Gaan na inhoud

Hans Rosbaud

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hans Rosbaud dirigeer die WDR-simfonieorkes, 1954

Hans Rosbaud (22 Julie 189529 Desember 1962) was 'n Oostenrykse dirigent. Hy word veral geassosieer met 20ste eeuse musiek.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Rosbaud is gebore in Graz. As kinders het hy en sy broer Paul saam met hul moeder, wat onderrig in klavier gegee het, opgetree. Hy het voortgegaan om musiek te studeer aan die Hoch Konservatorium in Frankfurt onder Bernhard Sekles (komposisie) en Alfred Hoehn (klavier).

Rosbaud se eerste professionele aanstelling het in 1921 gekom as musiekdirekteur van Mainz se nuwe Musiekskool, wat die dirigeer van munisipale simfoniekonserte ingesluit het. In 1928 het hy die eerste hoofdirigent van die Hessischer Rundfunk Simfonieorkes (later die Hr-Sinfonieorchester of Frankfurt Radio-simfonieorkes) van Frankfurt geword.[1] Gedurende die 1920's en 1930's het hy verskeie premières van die werke van Arnold Schoenberg en Béla Bartók gedirigeer. Gedurende die bewind van die NSDAP (Duits: Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei) is sy vryheid om nuwe musiek aan te bied beperk. In 1937 word hy algemene musiekdirekteur van die stad Münster. In 1941 het Rosbaud dieselfde posisie in Strasbourg aan die hoof van die Orchestre philharmonique de Strasbourg beklee. Gedurende die oorlogsjare het Rosbaud doelbewus 'n lae profiel gehou en enige politieke uitsprake vermy. Dit is met goeie rede gedoen: sy broer Paul was 'n spioen vir die Geallieerdes. Hy het hulle gehelp het om onder meer inligting te verkry oor die Duitse regering se vordering met die ontwikkeling van 'n atoombom.[2]

In 1945 is Rosbaud deur die Amerikaanse besettingsmag aangestel as musiekdirekteur van die Münchense Filharmoniese Orkes. In 1948 het sy kontrak met die orkes afgeloop, aangesien die stadsvaders die orkes se repertorium in 'n konserwatiewe rigting wou stuur.[3] Daardie jaar het Rosbaud die eerste hoofdirigent geword van die Suidwes-Duitse Radio-simfonieorkes (SWR Simfonieorkes) in Baden-Baden, waar hy vir die res van sy lewe gewoon het. In 1954 het hy die eerste uitvoering van Schoenberg se opera Moses und Aron gedirigeer; hierdie uitvoering is uitgereik op 'n 1957-kommersiële opname vir Philips.[4] Hy het die SWR Simfonieorkes gereeld na kontemporêre musiekfeeste begelei, soos by Donaueschingen.[5] Hy het van 6 tot 8 Desember 1962 sy verblyf van ses weke as inwonende dirigent van die Chicago Simfonieorkes afgesluit met uitvoerings van Schumann se Klavierconcerto, met Eugene Istomin voor die klavier, en Mahler se Negende Simfonie. Hy is minder as 'n maand later op 29 Desember in Lugano, Switserland oorlede.

Erkenning

[wysig | wysig bron]

Gramophone het onlangs opgemerk dat Rosbaud "een van die onbesonge helde van middel-20ste-eeuse musiek was, wat ... deeglik voorbereide uitvoerings en premières van die wydste moontlike repertorium gegee het".[6] In Fanfare het Peter J. Rabinowitz beweer dat "Rosbaud se kuns groter was as dié van omtrent enige van sy tydgenote, behalwe miskien Leonard Bernstein , Hermann Scherchen, en Leopold Stokowski. Rosbaud word waarskynlik die beste onthou vir sy uitvoerings van Mahler en Bruckner se musiek, sy werk saam met die Tweede Weense Skool... en veral sy toewyding aan die na-oorlogse avant-garde repertorium. Maar hy was ook 'n wêreldklas vertolker van Mozart (sy uitvoerings in Aix-en-Provence in die 1950's van Mozart se operas word vandag hoër geag as die bekendste Busch-opnames van Glyndebourne)—en hy was ook 'n voorstander van vroeër musiek (hy het Gluck se Orfeo ed Euridice en Rameau se Platée opgeneem). Wat meer opvallend is, is dat hy in staat daartoe was om sy eie unieke stempel af te druk op sy uitvoerings van hierdie komponiste se werke."[7] Rosbaud was 'n hoogs gekultiveerde en belese man, en het sy intellektuele belange met mekaar afgewissel. Deur homself in diens te stel van die musiek wat hy gekies het om uit te voer, het hy die respek afgedwing van talle noemenswaardige komponiste van die 20ste eeu. Prominent in sy nalatenskap is opnames van die musiek van Bruckner, Mahler, Strawinski en Pierre Boulez. Hy was 'n onvermoeide voorstander van kontemporêre musiek, en was nou verbonde aan Karl Amadeus Hartmann. Hy het onder andere die premières van Hartmann se opera Simplicius Simplicissimus en sy Tweede en Vierde Simfonieë gedirigeer.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Potts, Joseph E., "European Radio Orchestras: Western Germany" (September 1955). The Musical Times, 96 (1351): 473-475.
  2. Schlüren, Christoph (2020) Notas by die SWR Classic SWR19099CD
  3. Monod, David (2006), "Americanizing the Patron State? Government and Music under American Occupation, 1945-1953", in Riethmüller, Albrecht, Deutsche Leitkultur Musik?: Zur Musikgeschichte nach dem Holocaust, Stuttgart: Franz Steiner, pp. 55, ISBN 3-515-08974-8, https://books.google.com/books?id=KO4001a3o6kC&q=%22Deutsche+Leitkultur+Musik%3F%22&pg=PA55 
  4. Doodsberig vir Hans Rosbaud (1963). The Musical Times, 104 (1440): 126.
  5. Helm, Everett, "Donaueschingen Festival" (Desember 1956). The Musical Times, 97 1366: 657-658.
  6. Gramophone, Sep 2007, p43
  7. Fanfare, Mei/Junie 2005

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Kulturele poste
Voorafgegaan deur
geen
Hoofdirigent, Suidwes-Duitse Radio-simfonieorkes
1948-1962
Opgevolg deur
Ernest Bour