Gaan na inhoud

Leon van Nierop

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Leon van Nierop
Gebore18 Februarie 1953 (1953-02-18) (71 jaar oud)
NasionaliteitVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
BeroepRolprentvervaardiger, skrywer, resensent

Leon van Nierop (gebore 18 Februarie 1953 in Brakpan) is 'n Suid-Afrikaanse akteur, vervaardiger, skrywer en rolprentresensent. Hy het resensies vir verskeie publikasies soos aanvanklik Huisgenoot, Lig en The Citizen geskryf, en later Rapport, De Kat, asook Radio Sonder Grense (RSG) se Monito en Litnet. Hy skryf ook rubrieke, verhale en artikels onder verskeie skuilname. As voorbeeld, gee hy sy liefdesverhale onder die skuilnaam Jacqueline Brink uit.[1] Hy is al sedert 1975 omroeper by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), en tans as vryskutaanbieder, asook regisseur by RSG. Hy het vir 40 jaar lank nuus gelees op RSG. Hy tree op as medevervaardiger van DEKAT TV op SABC3 in 2009, en skep en bied 'n reeks van 30 episodes oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentwese, DAAR DOER IN DIE FLIEK op kykNET aan in 2011. Dit het ook in boekvorm verskyn en is daarvoor bekroon.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Van Nierop begin sy skoolloopbaan in 1959 by Kommando Laerskool in Brakpan, Transvaal waar sy ma ook 'n onderwyseres was. Ná hy matriek voltooi het, doen hy sy diensplig in Kimberley. Hierna studeer hy tale en drama aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy sy B.A.-graad in 1974 behaal. In Januarie 1975 begin hy as omroeper en regisseur by die SAUK en later by Springbokradio werk. Hy skryf verskeie treffer-radioverhale, waaronder byna 400 episodes van Wolwedans in die skemer (debuut in Augustus 1979), met meer as 'n miljoen luisteraars, wat dit tot op hede die gewildste radiovervolgverhaal maak van alle tye, ook Herberg vir 'n vlugteling, die daaglikse halfuurverhaal Stralerjakkers (1995 tot 2001) en Die huis in Hertestraat. (1977). In dieselfde tyd as wat hy Wolwedans in die skemer geskryf het, het hy ook agt boeke verwerk as radiovervolgverhale en skryf ook Nag van die Strandloper as 'n radiovervolgverhaal vir Springbokradio.

Van Nierop het meer as 6 000 episodes geskryf wat deur die SAUK gebruik kon word vir radiovervolgverhale. Met die ervaring wat hy opgedoen het, het hy werkswinkels by die SAUK aangebied om leiding te bied met die skryf van 'n radiodrama en by SASWA en ander institusies het hy ook draaiboek-werkswinkels aangebied. Van Nierop is vir die afgelope tien jaar deel van die SANLAM-radiovervolgverhaal werkswinkel, waar hy 'n mede-aanbieder van die kursus is. Vanaf 1980 tot 1990 het Leon Film Scrapbook aangebied op Radio Hoëveld, 'n radioprogram wat handel oor klankuitreksels uit verskeie rolprente. Van Nierop het ook vir die ATKV 'n kursus aangebied oor kreatiewe skryfwerk.

Sedert 1984 skryf hy verskeie TV-dramas en TV-reekse soos Ballade vir 'n enkeling I en II, die TV-verwerking van Het van Verlangekraal, Somer en Uitdraai as TV-dramas. Hy het vir twee jaar opgetree as medeskrywer van Suid-Afrika se eerste daaglikse TV-sepie Egoli. Hy skep die TV-reekse Villa Rosa en Glaskasteel, Wolwedans in die skemer, Huisjakker en Moord op die lug en Huisjakker. Hy het vir 20 jaar klas gegee in rolprentontleding by die Technikon in Pretoria, en was vir vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie (filmskool) by die Tegnikon Pretoria waar hy jong rolprentmakers opgelei het as spesiale professor in rolprentkuns. Van Nierop het meer as 32 publikasies vrygestel, waarvan sommige tekste draaiboeke, radiovervolgverhale en novelle is. Hy het ook twee handleidings vir universiteite, Movies Made Easy en Seeing Sense: On film Analysis geskryf.

