Gaan na inhoud

Komani

Koördinate: 31°54′0″S 26°53′0″O / 31.90000°S 26.88333°O / -31.90000; 26.88333
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Komani

Queenstown
Queenstown se stadsaal
Queenstown se stadsaal
Byname: 
Rooshoofstad van Suid-Afrika
Komani is in Oos-Kaap
Komani
Komani
 Komani se ligging in Oos-Kaap
Koördinate: 31°54′0″S 26°53′0″O / 31.90000°S 26.88333°O / -31.90000; 26.88333
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieOos-Kaap
DistrikChris Hani
MunisipaliteitEnoch Mgijima
Stigting1853
Regering
 • TipePlaaslike Munisipaliteit
Oppervlak
 • Totaal71,3 km2 (27,5 vk. myl)
Hoogte
1 081 m (3 547 ft)
Bevolking
 (2011)[1]
 • Totaal68 872
 • Digtheid966/km2 (2 500/vk. myl)
Rasverdeling (2011)
 • Wit mense6.5%
 • Indiërs/Asiërs1.1%
 • Bruin mense10.0%
 • Swart mense81.8%
 • Ander0.6%
Taal (2011)
 • Xhosa 75.2%
 • Afrikaans 13.8%
 • Engels 7.3%
 • Ander 3.7%
Poskode (strate)
5320
Poskode (posbusse)
5319
Skakelkode045

Komani (voorheen Queenstown) is 'n dorp in die Suid-Afrikaanse provinsie Oos-Kaap, wat in September 1853 deur Thomas Holden Bowker met die goedkeuring van goewerneur sir George Cathcart gestig en deur die eerste setlaars in die vorm van 'n seshoek aangelê is. Dit is die laaste plattelandse dorp met 'n eie dagblad, die Daily Representative, wat tans weekliks verskyn.

Die dorp se naam is amptelik verander na Komani in Februarie 2016.[2]

Die Anglikaanse kerk St. Michael & All Angels op Komani.
Die Rooms-Katolieke katedraal.
Queen's College is die dorp se roemryke openbare hoërskool vir seuns. Op die agtergrond is Hangklip, waarna die Hoërskool Hangklip genoem is.
Die kerkgebou van die NG gemeente Queenstown is ontwerp deur Wynand Louw en die hoeksteen in 1923 gelê.

Opvoeding

[wysig | wysig bron]

Komani is 'n belangrike opvoedkundige sentrum. Die geskiedenis van die Hoërskool Hangklip begin in 1885, 27 jaar na die roemryke Queen's College. Dit het ontstaan as 'n dubbelmedium-laerskool, Queen's Drive Primêre Skool. Die Afrikaanse gemeenskap het van krag tot krag gegaan en pogings aangewend om Afrikaans sy regmatige plek op die dorp te gee. Die strewe is vervul in 1947 toe Afrikaans die onderrigtaal in die hoërskool geword het onder die skoolhoof D.B. Malan. Dit is voorafgegaan deur die eerste st. 8-klas in 1942. In daardie jaar het die skool sy huidige naam gekry toe die skoolkomitee, onder leiding van ds. Pollock, besluit het om dit na die berg by die dorp te vernoem. Die skool se status is in 1945 tot dié van hoërskool verhef en in Januarie 1946 is die eerste st. 9-klas by die skool ingevoer. Die getalle het in so 'n mate toegeneem dat pogings aangewend is om 'n afsonderlike hoërskool te bou.

Die eerste sooi vir die nuwe hoërskool is op 15 Julie 1952 gespit deur mev. E. Louw, 'n lid van die skoolkomitee. Die gebou is op 20 Januarie 1954 ingewy, 'n trotse dag in die skool se geskiedenis. Tot 2014 was dit die grootste Afrikaansmediumskool in die Grens-gebied, waarna dubbelmedium-onderrig vanaf 2015 ingevoer is. Die skool het 'n goeie rekord in rugby en het reeds 'n Springbok (Chris de Wilzem, in 1956) opgelewer. Daar bestaan gesonde mededinging tussen Hangklip en die twee groot Afrikaanse skole in die Grens-gebied, dié op Aliwal-Noord en Hoërskool Grens in Oos-Londen.

