Gaan na inhoud

Satan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Duiwel)
'n Illustrasie van die duiwel op folio 290 van die Kodeks Gigas, 'n Bybel uit die vroeë 13de eeu.

Satan (Hebreeus: שָּׂטָן, sāṭān, Grieks: ὁ σατανᾶς of σατάν, ho satanas/satan, Arabies: الشَّيطان, asj-sjhaitan), ook bekend as die duiwel of as Lucifer in die Christendom, is 'n entiteit in die Abrahamitiese gelowe wat die mens verlei tot sonde of leuenagtigheid. In die Judaïsme word Satan beskou as 'n agent wat ondergeskik aan God is. Hy word gewoonlik beskou as 'n metafoor vir die yetzer hara, of "bose geneigdheid". In die Christendom en Islam word hy gewoonlik beskou as 'n gevalle engel of djien wat teen God gerebelleer het, hoewel God hom nogtans tydelike mag toelaat oor die gevalle wêreld en 'n skare demone. In die Koran is Sjaitan, ook bekend as Iblies, 'n entiteit wat van vuur gemaak is en uit die hemel gewerp is omdat hy geweier het om voor Adam te kniel en die mens se gedagtes vul met "bose voorstelle".

'n Figuur bekend as ha-satan ("die Satan") verskyn die eerste keer in die Hebreeuse Bybel as 'n hemelse aanklaer, ondergeskik aan god, wat die volk van Juda in die hemelse hof aankla en die lojaliteit van Jahweh se volgelinge toets. In die tussentestamentiese tydperk het die Satan, moontlik onder invloed van die Zoroastriese figuur Angra Mainjoe, ontwikkel in 'n kwaadwillige entiteit met afstootlike eienskappe in opposisie met God. In die apokriewe Boek van Jubileë gee Jahweh die Satan (na wie as Mastema verwys word) mag oor 'n groep gevalle engele, of hulle nageslag, om mense uit te lok tot sonde en hulle te straf.

Hoewel Genesis hom nie noem nie, identifiseer Christene die slang in die tuin van Eden as Satan. In die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) lei Satan vir Jesus in die woestyn in versoeking en word hy geïdentifiseer as die oorsaak van siektes en verleiding. In Openbaring verskyn Satan as 'n groot vuurrooi draak, wat deur die aartsengel Migael verslaan en uit die hemel gewerp word. Hy word later vir duisend jaar vasgebind, maar word vir 'n kort ruk vrygelaat voordat hy finaal verslaan en in die poel van vuur en swael gegooi word.

In die Middeleeue het Satan 'n minimale rol in die Christelike teologie gespeel en is hy vir komiese afwisseling in raaiseltoneelstukke gebruik. In die vroeë moderne tydperk het Satan se belangrikheid aansienlik toegeneem namate die geloof in besetenheid en heksery toegeneem het. In die tyd van die Verligting is die geloof in die bestaan van Satan gekritiseer deur denkers soos Voltaire. Die geloof in Satan het egter voortbestaan.

Hoewel Satan gewoonlik as boos beskou word, glo sommige groepe anders. In tradisionele satanisme word Satan as 'n godheid beskou wat óf aanbid óf vereer word. In die Kerk van Satan is hy 'n simbool van deugdelike eienskappe en vryheid. Satan se verskyning word nooit in die Bybel beskryf nie, maar sedert die 9de eeu word hy dikwels in Christelike kuns uitgebeeld met horings, hoewe, harige bene en 'n stert. Hy is dikwels nakend en hou 'n getande vurk vas. Dié eienskappe kom van 'n verskeidenheid heidense gode, soos Pan, Poseidon en Bes. Satan verskyn gereeld in Christelike letterkunde, soos in Dante Alighieri se Inferno, in al die weergawes van die klassieke Faustverhaal, in John Milton se Paradise Lost en Paradise Regained, en in die gedigte van William Blake. Hy verskyn ook in rolprente en musiek en op televisie.

Historiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]

Hebreeuse Bybel

[wysig | wysig bron]
Bileam en die engel (1836) deur Gustav Jäger. Daar word in dié geval na die engel verwys as 'n "satan".[1]

Die Hebreeuse term śāṭān is 'n generiese selfstandige naamwoord wat "beskuldiger" of "teenstander" beteken,[2][3] en is afgelei van 'n werkwoord wat "teenhou, teenstaan" beteken.[4] In die vroeëre Bybelse boeke, soos 1 Samuel 29:4, verwys dit na menslike teenstanders, maar in latere boeke, veral Job 1-2 en Sagaria 3, na 'n bonatuurlike entiteit.[3] Sonder die bepaalde lidwoord (net Satan) kan dit verwys na enige beskuldiger,[5] maar as die lidwoord gebruik word (ha-satan) verwys dit gewoonlik spesifiek na die hemelse beskuldiger, letterlik die Satan.[5]

Die woord met die bepaalde lidwoord kom in twee boeke van die Hebreeuse Bybel voor: Job en Sagaria. Dit word in Afrikaans as "die Satan" vertaal. Die woord kom nie in Genesis voor nie. Daar word net 'n slang genoem, en dit word nie met enige bonatuurlike wese geïdentifiseer nie.[6] Die eerste gebruik van die woord "Satan" in die Hebreeuse Bybel waar dit na 'n bonatuurlike figuur verwys, is in Numeri 22:22,[2] wat beskryf hoe die Engel van die Here Bileam op sy donkie konfronteer:[1][2] In 2 Samuel 24 stuur die Here die Engel van die Here om 'n pes onder Israel in te stuur waarin 70 000 mense omkom as straf daarvoor dat Dawid 'n sensus sonder sy goedkeuring opgeneem het.[7] Die storie word in 1 Kronieke 21:1 herhaal, maar die "Engel van die Here" word met "Satan" vervang.[7]

Sommige dele verwys duidelik na die Satan, sonder dat die woord self gebruik word.[8] 1 Samuel 2:12 beskryf die seuns van Eli as "slegte mense". In 1 Samuel 16:14–2 stuur die Here 'n "bose gees" om Saul te ontstel.[9] In 1 Konings 22:19–25 beskryf die profeet Miga 'n visie van die Here wat op sy troon sit omring deur "die hele hemelse leërmag".[10] Die Here vra wie Agab sover sal kry dat Agab sneuwel.[10] 'n "Gees" wat nie by die naam genoem word nie, maar wat analoog met Satan is, sê hy sal 'n "leuengees word in die mond van al sy profete".[10]

In Job

[wysig | wysig bron]
Die beproewing van Job, omstreeks 1821 deur William Blake.

