVP 3 met twaalf streekprogramme (in Białystok, Bydgoszcz, Gdańsk, Katowice, Kraków, Lublin, Łódź, Poznań, Rzeszów, Szczecin, Warskou en Wrocław).

Die streekprogramme weerspieël die plaaslike openbare lewe, die geskiedenis en kultuur van die verskillende geweste asook die probleme wat deur nasionale, etniese en religieuse minderhede moontlik ondervind word. Hulle bevorder daarnaas die beginsel van gewestelike selfbestuur. Streekprogramme word gereeld deur 63 persent van die Poolse bevolking bekyk.[70]

Internet

Volgens IAB Polska het 63 persent van alle Poolse huishoudings in 2011 oor internettoegang beskik, 'n toename van vyf persent teenoor die vorige jaar en ietwat laer as die gemiddeld van die Europese Unie (70 persent). Volgens die Buro vir Elektroniese Kommunikasie sal 95 persent van die Poolse bevolking in 2016 toegang tot hoëspoed-internetdienste met 30 megagrepe per sekonde hê.[71]

Verwysings

  1. (pl) Główny Urząd Statystyczny, dane za rok 2018, stan na 1. Januarie 2018. [1]
  2. (pl) Bankier.pl, Powierzchnia Polski wzrosła o 1643 ha [2]
  3. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 6 Maart 2024.
  4. (pl) Wyniki badań bieżących Geargiveer 26 Desember 2018 op Wayback Machine. Besoek op 20 Desember 2017
  5. (en) "Statistical Bulletin No 11/2022". Statistiek Pole. Besoek op 6 Maart 2024.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 (en) "Poland". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 6 Maart 2024.
  7. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 6 Maart 2024.
  8. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 6 Maart 2024.
  9. (en) Thompson, Wayne C. (2021). Nordic, Central, and Southeastern Europe 2020–2022. Blue Ridge Summit: Rowman & Littlefield Publishers. p. 322. ISBN 978-1-4758-5626-2.
  10. (en) Lukowski, Jerzy; Zawadzki, Hubert (2001). A Concise History of Poland. Cambridge: Cambridge University Press. p. 4. ISBN 0-521-55109-9.
  11. (pl) Lehr-Spławiński, Tadeusz (1978). Język polski. Pochodzenie, powstanie, rozwój. Warskou: Państwowe Wydawnictwo Naukowe. p. 64. OCLC 4307116.
  12. (pl) Potkański, Karol (2004). Pisma pośmiertne. Granice plemienia Polan. Vol. 1 & 2. Krakow: Polska Akademia Umiejętności. p. 423. ISBN 9788370634117.
  13. (en) Everett-Heath, John (2019). "Poland (Polska)". The Concise Dictionary of World Place-Names. Oxford: University Press. ISBN 978-0-19-190563-6.
  14. (en) Buko, Andrzej (2014). Bodzia. A Late Viking-Age Elite Cemetery in Central Poland. Leiden: Brill. pp. 36, 62. ISBN 9789004281325.
  15. (en) Hannan, Kevin (1994). Language and Identity in a West Slavic Borderland: The Case of Teschen Silesia. Austin: Universiteit van Texas. p. 127. OCLC 35825118.
  16. (en) Dabrowski, Patrice M. (2014). Poland. The First Thousand Years. New York: Cornell University Press. ISBN 978-1-5017-5740-2.
  17. (en) Kamusella, Tomasz (2022). Words in Space and Time: A Historical Atlas of Language Politics in Modern Central Europe. Boedapest: Central European University Press. p. 9. ISBN 9789633864180.
  18. (pl) Małecki, Antoni (1907). Lechici w świetle historycznej krytyki. Lwif: Zakład Narodowy im. Ossolińskich. p. 37. ISBN 9788365746641.
  19. (en) Andersson, Theodore Murdock; Morkinskinna, Ellen Gade (2000). The Earliest Icelandic Chronicle of the Norwegian Kings (1030–1157). Ithaca: Cornell University Press. p. 471. ISBN 978-0-8014-3694-9.
