Ards-skiereiland
Die Ards-skiereiland (afgelei van Iers: nAird Uladh, "skiereiland van die Ulstermanne") is 'n skiereiland in die graafskap Down, Noord-Ierland wat die Strangford Lough van die Noordkanaal (Engels: North Channel), die seestraat tussen Noord-Ierland en Skotland, skei.
Die skiereiland bestaan uit laagliggende terrein. Van Ierland se vrugbaarste landboustreke word in die noorde van die Ards-skiereiland aangetref waar hoofsaaklik koring en gars verbou word. Die landskap in die suide word oorheers deur weivelde, witgekalkte kothuise en nou, kronkelende paaie. Die oostelike kuslyn lok besoekers met uitgestrekte sandstrande.[1]
'n Aantal nedersettings is op die skiereiland geleë, waaronder kusdorpe soos Donaghadee, Greyabbey en Kearney. Newtownards in die noorde van die skiereiland is die grootste nedersetting in die gebied met 'n bevolking van 28 000.
Geskiedenis
Die skiereiland het vroeër as "The Ards" bekend gestaan (Iers: an Aird, Ulster-Skots: Tha Airds). Dit is in die 12de eeu deur die Noormanne verower, en die Normandiese Savage-gesin het 'n aantal kastele en priorye op die skiereiland laat bou.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het militêre vliegvelde op Ards ontstaan, soos RAF Ballyhalbert en sy satelliet-vliegveld RAF Kirkistown. Albei vliegvelde is intussen gesluit. Kirkistown word tans vir motor- en motorfietswedrenne gebruik.