Betuwe
Betuwe (nl) is 'n historiese en geografiese streek in Nederland, en vorm groot vrugbare eilande in die rivierdelta wat gevorm word deur die Ryn- (Nederlands: Rijn) en Maas-riviere. Gedurende die Romeinse Ryk was die streek 'n belangrike grensgebied en bron van keiserlike soldate. Die naam is moontlik voor-Romeins.
Administratief gesproke is die moderne Betuwe deel van die moderne provinsie Gelderland, en alhoewel die riviere en provinsies deur die geskiedenis verander het, is dit rofweg eenders. Vandag word Betuwe begrens in die suide deur die Waal- en Lek-rivier, en in die noorde deur die Nederrijn (alle riviere wat in die delta self begin is takke van die Ryn of Maas). Histories was die voormalige munisipaliteit van Rijnwaarden deel van Betuwe, maar tans is dit deel van Zevenaar. Dit is afgesny van Betuwe deur die bou van die Pannerdens Kanaal.
'n Belangrike spoorweg, die Betuweroete, loop deur die Betuwe. Dit is in 2007 geopen na baie omstredenheid.
Die streek van Betuwe word verdeel in nege munisipaliteite: Lingewaard, Arnhem (suidelike deel), Nijmegen (noordelike deel), Overbetuwe, Neder-Betuwe, Buren, Tiel, Culemborg en West Betuwe. Die streek word gekenmerk deur verskeie vrugteboorde, en is reeds vir eeue bekend as "die vrugtemandjie van Nederland."[1]
Voor-Romeins
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Batavi.
Die "Bataafse eiland" in die Rynrivier word deur Julius Caesar genoem in sy Commentarii de Bello Gallico. Die eiland se mees oostelike punt is by 'n vertakking in die Ryn, een tak is die Waal en die ander die Nederrijn/Oude Rijn (vandaar die Latynse naam Insula Batavorum, "Eiland van die Batavi").[2]Heelwat later het Tacitus geskryf dat die Batawe wat daar gewoon het oorspronklik 'n deel was van die Chatti, 'n stam in Duitsland wat nie deur Caesar genoem word nie, en deur interne struwelinge gedwing is om na hul nuwe tuiste te trek.[3]
Tacitus vermeld dat die gebied voor hul aankoms "'n onbewoonde distrik aan die einde van die kus van Gallië was, en berig ook oor 'n naburige eiland, omring deur die see aan die voorkant, en deur die Rynrivier aan die agterkant en aan weerskante daarvan".[4] In 'n meer gedetailleerde beskrywing skryf hy:
Die eiland van die Batavi was die aangewese ontmoetingsplek vanweë sy maklike landingsplekke, en die gerief waarmee dit die leër kon ontvang en die oorlog oor die rivier kon dra. Want die Ryn, wat aaneenlopend in 'n enkele kanaal vloei en onbeduidende eilande omsingel, vertak waar die Batavi se gebied begin in twee riviere, en behou sy naam en sy loop in die stroom wat Duitsland binnespoel, tot dit by die see uitmond. Op die Galliese oewer is sy vloei breër en minder hewig; hier het dit 'n ander naam ontvang van die mense wat op sy oewers woon, die Vahal. Die naam verander egter gou weer na die Mosa-rivier, waar dit in dieselfde oseaan uitmond.[5]
Moderne argeoloë stem nie saam met Tacitus nie en merk op dat die eiland 'n pre-Romeinse en pre-Germaanse bevolking gehad het, wat klaarblyklik reeds bekend was as die Batawe. Caesar het inderdaad nie net die bestaan van pre-Romeinse Batawe geïmpliseer nie, maar ook genoem dat die Belgiese Menapii van die Vlaamse kus nedersettings gehad teenaan die beginpunt van die delta, naby die moderne grens met Duitsland.[6]
Romeinse tydperk
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Batavi.
Gedurende die Romeinse Ryk was daar 'n civitas wat uit die Batawe, 'n Germaanse stam, bestaan het. Die streek is beskryf as 'n groot eiland tussen riviere in die Ryn-Maas delta, die moderne ekwivalent van Betuwe.[7] Die Batawe het die eiland met die Cananefate gedeel, wat aan hul westekant gevestig was, naby die kus. Hulle Romeinse stad was Nijmegen.
Die naam is ook genoem deur Plinius die ouere, en dit het 'n rol gespeel in Tacitus se verslag van die Germaanse opstand van 68. Hy het gesê dat "In die Ryn self, byna 160 km lank, Betuwe die bekendste eiland van die Batawe en die Cananefate is".[8]
Ammianus Marcellinus verskaf die latere Romeinse geskiedenis daarvan. Hy maak melding van die Saliese Franke wat daar woon. Die historkus Zosimus is die enigste klassieke skrywer wat beweer dat hulle vir die eerste keer die Ryn oorgesteek het tydens die Romeinse omwentelinge en die daaropvolgende Germaanse deurbraak in 260 n.C. Albei skrywers stem saam dat hulle vanaf Butuwe in 'n suidelike rigting gedryf is, na Toxandrië.
