Washington, D.C.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Federale distrik | District of Columbia |
Koördinate | 38°53' N, 77°02' W |
Stigting | 16 Julie 1790 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 177 vk km |
Hoogte bo seevlak | 0-125 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2005) | 582 049 |
- Bevolkingsdigtheid | 3 481/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 8 026 807 |
Tydsone | UTC -5 | Somertyd: UTC -4 |
Burgemeester | Adrian M. Fenty (D) |
Amptelike Webwerf | www.dc.gov |
Washington, D.C. is die administratiewe hoofstad van die Verenigde State van Amerika. "D.C." is 'n afkorting vir die District of Columbia, die federale distrik, wat egter feitlik gelykstaan aan die stad Washington. Die stad is vernoem na George Washington, die militêre leier van die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog en die eerste President van die Verenigde State.
Die District of Columbia en die stad Washington word deur dieselfde munisipale regering beheer. Vir die meeste praktiese doeleindes word hulle tans as dieselfde politieke en geografiese eenheid beskou. Nog in 1871 was Georgetown egter 'n selfstandige stad, en daar was verskillende munisipale regsgebiede in die Distrik. Alhoewel daar 'n burgemeester en munisipale regering bestaan, oefen die Kongres die hoogste gesag in die Distrik uit, sodat die burgers 'n ander status en minder verteenwoordiging in die regering het as bewoners van ander deelstate.
Die District of Columbia dien as die sentrum van sowel die wetgewende en uitvoerende asook die regsprekende gesag van die Verenigde State. Die stad huisves daarnaas ook die hoofkwartiere van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie van Amerikaanse State en ander nasionale en internasionale instellings. Washington, en veral sy National Mall, is die plek waar 'n groot aantal betogings en proteste plaasvind.
Washington spog met talle nasionale besienswaardighede, monumente en museums en is 'n gewilde toeristebestemming. Die stad staan in die VSA algemeen bekend as D.C., The District of net Washington. Om verwarring met die deelstaat Washington in die Pasifiese Noordweste te voorkom, word die stad dikwels D.C. genoem en die deelstaat Washington State.
Die District of Columbia het volgens 'n skatting van die VSA se Sensusburo in 2005 582 049 inwoners. Die metropolitaanse gebied van Washington en Baltimore het 'n bevolking van meer as 8 miljoen mense en is die vierde grootste in die land. As 'n selfstandige deelstaat sou Washington, D.C. ten opsigte van sy oppervlak die kleinste na Rhode Island wees, die vyftigste ten opsigte van sy bevolking (nog voor Wyoming), die eerste ten opsigte van sy bevolkingsdigtheid nog voor New Jersey en die 35ste ten opsigte van sy bruto geografiese produk.
Geskiedenis
Die Distrik van Columbia, wat op 16 Julie 1790 gestig is, is volgens die Verenigde State se Grondwet 'n federale distrik, waaroor die Amerikaanse Kongres uiteindelike gesag het. 'n Groot deel van hierdie gesag is egter aan die munisipale owerhede oorgedra. Die land, wat die federale distrik nou beslaan, het oorspronklik van die deelstate Maryland en Virginia gekom. 'n Gebied van sowat eenhonderd vierkante kilometer (39 vierkante myl) is in 1847 aan Virginia teruggegee en maak nou deel uit van die distrik Arlington en die stad Alexandria. Ná 1847 het die gebied van die distrik uitsluitend uit land bestaan, wat vroeër deel uitgemaak het van Maryland.
Beplanning
Gedurende die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het die Amerikaanse Kongres meestal in Philadelphia vergader, die grootste stad in die destydse dertien kolonies. Die afgevaardigdes was egter nie oortuig daarvan dat die plaaslike owerhede in staat sou wees om moontlike gewelddadige betogings onder bedwang te bring nie en het in 1783 besluit om 'n nuwe hoofstad op te rig, wat nie deel sou uitmaak van 'n bestaande deelstaat nie. In 1787 het die Amerikaanse stigtingsvaders die idee van 'n federale distrik met 'n oppervlak van tot by eenhoderd vierkante myl ontwikkel, waarin die Kongres die eksklusiewe wetgewende gesag sou uitoefen.
Die Kongres het drie jaar lank 'n aantal voorstelle vir 'n nuwe hoofstad oorweeg. Aanvanklik is geskikte rivierhawens langs die Atlantiese kus in oorweging geneem, waarby die noordelike deelstate ten gunste van 'n plek teen die Delaware- of Susquehannarivier was, terwyl die Suidstate die voorkeur aan die Potomac gegee het.
Gedurende 'n dinee, wat deur Thomas Jefferson gehou is, het James Madison en Alexander Hamilton ooreengekom dat die nuwe hoofstad van die Verenigde State in die suide opgerig sou word - in ruil vir die Suidstate se toestemming tot die oorname van oorlogs-skuldlaste deur die federale regering. Die stad is deur Pierre Charles L'Enfant, 'n majoor in die Amerikaanse leër, in die barokstyl ontwerp, met breë straalvormige lane, hoofstrate en verkeerssirkels, wat pragtige uitsigte op belangrike bakens en geboue gebied het.
