Wikipedia:Voorbladartikel week 42 2013
’n Komeet is ’n klein, ysagtige hemelliggaam wat oor die algemeen in ’n sterk elliptiese baan om die Son wentel. Wanneer ’n komeet naby die Son kom, verdamp ’n gedeelte van die komeet se materie en word ’n sogenaamde koma en dikwels ook ’n stert of roei gevorm. Die soliede deel van die komeet word die komeetkern genoem.
Komete bestaan uit ys, gas en stof en staan daarom ook as "vuil sneeuballe" bekend. Die kern kan van ’n paar honderd meter tot tientalle kilometers breed wees, terwyl die koma kan wissel tussen duisende en miljoene kilometers in deursnee en die stert (of sterte) kan tot 1 AE (astronomiese eenheid), of 150 miljoen km, lank wees. Kortperiodekomete neem minder as 200 jaar om hul wentelbaan te voltooi, maar langperiodekomete neem duisende of selfs miljoene jare.
Kortperiodekomete ontstaan in die Kuiper-gordel of die verwante verstrooide skyf, wat anderkant die wentelbaan van Neptunus lê.
Langperiodekomete ontstaan waarskynlik in die Oort-wolk, ’n hipotetiese sferiese wolk van ysagtige liggame in die buitenste Sonnestelsel. Dié komete word in die rigting van die Son gewerp deur swaartekragsteurings wat veroorsaak word deur óf die groot buitenste planete (Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus) óf moontlik sterre wat verby die Sonnestelsel beweeg.
Hiperboliese komete, wat skaars is, beweeg een keer deur die Sonnestelsel voordat hulle in ’n hiperboliese baan in die interstellêre ruimte verdwyn.
In Julie 2013 was daar 4 894 bekende komete, en dié getal groei voortdurend. Tog is dit net ’n klein persentasie van die getal komete wat moontlik bestaan: daar kan tot ’n biljoen (1012) in die buitenste Sonnestelsel wees. Net sowat een komeet per jaar is met die blote oog sigbaar, want baie van hulle is redelik dof.
Die bekendste komeet is waarskynlik Halley se Komeet, wat laas in 1986 van die Aarde af gesien is.