Middeleeue
Gedurende die Karolingiese en Ottoniese tydperke in die vroeë Middeleeue was Betuwe onder die Franke bekend as Batua, 'n Frankiese gau (gebied) wat gebaseer was op die baie ouer Romeinse pagi. Verskeie graafskappe was in die gebied geleë, en die streek word genoem in verdrae swoos die Verdrag van Meerssen, wat Europa tussen die verskillende Frankiese koninkryke verdeel het.
Later was dit deel van die nuwer graafskap van Guelders, wat gevestig is na die suidooste.
Renaissance
Gedurende die Renaissance wou die Nederlanders hul pre-middeleeuse Batavi-kultuur en -geskiedenis herontdek. Hierdie gemeenskaplike geskiedenis het die Batawe tot die status van "kulturele voorouers" vir alle Nederlanders verhef. Hulle het hulleself (en ander voorwerpe, soos bv. die skip Batavia [1628]) soms Batawe genoem, en dit het selfs tot die kortstondige bestaan van die Bataafse Republiek gelei. Die naam Batavia is ook na die kolonies, soos die Nederlandse Oos-Indiese eilande, uitgebrei, waar hulle die stad Jayakarta herdoop het tot Batavia (1619 tot ongeveer 1942, toe die naam verander is na Djakarta [kort vir die voormalige naam Jayakarta, later weer gespel as Jakarta]). Die naam is ook gebruik in Suriname, waar Batavia, Suriname gestig is, en in die Verenigde State, waar die Holland Land Company die dorp Batavia, New York gestig het. Hierdie naam het verder wes versprei na plekke soos Batavia, Illinois, naby Chicago, en Batavia, Ohio.
Toe die Pannerdens Kanaal tussen 1701 en 1709 gegrawe is, is die oostelikste punt van Betuwe (insluitend die dorpe Pannerden en Lobith) van die res van die streek afgesny.
20ste eeu
Na die mislukte geallieerde Operation Market Garden het die Duitsers probeer om Geallieerde gebiede terug te neem, maar hulle was onsuksesvol.
In die tydperk 1940-1990 het grondkonsolidasie regdeur die gebied plaasgevind. Dit het verdere departementalisering in die vrugtebedryf moontlik gemaak.[1]
In 1995 moes ’n groot deel van dié gebied ontruim word nadat die riviere op die punt gestaan het om hul walle te oorspoel. Dit het gelukkig nie gebeur nie, maar het weer die debat laat ontstaan oor of die dyke versterk moet word.
Galery
-
Karakteristieke Betuwe-landskap met onder andere vrugtebome en wilgelanings langs de Linge-rivier by Enspijk
-
Uitsig vanaf die Wageningse Berg op die Betuwe gedurende die Nederrijn se hoogwater, in die winter van 2018
-
Landskapsbeeld van die Tielerwaard
-
Kaart van die Kwartier van Nijmegen uit 1664 met daarin die Betuwe, verdeel in die Overbetuwe (Over Betvwu), Neder-Betuwe (Neder Betvwe) en Tielerwaard (Tyelerwaerd)
-
Die Flipje & Streekmuseum en die Waterpoort in die middestad van Tiel
-
Topografiese kaart van die Betuwe
-
Vrugte van die soetkersie (Prunus avium) tydens die oestyd aan die begin van Julie in Driel, Overbetuwe
-
Die Betuweroete tussen Gellicum en Hellouw, in die munisipaliteit van West Betuwe
Verwysings
- ↑ 1,0 1,1 Gelderland, Erfgoed. "Ontwikkeling van de fruitteelt in het rivierengebied". mijngelderland.nl (in Nederlands). Besoek op 8 Julie 2024.
- ↑ "C. Julius Caesar, Galliese Oorlog, Boek 4, hoofstuk 10". tufts.edu.
- ↑ Cornelius Tacitus, Duitsland en sy stamme 1.29
- ↑ Tacitus, Historiae iv.12
- ↑ Tacitus, Die Annale, tufts.edu/hopper/text?doc=Perseus:text:1999.02.0078:book=2:chapter=6 II.6
- ↑ N. Roymans, "The Lower Rhine Triquetrum Coinages and the Ethnogenesis of the Batavians", in: T. Grünewald & H.-J. Schalles (eds.), Germania Inferior: Besiedlung, Gesellschaft und Wirtschaft an der Grenze der römisch-germanischen Welt (2000), 93–145, esp. 94.
- ↑ Dirk van Miert (red.), The Kaleidoscopic Scholarship of Hadrianus Junius (1511–1575): Northern Humanism at the Dawn of the Dutch Golden Age, essay deur Nico de Glas, pp. 69–71, ISBN 900420914X, besoek by Google Books 2014-03-08
- ↑ Plinius die ouere, Natuurlike Geskiedenis IV.29.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Betuwe.