Die Satan verskyn in die boek Job, wat dalk geskryf is omtrent die tyd van die Babiloniese ballingskap.[11] In die teks is Job 'n vroom en opregte man wat God dien.[11] Job 1:6-8 beskryf hoe "die hemelwesens" eendag voor die Here kom staan het.[11] Die Here vra vir een van hulle, die Satan, waar hy vandaan kom, waarop hy sê hy het die wêreld deurkruis.[11] Die Here vra toe: "En my dienaar Job? Het jy hom raakgesien?"[11] In antwoord vra die Satan toe of hy Job mag folter, en hy belowe Job sal sy geloof laat vaar sodra hy teenspoed kry.[12] Die Here stem in. Die Satan vernietig feitlik Job se hele lewe, maar Job weier om God te verwyt.[12] Ná 'n lang tyd is Job steeds getrou en word die Satan verslaan.[13]

In Sagaria

[wysig | wysig bron]

Sagaria 3:1-7 bevat die beskrywing van 'n visie wat dateer van Februarie 519 v.C.[14] waarin 'n engel vir Sagaria 'n toneel van die hoëpriester Jesua wys in liederlike vuil klere, wat Juda en sy sondes verteenwoordig.[15] Jesua word deur die Satan aangekla met die Here as die regter.[15] Die Here bestraf die Satan[15] en gee opdrag dat skoon klere vir Jesua aangetrek word, wat die Here se vergifnis van Juda se sondes verteenwoordig.[15]

Tydperk van die Tweede Tempel

[wysig | wysig bron]
'n Kaart wat die uitbreiding wys van die Achaemenidiese Ryk, waar die Jode gewoon het in die vroeë tydperk van die Tweede Tempel[3] en waar die Zoroastristiese idees oor Angra Mainyu die Joodse waarneming van Satan beïnvloed het.[3]

In die tydperk van die Tweede Tempel, toe Jode in die Achaemenidiese Ryk gewoon het, is Judaïsme in 'n groot mate beïnvloed deur Zoroastrisme, die Achaemeniede se godsdiens.[16][3][17] Die Joodse waarneming van Satan is beïnvloed deur Angra Mainyu,[3][18] die Zoroastristiese gees van boosheid, duisternis en onkunde.[3] In die Septuagint word die Hebreeuse ha-Satan in Job en Sagaria vertaal met die Griekse woord diabolos ("lasteraar"), dieselfde woord in die Griekse Nuwe Testament waarvan die Engelse woord "devil"[19] en die Afrikaans woord "duiwel" eindelik afgelei is.

Dit lyk of die idee van Satan as 'n teenstander van God en 'n suiwer bose figuur in die tydperk van die Tweede Tempel in die Joodse pseudepigrawe begin posvat het,[20] veral die Apokaliptiese apokriewe boeke.[21] Die Boek van Henog, wat volgens die Dooie See-rolle byna net so gewild soos die Tora was,[22] beskryf 'n groep van 200 engele wat oor die aarde moet toesig hou, maar hulle pligte versuim om met menslike vroue seks te hê.[23] Die leier is Semjâzâ[24] en nog 'n lid van die groep, Azazel, versprei sonde en korrupsie onder die mense.[24] Die engele word eindelik afgesonder in grotte oor die hele aarde.[24]

Die Boek van Jubileë, wat omstreeks 150 v.C. geskryf is,[25] vertel ook die storie oor die engele se neerlaag,[26] maar anders as in Henog tree Mastema, die "Hoof van Geeste", tussenbeide en vra die Here om 'n paar engele oor te laat wat sy werkers kan word.[27] Die Here gee toe aan die versoek[27] en Mastema gebruik hulle om mense uit te lok om groter sondes te pleeg, sodat hy hulle kan straf.[28] Later spoor Mastema die Here aan om Abraham te toets deur hom opdrag te gee om Isak te offer.[28][29]

2 Henog bevat verwysings na 'n soortgelyke engel met die naam Satanael. Dit is 'n pseudepigrafiese teks van 'n onsekere datum en onbekende skrywer. Die teks beskryf Satanael as die prins van die Grigori wat uit die hemel verban is en 'n bose gees wat die verskil tussen "reg" en "verkeerd" geken het. In die Wysheid van Salomo is die duiwel die een wat die dood in die wêreld gebring het.[30][31][32]

Judaïsme

[wysig | wysig bron]
Die klank van 'n sjofar verwar Satan glo simbolies.

Die meeste Jode glo nie in die bestaan van 'n bonatuurlike boosaardige figuur nie.[33] Tradisionele en filosofiese Jode het in die Middeleeue rasionele teologie aangehang en enige geloof in rebelse of gevalle engele verwerp. Hulle het boosheid as abstrak beskou.[34] Die rabbi's het gewoonlik die woord Satan sonder die lidwoord ha- beskou as verwysend na menslike teenstanders.[35] Die woord is egter soms metafories toegepas op bose invloede,[36] soos die Joodse eksegese van die yetzer hara ("bose geneigdheid" of "verdorwenheid") wat in Genesis 6:5 genoem word.[37]

Die Talmoed se beeld van Satan is teenstrydig. Hoewel die gebruik van die woord eenvormig is onder geleerdes, word hy wel gewoonlik geïdentifiseer as 'n entiteit met goddelike werksaamheid. Die wysgeers beskou Satan byvoorbeeld as 'n engel van die dood (wat later die naam "Samael" kry), want die feit dat die Here hom verbied om Job dood te maak, beteken hy sou dit andersins kon doen.[38] Ten spyte van dié vergroeiing met 'n hemelse liggaam, word Satan in dieselfde gedeelte geïdentifiseer as die yetzer hara. Rabbi's wat oor Job skryf, volg gewoonlik die Talmoed deur "die Satan" te identifiseer as 'n metafoor vir die yetzer hara en nie as 'n werklike entiteit nie.[39]

Volgens 'n vertelling is die klank van die sjofar, wat hoofsaaklik bedoel is om Jode te herinner aan die belangrikheid van berou, ook bedoel om "die beskuldiger" (Satan) simbolies te verwar en hom te keer om enige beskuldigings teen die Jode by God te maak.[40] Kabbala stel Satan voor as 'n agent van God wie se funksie dit is om mense uit te lok om te sondig sodat hy hulle in die hemelse hof kan beskuldig.[41]

Christendom

[wysig | wysig bron]
'n Illustrasie vir John Milton se Paradise Lost van die "val van Lucifer".

Die algemeenste woord vir Satan in Afrikaans is "duiwel", wat 'n Germaanse woord is wat van die Latynse diabolus kom (wat ook die bron van "diabolies" is). Dit was weer 'n leenwoord van die Griekse diabolos "lasteraar".[42] "Beëlsebub" is 'n neerhalende naam wat in die Bybel vir die duiwel gebruik word. Dit is die naam van 'n Filistynse god wat waarskynlik oorspronklik "Baäl-Sebub" ("Baäl die Prins") genoem is.[43]

Nuwe Testament

[wysig | wysig bron]

Evangelies, Handelinge en briewe

[wysig | wysig bron]
Die duiwel in Die Versoeking van Christus, deur Ary Scheffer, 1854.

Die drie sinoptiese evangelies beskryf almal die versoeking van Christus in die woestyn deur Satan (Matteus 4:1-11, Markus 1:12-13 en Lukas 4:1-13).[44] Satan speel ook 'n rol in sommige van Jesus se gelykenisse, soos dié van die saaier, die onkruid, die skape en bokke en die sterk man.[45]

Die sinoptiese evangelies identifiseer Satan en sy demone as die oorsake van siektes,[46] insluitende koors (Lukas 4:39), malaatsheid (Lukas 5:13) en artritis (Lukas 13:11-16),[46] terwyl die Brief aan die Hebreërs die duiwel beskryf as "die een wat mag het oor die dood" (Hebreërs 2:14).[47] Die skrywers van Lukas en Handelinge gee meer mag aan Satan as Matteus en Markus.[48] In Lukas 2:31 gee Jesus aan Satan die mag om Petrus en die ander apostels te toets.[49] Volgens Lukas 22:3-6 het Judas Iskariot Jesus verraai omdat Satan "in hom gevaar het"[48] en in Handelinge 5:3 beskryf Petrus hoe Satan Ananias omgehaal het om te sondig.[50]

In Johannes word Satan se naam baie min genoem. In Johannes 8:44 sê Jesus vir sy Joodse vyande hulle is die kinders van die duiwel en nie van Abraham nie.[51] Volgens Johannes 13:2 het die duiwel Judas op die gedagte gebring om Jesus te verraai.[52]

In die Nuwe Testament word Satan ook ander name genoem: "die versoeker" (Matteus 4:3),[3] "die aanvoerder van die bose geeste" (Matteus 12:24),[53][3] "die god van hierdie wêreld" (2 Korintiërs 4:4)[54] en 'n "brullende leeu" (1 Petrus 5:8).[53]

In Openbaring

[wysig | wysig bron]
Sint Migael oorwin Satan, deur Raphael (1518). Dit wys hoe hoe Migael Satan uit die hemel gooi, soos beskryf in Openbaring 12:7-8.