Vanaf 1995 tot 2001 was die halfuurlange episodes van Stralejakkers op RSG, die gewildste vervolgverhaal van die radiostasie tot op hede. In 2015 verwerk hy die TV-reeks Ballade vir 'n Enkeling na 'n draaiboek vir 'n rolprent, wat R10 miljoen by die lokketkantoor ingebring het, die mees suksesvolle film van 2015 en een van die drie grootste rolprentgeldmakers in Afrikaans in Suid-Afrika. Sedert 2014 tot 2017 het van Nierop Maroela Media se jaarlikse buite-bioskoop aangebied en filmkykers gehelp om die films reg te ontleed en te verstaan. Hy skryf ook resensies vir Maroela Media se webwerf.

Sy boek, Daar Doer In Die Fliek, wat handel oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse filmwese het 'n groot bydrae gemaak tot die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika. Sy jongste roman, Toy Boy, (in Afrikaans Katelknaap) is 'n topverkoper in Engels en Afrikaans en is 'n verwerking van sy Lapa-roman (ook deur Tafelberg uitgegee later as Plesierengel). Van Nierop was die mede-skrywer vir kunsternaars soos Laurika Rauch en Rocco de Villiers se verhoogproduksies. In 2001 was hy 'n beoordeelaar by die Apollo Film Festival in die Karoo en was weer genader om van sy praatjies te herhaal. Van Nierop is deur die DStv-kanaal, M-Net, genader om die program, M-Net's 100 Movies to see before you die, saam te stel en aan te bied vir kanaal 109.

In April 2009 skryf en speel hy in sy eie komedie by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudshoorn oor die gebeure agter 'n radiodrama se skerms. Hy het 'n unieke novel, Snydokter, geskryf waarvan drie lede van die publiek as karakters in die storie ingebring is. Hierdie inisiatief is bekroon met drie pryse, waarvan twee ATKVeertjies en een 'n Loerie-toekenning vir die reklamemaatskappy was. Hy het sy eie tydgleuf in die kykNET-program, Ontbytsake, waar hy gesels oor rolprente en die kernpunte uitlig, genaamd Fliektyd. Vir tien jaar het van Nierop praatjies by die jaarlikse Grahamstad Filmfees gegee. Tussen 2005 en 2008 het hy meer as 40 kortfilms van studente, aan verskeie instansies verbonde, se films vervaardig.

Hy is deur die M-Net-kanaal op DStv gevra om 12 minderbevoorregte studente op te lei wat beurse ontvang het. In 2005 is hy bevorder na Hoof van die Film Akademie by die Tswane Universiteit van Tegnologie as volle professor. Tot en met 2012 het van Nierop die tydskrif Vrouekeur se reeks kortverhale se teksversorging behartig. Van Nierop het die eerste jeugverhaal die lig laat sien op RSG, Ratels, wat vir nege jaar aaneenlopend gespeel het, die langste aaneenlopende radiovervolgverhaal, waarvan die boek, Ratels, in 2014 uitgegee is deur die uitgewers Human & Rosseau. In 2019 skryf hy 'n radiodrama Koelkop, vir SABC en word uitgesaai vanaf November 2019. Hy skryf ook RSG se eerste mikrovervolgverhaal Hartebreker waarvan elke episode vyf minute lank is en in Maart 2020 sy duisendste episode gevier het. Hy skryf vanaf Maart 2020 'n daaglikse radiovervolgverhaal vir Maroela Media, Briekaandraai, met Bettie Kemp as regisseur.

