Gaan na inhoud

Albrecht von Wallenstein

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Albrecht von Wallenstein

Hertog van Friedland
Prins van Sagan
Hertog van Mecklenburg (1628–31)
en
Generalissimus van die keiserlike Habsburgse magte (1625–34)


Gebore
24 September 1583
in
Hermanitz an der Elbe,[1] Boheme


Oorlede (vermoor)
25 Februarie 1634
in
Eger,[2] Boheme

Albrecht von Wallenstein, eintlik Albrecht Wenzel Eusebius von Waldstein, Tsjeggies Vojtěch Václav Eusebius z Valdštejna, was 'n Boheemse militaris en politikus, wat sy dienste – en 'n leër van tussen 30 000 en 100 000 man – gedurende die Deense periode (1625–1629) van die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) aan die Heilige Romeinse keiser Ferdinand II aangebied het.

Wallenstein is twee keer benoem as die opperbevelhebber van die keiserlike Habsburgse strydmagte en het aan die kant van die keiser en die Katolieke Liga teen die Protestantse magte in Duitsland asook teen Denemarke en Swede geveg. Hy was een van die sentrale figure in die oorlog.

As 'n suksesvolle generalissimus het Wallenstein hertog van Friedland, 'n streek in Noord-Boheme, geword. Die keiser het egter moeg geword vir Wallenstein se ambisies en die generaal in 1630 uit sy diens ontslaan. Ná 'n aantal Protestantse oorwinnings oor die Katolieke magte is Wallenstein deur die heerser teruggeroep. Sy militêre vernuf het die gety nog eens gedraai in die voordeel van die keiserlike magte.

Wallenstein was nogtans ontevrede oor die behandeling wat hy van keiserlike kant af gekry het en het blykbaar 'n alliansie met die Protestantse moondhede oorweeg. Op keiserlike bevel is generaal Wallenstein in 1634 in die Noordwes-Boheemse stad Eger deur keiserlike offisiere, onder wie Walter Devereux, vermoor.

Die juiste spelling van die naam was Waldstein (volgens Wallenstein se eie handtekening in vroeë briewe) of oorspronklik Waldnstein.[3] Die opeenhoping van medeklinkers soos -ldst in 'n woord is vir sprekers van Tsjeggies egter moeilik om te bemeester sodat hulle die naam as Walstein uitgespreek het, terwyl Duitsers gewoonlik een medeklinker of selfs 'n sillabe bygevoeg het. Die naam kom dus in Wallenstein se tyd in verskeie Duitse spellings soos Wallstein, Wallenstein of Wahlenstein voor – presiese spelling is in die 17de eeu nie so belangrik geag soos vandag nie. Sodra hy bekendheid as generaal verwerf het, het Wallenstein sy briewe en ander dokumente gewoonlik slegs met sy voornaam of die beginletters van voor- en familienaam geteken. Wallenstein is tans die mees gebruiklike en algemeen aanvaarde vorm van die naam.

Die Duitse naam van Wallenstein se Tsjeggiessprekende familie is – net soos in baie ander gevalle – van 'n 13de eeuse kasteel afgelei wat volgens die gewoonte van destyds deur Duitse boumeesters ontwerp, gebou en van 'n Duitse naam voorsien is. Die stamkasteel van die Wallensteins is naby Turnau in opdrag van ene Zdenek opgerig – 'n lid van 'n ou magtige en welvarende adellike geslag in Boheme. Zdenek het homself later na dié kasteel genoem of is deur ander mense só genoem.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Swart, Marius J.: Raar leiers. Stellenbosch: U.U.B., 1967.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Tsjeggies: Heřmanice nad Labem
  2. Tsjeggies: Cheb
  3. Golo Mann: Wallenstein. Frankfurt am Main: S. Fischer 1978, bl. 10