  20. (de) poland.gov.pl: Geografie – Landsgrense Geargiveer 6 Julie 2010 op Wayback Machine
  21. (de) Friedhelm Pelzer: Polen: eine geographische Landeskunde. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft 1991, bl. 53
  22. (de) www.polskieradio.pl: Wieder mehr (kleine) Polen, 29 Januarie 2009
  23. (en) The Warsaw Voice Online, 15 Maart 2012: Poland needs to correct demographic projection – expert
  24. (en) The Warsaw Voice Online: Report: 1.5m Poles Lived in Other EU Countries Last Year, 5 Oktober 2010
  25. (de) Die Zeit, 15 September 1972: Ostblock – Antisemitismus ohne Juden. Besoek op 19 Februarie 2019
  26. (de) Deutsche Welle, 8 Maart 2018: Polen und die Ausbürgerung der Juden. Besoek op 19 Februarie 2019
  27. (en) The Guardian, 18 Februarie 2019: Summit cancelled as Israel and Poland row over Holocaust. Besoek op 19 Februarie 2019
  28. (en) www.poland.gov.pl: History – Proto-Slavonic origns Geargiveer 9 Maart 2010 op Wayback Machine
  29. (de) Andrea Schmidt-Rösler: Polen. Vom Mittelalter bis zur Gegenwart. Regensburg; Friedrich Pustet 1996, bl. 30
  30. (de) Andrea Schmidt-Rösler (1996), bl. 35
  31. (de) Stephan Lehnstaedt: Der vergessene Sieg. Der Polnisch-Sowjetische Krieg 1919–1921 und die Entstehung des modernen Osteuropa. München: C.H. Beck 2019
  32. (de) Gerhard Besier: Das Europa der Diktaturen. München: Deutsche Verlags-Anstalt 2006, bl. 336
  33. (de) Besier (2006), bl. 342
  34. (de) Tomasz Torbus: Polen. Keulen: DuMont 2002, bl. 48
  35. (de) Torbus (2002), bl. 48
  36. (en) The Warsaw Voice, 17 Maart 2010: HICP Inflation Falls to 3.4%
  37. (de) Deutsch-Polnische Industrie- und Handelskammer Geargiveer 12 Maart 2015 op Wayback Machine. Besoek op 1 Maart 2015
  38. 38,0 38,1 (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake – Pole: Ekonomie. Besoek op 3 Desember 2015 Geargiveer 15 November 2012 op Wayback Machine
  39. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Pole – Ekonomiese struktuur. Besoek op 3 Desember 2015 Geargiveer 15 November 2012 op Wayback Machine
  40. 40,0 40,1 (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Pole – Ekonomie Geargiveer 15 Januarie 2010 op Wayback Machine
  41. (de) Duitse Ambassade in Warskou: Landbou in Pole, Desember 2011
  42. (en) The Warsaw Voice: Organic Farming in Poland, 21 Desember 2011
  43. (de) Deutsch-Polnische Industrie und Handelskammer: Polen in Zahlen Geargiveer 12 Maart 2015 op Wayback Machine. Besoek op 1 Maart 2015
  44. (de) Piotr Pysz en Wolfgang Quaisser: Außenhandel. In: Wilhelm Wöhlke (red.): Länderbericht Polen. Bonn: Bundeszentrale für politische Bildung 1991, bl. 342
  45. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Pole – Binnelandse beleid Geargiveer 23 Januarie 2010 op Wayback Machine
  46. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake – Pole: Buitelandse beleid Geargiveer 23 Januarie 2010 op Wayback Machine
  47. (de) Waldemar Klemm: Auf dem Weg zum deutschen Leser – Polnische Literatur. In: Tomasz Torbus: Polen. Keulen: DuMont 2002, bl. 75
  48. (de) Kristine Jaath: Polen – Ostseeküste und Pommersche Seenplatte. Bielefeld: Peter Rump 2008, bl. 135
  49. (de) Jaath (2008), bl. 135
