Gaan na inhoud

Huisplant

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Variant van Sansevieria trifasciata, 'n gewilde huisplant en lid van die Laurentii-familie
Bonsai-boompies skep die atmosfeer van 'n klein bossie tuis

'n Huisplant is 'n plant wat in teenstelling met tuin- en wilde plante ook binnenshuis in woonvertrekke of kantore groei. Die meeste huisplante word in potte met 'n spesiale grondmengsel gekultiveer aangesien natuurlike grond nie beskikbaar is nie. Huisplante word oorwegend vir dekoratiewe doeleindes gebruik, maar word soms ook om gesondheidsredes gekoop omdat bepaalde spesies as lugskoonmakers 'n gesonde atmosfeer kan skep.

Karakteristieke

[wysig | wysig bron]

Veral plantspesies, wat danksy hul aanpassing by die klimaat van hul natuurlike habitat ook in staat is om in 'n binnenshuise omgewing te oorleef, is geskik om as huisplante gekweek te word. Afhangende van die klimaatstreek, waarin dit natuurlik voorkom, vereis elke huisplantspesies 'n spesiale versorging ten opsigte van lig, temperatuur, humiditeit, water, voeding en higiëne.

Baie huisplante groei ook in ligte of diep skaduwee, en net 'n kleiner aantal spesies kan heeldag regstreekse sonlig verduur. Plantkwekers kies gewoonlik spesies wat goed by die klimatiese besonderhede van menslike behuising aangepas is. Hierdie besonderhede varieer orals ter wêreld rondom 'n lugtemperatuur van tussen 18 °C en 30 °C en 'n gemiddelde lugvogtigheid. Indien 'n huisplant hoër humiditeitsvlakke benodig – soos in die geval van gewasse wat oorspronklik uit tropiese reënwoudgebiede kom – kan 'n daaglikse missproei hierdie besondere groei-atmosfeer skep.

As lugskoonmakers gebruik en verwyder huisplante skadelike stowwe soos byvoorbeeld formaldehied, toluool en ammoniak uit die lug en vorm hulle gedeeltelik om tot koolstofverbindings, terwyl hulle suurstofgas as deel van die biochemiese proses van fotosintese vervaardig en vrystel.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die antieke tydperk

[wysig | wysig bron]
Semiramis se Hangende Tuine van Babilon. 16de eeuse gravure van die Nederlandse kunstenaar Maarten van Heemskerck

Mense het al duisende jare gelede begin om huisplante te kultiveer – sowel die ou Chinese asook die Egiptenare het gewasse uit vreemde lande in potte gekweek. Navorsers neem aan dat hierdie vroeë huisplante aanvanklik nie vanweë hul dekoratiewe waarde nie, maar vir besondere rituele en geneeskundige gebruik bestem was.[1]

Maar mense het geleidelik ook die kulinêre en dekoratiewe waarde van huisplante begin waardeer. Een van die pragtigste voorbeelde vir plante, wat in steenhouers op terrasse gekweek is, was Semiramis se Hangende Tuine in Babilon (814 tot 810 v.C.). Tuinbouskoue is in die antieke China reeds omstreeks 500 v.C. gehou, terwyl Romeine en Grieke enkele eeue later veral lourierbome in erdewerkpotte gekweek het.[2] Potplante in hul huidige vorm was 'n Griekse uitvinding wat vinnig oor die hele Mediterreense wêreld versprei het. Teen die einde van die 4de eeu v.C. was daktuine en die kweek van potplante 'n algemene verskynsel in die Middellandse Seegebied. Grafskilderye lewer die bewys dat potplante vanaf die 3de eeu v.C. as binnenshuise dekorasie gebruik is. Plante in kleipotte het onder meer binnehowe verfraai.

Volgens argeologiese vondse in Pompeii is huisplante sowat 2 000 jaar gelede ook in Suid-Italië gewild geraak. Romeinse atriums is met talle bloeiende plante in hangpotte en -mandjies versier. Uitheemse plante is veral deur veldhere saam met hul oorlogsprooi na Rome saamgebring.