In Openbaring verteenwoordig Satan die bonatuurlike heerser van die Romeinse Ryk en die uiterste oorsaak van alle boosheid in die wêreld.[55] In Openbaring 2:9-10, as deel van die brief aan die kerk by Smirna, verwys Johannes van Patmos na die Jode van Smirna as 'n "sinagoge van Satan".[56] Hy waarsku hulle: "Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry."[56]

In Openbaring 2:13-14, in die brief aan die kerk by Pergamum, waarsku Johannes dat hulle bly daar waar "Satan se troon" is.[57] Pergamum was die hoofstad van die Romeinse provinsie Asia[57] en "Satan se troon" verwys dalk na die monumentale Pergamon-altaar in die stad, wat opgedra was aan die Griekse god Zeus,[57] of na 'n tempel wat opgedra was aan die Romeinse keiser Augustus.[57]

La Bête de la Mer (van die Tapisserie de l'Apocalypse in Angers, Frankryk). Dit is 'n Middeleeuse tapisserie wat die duiwel as 'n draak met sewe koppe in Openbaring uitbeeld.

Openbaring 12:3 beskryf 'n visioen van 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe, tien horings, sewe krone en 'n enorme stert,[58] 'n beeld wat waarskynlik geïnspireer is deur die visioen van die vier groot diere uit die see in Daniël 7[59] en die Leviatan wat in verskeie dele van die Ou Testament beskryf word.[60] Die draak se groot stert sleep 'n derde van die sterre saam en gooi hulle op die aarde, en hy bedreig die Vrou van die Apokalips.[61] Openbaring 12:7-9 lui: "Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom." Toe het 'n stem hard uitgeroep: "Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het."

In Openbaring 20:1-3 word Satan vasgebind en vir duisend jaar in die onderaardse diepte gegooi. In Openbaring 20:7-10 word hy vrygelaat en bring hy die nasies byeen om oorlog teen die gelowiges te voer. Hy word egter verteer deur vuur uit die hemel en word in die poel van vuur en swael gegooi.[62] Sommige Christene verbind Satan met die getal 666, wat Openbaring 13:18 die getal van die dier noem.[63] Die dier wat daar genoem word, is egter nie Satan nie.[64] Die gebruik van 666 in Openbaring is al vertolk as dat dit na die Romeinse keiser Nero verwys, want 666 is die numeriese waarde van sy naam in Hebreeus.[63]

Kerkvaderlike tydperk

[wysig | wysig bron]
Die tuin van Eden met die sondeval van die mens, deur Jan Brueghel die ouere en Peter Paul Rubens, omstreeks 1615, wys hoe Eva uitreik na die verbode vrug en Satan wat bo haar kop om 'n tak gekrul is.

Christene identifiseer die slang in die tuin van Eden tradisioneel met Satan, vanweë Openbaring 12:7, wat Satan "die slang van ouds" noem.[65][3] Dié vers verbind egter Satan waarskynlik met die Leviatan,[65] 'n monsteragtige seeslang waarvan die vernietiging deur die Here in Jesaja 27:1 voorspel word.[60] Die eerste individu wat Satan sover bekend met die slang van die Paradys verbind het, is die 2de-eeuse Christelike apologeet Justin die Martelaar,[66][67] in hoofstukke 45 en 79 van sy Dialoog met Trifo.[67] Ander vroeë kerkvaders wat dié identifikasie gebruik het, sluit in Teofilus van Antiogië en Tertullianus.[68]

Lucifer (1890), deur Franz Stuck. Weens kerkvaders se verkeerde vertolking van die Latynse naam in Jesaja 14:12 word die naam Lucifer (wat eintlik "môrester" beteken) soms vir Satan gebruik.[69][70]

Die vroeë Christelike kerk het egter teenstand gekry van ongelowiges soos Celsus, wat in sy werk Die Ware Woord gesê het "dit is godslasterlik... om te sê die grootste God... het 'n teenstander wat sy vermoë om goed te doen beperk". Hy het verder gesê Christene "verdeel die koninkryk van God goddelooslik en skep 'n rebellie daarin, asof daar opponerende faksies in die goddelike is, insluitende een wat vyandiggesind teenoor God is".[71]

Die Latynse naam "Lucifer"[69] word deur baie Christene as 'n alternatiewe naam vir Satan gebruik.[69] Dit was egter die Latynse naam van Attar, die Kanaänitiese god van die planeet Venus,[72][73] wat die mure van die hemelse stad probeer afdop het,[74][72] maar deur Sjamasj, die god van die son, verslaan is.[74] Die naam word in Jesaja 14:12 gebruik met verwysing na die koning van Babel.[74]

Volgens die verlossingsteorie van boetedoening, wat gewild was onder vroeë Christelike teoloë,[75][76] het Satan mag oor die mens gekry deur Adam en Eva se sonde,[75][77] en was Christus se dood aan die kruis 'n losprys aan Satan in ruil vir die mens se bevryding.[75][78] Die teorie is later uitgebrei.[75] Ná die 11de eeu het die gewildheid daarvan in Wes-Europa afgeneem.[75][79] Dit het egter 'n deel van sy gewildheid behou in die Oosters-Ortodokse Kerk.[75]

Die meeste vroeë Christene het geglo Satan en sy demone het die mag om besit van mense te neem,[80] en duiweluitdrywing is algemeen toegepas deur Jode, Christene én ongelowiges.[80] 'n Geloof in besetenheid het deur die Middeleeue voortbestaan tot in die vroeë moderne tydperk.[81][82] Duiweluitdrywings is beskou as 'n vertoning van God se mag oor Satan.[83]

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Middeleeuse miniatuurskildery van pous Silvester II wat met Satan verkeer, omstreeks 1460.
Satan, uit Hans Memling se Triptiek van aardse ydelheid en goddelike redding, c. 1485.