Opleiding

[wysig | wysig bron]

In 1970 matrikuleer van Nierop aan Hoërskool Stoffberg in Brakpan, Gauteng en in 1974 behaal hy sy BA graad in tale en kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch. Vanaf 2005 tot 2008 doen hy 'n nagraadse studie in spesialiteits film aan die Tswane Universiteit van Tegnologie, Pretoria. Van Nierop het ook diplomas aan die Akademie vir Drama in Kaapstad behaal vir Spraak en Drama en Radio Regie en Vervaardiging, behaal.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Van sy boeke:

  • Hotel Shwalane (1980)
  • Die Huis in Hertestraat (1981) en (1988, Grootdruk)
  • Die Mense van Hertestraat, opvolg van Die huis in Hertestraat (1982 en 1989, Grootdruk)
  • Wolwedans in die skemer, as vervolgverhaal op Springbokradio uitgesaai vanaf 4 Augustus 1979 – 30 Januarie 1982 (1982)
  • Laksman (1998)
  • Seeing Sense (1998)
  • Adrenalien (1995)
  • Die Sielsmokkelaar (1996)
  • Die Plesierengel (1997)
  • Seeing Sense: On Film Analysis, 2000
  • Skrikkelkind – Girly se storie (2000)
  • Goëlfabriek (2001)
  • Doodloopstraat (2002)
  • Uitsig op die stad (2003)
  • Die nagreisiger (2004)
  • Paradys (2005)
  • Buitestander op Ouplaas (2006)
  • Movies Made Easy: A Practical Guide to Film Analysis (2008)
  • Leon van Nierop oor die filmstudie (2010)
  • Vuurvreter (2010)
  • Verklikker (2011)
  • Ratels
  • Plesierengel (nuwe weergawe)
  • Ballade vir 'n enkeling (roman) 2014.
  • Vuurvreter (2014)
  • Ballade vir 'n Enkeling (draaiboek) (2015)
  • Adrenalien (2016)
  • Sielsmokkelaar (2017)
  • Nagreisiger (2018)
  • Toy Boy/Katelknaap (2018)
  • Bloedsuier/Leach (2019)
  • Kabaret: Girly Lubbe se Konstitusie Kwellings
  • Stralerjakkers – radiovervolgverhaal
  • Daar Doer In Die Fliek (2016)
  • Koelkop (radioverdrama) (2019)
  • Hartebreker (2015 tot tans)
  • Briekaandraai (Maart 2020)

Onder sy skuilnaam, Jacqueline Brink:

  • Spel van betowering (1994 en 2002, Grootdruk)
  • Silwermaan (1995 en 2001, Grootdruk)
  • Verbode paradys (1996 en 2002, Grootdruk)
  • Venus (1996)
  • Liefdesrapsodie (2001 en 2004, Grootdruk)
  • Paradys van begeerte (2002 en 2004; Grootdruk)
  • Prins van harte (2003)
  • Romanse op Rondommooi (2003)
  • Safari van die liefde (2004)

Pryse

[wysig | wysig bron]
  • Tussen 1976 tot 1980 word hy verskeie kere genomineer vir 'n Artes-toekenning as beste radio regisseur.
  • In Desember 1999 ontvang hy die Twilight Life Time Achievement Award van 'n reklame-agentskap vir sy bydrae as veral resensent tot die rolprentbedryf in Suid-Afrika die vorige 25 jaar.
  • 'n Spesiale toekenning deur die Film Akademie van Tswane Universiteit van Tegnologie, vir sy bydrae as professor, lektor en hoof van die TUT-filmskool. (2008)
  • Hy het in 2009 die Caxton-toekenning gekry as beste rubriekskrywer van die jaar en in 2011 en 2014 weer dieselfde toekenning. S drama Twyfelberg is met die tweede prys vir die RSG-Sanlam-radiodrama-skryfkompetisie bekroon. Hy word ook met 'n ATKVeertjie in 2011 bekroon as beste radioregisseur vir sy regie van Hirosjima, mon amour.
  • ATKVeertjie-nominasie: Beste novel, Vuurvreter (2010)
  • In 2011 word hy met 'n ATKV-Media-Veertjie bekroon vir die beste dokumentêre program of programreeks vir Die Afrikaanse rolprent gister en vandag.
  • Tempo-toekenning: Beste film, Ballade vir 'n Enkeling (2015)
  • In 2017 ontvang hy 'n benoeming vir die Rapport/kykNET Boekprys vir sy boek, Daar Doer In Die Fliek, gebasseer op die televisiereeks vir kykNET.
  • Erepenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot film (2018)

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]