Queen's College het sy oorsprong in 1855 met die stigting van die eerste skool op Queenstown. Die skool het in 1869 saamgesmelt met 'n privaatskool wat twee jaar vantevore gestig is. Meisies is die eerste keer in 1875 tot die Boy's Public School toegelaat en die naam is in 1880 gewysig tot Queenstown High Skool. In 1887 word die Boy's High School opnuut gestig en die ou skool word terselfdertyd die Girls' High School. Die seunskool se gebou is in Julie 1898 amptelik geopen deur sir Thomas Muir. In 1902 smelt dit saam met die Wesleyaanse skool. Die huidige naam, Queen's College Boys' High School, is eers in 1925 aanvaar. Die skool het sportmanne opgelewer soos Tony Greig, Daryll Cullinan, Kenny McEwan, Kaya Malotana, Lionel Cronje, Justin Kemp, Robbie Kempson, Dick Muir en Lwazi Mvovo.

NG gemeente

[wysig | wysig bron]

Vir hoofartikel, sien NG gemeente Queenstown

Die eerste NG gemeente is op 16 Desember 1853 van die gemeente Cradock afgestig. Die hoeksteen van die eerste kerkgebou is in September 1855 gelê. Die gemeente het snel uitgebrei en 'n nuwe kerkgebou is op 18 April 1925 ingewy. Dit is ontwerp deur die gevierde Suid-Afrikaanse argitek Gerard Moerdijk en is soortgelyk aan dié van die NG gemeente Harare en van Louis Trichardt se moedergemeente. Die Oos-gemeente is in 1953 afgestig en die Noord-gemeente in 1972. Mettertyd het baie lidmate weggetrek, sodat die twee dogtergemeentes in 1982 saamgesmelt het as Queenstown-Tuine. Die gemeente is op sy beurt weer by die moedergemeente ingelyf. In 1979 was hier byna 2 000 belydende (volwasse) NG lidmate. In 2008 het die getal afgeneem tot sowat 1 100 en teen 2010 tot sowat 870.

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Die klimaat is oor die algemeen gematig tot koel.[3] Die gemiddelde temperatuur is 17 °C. Die warmste maand is Januarie met 29 °C, Die omgewing is die koudste in Junie en Julie wanneer die kwik gemiddeld val tot 3 °C gedurende 'n wintersnag.[4] Die gemiddelde reënval is 768 millimeter per jaar. Die natste maand is Februarie met 144 mm reën, en die droogste Julie, met 9 mm.[5]

Weergegewens vir Komani
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gemiddelde maksimum (°C) 29 28 26 23 20 17 18 20 22 24 26 28 23,4
Gemiddelde temperatuur (°C) 22 21 19 16 13 10 10 12 15 16 19 20 16
Gemiddelde minimum (°C) 14 14 13 9 6 3 3 5 7 9 11 13 8,9
Neerslag (mm) 69 79 73 38 20 13 9 15 28 42 60 70 515
Bron: weatherbase

Toerisme

[wysig | wysig bron]

Die dorp beskik oor goeie toerisme-infrastruktuur met bergpaaie, piekniekplekke en 'n natuurreservaat in sy omgewing. Die N6 nasionale pad gaan deur Komani.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Som van die hoofplekke Queenstown en Mlungisi tydens die 2011-sensus.
  2. "Government Gazette No. 39669" (PDF). South African Government. 9 Februarie 2016. p. 9. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 7 Februarie 2017. Besoek op 11 Oktober 2018.
  3. Peel, M C; Finlayson, B L. "Updated world map of the Köppen-Geiger climate classification". Hydrology and Earth System Sciences. 11: 1633–1644. doi:10.5194/hess-11-1633-2007. Besoek op 30 Mei 2019.
  4. "NASA Earth Observations Data Set Index" (in Engels). NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 30 Mei 2019.
  5. "NASA Earth Observations: Rainfall (1 month - TRMM)" (in Engels). NASA/Tropical Rainfall Monitoring Mission. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 30 Mei 2019.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakel

[wysig | wysig bron]