Satan het in die Middeleeue 'n minimale rol in Christelike teologie gespeel,[84] maar hy is in die laat Middeleeue dikwels as 'n komiese figuur uitgebeeld in raaiseltoneelstukke: 'n fguur wat op die agtergrond rondspring, val en winde laat.[84] Volgens Jeffrey Burton Russell was die Middeleeuse siening van Satan "eerder pateties en afstootlik as vreesaanjaend",[84][85] en is hy beskou as nie veel meer nie as 'n ergernis in God se oorkoepelende plan.[84]

Die Goue Legende, 'n versameling oor heiliges se lewe wat omstreeks 1260 deur Jacobus de Voragine saamgestel is, bevat talle stories oor ontmoetings tussen heiliges en Satan[86] waarin Satan die hele tyd gefop word deur die heiliges se slimheid en deur die mag van God.[86] Henry Ansgar Kelly noem dat Satan "lyk soos die teenoorgestelde van angswekkend".[87] Die Goue Legende was die gewildste boek in die middelste en laat Middeleeue[88] en meer manuskripte daarvan het bewaar gebly as van enige ander boek, insluitende die Bybel self.[88]

Die Canon Episcopi, wat in die 11de eeu geskryf is, veroordeel die geloof in heksery as kettery,[89] maar noem ook dat baie mense in dié tyd blykbaar in hulle geglo het.[89] Daar is geglo hekse vlieg deur die lug op besems,[89] verkeer met demone[89] en het seks met hulle[90][91], neem deel aan onsmaaklike seksrituele in die woude[89] en vermoor kinders en eet hulle as deel van sataniese rituele.[91] In 1326 het pous Johannes XXII die pouslike bul Super illius Specula[92] uitgereik waarin hy waarsêerypraktyke veroordeel het as konsultasies met Satan.[92] Teen die 1430's het die Katolieke Kerk heksery begin beskou as deel van 'n groot sameswering wat deur Satan self gelei word.[93]

Vroeë moderne tydperk

[wysig | wysig bron]
'n Skildery van omstreeks 1788 deur Francisco Goya wat sint Franciskus Borgia uitbeeld wat duiwels uitdryf. In die vroeë moderne tydperk is duiweluitdrywings beskou as 'n vertoning van God se mag oor Satan.[83]
In die vroeë moderne tydperk is geglo hekse is betrokke by seksueel eksplisiete rituele met demone,[89] soos die een in dié illustrasie deur Martin van Maële in die uitgawe van 1911 van Satanisme en heksery deur Jules Michelet.

In die vroeë moderne tydperk het Christene Satan geleidelik as al hoe magtiger beskou[90] en vrees vir Satan het 'n oorheersende aspek van Christene in Europa geword.[83][84] Tydens die Protestantse Hervorming het Martin Luther geleer dat Christene nie met Satan moet argumenteer nie, maar versoekings moet weerstaan deur aangename geselskap op te soek;[94] Luther het veral musiek aanbeveel as beskerming teen versoekings, want "die duiwel kan nie vrolikheid verduur nie".[94] Johannes Calvyn het 'n grondbeginsel van sint Augustinus herhaal dat 'n mens "soos 'n perd is, met nóg God nóg die duiwel as ruiter".[95]

In die laat 15de eeu het 'n reeks hekseryvrese in Frankryk en Duitsland ontstaan.[92][93] Die Duitse inkwisiteurs Heinrich Kramer en Jacob Sprenger het in hulle boek Malleus Maleficarum, wat in 1487 gepubliseer is, gesê alle maleficia ("towenary") se wortels lê in die werk van Satan.[96] In die middel 16de eeu het die paniek na Engeland en Switserland versprei.[92] Beide Protestante en Katolieke het in heksery geglo as 'n werklike verskynsel en wou hê dit moet vervolg word.[97][98]

In die laat 1500's het die Nederlandse demonoloog Johann Weyer in sy geskrif De praestigiis daemonum geargumenteer dat heksery nie bestaan nie,[99] maar dat Satan 'n geloof daarin bevorder om Christene op die verkeerde pad te bring.[99] Die paniek oor heksery het in die 1620's toegeneem en voortgeduur tot aan die einde van die 1600's.[92] Brian Levack raam sowat 60 000 mense is weens heksery tereggestel gedurende die hele tyd van die hekseryhisterie.[92]

Die vroeë Engelse setlaars van Noord-Amerika, veral die Puriteine van Nieu-Engeland, het geglo Satan regeer "sigbaar en voelbaar" in die Nuwe Wêreld.[100] Die Engelse regsgeleerde John Winthrop het beweer die duiwel laat opstandige Puriteinse vroue die lewe skenk aan doodgebore monsters met kloue en skerp horings.[101] Die Nieu-Engelandse geestelike en skrywer Cotton Mather het geskryf duiwels drom saam om Puriteinse nedersettings "soos die paddas van Egipte".[102] Die Puriteine het gelo die inheemse inwoners aanbid Satan[103] en het hulle beskryf as "kinders van die duiwel".[100]

Teen die vroeë 1600's het skeptici in Europa, insluitend die Engelse skrywer Reginald Scot en die Anglikaanse biskop John Bancroft, die geloof begin kritiseer dat demone steeds die mag het om besit van mense te neem.[104] Die skeptisisme was geanker in die geloof dat wonderwerke net plaasgevind het in die apostoliese tydperk, wat sedertdien geëindig het.[105] Later het denkers van die Verligting, soos David Hume, Denis Diderot en Voltaire, die idee aangeval dat Satan enigsins bestaan.[106] Voltaire het John Milton se Paradise Lost 'n "walglike fantasie" genoem[106] en gesê 'n geloof in die hel en Satan is onder die baie leuens wat die Katolieke Kerk versprei om mense te onderwerp.[106] Teen die 18de eeu het verhore vir heksery in die meeste Westerse lande opgehou, met die noemenswaardige uitsondering van Pole en Hongarye.[107] Die geloof in die mag van Satan het egter sterk gebly onder tradisionele Christene.[107]

Moderne tydperk

[wysig | wysig bron]
Die engel van boosheid (Le génie du mal), deur Guillaume Geefs (1848).

Mormonisme het sy eie idees oor Satan ontwikkel. Volgens die Boek van Moses het die duiwel aangebied om die verlosser van die mens te wees ter wille van sy eie glorie. Daarteenoor het Jesus aangebied om die Verlosser van die mens te wees sodat sy Vader se wil uitgevoer kan word. Nadat Satan se aanbod van die hand gewys is, het hy opstandig geword en is hy uit die hemel gewerp.[108] Die Boek van Moses sê Kain "het Satan liewer gehad as vir God",[109] en het met Satan saamgesweer om Abel te vermoor.

'n Geloof in Satan en duiwelse besetenheid is steeds sterk onder Christene in die Verenigde State[110][111][112] en Latyns-Amerika.[113] Volgens 'n meningspeiling in 2013 deur die dataontledingsmaatskappy YouGov glo 57% van mense in die VSA in 'n letterlike duiwel,[110] in vergelyking met 18% in Brittanje.[110] Altesaam 51% van Amerikaners glo Satan het die mag om besit van mense te neem.[110] W. Scott Poole, skrywer van Satan in America: The Devil We Know, meen 'n "saamgestelde beeld van Satan het oor die afgelope 40, 50 jaar in Amerika ontstaan wat ontleen aan beide gewilde kultuur en teologiese bronne", en dat die meeste Amerikaanse Christene "nie onderskei tussen wat hulle [oor Satan] weet uit rolprente en wat hulle weet uit verskillende ekklesiastiese en teologiese tradisies nie".[101]

Die gevalle engel, deur Alexandre Cabanel (1847).