  50. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Pole – Kulturele en wetenskapsbeleid Geargiveer 5 Mei 2015 op Wayback Machine. Besoek op 1 Maart 2015
  51. (en) "FIFA World Cup Statistics – Poland". FIFA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Desember 2007. Besoek op 6 Desember 2007.
  52. (en) "FIFA Statistics – Poland". FIFA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Desember 2007. Besoek op 6 Desember 2007.
  53. (en) "Poland hosts Euro 2012!". warsaw-life.com. Besoek op 12 Desember 2010.
  54. (en) "FIVB Senior World Ranking – Men". Fédération Internationale de Volleyball. Besoek op 30 Mei 2021.
  55. (en) "FIVB Volleyball Men's World Championship Poland 2014". Besoek op 1 Januarie 2017.
  56. (en) "Finals". Besoek op 13 Oktober 2018.
  57. (pl) Fedor, Dariusz; Ramlau, Łukasz (2009). Polska, to tu się zaczęło. Poland: Agora. p. 153. ISBN 978-83-7552-707-0.
  58. (en) "Speedway World Cup: Poland win 2010 Speedway World Cup". worldspeedway.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2011. Besoek op 10 Mei 2011.
  59. (en) Blanka Konopka (10 Junie 2022). "Tennis fever hits Poland as clubs across the country report surge in interest". thefirstnews.com. Besoek op 6 Maart 2024.
  60. (en) "Poland wins Hopman Cup as Agnieszka Radwanska and Jerzy Janowicz combine to beat Serena Williams and John Isner in Perth". Australian Broadcasting Corporation. 10 Januarie 2015. Besoek op 6 Maart 2024.
  61. (en) "UNTWO World Tourism Barometer, Vol.5 No.2" (PDF). www.tourismroi.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 Maart 2009. Besoek op 25 Maart 2009.
  62. (en) "Summer Sports in Poland". Poland For Visitors Online. Besoek op 2 November 2014.
  63. (en) Jay Heale, Pawel Grajnert en Debbie Nevins: Cultures of the World – Poland. Derde uitgawe. New York: Cavendish Square Publishing 2016, bl. 70-71
  64. (de) "Institut für Ökonomische Bildung (IÖB): Das polnische Bildungssystem". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 November 2018. Besoek op 14 Februarie 2019.
  65. (de) www.bpb.de – Dr. Andrzej Kaluza, Bundeszentrale für politische Bildung, 4 Oktober 2018: Analyse: Die Reform des Schulsystems in Polen. Besoek op 14 Februarie 2019
  66. (de) spiegel.de, 31 Augustus 2017: Polens gefährliche Schulreform. Besoek op 14 Februarie 2019
  67. (de) poland.gov.pl: Pers en uitgewerye Geargiveer 5 November 2010 op Wayback Machine
  68. (de) www.presseurop.eu: Dziennik Gazeta Prawna Geargiveer 14 Januarie 2010 op Wayback Machine
  69. (en) www.warsawvoice.pl: About The Warsaw Voice Geargiveer 11 April 2010 op Wayback Machine
  70. (de) www.poland.gov.pl: Openbare televisie in Pole Geargiveer 1 Augustus 2010 op Wayback Machine Gwede Mantashe
  71. (en) The Warsaw Voice, 6 April 2012: 30 Mbps-speed internet to be available to almost all Poles by 2016

Bronnelys

Algemeen

Ekonomie – Privatisering en privaatsektor

  • (de) Wolfgang Quaisser: Wirtschaftssystem und Wirtschaftspolitik. In: Informationen zur politischen Bildung 273 – Polen. Vierde kwartaal 2001. Bonn: Bundeszentrale für politische Bildung (bpb)
Demografie – Nasionale minderhede

  • (de) Dieter Bingen: Gesellschaftliche Strukturen. In: Informationen zur politischen Bildung 273 – Polen. Vierde kwartaal 2001. Bonn: Bundeszentrale für politische Bildung (bpb)

Eksterne skakels