Die aanvanklike uitleg van die "Federale Distrik" was in die vorm van 'n gelykvormige diamant met 'n sylengte van sestien kilometer of tien myl en 'n totale oppervlak van 256 vierkante kilometer (100 vierkante myl). Die plek teen die Potomacrivier is deur President Washington gekies - vermoedelik vanweë sy landskapsvorm, wat uiters geskik was vir 'n toekomstige waterweg, en omdat hy self in die Potomacgebied woonagtig was. Dit was bowendien 'n kompromis wat sowel noordelike asook suidelike deelstate tevrede gestel het. Die stad is op 9 September 1791 amptelik "Washington" genoem. Met sy kenmerkende beskeidenheid het George Washington na die hoofstad nooit as Washington verwys nie, maar dit liewer "die Federale Stad" genoem. Alhoewel hy die plek selfgekies en in die nabygeleë Mount Vernon gewoon het, het hy nouliks besoek aan die stad afgelê. Die Federale Distrik is "Columbia" genoem - afgelei van die poëtiese naam Columbia, wat destyds as sinoniem vir die Verenigde State gebruik is.
Aanvanklik het die Distrik van Columbia vier verskillende seksies beslaan, waarvan die stad Washington net een was. Die ander drie was die Alexandria-distrik, Georgetown en die Washington-distrik. Georgetown het binne sy huidige grense gelê. Alexandria het uit gedeeltes van die huidige stad Alexandria, asook die huidige Arlington-distrik in die deelstaat Virginia bestaan. Die stad Washington het die grootste deel van sy huidige gebied beslaan, maar het in die weste slegs tot by die huidige Rock Creek Park en in die noorde slegs tot by Floridalaan en Benningstraat gestrek. Floridalaan is destyds Boundary Street genoem. Die Washington-distrik het die res van die gebied beslaan.
In 1791-92 het Andrew Ellicott en Benjamin Banneker die grense van die Distrik met Maryland en Virginia opgemeet en by elke mylpaal grensstene geplaas, waarvan baie tot vandag bewaar is. Die hoeksteen van die Withuis, die eerste nuut opgerigte gebou van die nuwe hoofstad, is op 13 Oktober 1792 gelê - een dag ná die eerste plegtige viering van Columbusdag op die 300ste verjaarsdag van die ontdekking van Amerika.
Die 19de eeu
In een van die merkwaardigste strooptogte van die Engels-Amerikaanse Oorlog van die jaar 1812 het die Britte op 24 Augustus 1812 die Amerikaanse hoofstad aan die brand gesteek - as vergelding vir 'n Amerikaanse aanval in die winter, waartydens die stad York (die huidige Toronto) geplunder en neergebrand is en wat talle Kanadese dakloos gelaat het. President Madison en die Amerikaanse troepe het gevlug voordat die Britse soldate Washington ingeneem en sy openbare geboue, waaronder die Capitol, die Wit Huis en die gebou van die Departement van Finansies, neergebrand het.
Die arsenaal van die Amerikaanse Vloot is deur matrose neergebrand om te voorkom dat die skepe en voorrade in Britse hande sou val. Die huis van die Kommandant van die Marienekorps is as een van min regeringsgeboue deur die Britse soldate gespaar - as 'n teken van respek. Dit is tans een van die oudste openbare geboue, wat nog steeds in gebruik is.
Tydens die besetting het 'n orkaan, wat ook 'n tornado ingesluit het, oor die gebied getrek en sowel skade by die Britse troepe asook in die Amerikaanse hoofstad berokken. Die storm het vinnig afgeswak, maar was voldoende om die vlamme te blus. Die Britte het Washngton 26 ure lank beset en was daarna binne 'n week op pad na hul volgende teiken, Baltimore.
Gedurende die 1830's is een van die grootste slawehandelstransaksies in die land in die Federale Distrik deurgevoer. Die hawestad Georgetown was 'n groot mededinger vir Alexandria, en uit vrees dat die slawerny in die hoofstad afgeskaf sou word, het die bevolking van die Alexandra-distrik in die jaar 1846 in 'n referendum gestem waarmee die Kongres oorreed is om Alexandria op 9 Julie van daardie jaar weer by die deelstaat Virginia in te lyf.
Tot by die uitbreek van die Amrikaanse Burgeroorlog in 1861 het Washington 'n klein stad gebly - volgens die sensus van 1860 het sy bevolking 75 000 mense beloop. As gevolg van die krygsvoering en die gepaardgaande administratiewe laste het die bevolking vinnig toegeneem. In 1870 was daar reeds 132 000 inwoners in die distrik.
In Julie 1864 het Gekonfedereerde troepe onder die bevel generaal Jubal Anderson Early 'n aanval op Washington geloods, maar hulle is in die Slag van Fort Stevens afgeweer, en Early het uiteindelik na die Shenandoahvallei teruggekeer. Dit was die enigste slag in die Verenigde State, waartydens 'n president, Abraham Lincoln, onder vyandelike vuur gekom het.
In die vroeë 1870's het Washington 'n streekregering gekry, maar die goewerneur Alexander Robey Shepherd het bekend gestaan vir verkwisting, en uiteindelik het die Kongres sy amp afgeskaf en die hoofstad weer regstreeks beheer - 'n politieke toestand wat vervolgens 'n eeu lank voortgeduur het. In 1878 het die Kongres 'n Organiese Wet goedgekeur waarmee die grense van die stad Washington en dié van die Distrik van Columbia saamgeval het. Die distrik Washington is hierdeur ontbind, terwyl Georgetown tenminste nominaal 'n aparte gebied gebly het, totdat dit in 1895 met Washington versmelt het.
Die Washington-monument is in die jaar 1888 ingewy. Daar was planne om die monumentele aspekte van die stad deur argitektoniese bydraes van bekende persoonlikhede soos Frederick Law Olmsted en Daniel Burnham verder te ontwikkel. Die boubedrywighede vir die Lincoln-gedenkteken en ander geboue op die National Mall het egter eers in die vroeë 20ste eeu begin.