Die Katolieke Kerk het in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu die duiwel en duiweluitdrywing onderspeel,[113] maar pous Franciskus het in die vroeë 2010's 'n hernude fokus op die duiwel geplaas deur onder meer te sê: "Die duiwel is intelligent; hy weet meer van telogie as al die teoloë saam."[113][114] Volgens die Encyclopædia Britannica is liberale Christene geneig om Satan te beskou "as 'n [figuurlike] mitologiese poging om die realiteit en omvang van boosheid in die heelal uit te druk wat buite en apart van die mens bestaan, maar die menslike sfeer grondig beïnvloed".[115]

Die Amerikaanse teoloog Bernard McGinn beskryf verskeie tradisies wat betref die verhouding tussen Satan en die Antichris.[116] In die dualistiese benadering sal Satan 'n vleeswording ondergaan as die Antichris, nes soos God in Jesus 'n vleeswording ondergaan het.[116] In die Ortodokse Christendom is dié siening egter problematies, omdat dit te veel ooreenstem met Christus se vleeswording.[116] In plaas daarvan het die "bewoonde" siening gewild geword[116]; daarvolgens is die Antichris 'n menslike figuur wat deur Satan bewoon word.[116]

Islam

[wysig | wysig bron]

Die Arabiese ekwivalent van Satan is Sjaitan (شيطان, "op 'n dwaalspoor", soms vertaal as "duiwel") wat op 'n mens en 'n djien toegepas kan word, maar ook gebruik word om spesifiek na Satan te verwys. In die Koran is Satan se naam Iblies, moontlik 'n afleiding van die Griekse diabolos.[117] Moslems beskou Satan nie as die oorsaak van boosheid nie, maar as 'n versoeker wat die mens se neiging tot selfgesentreerdheid uitbuit.[118]

Koran

[wysig | wysig bron]
'n Illustrasie wat Satan uitbeeld waar hy weier om voor Adam te kniel.

Sewe soeras in die Koran beskryf hoe God al die engele en Iblies opdrag gee om voor Adam te prostreer (kniel).[3][119][117] Al die engele het gekniel, maar Iblies het geweier[3][119][117] en gesê hy is beter as Adam omdat hy uit vuur geskape is, terwyl Adam uit klei geskape is.[120][117] God het Iblies toe uit die Djanna (hemel) verban[3][117] na die Djahannam (hel).[121][117] Iblies was daarna 'n kafir, 'n "ondankbare ongelowige",[3] van wie die hoofdoel is om mense op die verkeerde pad te bring.[3][122] God laat Iblies toe om dit te doen,[3][123] omdat hy weet die gelowiges sal in staat wees om Iblies se pogings af te weer.[3] Op die Oordeelsdag sal almal wat hom gevolg het, in die vure van Djahannam gegooi word,[121][117] hoewel Satan se eie lot onseker is.[124] Nadat Iblies uit die Paradys gegooi is, het hy bekend geword as Al-Sjaitan ("die Demoon")[121] en het hy Adam en Eva verlei om van die verbode vrugte te eet.[121][117][125]

Satan se hoofeienskap, benewens sy aanmatiging en wanhoop, is sy vermoë om bose voorstelle (waswās) aan mans en vroue te doen.[126] Volgens Soera 15:45 het Satan geen invloed oor die gelowiges nie,[127] maar dié wat val, sal in sy mag wees.[127] Soera 7:156 impliseer dat dié wat God gehoorsaam immuun is teen die versoekings van Satan.[127] Moslems word gewaarsku dat Satan hulle probeer verhoed om die Koran te lees[128] en soera 16:98-100 beveel aan dat die Koran voorgedra word as 'n teenmiddel teen Satan.[128] Soera 35:6 verwys na Satan as die vyand van die mens[128] en verbied mense om hom te aanbid.[128] In die hervertelling van die verhaal van Job in die Koran weet Job dit is Satan wat hom folter.[128]

Islamitiese tradisie

[wysig | wysig bron]

Aansluiting

[wysig | wysig bron]
Die engele ontmoet Adam, en hulle lyftaal wys hulle deel, hoewel in 'n mindere mate, die uitdagende reaksie van Iblies, wat agter staan met sy kop weggedraai. Volgens sommige tradisies het God Iblies geskep as 'n pragtige engel met die naam ʿAzāzīl, en hy word as sulks hier uitgebeeld. Sy donkerder vel dui op sy komende val, maar hy het die vlerke en haarstyl van 'n engel.

In die Koran is Satan blykbaar 'n engel,[117] terwyl hy in soera 18:50 beskryf word as "een van die djien".[117] Dit, tesame met die feit dat hy homself beskryf as uit vuur geskape, veroorsaak 'n groot probleem onder die Moslemse eksegete van die Koran,[117] wat nie saamstem oor of Satan 'n gevalle engel of die leier van 'n groep bose djien is nie.[129] Volgens 'n hadit van Ibn Abbas was Iblies in werklikheid 'n engel wat God uit vuur geskape het. Ibn Abbas meen die woord "djien" kan vir aardse djien gebruik word, maar ook vir vuuragtige engele soos Satan.[130]

Hasan van Basra, 'n vooraanstaande Moslemse teoloog wat in die 7de eeu gelewe het, word aangehaal met: "Iblies was nie eens vir 'n oogwink 'n engel nie. Hy is die oorsprong van djien, soos wat Adam die oorsprong van die mens is."[131] Die Middeleeuse Persiese geleerde Abu al-Zamakhshari het gesê die woorde "engele" en "djien" is sinonieme.[132] 'n Ander Persiese geleerde, al-Baydawi, het egter geredeneer dat Satan gehoop het om 'n engel te wees,[132] maar dat sy dade hom 'n djien gemaak het.[132] Abu Mansur al-Maturidi, wat beskou word as die stigter van die Soennitiese Matoeridistiese ortodoksie, het gemeen omdat engele deur God geseën kan word, kan hulle ook getoets en gestraf word. Daarvolgens het Satan 'n sjaitan geword nadat hy geweier het om gehoorsaam te wees.[133]

Die Moslemse historikus Al-Tabari, wat omstreeks 923 oorlede is,[117] skryf dat, voordat Adam geskape is, aardse djien wat van rooklose vuur gemaak is die aarde bewandel en korrupsie versprei het.[134] Hy sê verder Iblies was oorspronklik 'n engel met die naam Azazil of Al-Harith,[135] wat deur God gestuur is om die aardse djien te konfronteer.[136][117] Azazil het die djien in 'n geveg verslaan en hulle die berge in gedryf,[136] maar hy het oortuig geword dat hy beter as mense en ander engele is, en dit het tot sy val gelei.[136] In dié weergawe is Azazil se groep engele "djien" genoem omdat hulle Djannah (die Paradys) verdedig het.[137]

Ander tradisies

[wysig | wysig bron]
Die steniging van die duiwel, 1942.

In die eerste twee eeue van die Islam het Moslems die tradisionele storie bekend as die Sataniese Verse feitlik eenparig aanvaar.[138] Volgens dié vertelling het Satan aan Mohammed gesê om woorde by die Koran te voeg wat Moslems in staat sou stel om te bid vir die voorspraak van heidense godinne.[139] Mohammed het Satan se woorde verkeerd verstaan as "goddelike inspirasie".[138] Moderne Moslems verwerp dié storie algemeen as godslasterlik, want dit gooi 'n skadu oor die integriteit van die Koran.[140]

Op die derde dag van die gadj gooi Moslemse pelgrims na Mekka sewe keer klippe na 'n pilaar bekend as Jamrah al-’Aqabah, wat die steniging van die duiwel simboliseer.[141] Dié ritueel is gebaseer op die Islamitiese tradisie dat, toe God aan Abraham opdrag gegee het om sy seun Ismael te offer, Satan hom drie keer probeer oorreed het om dit nie te doen nie. Abraham het elke keer gereageer deur sewe klippe na hom te gooi.[141][142]

