Natuurlike plaagbeheer
Natuurlike plaagbeheer is een van die alternatiewe vir die spuit van gifstowwe om plae te beheer. Dit word reeds suksesvol op verskeie uitheemse plante toegepas wat peste geraak het. Hakea word bestry deur twee saadvretende insekte, 'n saadkalander wat die jong sade aanval en 'n saadmot wat ryp sade vreet. 'n Ander saadkalander wat op duwweltjies leef, Microlarinus lareynii, word in die Verenigde State as natuurlike plaagbeheer daarteen gebruik.
'n Blomkalander wat die blomme vernietig, is ook ingevoer om saadvervaardiging hok te slaan. Ander voorbeelde van biokontrole is die langblaarwattel wat deur middel van 'n perdeby bestry word wat haar eiers in die jong bloeisels lê. In plaas van blomme en sade vorm daar dan kankeragtige groeisels wat die plant se takke laat vrek. Die enkele sade wat nog vorm, word deur 'n kalander vernietig. Dié twee biokontrolemiddele is só suksesvol dat minder as 1% van die sade voortplant. Swarthout, rooikrans en swartwattel word ook met groeiende sukses bekamp deur kalanders wat hul sade aanval, terwyl biokontrole doeltreffend toegepas word op waterslaai en hiasinte.
Wat die beheer van dierepeste betref, is daar ook voorbeelde van biokontrole. Só is renostervoëls weer in dele van die Krugerwildtuin hervestig, waar hulle help om bosluise onder beheer te hou. In plekke waar voedsel geberg word, is rotte altyd 'n probleem en is dit uiteraard onwenslik om gifstowwe te gebruik omdat dit die voedsel kan kontamineer. By heelwat sulke bergingsfasiliteite is uile in die skure en silo's gevestig om op natuurlike en gratis wyse van die rotte ontslae te raak.
Die muskietvis is in 1936 na Suid-Afrika gebring om muskiete te bestry.