Gaan na inhoud

Goue muntstuk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Amerikaanse Gold Eagle

'n Goue muntstuk is 'n muntstuk wat grotendeels of heeltemal van goud gemaak is. In die moderne tyd is die meeste goue munte bedoel om óf verkoop te word aan versamelaars, óf gebruik te word as goudmunte – munte wat se nominale waarde irrelevant is en wat hoofsaaklik as 'n beleggingsmetode in goud dien.

Goud word vir baie redes as betaalmiddel gebruik. Dit is gelykgesteld (een ons goud het dieselfde waarde as 'n ander ons goud), met slegs 'n klein verskil tussen aankoop- en verkoopprys. Goud is ook maklik om vervoer, want dit het 'n hoë waarde-per-massa verhouding, in vergelyking met ander kommoditeite, soos silwer. Goud kan in kleiner eenhede verdeel word, sonder om sy waarde te verlaag; dit kan ook gesmelt word in blokke, en weer saamgestel word. Goud se digtheid is hoër as die meeste ander metale s'n, dus is dit baie moeilik om te vervals. Verder is goud uiters onreaktief, dus verdof of korrodeer dit nie met verloop van tyd nie.

Goue munte kom gewoonlik in 1 ons, 1/2 ons, 1/4 ons, 1/10 en 1/20 ons groottes. Die meeste lande het 'n ontwerp wat elke jaar konstant bly; ander (soos die Chinese Pandamunte en Suid-Afrikaanse Natura-reeks) wissel elke jaar. 'n 1/10 ons goudmunt is omtrent dieselfde grootte as 'n Amerikaanse sent, en 'n 1 ons goudmuntstuk ongeveer die grootte van 'n Amerikaanse halfdollar.

Die sukses van die Krugerrand het daartoe gelei dat ook ander goudproduserende lande hulle eie goue munte uitgereik het, waaronder die Kanadese Gold Maple Leaf (1979), die Australiese Nugget (1981) en die Amerikaanse Gold Eagle (1986).

Gradering van muntstukke

[wysig | wysig bron]

'n Muntstuk se "graad" is 'n visuele evaluering van die hoeveelheid slytasie aan 'n muntstuk. Munte met min verwering word hoër gegradeer en behaal dus hoër pryse as dié met baie slytasie. Maar, uiters skaars munte van 'n laegraad kan maklik meer waardevol wees as die meer algemeen beskikbare, hoëgraad munte van dieselfde uitreikingsdatum.

In die vroeë jare van muntversameling, is drie algemene terme gebruik om 'n muntstuk se graad te beskryf:

  • Goed – Waar besonderhede sigbaar is, maar sirkulasie het die oppervlak verweer.
  • Fyn – Besonderhede is minder verweer deur sirkulasie en 'n bietjie van die glans vertoon nog op die oppervlak.
  • Nie-gesirkuleer – Besonderhede is skerp en daar vertoon 'n glans, die toestand van die muntstuk is byna soos voor algemene sirkulasie.

Nadat die versamelaarsmark vir munte vinnig gegroei het in die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu, het dit duidelik geword dat 'n meer akkurate graderingstandaard nodig was. 'n Paar munte was eenvoudig meer fyn as ander, en 'n paar ongesirkuleerde munte het meer glans vertoon en veel minder merkies as die ander gehad. Terme soos "juweel ongesirkuleerde" en "baie fyn" is toe begin gebruik, soos meer akkurate graderingsbeskrywings ook meer akkurate pryse vir die bloeiende versamelaarsmark ingelui het. In 1948 het 'n bekende numismatikus, dr. William Sheldon, probeer om 'n gestandaardiseerde muntstukgradering voor te stel, dit staan nou bekend as die Sheldonskaal.

Sheldonskaal

[wysig | wysig bron]

Die skaal strek van 0-70, waar 0 beteken dat jy kan sê dat dit eens op 'n tyd 'n muntstuk was, terwyl 70 beteken dat dit volmaak is. 60 is ongesirkuleerd, wat die algemene publiek as volmaak aansien, met geen sigbare slytasie nie.

  • Basaal of swak – (PO1) 'n stuk metaal wat geïdentifiseer kan word as 'n muntstuk.
  • Redelik – (FR2) Die tipe munt kan geïdentifiseer word, die datum mag of mag nie sigbaar wees.
  • Goed – (AG3) Die datum kan gelees word, maar dele van die munt en motiewe is glad verweer.
  • Goed – (G4 en G6) Skrif, ontwerpe en datums is sigbaar, maar erg verweer.
  • Baie goed – (VG8 en VG10) Ontwerpe en datum is duidelik, maar ontbreek besonderhede. Die "volle rand" (die lyn om die rand van die munt waar dit opgehewe is) moet sigbaar wees.
  • Fyn – (F12 en F15) Alle belangrike besonderhede is sigbaar en feitlik voltooid. In hierdie geval, beskryf "Fyn" die toestand van die muntstuk – nie die suiwerheid nie.
  • Baie fyn – (VF20, VF25, VF30 en VF35) Meer besonderhede is sigbaar met belangrike besonderhede voltooi.
  • Baie fyn (XF of EF) – (EF40 / XF40 en EF45 / XF45) Ligte slytasie op die hoë punte met 'n effense glans teenwoordig.
  • Byna ongesirkuleerd (AU) – (AU50, AU53, AU55 en AU58) Ligte tekens van slytasie sigbaar op die hoogste punte met minstens die helfte van die glans steeds teenwoordig.
  • Ongesirkuleerd (UNC) of Muntstatus – (MS60 tot MS70) Geen teken van enige slytasie met 'n paar klein knype of merkies teenwoordig.
  • Proef – (PR of PF; numeriese aanwysing gewoonlik tussen 60 en 70). Munte spesiaal geslaan vir versamelaars. Gewoonlik spieëlagtige oppervlak. Sandskiet en matproewe in sommige reekse.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.