Paarl
Paarl | |
---|---|
Uitsig oor die Paarl | |
Koördinate: 33°43′27″S 18°57′21″O / 33.72417°S 18.95583°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Kaapse Wynland |
Munisipaliteit | Drakenstein |
Stigting | 1687 |
Oppervlak | |
• Totaal | 64,61 km2 (24,95 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 112 045 |
• Digtheid | 1 734/km2 (4 490/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 17,9% |
• Indiërs/Asiërs | 0,6% |
• Bruin mense | 69,9% |
• Swart mense | 10,4% |
• Ander | 1,3% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 86,8% |
• Engels | 6,2% |
• Xhosa | 4,6% |
• Ander | 2,4% |
Poskode (strate) | 7646 |
Skakelkode | 021 |
Die Paarl is naas Kaapstad en Stellenbosch een van die drie oudste Europese nedersettings in Suid-Afrika. Die dorp het 112 000 inwoners in 2011 gehad[1] en lê in die provinsie Wes-Kaap, sowat 60 kilometer noordoos van Kaapstad, aan die oewers van die Bergrivier en 132 meter bo seevlak. Paarl is die grootste dorp in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en is bekend vir sy roemryke geskiedenis en pragtige natuurskoon.
Die Paarl lê in die Kaapse winterreënstreek en sowat 80% van die jaarlikse reënval (700 millimeter) word gedurende die wintermaande aangeteken. Die Paarlberg beskik oor 'n geologiese besonderheid. Die reusagtige granietrots word deur drie geronde dagsome gevorm – dit is die grootste granietdagsoom ter wêreld en een van die min berge in Suid-Afrika wat tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Dit is ook die tweede grootste dagsoom naas die sedimentêre Uluru, voorheen bekend as Ayers Rock, in Australië.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Gedurende 1657 was die fiskaal Abraham Gabbema op soek na nuwe vleisbronne vir die nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop, toe hy 'n reusagtige granietrots ontdek het, wat ná 'n reënstorm in die sonskyn geblink het. Hy het dit Diamandt ende Peerlebergh genoem.
In 1687, net 35 jaar nadat Jan van Riebeeck in Tafelbaai voet aan wal gesit het, het die destydse Kaapse goewerneur Simon van der Stel die eerste 23 plase aan die oewer van die nabygeleë Bergrivier aan vryburgers toegeken. 'n Jaar later, in 1688, het ook Franse Hugenote-vlugtelinge plase in die gebied ontvang. Vyf Franse gesinne is landgoedere teen die hang van die Paarlberg toegeken: Jean Clouden op De Hoop, Gabriel le Roux op La Concorde, Isaac Taillefer op Picardie, Jean Taillefer op Laborie, en Pierre Viviers op Nantes. Die vrugbare bodem en die Mediterreense-tipe klimaat van die gebied het geblyk om uiters geskik vir landbou te wees. Die setlaars het boorde, groentetuine en veral wingerde aangeplant. Die granietgrond van die omgewing was veral 'n seën vir die wynbou aangesien wingerde hier baie goed geaard het.
Die eerste nuus oor die Kaapse wyne, wat ook oorsee vinnig gewild geraak het, het reeds in die jaar 1711 versprei. Ingevolge Napoleon Bonaparte se seeblokkade in die begin van die 19de eeu was Franse wyne onverkrygbaar in Engeland, en die Kaapse wynbedryf het 'n ongekende uitbreiding beleef om in die Engelse mark se behoeftes te voorsien.
Die Paarl was die eerste dorp in Suid-Afrika waar 'n Afrikaanse koerant verskyn het. Di Patriot, wat aanvanklik hoofsaaklik oor kulturele sake verslag gedoen het en tegelykertyd 'n poging aangewend het om die Afrikaanse taal met sy eie fonetiese spelling te bevorder, is die eerste keer op 15 Januarie 1876 uitgegee.
Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is drie wedstryde op Bolandpark in die Paarl gespeel.