Die hadit leer dat nuutgebore babas huil omdat Satan aan hulle raak wanneer hulle gebore word, en dat dié aanraking mense noop om te sondig.[143] Dié leerstelling het sekere ooreenkomste met die erfsonde.[143] Volgens Moslemse tradisie is net Jesus en Maria nie met hulle geboorte aangeraak nie.[143] Mohammed se hart is egter by sy geboorte letterlik deur 'n engel oopgemaak om 'n swart klont te verwyder wat sonde simboliseer.[143]

Islamitiese mistisisme

[wysig | wysig bron]

Volgens sommige aanhangers van Soefistiese mistisisme het Iblies geweier om voor Adam te kniel omdat hy aan God alleen toegewy was en geweier het om voor enigiemand anders te buig.[144][132] Om dié rede beskou Soefistiese meesters Satan en Mohammed as die twee perfekte monoteïste.[144] Soefi's verwerp die begrip dualisme.[144][145] Op dieselfde manier as waarop Mohammed die instrument van God se genade was,[144] was Satan die instrument van God se wraak.[144] Sjeg Adi ibn Musafir was een van die Soefistiese mistici wat Iblies verdedig het. Hy het gesê boosheid is ook God se skepping: As boosheid sonder die wil van God bestaan het, sou God magteloos gewees het, en magteloosheid kan nie 'n eienskap van God wees nie.[146]

Sommige Soefi's glo omdat Iblies deur God bestem is om 'n duiwel te wees, sal God hom ook tot sy vorige engelskap herstel. Attar vergelyk Iblies se veroordeling met die Bybelse Benjamin: Albei is onregverdig veroordeel, maar hulle straf het 'n groter betekenis gehad. Op die ou einde sal Iblies uit die hel verlos word.[147]

Baha’i

[wysig | wysig bron]

In Bahaïsme word Satan nie beskou as 'n onafhanklike bose mag nie,[148][149] maar as die "laer natuur" van die mens.[148][149] Abdu'l-Bahá verduidelik: "Dié laer natuur in die mens word gesimboliseer as Satan – die bose ego in ons, nie 'n bose persoonlikheid buite ons nie."[148][149]

Alle ander bose geeste wat in verskeie geloofstradisies beskryf word – die gevalle engele, demone en djien – is ook metafore vir die slegte karaktertrekke wat 'n mens kan verkry as hy sy rug op God keer.[150] Dade wat in sommige Bahaïstiese geskrifte as "satanies" beskryf word, dui op mense se dade wat deur selfsugtige begeertes veroorsaak word.[151]

Satanisme

[wysig | wysig bron]

Teïstiese satanisme

[wysig | wysig bron]
Die omgekeerde pentagram is een van die bekendste en algemeenste simbole van satanisme.[152]

In teïstiese satanisme, waarna algemeen as "duiwelaanbiddery" verwys word,[153] word Satan as 'n godheid beskou waartoe mense kan bid.[154][155] Dit bestaan uit losweg verwante of onafhanklike groepe, wat almal saamstem dat Satan 'n werklike entiteit is.[156]

Ateïstiese satanisme

[wysig | wysig bron]

Ateïstiese satanisme, soos beoefen deur die Kerk van Satan en die Sataniese Tempel, glo Satan bestaan nie as 'n letterlike entiteit nie, maar eerder as 'n simbool van 'n kosmos wat sataniste glo deurtrek en gemotiveer word deur 'n mag wat deur die eeue verskillende name gekry het. In dié godsdiens word Satan nie beskou of uitgebeeld as 'n aanmatigende, irrasionele en bedrieglike wese nie, maar hy word vereer met Prometeusagtige eienskappe wat vryheid en individuele bemagtiging simboliseer. Vir aanhangers dien hy ook as 'n begripsraamwerk en 'n eksterne mataforiese projeksie van die Satanis se hoogste persoonlike potensiaal.[157][158]

LaVey-sataniste aanvaar die oorspronklike etimologiese betekenis van die woord "Satan" (Hebreeus: שָּׂטָן satan, "teenstander"). Volgens Peter H. Gilmore "het die Kerk van Satan hom gekies as sy primêre simbool omdat sy naam in Hebreeus 'teenstander' beteken, of 'een wat beskuldig, bevraagteken'. Ons beskou onsself as dié Satans; die teenstanders en beskuldigers van alle spirituele geloofstelsels wat probeer om die genieting van ons lewe as mense te belemmer."[159]

Post-LaVey-sataniste, soos die aanhangers van die Sataniese Tempel, wat in 2013 gestig is, beskou Satan as 'n simbool wat "die ewige rebel" teen arbitrêre mag en sosiale norme verteenwoordig. Hulle glo die menslike dier het 'n natuurlik onbaatsugtige en kommunale neiging, en beskou Satan as 'n figuur wat stry teen ongeregtigheid en aktivisme. Hulle glo ook in liggaamlike outonomiteit, dat persoonlike opvattings moet aanpas by die wetenskap en dat mense moet boete doen vir hulle foute.[160]

In die kultuur

[wysig | wysig bron]

In letterkunde

[wysig | wysig bron]

In Dante Alighieri se Inferno verskyn Satan as 'n reusedemoon wat in die middel van die negende sirkel van die hel gevries is.[161][162] Satan het drie gesigte en 'n paar vlermuisagtige vlerke onder elke ken.[163] In sy drie monde kou hy aan Brutus, Judas Iskariot en Cassius,[163] wat Dante beskou het as "die verraaiers van die twee grootste menslike helde":[164] Julius Caesar, die stigter van die nuwe orde van regering, en Jesus, die stigter van die nuwe orde van godsdiens.[164] Terwyl Satan sy vlerke klap, skep hy 'n koue wind wat alles om hom en die ander sondaars in die negende sirkel vries.[163]

Satan verskyn in verskeie stories van The Canterbury Tales deur Geoffrey Chaucer,[165] insluitende "The Summoner's Prologue", waarin 'n monnik in die hel aankom en geen ander monnike sien nie,[166] maar hoor daar is miljoene.[166] Satan lig dan sy stert en onthul al die monnike lewe in sy anus.[166] Chaucer se beskrywing van Satan is duidelik gebaseer op Dante se Satan.[166] Die legende van Faust van 1589 gaan oor 'n ooreenkoms tussen die Duitse geleerde Johann Georg Faust en 'n demoon met die naam Mefistofeles waarin Faust instem om sy siel aan die duiwel te verkoop in ruil vir 24 jaar van aardse plesier.[167]

'n Plakkaat vir die toneelstuk Rosemary's Baby (November 1968).