Die moderne tydperk

[wysig | wysig bron]
19de eeuse glashouers vir tropiese plante, soos ontwikkel deur Nathaniel Ward
Aprilblomme in 'n kwekery

Saam met die Europese seevaarders en ontdekkingsreisigers het ook steeds meer plantkundiges na die Nuwe Wêreld gevaar om navorsing oor uitheemse plantspesies te doen. Aanvanklik was daar veral belangstelling in eetbare plantsoorte of spesies van geneeskundige waarde. Mense was ywerig om steeds meer plantspesies te versamel en voordeel te trek uit die winsgewende planthandel, tog het gewoonlik net 'n klein persentasie van die gewasse die seereis in donker houers en sonder versorging oorleef.

In die vroeë 18de eeu is in Frankryk en Nederland warmwaterstelsels ontwikkel wat soos 'n verwarming vir die kweek van eksotiese plante in Noord- en Sentraal-Europa gebruik kon word. Die meeste uitheemse plante is aanvanklik in botaniese tuine of in die oranjerieë van slotparke vertoon. Eksotiese plante het aan die begin van die 19de eeu vinnig tot 'n gewilde binnenshuise dekorasie vir welgestelde burgers begin ontwikkel.

Eers omstreeks 1830, toe die Britse geneeskundige Nathaniel Bagshaw Ward (1791–1868) spesiale glashouers vir die vervoer van gevoelige plantspesies ontwikkel het, het die grootskaalse invoer van uitheemse plante na Europa 'n aanvang geneem. Plantkwekers het begin om die klimatiese besonderhede van elke habitat te bestudeer en na te boots.

Afgesien van die klein persentasie welgesteldes wat duur verwarmingstelsels kon bekostig, was die meeste mense tot by die middel van die 20ste eeu aangewese op kooloonde – en sodoende beperk tot 'n klein aantal plantspesies soos varings en hedera's of snyblomme wat koolvuur en donker, vogtige vertrekke kon verduur.

Vanaf die middel van die 20ste eeu het huisplante tot 'n meer bekostigbare en gewilde binnenshuise versiering ontwikkel. Moderne verwarmingstelsels en hoër wintertemperature het dit moontlik gemaak om ook in koel-gematigde streke tropiese huisplante soos orgideë of guzmania's te kan versorg. Vandag is 'n groot verskeidenheid huisplante vir elke vertrek van die huis, insluitende kombuis en badkamer, beskikbaar.

Die oorspronklike habitats

[wysig | wysig bron]
Phyllitis scolopendrium, 'n sierplant-variant van 'n tongvaring (asplenium), is een van min spesies uit koel-gematigde gebiede wat as huisplante gekweek kan word. Dit hou van 'n koel plek in die huis

Die klimaat van hul oorspronklike habitat is een van die beslissendste faktore by die groei van huisplante. Die meeste van ons huisplante kom dan ook oorspronklik uit tropiese en subtropiese gebiede – en dit is nie slegs aan die feit te danke dat spesies uit hierdie streke met welige groei en 'n groot verskeidenheid soorte, vorms en kleure bekoor nie. Veral die klimatiese besonderhede wat hier dwarsdeur die jaar dikwels feitlik onveranderd bly en vir tropiese en subtropiese plante – in teenstelling met spesies uit koel-gematigde streke – 'n jaarlikse onderbreking van hul lewenssiklus deur 'n natuurlike winterrus oorbodig maak, maak van hulle uiters geskikte huisplante vir binnenshuise gebruik.

Daarenteen is daar baie min spesies uit koel-gematigde klimaatstreke wat dwarsdeur die jaar bloeisels dra en as binnenshuise sierplante gekweek kan word, soos byvoorbeeld hedera's (Hedera helix) en tongvarings soos Phyllitis scolopendrium. Plante uit die aarde se poolgebiede is hoegenaamd nie geskik om as potplante gekweek te word nie.[3]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Greiner, Karin en Dr. Angelika Weber: Zimmerpflanzen. Tweede oplaag. München: Gräfe und Unzer 2008, bl. 46
  2. www.krautundrueben.de: Die geskiedenis van huisplante (de)
  3. Greiner/Weber (2008), bl. 48

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Geskiedenis van huisplante

Binneversierings

Tydskrifte