Wapens
[wysig | wysig bron]Munisipaliteit (1) — Die munisipale raad het in 1905 'n dorpswapen aanvaar wat ds Adriaan Moorrees aangebied het.[2] Dit was die familiewapen van Hendrik van Reede van Drakenstein na wie die Drakensteingebied vernoem is : In silwer, twee hoekige swart dwarsbalke. Die skildhouers was twee goue griffioene, die helm is met 'n goue kroon oortop, en die wapenspreuk was "Pour le salut public". Blykbaar was die kleure van die wapen later na silwer dwarsbalke op 'n blou agtergrond verander.[3]
Munisipaliteit (2) — Die wapen is in 1950 hersien en heraldies verbeter, en in 1951 deur die Engelse College of Arms aan die munisipaliteit verleen. Die nuwe wapen was: In silwer, twee hoekige dwarsbalke van swart, elk belaai met twee perels van natuurlike kleur. Die helmteken was 'n uitkomende rooi griffioen met blou vlerke wat 'n tros druiwe in sy voorpote vashou; die skildhouers was twee rooi griffioene met blou vlerke besaai met goue fleurs-de-lis; en die wapenspreuk was "Pour le salut du peuple". Die afgetrede hoofargivaris Colin Graham Botha het die wapen herontwerp.
Die wapen is in 1955 by die Kaapse Provinsiale Administrasie geregistreer,[4] in 1967 deur die provinsiale administrateur weer aan die raad verleen,[5] en in 1969 by die Buro vir Heraldiek geregistreer.[6]
Afdelingsraad — Paarl se afdelingsraad (d.w.s die plaaslike owerheid vir die landelike gebiede buite die dorpsgrense) het in 1978 'n wapen by die Buro geregistreer: In silwer, twee versmalde hoekige dwarsbalke van swart, oor alles heen 'n rooi paal belaai met 'n gestengelde en geblaarde druiwetros van goud, bo en onder vergesel van 'n perel van natuurlike kleur. Die helmteken was 'n goue fleur-de-lis, en die wapenspreuk "Animus et fata".[6]
Mbekweni — Die Swart woongebied Mbekweni se dorpskomitee het in 1989 'n wapen by die Buro geregistreer: Kepersgewys verdeel, rooi en groen, 'n goue gebroke keper, op die middelpunt 'n silwer knopkruis. Die helmteken was 'n groen muurkroon, en die wapenspreuk "Uxolo nempumelelo".[6]
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Die Paarl behoort tot die vernaamste wynproduserende streke in Suid-Afrika en beskik oor 'n aantal koöperatiewe wynkelders en wynlandgoedere, wat ook belangrike toeristebestemmings geword het. Die granietsteen van die omgewing is vroeër vir grafstene gebruik.
Die gunstige ligging naby die N1 nasionale pad, wat Kaapstad met Johannesburg verbind, die spoorlyn na die noordelike provinsies en die metropolitaanse gebied van Kaapstad met sy internasionale lughawe en Tafelbaaihawe het verseker dat die Paarl tot een van die grootste nywerheidsentrums in die Wes-Kaap ontwikkel het.
As die Kaapse landbouhoofstad beskik die Paarl oor voedsel- en tabakverwerkingsfabrieke.
Besienswaardighede
[wysig | wysig bron]Soos talle dorpe in die Kaapse Wynland, is die Paarl 'n welvarende gemeenskap met statige Kaapse huise in puik toestand, pragtige tuine en strate wat deur ou eikebome omsoom word. Die Strooidakkerk in Hoofstraat is op 28 April 1805 deur die NG gemeente Paarl ingewy. Dit is die oudste kerkgebou in die land.
Die Oude Pastorie in Hoofstraat, wat in 1786 opgerig is, is een van die mooiste voorbeelde van die Kaaps-Hollandse argitektuur en huisves 'n museum met 'n versameling antieke meubels, silwer- en koperware.
Die Wamakersmuseum behandel Paarl se geskiedenis as die historiese sentrum van die wamakersbedryf in Suider-Afrika. Waens en karre is sowel vir die plaaslike mark asook vir oorsese bestemmings vervaardig.