In John Milton se epiese gedig Paradise Lost is Satan die hoofkarakter.[168][169] Milton beeld Satan uit as 'n tragiese antiheld wat deur sy eie aanmatiging vernietig word.[169] Die gedig, wat groot inspirasie uit Griekse tragedies gekry het,[170] herskep Satan as 'n ingewikkelde letterkundige karakter[171] wat dit waag om teen God se "tirannie" te rebelleer,[172][173] ten spyte van God se almag.[172][174]

William Blake het Satan beskou as 'n model van rebellie teen onregverdige mag[106] en het hom in baie van sy gedigte en illustrasies gebruik,[106] insluitende die boek van 1780 The Marriage of Heaven and Hell.[106] Daarin word Satan vereer as die uiterste rebel, die inkarnasie van menslike emosie en die verpersoonliking van vryheid van alle vorme van rede en ortodoksie.[106]

In rolprente en op die verhoog

[wysig | wysig bron]

Die duiwel word uitgebeeld as 'n vampiervlermuis in Georges Méliès se The Haunted Castle (1896),[175] wat dikwels beskou word as die eerste rillerfliek.[176]

Die toneelstuk van Ira levin se boek Rosemary's Baby, met Mia Farrow as Rosemary, is op 12 Junie 1968 in teaters in Amerika uitgereik.[177] Die rolprentweergawe van die roman, ook met Farrow, was 'n groot treffer[178] en het sataniese temas algemeen in hoofstroomrillerflieks gemaak.[179] Latere rolprente soos The Exorcist (1973), The Omen (1976), Angel Heart (1987) en The Devil's Advocate (1997) het Satan as 'n antagonis uitgebeeld.[180]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Kelly 2006, pp. 15–16.
  2. 2,0 2,1 2,2 Kelly 2006, p. 16.
  3. 3,00 3,01 3,02 3,03 3,04 3,05 3,06 3,07 3,08 3,09 3,10 3,11 3,12 3,13 3,14 3,15 3,16 Campo 2009, p. 603.
  4. Red. Buttrick, George Arthur; The Interpreter's Dictionary of the Bible, An illustrated Encyclopedia
  5. 5,0 5,1 Kelly 2006, pp. 1–13, 28–29.
  6. Kelly 2006, p. 14.
  7. 7,0 7,1 Kelly 2006, p. 20.
  8. Kelly 2006, pp. 18–19.
  9. Kelly 2006, p. 18.
  10. 10,0 10,1 10,2 Kelly 2006, p. 19.
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 11,4 Kelly 2006, p. 21.
  12. 12,0 12,1 Kelly 2006, pp. 21–22.
  13. Steinmann, AE. "The structure and message of the Book of Job". Vetus Testamentum.
  14. Kelly 2006, p. 23.
  15. 15,0 15,1 15,2 15,3 Kelly 2006, p. 24.
  16. Russell 1977, p. 102.
  17. Peter Clark, Zoroastrianism: An Introduction to Ancient Faith 1998, p. 152
  18. Winn, Shan M.M. (1995). Heaven, heroes, and happiness : the Indo-European roots of Western ideology. Lanham, Md.: University press of America. p. 203. ISBN 0-8191-9860-9.
  19. Kelly 2006, p. 30.
  20. Jackson, David R. (2004). Enochic Judaism. London: T&T Clark International. pp. 2–4. ISBN 0-8264-7089-0.
  21. Berlin, Adele, red. (2011). The Oxford dictionary of the Jewish religion (2nd uitg.). New York: Oxford University Press. p. 651. ISBN 978-0-19-973004-9.
  22. Kelly 2006, pp. 42–43.
  23. Kelly 2006, pp. 34–35.
  24. 24,0 24,1 24,2 Kelly 2006, p. 35.
  25. Kelly 2006, p. 36.
  26. Kelly 2006, pp. 36–37.
  27. 27,0 27,1 Kelly 2006, p. 37.
  28. 28,0 28,1 Kelly 2006, pp. 37–40.
  29. Introduction to the Book of Jubilees, 15. Theology. Some of our Author's Views: Demonology, deur R.H. Charles.
  30. The Book of Wisdom: With Introduction and Notes, p. 27, Object of the book, deur A.T.S. Goodrick].
  31. Kelly 2006, pp. 70–78.
  32. Kelly 2017, pp. 28–30.
  33. Glustrom 1989, pp. 22–24.
  34. Bamberger, Bernard J. (2006). Fallen angels : soldiers of satan's realm (1 paperback uitg.). Philadelphia, Pa.: Jewish Publ. Soc. of America. pp. 148, 149. ISBN 0-8276-0797-0.
  35. Oxford dictionary of the Jewish religion, 2011, p. 651
  36. Glustrom 1989, p. 24.
  37. "Satan". Jewish Encyclopedia. 
  38. "Bava Batra 16a:8".
  39. Robert Eisen. The Book of Job in Medieval Jewish Philosophy, 2004 p. 120
  40. Ronald L. Eisenberg Dictionary of Jewish Terms: A Guide to the Language of Judaism Taylor Trade Publications 2011; ISBN 978-1-589-79729-1, p. 356.
  41. Rabbi Rachel Timoner Breath of Life: God as Spirit in Judaism Paraclete Press 2011; ISBN 978-1-557-25899-1
  42. "American Heritage Dictionary: Devil". Besoek op 31 Mei 2006.
  43. van der Toorn, Becking & Willem 1999, pp. 154–155.
  44. Kelly 2006, pp. 88–95.
  45. Beekmann & Bolt 2012, p. 99–102.
  46. 46,0 46,1 Kelly 2006, p. 95.
  47. Bass 2014, p. 113.
  48. 48,0 48,1 Kelly 2006, pp. 95–96.
  49. Kelly 2006, pp. 102, 142.
  50. Kelly 2006, p. 106.
  51. Kelly 2006, p. 107.
  52. Kelly 2006, p. 109.
  53. 53,0 53,1 Kelly 2006, p. 271.
  54. Kelly 2006, p. 66.
  55. Kelly 2006, p. 144.
  56. 56,0 56,1 Kelly 2006, p. 142.
  57. 57,0 57,1 57,2 57,3 Kelly 2006, p. 143.
  58. Kelly 2006, pp. 149–150.
  59. Kelly 2006, p. 150.
  60. 60,0 60,1 Kelly 2006, pp. 150–151.
  61. Kelly 2006, p. 151.
  62. Garland 2006.
  63. 63,0 63,1 Schorn, Joel (Oktober 2013). "What is 666 in the Bible?" (in Engels). U.S. Catholic. Besoek op 2 Januarie 2018.
  64. Skatssoon, Judy (6 Junie 2006). "Why 666 is a devil of a day" (in Engels). ABC News and Current Affairs. Besoek op 2 Januarie 2018.
  65. 65,0 65,1 Kelly 2006, p. 152.
  66. Poole 2009, pp. 7–8.
  67. 67,0 67,1 Kelly 2006, p. 176.
  68. Kelly 2006, p. 117.
  69. 69,0 69,1 69,2 Kohler 1923, pp. 4–5.
  70. Kelly 2006, pp. 191–208.
  71. Origen. Contra Celsum. Book 6. Ch 42.
  72. 72,0 72,1 Day 2002, pp. 171–172.
  73. Kelly 2006, p. 191.
  74. 74,0 74,1 74,2 Caird 1980, p. 225.
  75. 75,0 75,1 75,2 75,3 75,4 75,5 Eddy & Beilby 2008, p. 86.
  76. Kelly 2006, pp. 215–217.
  77. Kelly 2006, pp. 215–216.
  78. Kelly 2006, p. 216.
  79. Kelly 2006, p. 217.
  80. 80,0 80,1 Ferguson 2003, p. 237.
  81. Almond 2004, pp. 1–7.
  82. Ferber 2004, pp. 1–3.