Die feit dat Paarl die bakermat van die Afrikaanse Taalbeweging is, maak dit besonder aantreklik. In 1869 word in die plaaslike Gimnasiumsaal, wat ook die geboortehuis van die bekende digter en Bybelvertaler J.D. du Toit (Totius) is, die eerste Afrikaanse Taalkongres gehou.
In weerwil van die destydse regering se verengelsingbeleid, vergader agt mans op 14 Augustus 1875 in die eetkamer van die Huis Gideon Malherbe, die huidige Afrikaanse Taalmuseum, vir 'n geheime samespreking: Gideon Malherbe, 'n welgestelde boer en eienaar van die huis, Arnoldus Pannevis, die joernalis D.F. du Toit, die predikant S.J. du Toit, "Dokter" D.F. du Toit, die drukker Petrus Malherbe, C.P. Hoogenhout, 'n Nederlandse immigrant, en August Ahrbeck. Hulle word die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
Die Patriotgebou in Hoofstraat huisves vir enkele jare die drukkery van die GRA, asook 'n boekwinkel. Ds. S.J. du Toit, bekende leier van die GRA en redakteur van die eerste Afrikaanse nuusblad, Die Afrikaanse Patriot, bewoon die huis van 1889 tot 1904.
Vir taalkenners en belangstellendes is 'n toeristeroete ingestel. Die Afrikaanse Taalroete het die Paarl en Daljosafat as sy spil, en daar is talle plase en geboue in die gebied, waarin belangrike taalstryders gewoon het. Die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van die Paarlberg is deur Jan van Wijk ontwerp en in 1975 opgerig. Dit herinner aan die gebeure rondom die tydperk van die taalstryders.
Paarl is ook die sentrum van die Suid-Afrikaanse wynbedryf; hier is die setel van die Koöperatieve Wijnbouwers Vereeniging van Zuid-Afrika (KWV), wat in 1918 gestig is. Die KWV het hier 'n aantal groot wynkelders laat oprig.
Die omgewing van Paarl lok met voetslaanpaaie, die Paarlse Wynroete met die Nederburglandgoed en uitstekende restourante vele toeriste. Die Laborielandgoed naby Paarl beskik oor 'n versameling Kaap-Hollandse meubels en glasies.
Bekend Paarliete
[wysig | wysig bron]- Johannes Rudolph Albertyn, NG predikant en gevierde kanselredenaar
- Japie Basson, kleurryke politikus
- Izak de Villiers, NG predikant, skrywer en redakteur
- M.L. de Villiers, NG predikant, komponis van Die Stem en musikant
- Peter de Villiers, rugbyafrigter
- Willem Petrus de Villiers, NG predikant, politikus en Afrikaanse taalstryder
- Daniël Francois du Toit, stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners
- Stephanus Jacobus du Toit, Afrikaanse taalstryder
- Francois Hougaard, rugbyspeler
- Elsa Joubert, bekroonde Afrikaanse skrywer
- Andries Adriaan Louw, invloedryke NG predikant
- Wynand Louw, die eerste Afrikaanse argitek
- Charles Wynand Malan, kabinetsminister
- Adriaan van Jaarsveld, kommandant in die Eerste Grensoorlog
- Bobby van Jaarsveld, Afrikaanse sanger en akteur
- Chester Williams, rugbyspeler
- Margaret Lawder, botanis
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 "Hoofplek Paarl". Sensus 2011.
- ↑ Wes-Kaapse Argief : Paarl Munisipale Notules (18 Julie 1905).
- ↑ Die wapen kom voor op 'n tabakkaart wat in 1931 uitgereik is.
- ↑ Kaap die Goeie Hoop Offisiële Koerant 2767 (22 Julie 1955).
- ↑ Kaap die Goeie Hoop Offisiële Koerant 3417 (18 Augustus 1967).
- ↑ 6,0 6,1 6,2 National Archives of South Africa: Data of the Bureau of Heraldry.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Albertyn, Elizabeth: Die argitektuur van die Paarl tussen die twee wêreldoorloë - 'n kultuur-historiese ondersoek. Universiteit van Stellenbosch: ongepubliseerde D. Phil.-verhandeling, 1992
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Paarl.
- (en) Toerisme-inligting oor Paarl op Wikivoyage