  83. 83,0 83,1 83,2 Ferber 2004, p. 3.
  84. 84,0 84,1 84,2 84,3 84,4 Poole 2009, p. 8.
  85. Russell 1984, p. 225.
  86. 86,0 86,1 Kelly 2006, pp. 220–229.
  87. Kelly 2006, p. 229.
  88. 88,0 88,1 Kelly 2006, p. 219.
  89. 89,0 89,1 89,2 89,3 89,4 89,5 Thomsett 2011, p. 131.
  90. 90,0 90,1 Poole 2009, pp. 8–9.
  91. 91,0 91,1 Thomsett 2011, p. 133.
  92. 92,0 92,1 92,2 92,3 92,4 92,5 Poole 2009, p. 9.
  93. 93,0 93,1 Thomsett 2011, p. 132.
  94. 94,0 94,1 Bainton 1978, p. 377.
  95. Parker 1995, p. 56.
  96. Kelly 2006, pp. 262–263.
  97. Thomsett 2011, p. 130.
  98. Kelly 2006, p. 262.
  99. 99,0 99,1 Levack 2015.
  100. 100,0 100,1 Poole 2009, p. 16.
  101. 101,0 101,1 Turner, Matthew Paul (16 Februarie 2014). "Why American Christians Love Satan". The Daily Beast (in Engels). Besoek op 2 Januarie 2018.
  102. Poole 2009, p. 17.
  103. Poole 2009, pp. 15–16.
  104. Almond 2004, p. 7.
  105. Almond 2004, p. 8.
  106. 106,0 106,1 106,2 106,3 106,4 106,5 106,6 Poole 2009, p. 10.
  107. 107,0 107,1 Kelly 2006, p. 264.
  108. Davies 2010, p. 158.
  109. Moses 5:18
  110. 110,0 110,1 110,2 110,3 Jordan 2013.
  111. Stoddard 2007.
  112. Poole 2009, pp. xvii–xix, 3.
  113. 113,0 113,1 113,2 Faiola 2014.
  114. Rosica 2015.
  115. "Satan". Encyclopædia Britannica. 
  116. 116,0 116,1 116,2 116,3 116,4 Cabinet 2001.
  117. 117,00 117,01 117,02 117,03 117,04 117,05 117,06 117,07 117,08 117,09 117,10 117,11 117,12 Kelly 2006, p. 185.
  118. Charles Mathewes Understanding Religious Ethics John Wiley & Sons 2010 ISBN 978-1-405-13351-7 page 248
  119. 119,0 119,1 Vicchio 2008, p. 175.
  120. Soera 7:12
  121. 121,0 121,1 121,2 121,3 Vicchio 2008, p. 181.
  122. Soera 17:62
  123. Soera 17:63-64
  124. Annemarie Schimmel Gabriel's Wing: A Study Into the Religious Ideas of Sir Muhammad Iqbal Brill Archive 1963 page 212
  125. Soera 7:20-22
  126. Georges Tamer Islam and Rationality: The Impact of al-Ghazālī. Papers Collected on His 900th Anniversary, Band 1 BRILL 2015 ISBN 978-9-004-29095-2 page 103
  127. 127,0 127,1 127,2 Vicchio 2008, p. 178.
  128. 128,0 128,1 128,2 128,3 128,4 Vicchio 2008, p. 179.
  129. Vicchio 2008, pp. 175–178.
  130. Tafsir al-Qur'an al-adhim (Interpretation of the Great Qur'an) – Ibn Kathir – commentary of surat al baqarah
  131. The Beginning and the End – Ibn Kathir – Volume I
  132. 132,0 132,1 132,2 132,3 Vicchio 2008, p. 183.
  133. Mâturîdî, Te’vîlât,t, 1: 116.; Vehbe Zuhayli, Tefsîrü’l-münîr, trc. Ahmet Efe v.dğr. (İstanbul: Risale Yay., 2008), 8: 236–237
  134. Vicchio 2008, pp. 175–176.
  135. Vicchio 2008, pp. 183–184.
  136. 136,0 136,1 136,2 Vicchio 2008, p. 184.
  137. Allen 2015, pp. 80–81.
  138. 138,0 138,1 Ahmed 2017, p. 3.
  139. Militarev, Alexander; Kogan, Leoni (2005), Semitic Etymological Dictionary 2: Animal Names, Alter Orient und Altes Testament, 278/2, Münster: Ugarit-Verlag, pp. 131–132, ISBN 3-934628-57-5 
  140. Ahmed 2017, p. 1.
  141. 141,0 141,1 McMillan 2011.
  142. "A step-by-step guide to Hajj". Al Jazeera. 30 Augustus 2017. Besoek op 29 Desember 2017.
  143. 143,0 143,1 143,2 143,3 Jabbour 2014.
  144. 144,0 144,1 144,2 144,3 144,4 Geoffroy 2010, p. 150.
  145. Ahmadi & Ahmadi 1998, p. 79.
  146. Victoria Arakelova, Garnik S.Asatrian (2014). The Religion of the Peacock angel The Yezidis and their spirit world. Routledge. p. 38. ISBN 978-1-84465-761-2.
  147. Awn, Peter J. (1983). Satan's Tragedy and Redemption: Iblīs in Sufi Psychology. Leiden, Duitsland: Brill Publishers. p. 177 ISBN 978-9004069060.
  148. 148,0 148,1 148,2 ʻAbduʾl-Bahل 1982, pp. 294–295.
  149. 149,0 149,1 149,2 Smith 2000, pp. 135–136, 304.
  150. Smith 2008, p. 112.
  151. Peter Smith An Introduction to the Baha'i Faith Cambridge University Press 2008 ISBN 978-0-521-86251-6 p. 112
  152. Petersen 2005.
  153. Moh, Catharina (2 Oktober 2014). "Cerro Rico: Devil worship on the man-eating mountain". BBC News. Besoek op 23 Augustus 2023.
  154. Partridge, Christopher Hugh (2004). The Re-enchantment of the West. A&C Black. p. 82. ISBN 978-0-567-08269-5. Besoek op 12 Mei 2008.
  155. Satanism and Demonology, deur Lionel & Patricia Fanthorpe, Dundurn Press, 2011, [https://books.google.com/books?id=vXs7AgAAQBAJ&dq=Theistic%20satanism&pg=PT74 p. 74
  156. "Interview_MLO". Angelfire.com. Besoek op 30 November 2011.
  157. High Priest, Magus Peter H. Gilmore. "What, The Devil?". churchofsatan.com.
  158. High Priest, Magus Peter H. Gilmore. "F.A.Q. Fundamental Beliefs". churchofsatan.com.
  159. The Church of Satan [History Channel]. YouTube. 12 Januarie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Julie 2015.
  160. "The Satanic Temple's Seven Tenets". 9 Mei 2019.
  161. Fowlie 1981, pp. 210–212.
  162. Kelly 2006, pp. 265–266.
  163. 163,0 163,1 163,2 Fowlie 1981, p. 211.
  164. 164,0 164,1 Fowlie 1981, p. 212.
  165. Tambling 2017, pp. 47–50.
  166. 166,0 166,1 166,2 166,3 Tambling 2017, p. 50.
  167. Kelly 2006, p. 268.
  168. Verbart 1995, pp. 45–46.
  169. 169,0 169,1 Bryson 2004, pp. 77–79.
  170. Bryson 2004, pp. 80–81.
  171. Bryson 2004, pp. 77–78.
  172. 172,0 172,1 Kelly 2006, p. 272.
  173. Bryson 2004, pp. 77–80.
  174. Bryson 2004, p. 80.
  175. Prince 2004, p. 1.
  176. Draven 2010, p. 148.
  177. "Rosemary's Baby, Box Office Information". The Numbers. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2013. Besoek op 23 Desember 2020.
  178. Wanamaker, Christaldi & Stephens 2016, p. 69.
  179. Ellis 2000, p. 159.
  180. Blue, Samantha. "The Devil We Used to Know: Portrayals of the Devil in Media" (in Engels). Academia.edu. Besoek op 22 Desember 2017.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Skakels

[wysig | wysig bron]